Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 4/06 bl. 14-16
  • ’n Besoek aan Tsjernobil

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Besoek aan Tsjernobil
  • Ontwaak!—2006
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ons somber vakansie
  • ’n Tyd om na te dink
  • Vaste hoop te midde van Tjernobil se somberheid
    Ontwaak!—1997
  • Die Kernbedreiging—Is dit uiteindelik verby?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2006
  • Radioaktiewe neerslag wek kommer
    Ontwaak!—2001
Sien nog
Ontwaak!—2006
g 4/06 bl. 14-16

’n Besoek aan Tsjernobil

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN DIE OEKRAÏNE

Daar was nog nooit tevore so ’n ongeluk soos die een wat 20 jaar gelede by die Tsjernobil-kernkragaanleg plaasgevind het nie. Op 26 April 1986 het een van die vier reaktors by die aanleg ’n katastrofiese smelting ondergaan. Ná die meeste rampe—hetsy mensgemaakte of natuurrampe—is dit nog moontlik om op te ruim en te herbou. Maar hierdie ongeluk het besoedeling agtergelaat wat langdurige slegte gevolge gehad het.

IN ONLANGSE tye het voormalige inwoners van dorpe naby die aanleg elke jaar op 9 Mei—soms saam met vriende en familie—’n pelgrimstog gemaak na verlate huise wat voorheen hulle tuistes was. Op ander tye het hulle vir begrafnisse daarheen gegaan. Wetenskaplikes het die terrein besoek om die gevolge van straling te bestudeer. Daarbenewens het Oekraïnse toeristeondernemings in onlangse jare eendaagse, begeleide toere van die gebied aangebied.

Gedurende Junie 2005 het ’n voorbladartikel in The New York Times berig oor kort “begeleide toere” van Pripet wat “nie gesondheidsrisiko’s inhou nie”.a Pripet—’n stad met ongeveer 45 000 inwoners sowat drie kilometer van die reaktors af—is in die 1970’s gestig. Maar ná die kernramp het dit—soos baie ander stede—heeltemal verlate geword. Sulke plekke het daarna verbode terreine geword as gevolg van die radioaktiwiteit. Toe die smelting plaasgevind het, het Anna en Wiktor Roednik ongeveer ’n jaar lank in Pripet gewoon.b

Die veel kleiner dorp Tsjernobil (ook die naam van die kernaanleg) is omtrent 15 kilometer van die reaktors af. Die voormalige inwoners is oor die afgelope paar jaar toegelaat om dit jaarliks te besoek. Omdat Tsjernobil die Roedniks se eintlike tuisdorp is, het hulle dit gedurende hierdie tyd besoek. Laat my toe om die besoek te beskryf wat ek en my vrou ’n paar jaar gelede saam met hulle afgelê het.

Ons somber vakansie

Ons het uit Kiëf, die hoofstad van die Oekraïne, vertrek en op ’n dubbelbaanpad noord gery. Ons het deur klein dorpies gery waar rye huise langs die pad gestaan het, tulpe die voortuine versier het en mense in hulle groentetuine gewerk het. Tussen die dorpies het landerye met mielies, koring en sonneblomme tot aan die horison gestrek.

Maar iewers het ons ’n onsigbare grens oorgesteek. Geen padteken het die verandering aangedui nie, maar ons kon dit aanvoel. ’n Onrusbarende stilte het oor die dorpe langs die pad gehang. In die huise wat besig is om vervalle te raak, was vensters gebreek en deure met hangslotte toegesluit. Erwe was vol onkruid en tuine was oorgroei.

Ons het die uitsluitingsone binnegegaan—ongeveer 30 kilometer van die reaktors af. “Dorpe in hierdie gebied het hoë vlakke van straling”, het Anna ons vertel. “Van hier af is meer as 150 000 mense uit tientalle dorpe geskuif na nuwe woonplekke regoor die voormalige Sowjetunie.”

Ons het verder gereis en gou by ’n ander sone uitgekom wat met ’n hoë doringdraadheining van die res van die wêreld afgesper is. Daar naby het wagte in ’n houtgebou—wat soos ’n doeanebeheerpunt gelyk het—alle verkeer gemonitor. ’n Wag het ons paspoorte nagegaan, ons voertuig geregistreer en toe die hek oopgemaak.

Ons was nou in die spersone. Bome, met vars, nuwe blare, het ’n groen dak oor die pad gevorm. Die woudvloer was dig begroei—beslis nie die beeld van verskroeide bome en verdroogde struike wat ek my voorgestel het nie. Voor ons het ’n teken van wit bakstene met blou letters daarop die dorp Tsjernobil geïdentifiseer.

Op die grens van Tsjernobil was daar ’n apteek. Wiktor se ma het voorheen daar gewerk. ’n Verbleikte teken wat die winkelure aandui, het nog steeds in die stowwerige, vuil venster gehang. Naby die park in die middel van die dorp was die kultuursentrum. Anna het vertel hoe sy en ander inwoners ná werk daar ontspan het en na uitvoerings deur verskeie kunstenaars gekyk het. Die bioskoop, wat Oekraïna genoem is, was daar naby, waar kinders eens op ’n tyd van die skroeiende hitte ontsnap het om in koel gemak na die nuutste rolprente te kyk. Die klank van gelag uit ’n donker bioskoop het lank terug al opgehou. Anna en Wiktor het ons na hulle huis geneem—’n kort entjie se stap van die binnedorp af. Die voordeur was toegegroei met bome, en ons het dus een-een deur die ruie onkruid na die agterdeur geloop—wat teen dié tyd net ’n ruwe gat in die muur was.

Binne was daar algehele verwoesting. ’n Matras vol skimmel het slap in ’n geroeste bedraam gelê. Repe muurpapier het soos vuil stroke vlieëpapier gehang. Anna het gebuk om ’n ou foto te red uit die rommel wat oral in die vertrek rondgestrooi is. “Ek wou altyd terugkom en alles vind net soos ons dit agtergelaat het”, het sy met ’n hartseer stem gesê. “Dit breek my hart om te sien hoe ons huis so vervalle geraak het; hoe ons besittings oor die jare heen gesteel is!”

Ons het die Roedniks se huis verlaat en in die straat af gestap. Op die een hoek het ’n groep mense ’n lewendige gesprek gevoer. Ons het ’n halwe kilometer geloop na waar die straat by ’n park eindig, op ’n hoogte wat oor ’n kalm rivier uitkyk. Die wit blomme van kastaiingbome het in die bries gefladder. Op die trappe wat na die pier afloop, het honderde mense in 1986 gewag om per boot weggeneem te word.

Verlede jaar het die Roedniks vir die eerste keer hulle voormalige tuiste in Pripet besoek. Hulle het 19 jaar vroeër, ná die kernsmelting, uit die stad gevlug.

’n Tyd om na te dink

Tydens April 2006 word die 20ste herdenking van die kernramp op verskeie maniere gedenk. Vir baie mense dien dit as ’n sombere herinnering aan die mens se onvermoë om—ondanks sy opregte pogings—die wêreld se sake suksesvol sonder goddelike toesig te bestuur.—Jeremia 10:23.

Verlede September is die uitslae van ’n wetenskaplike verslag wat die tragedie herevalueer het, vrygestel. Volgens die verslag, wat deur die Verenigde Nasies aangevra is, het 56 mense aanvanklik in die ongeluk gesterf, en dit voorspel dat net 4 000 sterftes uiteindelik regstreeks aan stralingsiekte toegeskryf sal word. Vroeëre voorspellings van die sterftesyfer was oor die algemeen tussen 15 000 en 30 000. ’n Hoofartikel in die New York Times van 8 September 2005 het gesê dat die VN-verslag “deur verskeie omgewingsgroepe aangeval is as ’n bevooroordeelde poging om die potensiële gevare van kernkrag toe te smeer”.

Wiktor, wat ná die ramp van sy Skepper, Jehovah God, geleer het, het gesê: “Ons is nie meer terneergedruk nie, want ons weet dat, wanneer God se Koninkryk kom, sulke verskriklike ongelukke nooit weer sal gebeur nie. Ons sien uit na die tyd wanneer die platteland om ons geliefde huis naby Tsjernobil van die huidige toestand sal herstel en deel van ’n wonderlike paradys sal word.”

Sedert die Tsjernobil-ramp het miljoene mense vas begin glo aan die Bybel se belofte dat die oorspronklike Paradys weer op die aarde gevestig en oor die hele aarde uitgebrei sal word (Genesis 2:8, 9; Openbaring 21:3, 4). In die Oekraïne alleen het meer as 100 000 mense daardie hoop oor die afgelope 20 jaar aangeneem! Mag jy ook beweeg word om ernstig te dink aan die blink toekoms wat belowe word aan dié wat daarna streef om van God se voornemens te leer.

[Voetnote]

a Hoewel verskeie owerhede verklaar het dat sulke kort besoeke veilig is, word geen persoonlike reisplanne na die gebied deur Ontwaak! aanbeveel of onderskryf nie.

b Sien die Ontwaak! van 22 April 1997, bladsye 12-15.

[Venster/Prent op bladsy 16]

Monument Ter Ere Van Die Likwideerders

Hierdie groter as lewensgroot monument is opgerig ter ere van dié wat skoonmaakwerk ná die Tsjernobil-ramp gedoen het, die sogenoemde likwideerders. Hulle het die brand geblus, die smeulende kernaanleg verseël en besmetting verwyder. Uiteindelik was daar honderdduisende van hierdie werkers. Daar word voorspel dat sowat 4 000 sterftes regstreeks aan die ongeluk toegeskryf sal word en dat die meeste daarvan onder hierdie werkers sal wees.

[Prente op bladsy 15]

Teken buite die dorp Tsjernobil, en bioskoop

[Prente op bladsy 15]

Die Roedniks en hulle huis in Tsjernobil

[Prente op bladsy 16]

Die kragstasie waar die smelting plaasgevind het, sowat drie kilometer van die Roedniks se woonstel in Pripet (inlas)

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel