Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 4/22 bl. 12-15
  • Vaste hoop te midde van Tjernobil se somberheid

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vaste hoop te midde van Tjernobil se somberheid
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die dag van die ongeluk
  • Die nadraai
  • Die gevolge van bestraling op gesondheid
  • ’n Terugblik
  • Vertroue te midde van wydverspreide vrees
  • ’n Besoek aan Tsjernobil
    Ontwaak!—2006
  • Die Kernbedreiging—Is dit uiteindelik verby?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Radioaktiewe neerslag wek kommer
    Ontwaak!—2001
  • Radioaktiwiteit—Hoe word jy daardeur bedreig?
    Ontwaak!—1992
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 4/22 bl. 12-15

Vaste hoop te midde van Tjernobil se somberheid

Deur Ontwaak!-medewerker in die Oekraïne

OP 26 April 1986 het die ergste kernaanlegongeluk in die geskiedenis, in Tjernobil, in die Oekraïne, plaasgevind. Later daardie jaar het Michail Gorbatjof, die destydse Sowjetpresident, gesê dat die tragedie ’n wrede herinnering was aan die feit dat “die mensdom nog nie die reusekragte wat hulle in die lewe geroep het, kan beheer nie”.

Die Duitse uitgawe van Psychology Today vir Februarie 1987 het die betekenis van die Tjernobil-ramp beklemtoon en gesê: “Die reaktorramp in Tjernobil . . . was ’n keerpunt in die geskiedenis van die moderne beskawing. En dit was ’n katastrofe wat nog eeue lank ’n aansienlike uitwerking op ons sal hê.” The New York Times het gesê dat “dieselfde hoeveelheid langtermynbestraling in die wêreld se lug, bogrond en water [vrygestel is] as deur al die kerntoetse en -bomme wat al ooit ontplof is”.

Die Duitse koerant Hannoversche Allgemeine het voorspel dat “daar gedurende die volgende 50 jaar ongeveer 60 000 mense reg oor die wêreld weens die versmelting van die Sowjetreaktor aan kanker sal sterf . . . ’n Verdere 5000 sal ernstige genetiese skade ly en tot 1000 sal aangebore gesondheidsgebreke hê.”

Die Tjernobil-tragedie het ’n wolk van vrees, angs en onsekerheid veroorsaak wat honderdduisende lewens in duisternis gedompel het. Tog geniet sommige nou ’n vaste hoop te midde van groot somberheid. Beskou die Rudnik-gesin wat uit Victor en Anna en hulle twee dogters, Elena en Anja, bestaan. In April 1986 het die Rudniks in Pripet gewoon, minder as drie kilometer van die Tjernobil-reaktor af.

Die dag van die ongeluk

Op daardie tragiese Saterdagoggend het die dapper optrede van brandweermanne by die stukkende reaktor ’n selfs groter ramp voorkom. Binne ’n paar uur het die brandweermanne stralingsiekte opgedoen, en ’n paar het later gesterf. Grigori Medwedef, wat in die sewentigerjare adjunk-hoofingenieur by Tjernobil was, gee hierdie beskrywing in sy boek Burned Souls: “Die wolk het oor die klein denneplantasie beweeg wat die reaktorperseel van die dorpie skei, en die klein woud met ’n radioaktiewe asreën bedek.” Tonne verdampte radioaktiewe materiaal is volgens berig in die atmosfeer vrygestel!

Dit is merkwaardig dat die lewe in Pripet, ’n stad met meer as 40 000 inwoners, daardie Saterdag blykbaar soos gewoonlik verloop het. Kinders het in die strate gespeel, en mense het voorberei vir die viering van die Sowjetvakansiedag op 1 Mei. Daar was geen afkondiging oor die ongeluk en geen waarskuwing oor die gevaar nie. Anna Rudnik het met haar driejarige dogtertjie, Elena, gaan stap toe Anna se stiefpa hulle raakloop. Hy het van die ongeluk gehoor. Hy was bekommerd oor die stralingsgevaar en het hulle vinnig met die motor na sy huis ongeveer 16 kilometer daarvandaan geneem.

Die radioaktiewe wolk het in die atmosfeer opgestyg en honderde kilometer ver oor die Oekraïne, Belo-Rusland (nou Belaroes), Rusland en Pole, asook oor Duitsland, Oostenryk en Switserland, gewaai. Die volgende Maandag het wetenskaplikes in Swede en Denemarke bekommerd begin raak toe hulle hoë vlakke van radioaktiwiteit gevind het.

Die nadraai

Sowjetsoldate, brandweermanne, konstruksiedeskundiges en ander is na Tjernobil gestuur. Hierdie groep—ongeveer 600 000 mense—het ’n selfs groter ramp vir Europa voorkom deur die beskadigde reaktor te verseël met ’n sarkofaag van staal en beton wat tien verdiepings hoog en twee meter dik was.

Ontruiming van nabygeleë gebiede het binne die volgende paar dae begin. “Ons moes ons huis verlaat en alles agterlaat—klere, geld, dokumente, voedsel—alles wat ons besit het”, verduidelik Victor. “Ons was baie bekommerd, aangesien Anna swanger was met ons tweede kind.”

Sowat 135 000 mense moes verhuis—alle woongebiede binne ongeveer 30 kilometer van die reaktor af moes ontruim word. Die Rudniks het by familielede ingetrek. Maar hierdie familielede het bang geword dat die Rudniks se radioaktiwiteit hulle sou aantas. “Hulle het ongemaklik geword”, het Anna gesê, “en op die ou end het hulle ons gevra om te gaan.” Ander wat hulle huise moes ontruim, het soortgelyke pynlike ondervindinge gehad. Uiteindelik, in September 1986, het die Rudniks hulle in Kaluga, ongeveer 170 kilometer suidwes van Moskou, Rusland, gevestig.

“Toe het ons uiteindelik besef dat ons nie weer sou kon teruggaan nie”, het Anna gesê. “Ons het ons geliefde gesinswoning, waar ons gebore is en grootgeword het, verloor. Dit was ’n pragtige streek, oortrek met ’n tapyt van blomme en weivelde, met waterlelies in die spruit. In die woud was daar volop bessies en sampioene.”

Nie net is die Oekraïne se skoonheid bederf nie, maar sy rol as die Sowjetunie se graanskuur is ook geraak. ’n Groot deel van die land se oes was daardie herfs besmet. In Skandinawië is 70 persent van die rendiervleis insgelyks ongeskik vir gebruik verklaar omdat die diere radioaktiewe mos gevreet het. En in dele van Duitsland is groente op die lande gelos om te verrot uit vrees vir besmetting.

Die gevolge van bestraling op gesondheid

Amptelike syfers wat vyf jaar ná die ongeluk vrygestel is, sê dat 576 000 mense aan bestraling blootgestel is. Volgens berigte is gevalle van kankeragtige sowel as niekankeragtige siektes hoër onder hierdie mense. Veral jongmense is aangetas. Volgens ’n berig in die tydskrif New Scientist van 2 Desember 1995 is een van Europa se vernaamste skildklierspesialiste van mening dat “tot 40 persent van die kinders wat jonger as ’n jaar was toe hulle aan die hoogste vlakke van die Tjernobil-neerslag blootgestel is as volwassenes skildklierkanker kan ontwikkel”.

Aangesien Anna gedurende haar swangerskap aan bestraling blootgestel is, het dokters daarop aangedring dat sy ’n aborsie ondergaan. Toe Victor en Anna weier, moes hulle ’n verklaring onderteken waarin hulle belowe om vir die kind te sorg selfs al sou hy of sy gebreklik gebore word. Hoewel Anja nie gebreklik is nie, is sy bysiende, het sy asemhalingsprobleme en kardiovaskulêre siektes. Daarbenewens het die gesondheid van die ander lede van die Rudnik-gesin sedert die ramp agteruitgegaan. Victor en Elena het albei hartprobleme ontwikkel, en Anna is maar net een van baie wat as ’n Tjernobil-invalide geregistreer is.

Onder diegene wat die ergste bestraal is, is dié wat die beskadigde reaktor verseël het. Duisende wat met die skoonmaakwerk gehelp het, het blykbaar intussen ’n ontydige dood gesterf. Baie oorlewendes het neurologiese en psigosomatiese klagtes. Depressie kom algemeen voor, en selfmoord is niks ongewoons nie.

Angela is een van die oorlewendes wat ernstige gesondheidsprobleme begin ondervind het. Sy het ten tye van die ramp in Kiëf, die hoofstad van die Oekraïne, meer as 80 kilometer van Tjernobil af, gewoon. Maar sy het daarna voorraad vir diegene by die reaktorperseel afgelewer. Swetlana, nog ’n oorlewende, wat naby Kiëf in Irpin woon, het kanker ontwikkel en ’n operasie ondergaan.

’n Terugblik

In April 1996, tien jaar ná die groot ongeluk, het Michail Gorbatjof erken: “Ons was eenvoudig nie voorbereid op daardie soort situasie nie.” In dieselfde tyd het president Jeltsin van Rusland gesê: “Die mensdom het nog nooit ’n ongeluk van so ’n omvang beleef, met sulke ontsettende gevolge wat so moeilik is om ongedaan te maak nie.”

Dit is betekenisvol dat die Duitse uitgawe van Scientific American die nadraai van die Tjernobil-ramp vergelyk het met wat ’n middelslagkernoorlog tot gevolg sou hê. Party skat dat daar ongeveer 30 000 mense weens die tragedie gesterf het.

Volgens ’n nuusberig verlede jaar was daar teen die tiende herdenking van die ongeluk steeds ’n gebied van 29 kilometer om die aanleg wat ongeskik was vir menselewe. Die verslag het egter gesê dat “647 vasbeslote inwoners na die gebied teruggekeer het; hetsy stilletjies, deur omkopery of openlik”. Dit het gesê: “Net mooi niemand woon binne ’n radius van 6 myl [10 km] om die aanleg nie. Die paar honderd mense wat teruggekeer het, woon in die 12-mylstrook [20 km-strook] buite hierdie radius.”

Vertroue te midde van wydverspreide vrees

Vir baie duisende wat vroeër naby Tjernobil gewoon het, was en is die lewe baie moeilik. Een studie van mense wat hulle huise moes ontruim, het getoon dat 80 persent ongelukkig is in hulle nuwe tuistes. Hulle voel hartseer, moeg, onrustig, geïrriteerd en eensaam. Tjernobil was nie net ’n kernongeluk nie—dit was ’n sosiale en sielkundige krisis van ’n oorweldigende omvang. Dit is nie verbasend nie dat baie na gebeure as pre-Tjernobil of post-Tjernobil verwys.

In teenstelling met soveel ander hanteer die Rudnik-gesin hulle situasie verbasend goed. Hulle het die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer en gevolglik ’n sterk geloof opgebou in die beloftes in God se Woord aangaande ’n nuwe wêreld van regverdigheid (Jesaja 65:17-25; 2 Petrus 3:13; Openbaring 21:3, 4). Toe, in 1995, het Victor en Anna hulle toewyding aan God deur waterdoop gesimboliseer. Later is hulle dogter Elena ook gedoop.

Victor verduidelik: “’n Studie van die Bybel het dit vir ons moontlik gemaak om ons Skepper, Jehovah God, en sy voornemens met die mensdom op aarde te leer ken. Ons is nie meer teneergedruk nie, want ons weet dat sulke verskriklike ongelukke nooit weer sal plaasvind wanneer God se Koninkryk kom nie. Ons sien uit na die tyd wanneer die gehawende toestand van die gebied om ons dierbare tuiste naby Tjernobil herstel sal word en deel sal uitmaak van ’n wonderlike paradys.”

Angela en Swetlana, wat ook op God se beloftes van ’n nuwe wêreld van regverdigheid vertrou, het dieselfde wonderlike vooruitsig ondanks hulle bestralingsverwante siektes. “Sonder ’n kennis van die Skepper en sy voornemens”, het Angela gesê, “sou die lewe moeilik wees. Maar ’n intieme verhouding met Jehovah help my om positief te bly. Dit is my begeerte om hom as ’n voltydse prediker van die Bybel te bly dien.” Swetlana het bygevoeg: “My Christenbroers en -susters is vir my ’n groot hulp.”

’n Studie van die Bybel het vir hierdie mense getoon dat ongelukke wat deur “tyd en lotgeval” veroorsaak word mense raak waar hulle ook al woon en wie hulle ook al is (Prediker 9:11). Maar Bybelstudente het ook geleer dat daar geen skade is wat Jehovah God nie kan regmaak nie, geen besering is wat hy nie kan gesond maak nie en geen verlies is waarvoor hy nie kan vergoed nie, ongeag hoe verpletterend hulle probleme is.

Hoe kan jy ook vertroue ontwikkel in God se beloftes en sodoende ’n wonderlike hoop geniet? Die skrywer van die Bybelboek Spreuke antwoord: “Dat jou vertroue op die HERE mag wees, daarom onderwys ek jou vandag” (Spreuke 22:19). Ja, jy moet kennis deur middel van ’n gereelde Bybelstudie inneem. Jehovah se Getuies in jou gebied sal jou graag help om dit te doen. Hulle bied ’n gratis Bybelstudieprogram aan wat gehou kan word op ’n tyd en plek wat vir jou geleë is.

[Lokteks op bladsy 14]

“Die mensdom het nog nooit ’n ongeluk van so ’n omvang beleef, met sulke ontsettende gevolge wat so moeilik is om ongedaan te maak nie.”—President Jeltsin van Rusland

[Lokteks op bladsy 15]

Tjernobil was nie net ’n kernongeluk nie—dit was ’n sosiale en sielkundige krisis van ’n oorweldigende omvang

[Foto-erkenning op bladsy 12]

Tass/Sipa Press

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel