Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 3/8 bl. 3-5
  • Hoe georganiseerde misdaad jou raak

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe georganiseerde misdaad jou raak
  • Ontwaak!—1997
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Wêreld sonder misdaad—Hoe?
    Ontwaak!—1997
  • Waarom floreer georganiseerde misdaad?
    Ontwaak!—1997
  • Die verlore stryd teen misdaad
    Ontwaak!—1998
  • Is daar ’n land wat vry is van misdaad?
    Ontwaak!—1996
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 3/8 bl. 3-5

Hoe georganiseerde misdaad jou raak

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN JAPAN

Die don (leier) van ’n Mafia-familie prik ’n vinger van die nuweling. Bloed drup op die prent van ’n “heilige”. Dan word die prent verbrand. ‘As jy enige van die geheime van die organisasie verklap, sal jou siel brand soos hierdie heilige’, sê die don aan die jong man.

DIE kode van stilswye—in Italiaans, omertà—het georganiseerde misdaad baie jare lank redelik geheim gehou. Maar vandag maak misdaadbendes oral opslae in die nuus namate bendelede informante word. Die belangrikste persoon wat nog deur hierdie pentiti, of Mafia-oorlopers, beskuldig is, is Giulio Andreotti, wat sewe keer Italië se eerste minister was en nou weens sy verbintenisse met die Mafia teregstaan.

Misdaadorganisasies regoor die wêreld het alle kringe binnegedring: die Mafia in Italië en in die Verenigde State, waar dit ook die Cosa Nostra genoem word; die dwelmkartelle in Suid-Amerika; die Triades van China; die jakoeza in Japan. Hulle bose bedrywighede raak ons almal en maak die lewe duurder.

Daar word gesê dat die Mafia in die Verenigde State die stad New York onder vyf families verdeel, en hulle maak miljarde deur middel van afpersing, beskermingskemas, geldskietery, dobbelary, dwelmsmousery en prostitusie. Na bewering het die Mafia-families ’n stewige houvas op vakbonde in vullisverwydering-, vervoer-, konstruksie-, voedselverspreiding- en tekstielondernemings. Met die mag wat hulle oor die vakbonde uitoefen, kan hulle arbeidsgeskille uitstryk of hulle kan ’n projek saboteer. Op ’n bouterrein sal ’n stootskraper byvoorbeeld op ’n dag buite werking wees, op ’n ander dag werk ’n trugrawer se remme nie en sloer bedryfsingenieurs met die projek—hierdie voorvalle en nog meer duur voort totdat die bouer instem om aan die bende se eise toe te gee, hetsy dit omkoopgeld of kontrakte vir werk is. Trouens, “omkoopgeld aan die Bende kan sakemanne verseker van spoedige aflewerings, vreedsame werkmagte en die vermoë om goedkoper werkers in diens te neem”, berig die tydskrif Time.

In Colombia het twee dwelmkartelle met mekaar meegeding totdat Pablo Escobar, die hoof van die Medellín-kartel, in 1993 geskiet is. Daarna het die Cali-kartel die monopolie van die wêreldhandel in kokaïen gekry. Met ’n inkomste van $7 miljard (R33 miljard) in 1994 in die Verenigde State alleen het dit waarskynlik die grootste georganiseerde misdaadsindikaat ter wêreld geword. Maar die inhegtenisneming in 1995 van die kartel se meesterbrein, José Santacruz Londoño, het die kartel ’n swaar slag toegedien. Daar is egter altyd ’n gretige opvolger wat wag om die volgende baas te word.

Toe die Ystergordyn in twee geskeur is, het die Russiese Mafia sy toetrede tot die internasionale arena gemaak. As gevolg daarvan “kry elke sakeonderneming in Rusland met die Mafia te doen”, sê ’n bankier wat in Newsweek aangehaal is. Daar word berig dat die Russiese Mafia selfs in Brighton Beach, New York, groot winste inoes uit ingewikkelde bedrogskemas wat met brandstof te doen het. Motoreienaars moet op die ou end daarvoor betaal, en die regering verloor belastinggelde. Die Russiese bendes beheer ook prostitusienetwerke in Oos-Europa. Hulle kom skotvry van die meeste van hulle misdade af. Wie sal dit tog waag om swaar gewapende voormalige atlete en veterane van die oorlog in Afganistan te konfronteer?

Die situasie is presies dieselfde in die Ooste. In Japan kan diegene in die vermaaklikheidswêreld allerhande probleme verwag as hulle nie aan die plaaslike jakoeza-groep eer bewys en omkoopgeld aan hulle betaal nie. Ook hier word beskermingsgelde van kroeë en selfs van prostitute geëis. Daarbenewens het die jakoeza die Japannese ekonomie al diep binnegedring deur hulle eie maatskappye te organiseer, geld van reusebedrywe af te pers en by oorsese misdaadsindikate aan te sluit.

