Ons beskou die wêreldl
Hulp aan dowes in Afrika
“UNAD NEWS prys die onselfsugtige belangstelling en pogings van Jehovah se Getuies om vingertaal te leer”, het die tydskrif van Uganda se Nasionale Vereniging vir Dowes (UNAD) gesê. Die tydskrif het berig dat ’n groep Getuies, wat kan hoor, in Kampala, Uganda, vingertaal begin leer het met die doel om geestelik om te sien na mense met gehoorgebreke in daardie land. Die berig het bygevoeg dat twee belowende tolke “gewone pioniers of voltydse [bedienaars] is in een van die wêreld se snelgroeiendste en hooggeagte godsdienste, wat wêreldwyd bekend is vir algehele onderhouding van Bybelse leringe”.
Was jou hande!
Die Amerikaanse Vereniging vir Mikrobiologie het onlangs ’n ondersoek geborg om vas te stel hoeveel mense hulle hande was nadat hulle ’n openbare toilet besoek het, berig The New York Times. Blykbaar weet feitlik alle mense dat hulle hulle hande moet was. In ’n opname per telefoon van 1004 volwassenes het 94 persent beweer dat hulle altyd hulle hande was nadat hulle ’n openbare toilet gebruik het. Maar doen hulle dit? Navorsers wat toilette in vyf groot Amerikaanse stede gemonitor het, het gevind dat daar uit 6333 mense slegs 61 persent van die mans en 74 persent van die vroue hulle hande gewas het nadat hulle die toilet gebruik het. Vuil hande versprei siektes maklik, en net een persoon wat met ongewaste hande met kos werk, kan tientalle mense siek maak. Die probleem kan deels ’n gebrek aan ouerlike leiding wees. “Vandag se ma’s sê dikwels nie vir hulle kinders om hulle hande te was nie”, het dr. Gail Cassell opgemerk. “Skole vertel nie vir kinders daarvan nie. Ons moet daaraan herinner word dat dit belangrik is.”
Lag, en leef langer?
Daar word lank reeds geglo dat lag goeie medisyne is. Tien jaar gelede het wetenskaplikes aan die Staatsuniversiteit van New York besluit om uit te vind waarom dit die geval is. Hulle het onlangs hulle ontdekking bekend gemaak dat lag die afskeiding van kragtige hormone bevorder wat ’n mens se immuunstelsel aanwakker. Daar is bevind dat een groep hormone, wat sitokines genoem word, die bedrywighede bevorder van wit bloedselle, wat nodig is om virus- en bakteriële infeksies af te weer en wat potensiële kankerselle vernietig. Dit is net “een van die stowwe waarvan die vlakke deur lag verhoog word”, sê The Sunday Times van Londen. Die skakel tussen lag en sitokines het daartoe gelei dat sommige wetenskaplikes daarna verwys as gelukkige hormone. Die koerant noem lag dus “’n resep vir ’n lang lewe”.
Katolieke Kerk in ’n “gevaartyd”
’n Dokument wat uitgereik is deur ’n groep wat sewe biskoppe insluit, sê dat die Katolieke Kerk in ’n “gevaartyd” verkeer, berig die Star-Telegram, van Arlington, Texas. Die dokument “doen ’n beroep op die kerk om sy ernstige verdeeldheid reg te stel”, sê die koerant. Opnames toon dat baie van die 60 miljoen Katolieke in die Verenigde State nie saamstem met kerkleringe soos die priesterlike selibaat en die ordening van vroue nie. By ’n nuuskonferensie waar die dokument vrygestel is, het wyle kardinaal Joseph Bernardin sy kommer uitgespreek oor “’n toenemende polarisasie binne die kerk, en, met tye, ’n gemeenheid” wat die kerk se sending dwarsboom. “Die eenheid van die kerk word gevolglik bedreig”, het hy gesê. “Die getroue lede van die kerk is moeg, en ons getuienis aan die regering, gemeenskap en kultuur word in twyfel getrek.”
Vooruitgang deur terug te kyk
Voor transistors was daar vakuumbuise. Nou kyk wetenskaplikes ’n bietjie terug. “Ons kyk weer na vakuumbuise uit die veertigerjare”, sê fisikus Griff L. Bilbro, van die Staatsuniversiteit van Noord-Carolina. “Maar nou benut ons nuwe materiale en rekenaarontwerptoerusting om die werkverrigting daarvan teen baie hoë frekwensies te voorspel, vir gebruik in radar en sellulêre telefone.” Een verskil tussen die ou en die nuwe buise is grootte. Die nuwe buise is piepklein en kom in reekse wat omtrent so groot soos ’n vuurhoutjie se koppie is. Hulle word gemaak deur “elektrodes binne-in diamante te set en dan die lug daaruit te verwyder”, sê die tydskrif Science News. “’n Groot verskil tussen die nuwe diamantvakuumbuise en die groot glasgloeilampe van 50 jaar gelede is hitte. Die ou buise moes rooiwarm gegloei het om strome elektrone uit te straal. Die nuwe buise lewer ’n stroom teen kamertemperatuur.” Buiten die feit dat die nuwe buise duursamer as halfgeleiers en rekenaarskyfies is, werk hulle ook beter teen hoë temperature, stroomspanning en straling.
