Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g02 1/8 bl. 16-19
  • Op soek na dolfyne in Nieu-Seeland

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Op soek na dolfyne in Nieu-Seeland
  • Ontwaak!—2002
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ons swem saam met dolfyne
  • Dolfyne wat visvang en speel
  • ‘Klankbeelde’
  • ’n Ongelooflike ontmoeting
    Ontwaak!—1996
  • Die dolfyn op ons drumpel
    Ontwaak!—1998
  • Die dolfyn se sonar
    Is dit ontwerp?
  • ’n Hersiening vir die gesin
    Ontwaak!—2005
Sien nog
Ontwaak!—2002
g02 1/8 bl. 16-19

Op soek na dolfyne in Nieu-Seeland

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN NIEU-SEELAND

“DIT is die enigste dier wat die mens liefhet vir wat hy is”, het die Griekse essayis Plutargus geskryf. Waarna het hy verwys? Na niks anders nie as die dolfyn, ’n soogdier wat nou verwant is aan die walvis.

Volgens The World Book Encyclopedia “meen baie wetenskaplikes dat dolfyne, saam met sjimpansees en honde, van die intelligentste diere is”. Maar soos Plutargus gesê het, word dolfyne nie na mense toe aangetrek net omdat mense hulle voer nie. Inteendeel, dit lyk of baie van hulle eenvoudig ons geselskap geniet. “Hoewel die dolfyn die mens dalk nie nodig het nie”, sê die boek Mysteries of the Deep, “is hy nuuskierig en put hy moontlik net soveel plesier daaruit om na ons manewales te kyk as wat ons uit syne put.” Van die 32 soorte seedolfyne word 4 in die waters van Nieu-Seeland aangetref: die gewone dolfyn, die bottelneusdolfyn, die vaaldolfyn en die wêreld se kleinste dolfyn—die Hector-dolfyn.a

Dolfyne kom in groot getalle voor in die Baai van Eilande, ’n skilderagtige kusgebied van Nieu-Seeland. Ons is gretig om dit te besoek en vertrek per boot van die dorp Russell af. Buiten bottelneus- en gewone dolfyne sê ons gids vir ons dat ons dalk ook moordvisse en loodswalvisse sal sien—wat almal aan die dolfyn verwant is. Sy stel voor dat ons op die uitkyk vir hulle spuit of dorsale vin moet wees as ons hulle wil sien. “Soms”, sê sy, “vind hulle ons eerste!”

Ons swem saam met dolfyne

Kort voor lank verskyn die groot, donker figure van bottelneusdolfyne—wat tot vier meter lank is—voor ons, en ons sien hoe hulle dorsale vinne soos ’n mes deur die golwe sny. Terwyl hulle baljaar, ry hulle op die boot se boeggolwe. Die boot kom tot stilstand, en ek en die gids gly versigtig in die diep, groen water in waar die wilde dolfyne ons toelaat om saam met hulle te swem.

Omdat ons deur dorsale vinne omring word en ek nie weet waar om eerste te kyk nie, haal ek diep asem en staar in verwondering na die grys figure wat onder my rondswem. ’n Dolfyn kom uit die dieptes te voorskyn om my van naderby te bekyk en rol dan effens om en wys my sy wit onderpens. Hoewel die dolfyne op ’n afstand bly, kan ons hulle sonarfluite duidelik hoor. Die dolfyne is blykbaar nie beïndruk deur my pogings om hulle klanke na te maak nie en swem weg, waarna hulle nader kom om weer in sirkels om ons te swem.

Dolfyne wat visvang en speel

Wanneer ons weer aan boord is, volg die boot die dolfyne na ’n beskutte baai. Daar sien ons meer dolfyne as wat ons kan tel—wat oral in die water rondswem en baljaar! Hulle is eintlik besig om vis te vang. Hulle eet hoofsaaklik inkvis, vis en skaaldiere. Ons sien selfs iets wat blykbaar ’n les in visvang is. Dit lyk of die moeder ’n klein vissie met haar sonar bewusteloos skok, en die kalfie probeer dit skynbaar vang deur dit met sy stert te slaan. Dit wil voorkom of die kalfie nog ’n paar lesse nodig het!

Dolfyne gebruik ’n groot deel van hulle dag om te speel en te sosialiseer. Een swem verby en spog met ’n stukkie seegras op sy dorsale vin. Ons gids verduidelik dat seegras die dolfyne se geliefkoosde speelding is. Hulle sal dit op hulle vin of snoet sit en ure lank daarmee speel. Wanneer een klaar gespeel het, sal ’n ander een dit optel en verder speel.

‘Klankbeelde’

Om hulle onderwateromgewing duideliker te “sien”, gebruik dolfyne ’n eggo-opsporing-, of sonarstelsel, wat met ’n soortgelyke frekwensie werk as dié van ’n ultraklankskandering. Die dolfyne stuur kliekgeluide uit, en die “beelde” wat hulle ontvang, stel hulle in staat om voedsel en ander voorwerpe—insluitende ons—op te spoor. Dolfyne kommunikeer met mekaar deur middel van hoëfrekwensiefluite—wat frekwensies het wat tien keer hoër en vier en ’n half keer vinniger as mensespraak is. Dolfyne gebruik nie ’n taal soos wat ons dit ken nie, maar skep blykbaar ‘klankbeelde’.

Dit is duidelik dat daar nog baie oor dolfyne te leer is. Miskien sal ons hulle eendag ten volle verstaan—hoe hulle dink en wat hulle van ons dink. Wanneer ons hierdie pragtige, verlate baai met sy mistige kranse en wit strand aan die dolfyne agterlaat, is ons vol verwondering en het die dolfyne ’n plekkie in ons hart gevind. Ons het nuwe respek vir hierdie diere en ’n hernieude ontsag vir hulle Skepper.—Openbaring 4:11.

[Voetnoot]

a Ander dolfynsoorte wat Nieu-Seeland besoek, is die uurglasdolfyn en die vinlose suidelike noordkapperdolfyn.

[Venster/Prent op bladsye 18, 19]

Die grootmaak van ’n kalfie

Dolfyne is nie visse nie, maar soogdiere. ’n Dolfynkalfie leef dus van melk wat in sy moeder se liggaam afgeskei word. Gedurende die drie jaar wat die moeder vir haar kalfie sorg, sal sy hom leer wat hy moet weet om aan die lewe te bly. Sy sal hom byvoorbeeld leer hoe om sy eggo-opsporing-, of sonarstelsel, te gebruik, sowel as die unieke “kenteken” waarmee hy elke “sin” sal afsluit. Sy sal hom ook leer hoe om vis te vang, om te paar en om by ander dolfyne in te skakel.

’n Dolfynkalfie word stert eerste gebore nadat hy half gevou binne-in sy moeder was. Vertikale lyne kan op pasgebore kalfies gesien word, wat toon waar hulle in die baarmoeder gevou was. ’n Kalfie sal aan sy moeder drink terwyl hy swem en die hele tyd naby haar bly deur gebruik te maak van die hidrodinamiese effek wat deur sy moeder se swembewegings voortgebring word.

[Erkenning]

© Jeffrey L. Rotman/CORBIS

[Kaart op bladsy 19]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

NIEU-SEELAND

Baai van Eilande

[Prent op bladsy 17]

Bottelneusdolfyn

[Erkenning]

© Jeff Rotman

[Prent op bladsy 17]

Hector-dolfyn

[Erkenning]

Photo by Zoe Battersby

[Prent op bladsy 18]

Vaaldolfyn

[Erkenning]

Mark Jones

[Prent op bladsy 18]

Gewone dolfyne

[Erkenning]

© R.E. Barber/Visuals Unlimited

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel