Herken die simptome en reageer daarop
WANNEER die simptome van ’n hartaanval voorkom, is dit noodsaaklik om dadelik mediese hulp te verkry, aangesien iemand se sterfkans binne die eerste uur ná ’n aanval die grootste is. Onmiddellike behandeling kan voorkom dat die hartspierweefsel onherstelbaar beskadig word. Hoe minder hartspierweefsel beskadig word, hoe doeltreffender sal die hart ná die aanval pomp.
Maar party hartaanvalle is pynloos, sonder enige uiterlike tekens. In hierdie gevalle is die persoon miskien onbewus daarvan dat hy koronêre hartvatsiekte (KHS) het. Ongelukkig is ’n ernstige aanval dalk vir sommige die eerste aanduiding van hartsiekte. Wanneer hartstilstand intree (die hart hou op met pomp), is die kanse op oorlewing baie skraal tensy ’n reddingspan onmiddellik ontbied word en kardiopulmonale resussitasie (KPR) dadelik deur ’n bystander toegepas word.
Die Harvard Health Letter berig dat ongeveer die helfte van die meerderheid met simptome van KHS die onmiddellike verkryging van mediese hulp sal uitstel. Waarom? “Gewoonlik omdat hulle nie besef wat hulle simptome aandui nie of omdat hulle dit nie ernstig opneem nie.”
John,a ’n slagoffer van ’n hartaanval en een van Jehovah se Getuies, pleit: “Wanneer jy vermoed dat iets verkeerd is, moet jy nie uitstel om mediese hulp te verkry uit vrees dat jy melodramaties sal voorkom nie. Ek het byna my lewe verloor omdat ek nie gou genoeg opgetree het nie.”
Wat gebeur het
John verduidelik: “’n Jaar en ’n half voor my hartaanval het ’n dokter my gewaarsku dat ek hoë cholesterol het, ’n vername risikofaktor by KHS. Maar ek het my nie veel daaraan gesteur nie, aangesien ek gemeen het dat ek jonk is—onder 40—en goeie gesondheid geniet. Ek is innig spyt dat ek nie toe opgetree het nie. Daar was ander waarskuwingstekens—kortasemigheid tydens liggaamlike inspanning, pyne wat ek gedink het deur slegte spysvertering veroorsaak word en buitengewone moegheid in die maande voor die aanval. Ek het die meeste hiervan aan te min slaap en te veel druk by die werk toegeskryf. Drie dae voor my hartaanval het ek iets gevoel wat ek gedink het ’n spierspasma in my bors is. Dit was ’n klein aanval voor die grote drie dae later.”
Borspyn of ’n beklemming op die bors, wat angina genoem word, is ’n waarskuwing vir ongeveer die helfte van diegene wat ’n hartaanval kry. Party ondervind simptome soos kortasemigheid of moegheid en swakheid, wat toon dat die hart weens ’n koronêre afsluiting nie genoeg suurstof kry nie. Hierdie waarskuwingstekens behoort ’n persoon te beweeg om ’n dokter te besoek vir ’n hartevaluasie. Dr. Peter Cohn sê: “Nadat angina behandel is, is daar geen waarborg dat dit ’n hartaanval sal voorkom nie, maar die gevaar van ’n dreigende hartaanval is ten minste kleiner.”
Die aanval
John sê voorts: “Daardie dag was ons van plan om sagtebal te gaan speel. Terwyl ek ’n hamburger en skyfies vir middagete afgesluk het, het ek ’n effense gevoel van ongemak, naarheid en styfheid in my bolyf geïgnoreer. Maar toe ons by die speelveld aankom en begin speel, het ek geweet dat iets verkeerd is. In die loop van die middag het ek al hoe erger begin voel.
“Ek het ’n paar maal op my rug op die spelers se bankies gaan lê en my borsspiere probeer rek, maar hulle het net stywer en stywer geword. Terwyl ek gespeel het, het ek gedink: ‘Dalk het ek griep’, aangesien ek met tye sweterig en swak gevoel het. Wanneer ek gehardloop het, was ek merkbaar uitasem. Ek het weer op ’n bankie gaan lê. Toe ek daarna weer regop sit, het ek geweet daar’s baie groot fout. Ek het vir my seun James geskreeu: ‘Ek moet NOU hospitaal toe gaan!’ Dit het gevoel asof my bors inmekaargevou het. Die pyn was so hewig dat ek nie kon opstaan nie. Ek het gedink: ‘Dit kan tog nie ’n hartaanval wees nie. Ek is dan net 38!’”
John se seun, wat toe 15 jaar oud was, vertel: “My pa het sy krag binne minute verloor en moes na die motor gedra word. My vriend het die motor bestuur terwyl hy my pa uitgevra het om op hoogte van sy toestand te bly. Uiteindelik het my pa nie geantwoord nie. ‘John!’ het my vriend uitgeroep. Maar my pa het steeds nie gereageer nie. Toe het my pa in sy sitplek geruk terwyl hy stuiptrekkings gekry en opgegooi het. Ek het oor en oor uitgeroep: ‘Pa! Ek is lief vir jou! Moet asseblief nie doodgaan nie!’ Ná die stuiptrekkings het sy hele liggaam slap gelê in die sitplek. Ek het gedink dat hy gesterf het.”
By die hospitaal
“Ons het by die hospitaal ingehardloop om hulp te kry. Twee of drie minute het verloop sedert ek gedink het dat my pa gesterf het, maar ek het gehoop dat hy weer bygebring kon word. Tot my verbasing was daar sowat 20 mede-Getuies van Jehovah wat by die speelveld was in die wagkamer. Hulle het my vertroos en geliefd laat voel, wat ’n groot hulp in so ’n ellendige tyd was. Ongeveer 15 minute later het ’n dokter gekom en verduidelik: ‘Ons het daarin geslaag om jou pa by te bring, maar hy het ’n baie ernstige hartaanval gehad. Ons weet nie of hy sal bly leef nie.’
“Daarna het hy my toegelaat om my pa vlugtig te sien. My pa se uitdrukkings van liefde vir ons gesin het my oorweldig. Hy het baie pyn gehad, maar het gesê: ‘Seun, ek is lief vir jou. Onthou altyd dat Jehovah die belangrikste persoon in ons lewe is. Jy moet nooit ophou om hom te dien nie, en help jou ma en broers om hom te bly dien. Ons het ’n vaste hoop op die opstanding, en as ek sterf, wil ek julle almal sien wanneer ek opstaan.’ Ons albei het gehuil van liefde, vrees en hoop.”
John se vrou, Mary, het ’n uur later daar aangekom. “Toe ek by die ongevalleafdeling instap, het die dokter gesê: ‘Jou man het ’n baie ernstige hartaanval gehad.’ Ek was stomgeslaan. Hy het verduidelik dat hulle John se hart agt keer moes defibrilleer. Hierdie noodmaatreël behels die gebruik van ’n elektriese skok om die wilde geklop van die hart te stop en die normale ritme te herstel. Tesame met KPR, suurstoftoediening en binneaarse geneesmiddels is defibrillasie ’n gevorderde lewensreddende metode.
“Toe ek John sien, het my hart na hom toe uitgegaan. Hy was baie bleek, en daar was baie pype en drade wat sy liggaam met monitors verbind het. Ek het in my hart tot Jehovah gebid om my die krag te gee om hierdie beproewing ter wille van ons drie seuns te verduur, en ek het gebid om leiding om verstandige besluite te neem oor wat moontlik voorlê. Terwyl ek John se bed genader het, het ek gedink: ‘Wat sê jy in so ’n tyd vir jou geliefde? Is ons werklik voorbereid op so ’n lewensgevaarlike situasie?’
“‘Liefling’, het John gesê, ‘jy weet dat ek dalk nie lewend hieruit gaan kom nie. Maar dit is belangrik dat jy en die seuns getrou bly aan Jehovah omdat hierdie stelsel binnekort gaan eindig en daar dan nie meer siekte en dood sal wees nie. Ek wil in daardie nuwe stelsel wakker word en jou en ons seuns daar sien.’ Trane het oor ons wange gerol.”
Die dokter verduidelik
“Die dokter het my later eenkant toe geroep en verduidelik dat die ondersoek getoon het dat John se hartaanval veroorsaak is deur ’n algehele afsluiting in die slagaar wat links voor is en afwaarts loop. Hy het ook ’n afsluiting in ’n ander slagaar gehad. Die dokter het vir my gesê dat ek oor John se behandeling moet besluit. Twee van die beskikbare opsies was geneesmiddels en angioplastiek. Hy het gemeen dat laasgenoemde beter sal wees, en daarom het ons op die angioplastiek besluit. Maar die dokters het geen beloftes gemaak nie, aangesien die meeste mense nie hierdie soort hartaanval oorleef nie.”
Angioplastiek is ’n chirurgiese tegniek waarvolgens ’n kateter, wat ’n ballonpunt het, in ’n koronêre slagaar ingeplaas word en dan opgeblaas word om die afsluiting oop te maak. Die metode is uiters geslaagd om bloedvloei te herstel. Wanneer daar ernstige afsluitings in verskeie slagare is, word ’n omleidingsoperasie gewoonlik aanbeveel.
Somber vooruitsigte
Ná die angioplastiek het John se lewe nog 72 uur aan ’n draadjie gehang. Uiteindelik het sy hart van die trauma begin herstel. Maar John se hart het met net die helfte van sy vorige vermoë geklop, en ’n groot deel daarvan het littekenweefsel geword; gevolglik was die moontlikheid dat hy gestrem sou wees weens sy harttoestand byna onvermydelik.
Wanneer John terugdink, maan hy: “Ons is dit aan ons Skepper, ons gesin, ons geestelike broers en susters en aan onsself verskuldig om op die waarskuwings ag te slaan en om ons gesondheid op te pas—veral as daar in ons geval ’n risiko is. Ons kan in groot mate die oorsaak wees van geluk of droefheid. Dit berus by ons.”
John se geval was ernstig en het onmiddellike aandag vereis. Maar nie almal met ’n sooibrandagtige ongemak hoef hulle na ’n dokter te haas nie. Sy ondervinding dien nogtans as ’n waarskuwing, en diegene wat meen dat hulle die simptome het, behoort vir ’n ondersoek te gaan.
Wat kan gedoen word om die risiko van ’n hartaanval te verlaag? Die volgende artikel sal dit bespreek.
[Voetnoot]
a Name in hierdie artikels is verander.
[Venster op bladsy 6]
Simptome van ’n hartaanval
• ’n Ongemaklike gevoel van drukking, sametrekking of pyn in die bors wat langer as ’n paar minute duur. Dit kan met kwaai sooibrand verwar word
• Pyn wat na die kakebeen, die nek, die skouers, die arms, die elmboë of die linkerhand kan versprei—of slegs daar gevoel kan word
• Langdurige pyn in die bobuik
• Kortasemigheid, duiseligheid, floutes, sweterigheid of ’n klam gevoel
• Uitputting—dit kan weke voor die aanval ondervind word
• Naarheid of vomering
• Gereelde angina-aanvalle wat nie deur inspanning veroorsaak word nie
Die simptome kan matig tot hewig wees en almal kom nie met elke hartaanval voor nie. Maar as enige kombinasie daarvan ervaar word, moet hulp vinnig ingeroep word. In sommige gevalle is daar egter geen simptome nie; dit word pynlose hartaanvalle genoem.
[Venster op bladsy 7]
Stappe vir oorlewing
As jy of iemand wat jy ken simptome van ’n hartaanval toon:
• Herken die simptome.
• Staak waarmee jy ook al besig is en gaan sit of gaan lê.
• As die simptome langer as ’n paar minute duur, moet jy ’n plaaslike nooddiens skakel. Sê vir die beampte dat jy ’n hartaanval vermoed, en gee hom die nodige inligting om jou op te spoor.
• As jy die slagoffer gouer by ’n hospitaal se ongevalleafdeling kan kry deur self daarheen te bestuur, moet jy dit doen. As jy dink dat jy besig is om ’n hartaanval te kry, moet jy iemand vra om jou daarheen te neem.
As jy vir ’n mediese noodspan wag:
• Maak stywe klere los, met inbegrip van ’n lyfband of ’n das. Help die slagoffer om in ’n gemaklike posisie te kom en stut hom met kussings indien nodig.
• Bly kalm, hetsy jy die slagoffer of die helper is. Spanning kan die waarskynlikheid van lewensgevaarlike ritmeafwykings verhoog. Gebed kan jou die krag gee om kalm te bly.
As dit lyk of die slagoffer ophou asemhaal:
• Vra met ’n harde stem: “Kan jy my hoor?” As daar geen reaksie en geen polsslag is nie en as die slagoffer nie asemhaal nie, moet jy met kardiopulmonale resussitasie (KPR) begin.
• Onthou die drie basiese stappe vir KPR:
1. Lig die slagoffer se ken op om die lugweg oop te maak.
2. Met die lugweg oop en terwyl jy die slagoffer se neus toedruk, moet jy twee keer stadig in die mond inblaas totdat die bors uitsit.
3. Druk 10 tot 15 keer op die middel van die bors tussen die tepels om bloed uit die hart en bors te druk. Elke 15 sekondes moet jy twee asemstote afwissel met 15 drukke totdat die polsslag en asemhaling terugkeer of totdat die noodspan opdaag.
KPR moet toegepas word deur iemand wat daarvoor opgelei is. Maar wanneer daar niemand met opleiding beskikbaar is nie, “is enige KPR beter as niks”, sê dr. R. Cummins, ’n hoof van hartnoodbehandeling. Tensy iemand met hierdie stappe begin, is die kanse op oorlewing baie skraal. KPR wen tyd totdat hulp opdaag.
[Prent op bladsy 5]
Onmiddellike behandeling ná ’n hartaanval kan ’n lewe red en skade aan die hart verminder