Dolfyn-lyfwagte
’n Man wat in die Rooi See geswem het, is waarskynlik deur ’n groep dolfyne gered, berig die Journal of Commerce. Mark Richardson, van Brittanje, is deur ’n haai aangeval terwyl hy langs die Egiptiese kus geswem het. Nadat hy in sy sy en aan sy arm gebyt is, is hy deur drie kortbekdolfyne omring wat “hulle vinne en sterte geflap het om die haai af te skrik”. Die dolfyne het toe “om mnr. Richardson bly sirkel totdat sy vriende by hom uitgekom het”. Volgens die Journal “is sulke gedrag deur dolfyne algemeen wanneer moeders hulle kalfies beskerm”.
“Kitskos”-nagmaal
’n Amerikaanse ondernemer, Jim Johnson, vervaardig weggooibare, voorafverpakte sakramente om tydens Nagmaaldienste in die kerk te gebruik, berig Christianity Today. Die klein, pers plastiekkoppies, omtrent die grootte en vorm van ’n houertjie verromer vir een koppie koffie, bevat ’n slukkie druiwesap of wyn. Dit bevat ook ’n ongesuurde misbroodjie wat binne die dubbele aftrekdekseltjie verseël is. Volgens Johnson is van die voordele van die produk ’n vinniger voorbereidings- en skoonmaaktyd, asook die feit dat dit ekonomies en higiënies is. Meer as 4000 kerke het reeds die nuwe produk begin gebruik, hoewel ’n paar besware al geopper is teen die “massamark”-benadering tot die Nagmaal. Johnson se antwoord is: “Jesus het die eerste kitskosmaaltyd voorsien toe hy die skares gevoed het.”
Duiwe wat pendel
Daar word lank reeds opgemerk dat duiwe in Londen saam met die pendelaars op die moltreine ryloop, berig die tydskrif New Scientist. Daarbenewens beweer sommige mense dat die voëls selfs weet by watter stasie hulle moet afklim. Ná ’n uitnodiging deur die tydskrif het ’n aantal lesers geskryf om van hulle eie ondervindinge met die geveerde reisigers te vertel. Een man het byvoorbeeld geskryf: “Gedurende 1974-76 het ek gereeld ’n ligrooierige duif teëgekom wat by Paddington-moltreinstasie opgeklim en by die volgende stasie weer afgeklim het.” ’n Ander man het reeds in 1965 iets soortgelyks opgemerk. Dit wil voorkom of duiwe al ongeveer 30 jaar lank op Londen se vervoerstelsel roofry!
Australiese staat wettig genadedood
’n Man in die Noorder-Territorium van Australië was die eerste persoon om te sterf onder ’n nuwe staatswet wat ’n dokter toelaat om iemand te help selfmoord pleeg, berig The New York Times. Die man was in sy sestigerjare en het aan prostaatkanker gely wat as ongeneeslik beskou is. “Dit is die heel eerste keer dat iemand sy lewe wettiglik beëindig het”, het dr. Philip Nitschke gesê, die geneesheer wat die man ’n dodelike dosis barbiturate toegedien het. “Die man was gekoppel aan ’n masjien wat hom in staat gestel het om self die proses aan die gang te sit wat tot sy dood sou lei deur een van die toetse op ’n skootrekenaar langs sy bed te druk”, het dr. Nitschke verduidelik. Die nuwe wet kry egter skerp teenkanting. Die nasionale parlement oorweeg wetgewing om die wet te herroep, en die wet word deur sommige dokters en kerke in die hof beveg.
Kerke word omskep
Volgens die Nederlandse koerant Het Overijssels Dagblad is ongeveer 300 kerkgeboue in Nederland in supermarkte, woonstelle, vertoonkamers en kantoorgeboue omskep. Omdat kerkbywoning in Nederland oor die afgelope 15 jaar met ongeveer 50 persent afgeneem het, is baie kerke dankbaar om iemand te vind wat gewillig is om die las van duur instandhouding van hulle skouers af te neem. Party kerkgeboue is verkoop vir die skrale bedrag van een gulde (omtrent R2,60)! Die omskepping van ’n kerk lei egter tot baie emosionele pyn, veral onder ouer mense. Een gesaghebbende het gesê: “Hulle het jare lank daar kerk toe gegaan. Hulle is daar gedoop en getroud, en nou sien hulle hoe mense alledaagse dinge daar doen . . . , selfs vloek.”