Misdaadorganisasies wat in Hongkong en Taiwan gesetel is, is ook besig om ’n net oor die hele wêreld te span. Buiten hulle naam, die Triades, is daar maar min bekend oor hoe hulle georganiseer word. Hulle geskiedenis kan tot die 17de eeu teruggevoer word, toe Chinese monnike saamgespan het teen die Mantsjoeryers wat China oorgeneem het. Hoewel die Triades uit tienduisende lede bestaan, word daar gesê dat hulle in Hongkong tydelike sindikate vorm vir ’n spesifieke misdaad of reeks misdade, wat dit vir die polisie moeilik maak om vas te stel wie hulle is. Hulle maak miljarde rande uit heroïenhandel en het Hongkong verander in ’n sentrum vir die vervalsing van kredietkaarte.

In sy boek The New Ethnic Mobs skryf William Kleinknecht oor misdaad in die Verenigde State: “In die nuwe wêreld van georganiseerde misdaad is daar geen etniese bendes wat ’n rooskleuriger toekoms as die Chinese het nie. . . . Chinese misdaadgroepe is vinnig besig om mag in stede regoor die land te verkry. . . . Dit is net die Mafia in New York wat groter as hulle is.”

’n Amptenaar van die Amerikaanse Departement van Justisie sê aangaande ’n ander vorm van onwettige handel wat sy oorsprong in Hongkong het: “Die insmokkeling van buitelanders is ’n verskynsel van georganiseerde misdaad.” Sommige amptenare raam dat 100 000 Chinese elke jaar die Verenigde State onwettig binnekom. Die tipiese ingesmokkelde immigrant moet ten minste $15 000 (R70 000) vir sy reis na ’n welvarende land betaal, waarvan hy die meeste afbetaal nadat hy sy bestemming bereik het. Vir baie immigrante word die lewe in die land van hulle drome dus ’n nagmerrie van gedwonge arbeid by werkplekke wat ’n hongerloon uitbetaal en in bordele.

Jy meen dalk dat jy nie deur georganiseerde misdaad geraak word nie, aangesien jy nie by misdaad betrokke raak nie. Maar is dit werklik die geval? Talle dwelmverslaafdes, wat op verskeie vastelande woon, wend hulle tot misdaad om te betaal vir dwelms wat deur Suid-Amerikaanse dwelmkartelle voorsien word. Georganiseerde misdaad maak seker dat kontrakte vir openbare dienste toegeken word aan maatskappye wat bande met hulle het; inwoners betaal gevolglik meer. Die President se Kommissie vir Georganiseerde Misdaad het eenkeer gesê dat “georganiseerde misdaad [in die Verenigde State] pryse beïnvloed as gevolg van diefstal, afpersing, omkopery, prysvasstelling en belemmering van handelsvryheid” en dat verbruikers noodgedwonge geld moet betaal “wat neerkom op ’n vergoeding” aan die Mafia. Almal word dus deur misdaad geraak. Ons almal betaal daarvoor.

Maar waarom floreer georganiseerde misdaad vandag?

[Venster op bladsy 5]

Die Mafia—die oorsprong daarvan

“Die Mafia het teen die einde van die Middeleeue in Sisilië ontstaan, waar dit waarskynlik begin het as ’n geheime organisasie wat daarop uit was om die heerskappy van die verskillende vreemde heersers van die eiland—bv. Sarasene, Normandiërs en Spanjaarde—omver te werp. Die Mafia het sy oorsprong gehad by en sy lede gewerf uit die klein privaat leërs, of mafie, wat gehuur is deur grondeienaars, wat elders gaan woon het, om hulle landgoedere teen rowers te beskerm gedurende die wettelose toestande wat deur die eeue heen in groot dele van Sisilië geheers het. Gedurende die 18de en 19de eeu het die bedrywige booswigte in hierdie leërs hulleself georganiseer en so magtig geword dat hulle teen die grondeienaars gedraai en die uitsluitlike wet op baie van die landgoedere geword het, terwyl hulle die grondeienaars afgepers het vir geld in ruil vir beskerming van laasgenoemde se oeste” (The New Encyclopædia Britannica). Die afpersing van beskermingsgeld het hulle werkswyse geword. Hulle het hulle metodes na die Verenigde State geneem, waar hulle by dobbelary, arbeidsafpersing, geldskietery, dwelmhandel en prostitusie betrokke geraak het.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel