Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 4/22 bl. 20-23
  • Nou is ek bly dat ek lewe!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Nou is ek bly dat ek lewe!
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Begeerte na iets beters
  • Weer wens ek ek kon sterf
  • ’n Krisis
  • Druk om tot ’n bloedoortapping in te stem
  • ’n Suksesvolle operasie
  • Hulp van ons broederskap
  • Onderskraag deur ’n vaste hoop
  • Nie towenaars óf gode nie
    Ontwaak!—1994
  • Ek kom voor ’n mediese noodgeval te staan
    Ontwaak!—1996
  • Wanneer die lewe ’n stryd is
    Ontwaak!—1994
  • ’n Koeël het my lewe verander
    Ontwaak!—1995
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 4/22 bl. 20-23

Nou is ek bly dat ek lewe!

“Jy besef seker dat jy gaan sterf, nè?” het die dokter gevra. Dit is ironies dat die dood by twee vorige geleenthede ’n welkome verligting sou gewees het. Maar nie dié keer nie. Laat ek verduidelik.

EK HET in ’n voorstad van New York op Long Island grootgeword, waar my pa ’n gewilde motorrenjaer was. Hy was ’n perfeksionis wat op mededinging gefloreer het. Hy was ook buierig en baie moeilik om tevrede te stel. My ma, aan die ander kant, was ’n vredeliewender, stiller persoon, wat so bang was vir my pa se renjaery dat sy nie eers daarna kon gaan kyk nie.

Ek en my broer het vroeg reeds geleer om tuis op die agtergrond te bly, iets wat my ma lank reeds gewoond was om te doen. Maar daar was ’n prys aan verbonde. Ons het almal in vrees vir my pa gelewe. Dit het my laat voel asof ek nooit enigiets reg kon doen nie. My selfrespek het nog laer gedaal toe ’n “vriend” van die gesin my in my vroeë tienerjare seksueel gemolesteer het. Omdat ek nie my gevoelens kon verwerk nie, het ek selfmoord probeer pleeg. Dit was die eerste keer dat ek gedink het die dood sou ’n welkome verligting wees.

Ek het niks werd en ongeliefd gevoel en ’n eetversteuring ontwikkel wat algemeen is onder jong vroue met ’n lae selfbeeld. Ek het ’n lewe begin lei wat gevul was met ’n soeke na opwinding, dwelm- en alkoholmisbruik, hoerery en aborsies—soos ’n vers in ’n liedjie sê, het ek ‘op al die verkeerde plekke na liefde gesoek’. Ek was betrokke by motorfietsry, motorwedrenne en skubaduik, en van tyd tot tyd het ek in Las Vegas gaan dobbel. Ek het ook ’n fortuinverteller se raad ingewin en net vir die pret die Ouija-bord gebruik, sonder dat ek besef het hoe gevaarlik spiritisme is.—Deuteronomium 18:10-12.

Daarbenewens het my soeke na opwinding daartoe gelei dat ek by onwettige bedrywighede soos dwelmhandel en winkeldiefstal betrokke geraak het. My soeke na liefde en goedkeuring het ook tot ’n string kêrels en verloofdes gelei. Saam het al hierdie faktore ’n lewenswyse geskep wat baie gevaarliker was as wat ek besef het.

Een aand, nadat ek in die kuipe by die renbaan ’n kombinasie van sterk drank en dwelms gedrink het, het ek ongelukkig toegelaat dat my kêrel my huis toe neem. Nadat ek op die voorste sitplek my bewussyn verloor het, het hy blykbaar ook. Die slag van ’n botsing het my wakker geskud. Ek is in die hospitaal opgeneem met veelvuldige beserings, maar uiteindelik het ek herstel en net ’n beskadigde regterknie oorgehou.

’n Begeerte na iets beters

Hoewel ek min waardering vir my eie lewe gehad het, was ek baie besorg oor die veiligheid en regte van kinders en diere en oor die beskerming van die omgewing. Ek het daarna gesmag om ’n beter wêreld te sien, en in ’n poging om een te skep, was ek aktief betrokke by baie organisasies. Dit was hierdie begeerte na ’n beter wêreld wat my aanvanklik laat belangstel het in die dinge wat ’n werksmaat wat een van Jehovah se Getuies is, gesê het. Elke keer as daar iets by die werk verkeerd gegaan het, het sy gefrustreerd na “hierdie stelsel” verwys. Toe ek haar vra wat sy bedoel, het sy verduidelik dat die lewe binnekort vry van alle kommer sal wees. Aangesien ek groot respek vir haar gehad het, het ek met belangstelling geluister.

Ons het ongelukkig kontak verloor, maar ek het nooit vergeet wat sy gesê het nie. Ek het besef dat ek eendag groot veranderinge in my lewenswyse sou moes aanbring om vir God welgevallig te wees. Maar ek was nie gereed daarvoor nie. Ek het egter vir voornemende huweliksmaats gesê dat ek eendag ’n Getuie gaan word, en as hulle nie daarvan gehou het nie dit toe die tyd was om die verhouding te beëindig.

As gevolg hiervan wou my laaste kêrel meer weet, en hy het gesê dat hy dalk ook sou belangstel as ek daarin belangstel. Ons het dus na die Getuies begin soek. Pleks van hulle te vind, het hulle ons gevind toe hulle aan my voordeur geklop het. ’n Bybelstudie is begin, maar op die ou end het my kêrel verkies om die studie te staak en terug te gaan na sy vrou toe.

My Bybelstudie was dikwels ongereeld. Ek het tyd nodig gehad om waardering op te bou vir Jehovah se beskouing van die heiligheid van lewe. Maar toe ek my denke aangepas het, het ek besef dat dit nodig was om my valduikuitstappies te staak en op te hou rook. Die lewe het vir my al hoe kosbaarder geword, en ek was toe gereed om tot rus te kom en nie meer kanse te waag nie. Op18 Oktober 1985 het ek my toewyding aan Jehovah deur waterdoop gesimboliseer. Min het ek geweet dat my lewe binnekort aan ’n draadjie sou hang.

Weer wens ek ek kon sterf

’n Paar maande later—die aand van 22 Maart 1986—was ek voor my huis besig om die wasgoed uit my motor te haal toe ’n motor, wat te vinnig gery het, my tref en my meer as 30 meter ver gesleep het! Ek was die slagoffer van ’n tref-en-trap-ongeluk. Hoewel ek kopbeserings opgedoen het, was ek die hele tyd by my bewussyn.

Ek het op my gesig in die middel van ’n donker straat gelê, en al waaraan ek kon dink, was dat ek weer raakgery gaan word. Die pyn was verskriklik, meer as wat ek kon verduur. Daarom het ek tot Jehovah bly bid om my te laat sterf (Job 14:13). ’n Vrou wat ’n verpleegster was, het daar opgedaag. Ek het haar gevra om die posisie van my bene te verander, aangesien ek ernstige beserings aan my bene opgedoen het. Sy het dit gedoen en ook ’n klemverband met ’n deel van haar rok gemaak om die bloeding uit die menigvuldige breuke in my een been te stelp. My stewels is ’n blok verder gevind, vol bloed!

Verbygangers, wat nie besef het dat ek ’n voetganger was nie, het my bly vra waar my motor is. Omdat ek nie geweet het hoe ver ek gesleep is nie, het ek gedink dat ek steeds langs my motor is! Toe die paramediese personeel opdaag, het hulle gedink dat ek gaan sterf. Hulle het dus polisiespeurders laat kom, aangesien manslag waarby ’n voertuig betrokke is ’n misdaad kan wees. Die bestuurder is later aangekeer. Hulle het die gebied as ’n misdaadtoneel afgesper en op my motor beslag gelê as ’n bewysstuk. Albei deure aan die een kant is afgeruk.

’n Krisis

Ek het intussen by die plaaslike traumasentrum aangekom en het herhaaldelik sommer so deur die suurstofmasker gesê: “Geen bloed nie, geen bloed nie. Ek is een van Jehovah se Getuies!” Die laaste ding wat ek onthou, was die gevoel van die groot klereskêr teen my rug en die traumaspan wat vir mekaar bevele skree.

Toe ek wakker word, was ek verstom dat ek lewe. Ek het kort-kort my bewussyn verloor. Elke keer wanneer ek wakker geword het, het ek my familie gevra om met die egpaar in aanraking te kom wat die Bybel saam met my gestudeer het. My familie was ongelukkig oor die feit dat ek ’n Getuie geword het en het dus gerieflik “vergeet” om hulle te laat weet. Maar ek het volgehou—dit was die eerste ding wat ek gevra het elke keer as ek my oë oopgemaak het. Uiteindelik is my volharding beloon, en toe ek my oë op ’n dag oopmaak, was hulle daar. Wat ’n verligting! Jehovah se mense het geweet waar ek was.

Maar my vreugde was van korte duur, want my bloedtelling het begin daal en ek het ’n hoë koors gehad. Bene wat vermoedelik infeksie veroorsaak het, is verwyder en vier penne is in my been gesit. Maar die koors het kort daarna teruggekeer, en my been het swart geword. Gangreen het ingetree en die been moes afgesit word om my lewe te red.

Druk om tot ’n bloedoortapping in te stem

Aangesien my bloedtelling geweldig gedaal het, het hulle gemeen dat ’n operasie onmoontlik sou wees sonder ’n bloedoortapping. Dokters, verpleegsters, familielede en ou vriende is ingeroep om druk op my uit te oefen. Toe het hulle by my deur begin fluister. Ek het gehoor hoe die dokters iets beplan, maar ek kon nie uitmaak wat dit was nie. Gelukkig het ’n Getuie wat my op daardie tydstip besoek het, gehoor hoe hulle beplan om ’n oortapping op my af te dwing. Sy het onmiddellik met die plaaslike Christen- ouer manne in aanraking gekom, wat my kom help het.

’n Psigiater is ingeroep om my geestestoestand te evalueer. Die doel daarvan was ongetwyfeld om my onbevoeg te verklaar sodat hulle my wense kon verontagsaam. Hierdie plan het misluk. Toe is ’n geestelike, wat self ’n bloedoortapping aanvaar het, ingebring om my te oortuig dat dit nie verkeerd sou wees om ’n bloedoortapping te aanvaar nie. Uiteindelik het my familie ’n hofbevel probeer kry om ’n bloedoortapping op my af te dwing.

Ongeveer twee-uur die oggend het ’n span dokters, ’n hofstenograaf, ’n balju, die hospitaal se regsgeleerdes en ’n regter by my hospitaalkamer ingestap. Die hof was in sitting. Ek is nie vooraf in kennis gestel nie, ek het nie ’n Bybel gehad nie, geen regsverteenwoordiger nie en ek was swaar verdoof vir die pyn. Die uitslag van die sitting? Die regter het nie die hofbevel toegestaan nie en het gesê dat hy meer as ooit tevore deur die onkreukbaarheid van Jehovah se Getuies beïndruk is.

’n Hospitaal in Camden, New Jersey, het ingestem om my te behandel. Aangesien die hospitaaladministrasie in New York woedend was, het hulle geweier om my enige behandeling, selfs pynstillers, te gee. Hulle het ook geweier dat die helikopter wat my na die hospitaal in New Jersey moes neem daar land. Gelukkig het ek die ambulansrit soontoe oorleef. Met my aankoms het ek die woorde gehoor wat aan die begin van hierdie verhaal gemeld is: “Jy besef seker dat jy gaan sterf, nè?”

’n Suksesvolle operasie

Ek was so swak dat ’n verpleegster my moes help om ’n X op die vorm te maak om toestemming vir die operasie te verleen. My regterbeen moes bo die knie afgesit word. My hemoglobientelling het tot onder 2 gedaal, en die dokters het ernstige breinskade vermoed. Dit was omdat ek nie gereageer het toe hulle “Virginia, Virginia”—die naam wat op my opnemingsvorms was—in my oor geroep het nie. Maar toe iemand ’n ruk later saggies “Ginger, Ginger” fluister, het ek my oë oopgemaak en ’n man gesien wat ek nog nooit tevore gesien het nie.

Bill Turpin was van een van die plaaslike gemeentes van Jehovah se Getuies in New Jersey. Hy het by Getuies in New York gehoor dat my noemnaam Ginger is—’n naam wat ek al van kleins af genoem is. Aangesien ek aan ’n asemhalingstoestel gekoppel was en nie kon praat nie, het hy vrae so gestel dat ek hulle kon beantwoord deur my oë te knip. “Wil jy hê dat ek moet voortgaan om jou te probeer besoek”, het hy gevra, “en die Getuies in New York te laat weet hoe dit met jou gaan?” Ek kon nie my oë genoeg knip nie! Broer Turpin het ’n kans gewaag en in my kamer ingesluip, want my familie het opdrag gegee dat ek geen Getuiebesoekers mag ontvang nie.

Na ses maande in die hospitaal kon ek nog steeds net die basiese daaglikse aktiwiteite uitvoer, soos om self te eet en my tande te borsel. Uiteindelik het ek ’n kunsbeen gekry en kon ek met behulp van ’n loopraam ’n bietjie rondbeweeg. Toe ek in September 1986 ontslaan is en na my woonstel toe teruggegaan het, het ’n verpleegster nog sowat ses maande lank by my gebly om my te help.

Hulp van ons broederskap

Selfs voordat ek terug huis toe is, het ek begin besef wat dit beteken om ’n deel van die Christenbroederskap te wees (Markus 10:29, 30). Die broers en susters het nie net in my fisiese behoeftes voorsien nie, maar ook liefdevol in my geestelike behoeftes voorsien. Met hulle liefdevolle hulp kon ek weer Christelike vergaderinge bywoon en mettertyd selfs deelneem aan wat as die hulppionierdiens bekend staan.

Die siviele hofsaak teen die bestuurder van die motor, wat gewoonlik ’n minimum van vyf jaar duur voordat dit selfs op die hofkalender verskyn, is binne ’n paar maande geskik—tot my prokureur se verbasing. Met die geld van die skikking kon ek na ’n meer toeganklike huis trek. Daarbenewens het ek ’n paneelwa met ’n rolstoelhyser en handbeheermeganismes gekoop. In 1988 het ek dus ’n gewone pionier geword en ten minste 1000 uur elke jaar aan die predikingswerk gewy. Deur die jare heen het ek dit geniet om in gebiede in Noord-Dakota, Alabama en Kentucky te werk. Ek het al meer as 150 000 kilometer met my paneelwa afgelê, waarvan die meeste in die Christelike bediening was.

Ek het al talle snaakse ondervindinge op my elektriese driewielbromponie gehad. Twee keer het ek daarmee geval terwyl ek saam met ’n reisende opsiener se vrou gewerk het. Op ’n keer, in Alabama, het ek my misgis deur te dink dat ek daarmee oor ’n klein stroompie kon spring en het toe vol modder op die grond beland. Maar deur my sin vir humor te behou en myself nie te ernstig op te neem nie, het dit my gehelp om ’n positiewe gesindheid te behou.

Onderskraag deur ’n vaste hoop

Gesondheidsprobleme was soms byna oorweldigend. Ek moes ’n paar jaar gelede by twee geleenthede my pionierdiens staak omdat dit gelyk het asof my ander been dalk afgesit sou moes word. Die dreigende moontlikheid dat ek my been kan verloor, is nou voortdurend daar, en ek is al die afgelope vyf jaar geheel en al aan ’n rolstoel gekluister. In 1994 het ek my arm gebreek. Ek het hulp nodig gehad om te bad, aan te trek, te kook en my woonstel skoon te maak en ek moes oral heen vervoer word. Tog was dit, met die hulp van die broers, vir my moontlik om deur hierdie terugslag met my pionierdiens vol te hou.

Deur my lewe heen was ek op soek na wat na opwinding gelyk het, maar nou besef ek dat die opwindendste tye nog voorlê. My oortuiging dat God alle teenswoordige gebreke in sy vinnig naderende nuwe wêreld gaan genees, maak my bly dat ek nou lewe (Jesaja 35:4-6). Ek sien daarna uit om in daardie nuwe wêreld saam met die walvisse en dolfyne te swem, die berge saam met ’n leeu en haar kleintjies te verken en iets so eenvoudigs te doen soos om op ’n strand te loop. Dit verskaf my genot om te visualiseer hoe ek al die dinge doen wat God ons geskep het om in daardie Paradys op aarde te geniet.—Soos vertel deur Ginger Klauss.

[Prent op bladsy 21]

Toe dobbel nog ’n deel van my lewe was

[Prent op bladsy 23]

God se beloftes onderskraag my

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel