Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 5/8 bl. 13-17
  • God—Dobbelaar of skepper?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • God—Dobbelaar of skepper?
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Sleutels tot die “raaisel”
  • ’n “Ontsaglike reeks ongelukke”
  • Die Bybel se antwoord
  • Die aarde se eindelose verskeidenheid—Hoe het dit hier gekom?
    Ontwaak!—1997
  • Hoe uniek is jy tog!
    Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee?
  • Bedrog in die wetenskap—Die allergrootste bedrog
    Ontwaak!—1990
  • Moderne ongeloof—Moet die soeke voortgesit word?
    Die mensdom se soeke na God
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 5/8 bl. 13-17

God—Dobbelaar of skepper?

“DAAR bestaan geen twyfel nie dat baie wetenskaplikes uiteraard gekant is teen enige vorm van metafisiese argumente, wat nog te sê mistieke argumente. Hulle minag die idee dat daar moontlik ’n God bestaan of selfs ’n onpersoonlike skeppingsbeginsel . . . Persoonlik deel ek nie in hulle minagting nie.” So sê Paul Davies, professor in wiskundige fisika aan die Universiteit van Adelaide, Suid-Australië, in sy boek The Mind of God.

Davies sê ook: “’n Noukeurige studie toon dat die wette van die heelal merkwaardig gepas is vir die verskyning van kompleksiteit en verskeidenheid. In die geval van lewende organismes lyk dit of hulle bestaan afhang van ’n aantal gelukkige toevallighede wat deur sommige wetenskaplikes en filosowe toegejuig word as iets wat absoluut verbasend is.”

Hy sê voorts: “Die wetenskaplike soeke is ’n reis in die onbekende in. . . . Maar deur dit alles heen is daar die bekende element van rasionaliteit en orde. Ons sal sien dat hierdie kosmiese orde ondersteun word deur definitiewe wiskundige wette wat met mekaar verweef is om ’n subtiele en harmonieuse eenheid te vorm. Die wette besit ’n elegante eenvoud.”

Davies sê ten slotte: “Presies waarom Homo sapiens die sprankie rasionaliteit moet hê wat die sleutel tot die heelal voorsien, is ’n tergende raaisel. . . . Ek kan nie glo dat ons bestaan in hierdie heelal ’n blote toeval, ’n ongeluk van die geskiedenis of ’n toevallige afwyking in die groot kosmiese drama is nie. Ons is te nou daarby betrokke. . . . Ons is beslis veronderstel om hier te wees.” Davies kom egter nie tot die gevolgtrekking dat daar ’n Ontwerper, ’n God, is nie. Maar tot watter gevolgtrekking kom jy? Was die mens veronderstel om hier te wees? Indien wel, wie het besluit dat ons hier moet wees?

Sleutels tot die “raaisel”

In die Bybel voorsien die apostel Paulus ’n leidraad om dit wat Davies “’n tergende raaisel” noem te verstaan. Paulus toon hoe God homself geopenbaar het: “Omdat wat omtrent God bekend kan wees onder hulle [“mense wat die waarheid . . . onderdruk”] openbaar is, want God het dit aan hulle openbaar gemaak. Want sy onsigbare eienskappe word van die wêreld se skepping af duidelik gesien, omdat hulle waargeneem word in die dinge wat gemaak is, ja, sy ewige krag en Godheid, sodat hulle onverskoonbaar is” (Romeine 1:18-20).a Ja, die oneindige verskeidenheid lewensvorme, hulle ongelooflike kompleksiteit, hulle voortreflike ontwerp behoort ’n nederige, eerbiedige persoon te laat besef dat daar wel ’n oppermag, intelligensie of verstand is wat ver verhewe is bo enigiets wat die mens nog geken het.—Psalm 8:4, 5.

Paulus se verdere woorde aangaande diegene wat God verwerp, laat ’n mens stilstaan en dink: “Hoewel hulle verklaar het dat hulle wys is, het hulle dwaas geword . . . ja, dié wat die waarheid van God vir die leuen verruil het en aan die skepping eer bewys het en heilige diens verrig het pleks van aan die Een wat geskep het, wat tot in ewigheid geseënd is. Amen” (Romeine 1:22, 25). Diegene wat aan “die natuur” eer bewys en God verwerp, is beslis nie wys in Jehovah se oë nie. Omdat hulle in die moeras van teenstrydige evolusionistiese teorieë vasgeval het, erken hulle nie die Skepper en die ingewikkeldheid en ontwerp van sy skepping nie.

’n “Ontsaglike reeks ongelukke”

Paulus het ook geskryf: “Sonder geloof is dit onmoontlik om vir hom [God] welbehaaglik te wees, want hy wat tot God nader, moet glo dat hy is en dat hy die beloner word van dié wat hom ernstig soek” (Hebreërs 11:6). Geloof wat gegrond is op juiste kennis, nie goedgelowigheid nie, kan ons help om te verstaan waarom ons hier is (Kolossense 1:9, 10). Dit verg beslis goedgelowigheid wanneer sommige wetenskaplikes van ons verwag om te glo dat lewe bestaan omdat dit is “asof ons ’n miljoendollar-lotery ’n miljoen keer in ’n ry gewen het”.

Die Britse wetenskaplike Fred Hoyle het bespiegel dat kernreaksies wat aanleiding gegee het tot die ontstaan van twee elemente wat noodsaaklik is vir lewe, koolstof en suurstof, slegs as gevolg van ’n gelukkige ongeluk ’n gebalanseerde relatiewe hoeveelheid van hierdie elemente voortgebring het.

Hy noem nog ’n voorbeeld: “As die gekombineerde massas van die proton en elektron skielik ’n bietjie meer eerder as ’n bietjie minder as die massa van die neutron moet word, sal die uitwerking verwoestend wees. . . . Regdeur die Heelal sal al die waterstofatome onmiddellik opbreek om neutrone en neutrino’s te vorm. Sonder sy kernbrandstof sal die Son verdof en inmekaarstort.” Dieselfde sal met die miljarde ander sterre in die heelal gebeur.

Hoyle het tot dié gevolgtrekking gekom: “Die lys . . . skynbare ongelukke van ’n niebiologiese aard waarsonder lewe met ’n koolstofbasis en derhalwe menselewe nie kan bestaan nie, is lank en indrukwekkend.” Hy sê: “Dit lyk of sulke eienskappe [wat noodsaaklik is vir lewe] soos ’n draad gunstige toevallighede deur die struktuur van die sigbare wêreld geweef is. Maar daar is soveel van hierdie vreemde toevallighede wat ’n voorvereiste vir lewe is dat ’n verduideliking blykbaar nodig is om dit te verklaar.”—Ons kursiveer.

Hy het ook gesê: “Die probleem is om te besluit of hierdie oënskynlik toevallige instellings werklik toevallig is of nie, en of lewe derhalwe toevallig is of nie. Geen wetenskaplike hou daarvan om so ’n vraag te vra nie, maar dit moet nietemin gevra word. Kan dit wees dat die instellings met intelligente doelbewustheid gedoen is?”

Paul Davies skryf: “Hoyle was so beïndruk met hierdie ‘ontsaglike reeks ongelukke’ dat hy beweeg is om te sê dat dit amper is asof ‘die wette van kernfisika doelbewus ontwerp is vir die gevolge wat hulle binne-in die sterre voortbring’.” Wie of wat is verantwoordelik vir hierdie “ontsaglike reeks [gelukkige] ongelukke”? Wie of wat het hierdie piepklein planeet voortgebring, wat wemel van ’n byna eindelose verskeidenheid van miljoene wonderlik ontwerpte plante en diere?

Die Bybel se antwoord

Die psalmis het ongeveer drieduisend jaar gelede met eerbied geskryf: “Hoe talryk is u werke, o HERE! U het hulle almal met wysheid gemaak; die aarde is vol van u skepsele! Daar is die see, groot en alkante toe wyd—daar is ’n gewemel sonder getal, klein diere saam met grotes.”—Psalm 104:24, 25.

Die apostel Johannes het gesê: “U is waardig, Jehovah, ja, ons God, om die heerlikheid en die eer en die krag te ontvang, want u het alles geskep, en weens u wil het hulle bestaan en is hulle geskep” (Openbaring 4:11). Lewe is nie die gevolg van blinde toeval, of van die een of ander kosmiese lotery wat toevallig wenners vir miljoene lewensvorme opgelewer het nie.

Die eenvoudige waarheid is dat God “alles geskep [het], en weens [sy] wil het hulle bestaan en is hulle geskep”. Jesus Christus self het vir die Fariseërs gesê: “Het julle nie gelees dat hy wat hulle geskep het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie?” Jesus het die Skepper geken! As Jehovah se Meesterwerker was hy saam met Hom gedurende die skepping.—Matteus 19:4; Spreuke 8:22-31, vgl. NW.

Maar dit verg geloof en nederigheid om hierdie basiese waarheid aangaande die Skepper te verstaan en te aanvaar. Hierdie geloof is nie blinde goedgelowigheid nie. Dit is op tasbare, sigbare bewyse gegrond. Ja, “[God se] onsigbare eienskappe word van die wêreld se skepping af duidelik gesien”.—Romeine 1:20.

Met ons huidige beperkte wetenskaplike kennis kan ons nie verduidelik hoe God geskep het nie. Daarom moet ons erken dat ons nie nou alles aangaande die oorsprong van lewe kan weet of verstaan nie. Ons word hieraan herinner wanneer ons Jehovah se woorde lees: “Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie . . . Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes.”—Jesaja 55:8, 9.

Die keuse is joune: óf goedgelowige geloof in blinde en toevallige evolusie, die ontelbare waagkanse wat kwansuis suksesvol was, óf geloof in die Voornemer-Skepper-Ontwerper, Jehovah God. Die geïnspireerde profeet het tereg gesê: “’n Ewige God is die HERE, Skepper van die eindes van die aarde; Hy word nie moeg of mat nie; daar is geen deurgronding van sy verstand nie.”—Jesaja 40:28.

Wat gaan jy dus glo? Jou besluit sal ’n groot verskil maak in jou toekomstige lewensvooruitsigte. As evolusie waar was, sou die dood algehele vergetelheid beteken, ten spyte van die vals argumente van ingewikkelde Katolieke teologie, wat die “siel” by evolusie probeer inlyf.b Die mens het nie ’n onsterflike siel om die onvermydelike slag van sterflikheid te versag nie.—Genesis 2:7; Esegiël 18:4, 20.

As ons aanvaar dat die Bybel waar is en dat die lewende God die Skepper is, het ons die belofte van die opstanding tot ewige lewe, volmaakte lewe, op ’n aarde wat tot sy oorspronklike toestand van balans en harmonie herstel is (Johannes 5:28, 29). Waarin gaan jy jou geloof stel? In die ongelooflike dobbelspel van Darwin se evolusieteorie? Of in die Skepper, wat met ’n doel opgetree het en dit vandag steeds doen?c

[Voetnote]

a “Van die tyd af dat God die wêreld geskep het, is sy ewigdurende krag en Godheid—hoewel onsigbaar—daar vir die verstand om waar te neem in die dinge wat hy gemaak het.”—Romeine 1:20, Jerusalem Bible.

b Sien “Ons beskou die wêreld”, bladsy 28, “Pous herbevestig evolusie”.

c Sien die boek Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., vir ’n breedvoerige bespreking van hierdie saak.

[Lokteks op bladsy 14]

Sommige evolusioniste sê in werklikheid dat ons bestaan op aarde is “asof ons ’n miljoendollar-lotery ’n miljoen keer in ’n ry gewen het”.

[Venster/Prent op bladsy 15]

Eindelose Verskeidenheid En Ontwerp

Insekte “Wetenskaplikes ontdek elke jaar tussen 7000 en 10 000 nuwe soorte insekte”, sê The World Book Encyclopedia. Maar “daar kan tussen 1 miljoen en 10 miljoen soorte wees wat nog nie ontdek is nie”. Die Franse koerant Le Monde, wat in die Guardian Weekly aangehaal is, praat in ’n artikel deur Catherine Vincent van die soorte wat al opgeteken is as ’n “belaglike klein getal in vergelyking met die werklike getal . . . wat na raming enigiets tussen 5 miljoen en ’n ongelooflike 50 miljoen is”.

Dink aan die wêreld van verbasende insekte—bye, miere, perdebye, skoenlappers, kakkerlakke, liewenheersbesies, vuurvliegies, termiete, motte, huisvlieë, naaldekokers, muskiete, vismotte, sprinkane, luise, krieke, vlooie—om maar net mee te begin! Die lys lyk oneindig.

Voëls Wat kan ons sê oor ’n voël wat minder as 30 gram weeg? “Stel jou voor hoe hy elke jaar meer as 10 000 myl [16 000 km] ver migreer vanaf Alaska se boomgrens tot by die reënwoude van Suid-Amerika en weer terug, oor boombegroeide bergtoppe, om wolkekrabbers in stedelike gebiede en oor uitgestrekte plate water van die Atlantiese Oseaan en die Golf van Mexiko.” Watter ongelooflike voël is dit? “Die Nieu-Engelandse sangvoël [Dendroica striata], ’n onvermoeibare voëltjie wie se vlugvermoë feitlik ongeëwenaard is onder Noord-Amerikaanse landvoëls” (Book of North American Birds). Ons vra weer eens: Is dit die gevolg van ontelbare grille van die natuur wat toevallig reg uitgewerk het? Of is dit ’n wonder van intelligente ontwerp?

Voeg by hierdie voorbeelde die voëls wat ’n skynbaar eindelose repertoire het: die nagtegaal, wat regdeur Europa en dele van Afrika en Asië bekend is vir sy pragtige gefluit; die Noord-Amerikaanse spotvoël, ’n voël wat “’n bekwame nabootser [is] en gememoriseerde frases by sy sang voeg”; die liervoël van Australië, met sy “hoogs ontwikkelde sang, met elemente van verbasende slim nabootsing”.—Birds of the World.

Daarbenewens laat die volmaakte kleure asook vlerk- en veerontwerp van so baie voëls ’n mens na jou asem snak van verwondering. Voeg hierby hulle vermoë om te weef en nes te bou, hetsy op die grond, teen kranse of in bome. Sulke ingeskape intelligensie moet sekerlik ’n indruk maak op nederige mense. Hoe het hulle ontstaan? Per toeval of deur ontwerp?

Die menslike brein “Daar kan tussen tienbiljoen en eenhonderdbiljoen sinapse in die brein wees, en elkeen werk soos ’n klein sakrekenaar wat seine lees wat as elektriese impulse inkom” (The Brain). Ons is geneig om die brein as vanselfsprekend te aanvaar, maar dit is ’n ingewikkelde wêreld wat in die kopbeen gehuisves en beskerm word. Hoe het ons hierdie orgaan gekry wat mense in staat stel om te dink, te redeneer en duisende tale te praat? As gevolg van miljoene gelukkige waagkanse? Of as gevolg van intelligente ontwerp?

[Diagram op bladsy 16, 17]

Vereenvoudigde diagram van die uitwendige bou van die brein

Sensoriese korteks

Analiseer sensoriese impulse vanuit die hele liggaam

Oksipitale lob

Verwerk visuele seine

Serebellum

Kontroleer ewewig en koördinasie

Premotoriese korteks

Beheer spierkoördinasie

Motoriese korteks

Help om bewustelike bewegings te beheer

Frontale lob

Help om redenering, emosies, spraak, beweging te beheer

Temporale lob

Verwerk klank; beheer aspekte van die leervermoë, geheue, taal, emosies

[Diagram op bladsy 16]

Akson- eindpunt

Neurotransmitters

Dendriet

Sinaps

[Diagram op bladsy 16, 17]

Neuron

Dendriete

Akson

Dendriete

Sinaps

Neuron

Akson

“Daar kan tussen tienbiljoen en eenhonderdbiljoen sinapse in die brein wees, en elkeen werk soos ’n klein sakrekenaar wat seine lees wat as elektriese impulse inkom.”—THE BRAIN

[Foto-erkenning op bladsy 13]

Maan en planete: NASA photo

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel