Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 5/22 bl. 21-23
  • “Wat ’n hoender in die reën jaag...”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Wat ’n hoender in die reën jaag...”
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Groot uitdaging
  • Waarderende luisteraars
  • Die kano—Kanada se “volmaakte vervoermiddel”
    Ontwaak!—2010
  • Bly om meer te kan doen
    Ontwaak!—2005
  • Koninkryksverkondigers berig
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Ontberinge tydens die oorlog het my op die lewe voorberei
    Ontwaak!—2004
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 5/22 bl. 21-23

“Wat ’n hoender in die reën jaag...”

Deur Ontwaak!-medewerker in Nigerië

TOE ons gemeentetjie in die suide van Nigerië ons voorraad ontvang het van die traktaat Koninkryksnuus Nr. 34, wat wêreldwyd versprei is, was ons gretig om eksemplare daarvan na alle dele van ons gebied te neem. Dit was nie ’n maklike taak nie. In ons gebied is daar plaasgemeenskappe, waar kassawe, jam en ander voedsel verbou word. Hierdie gemeenskappe is diep in die tropiese reënwoud geleë. Dit sou moeilik wees om hulle te bereik, maar glad nie onmoontlik nie. Dit is per slot van rekening God se wil dat die goeie nuus alle soorte mense moet bereik, selfs boere in die oerwoud.—1 Timoteus 2:3, 4.

Op 16 Oktober 1995 het 18 van ons dus om 7:30 vm. vertrek na ’n plaasgemeenskap met die naam Abomgbada, ongeveer 3,5 kilometer van ons af. Onderweg daarheen moes ons deur ’n stroom gaan. Dit water het tot by ons middellywe gekom.

Om op dieselfde dag nog ’n ander kamp te bereik, moes ons ’n groter stroom oorsteek. Hierdie keer het slegs vier broers en ’n suster die stroom oorgesteek. Die res van die groep het agtergebly.

Ons het daardie dag talle luisterende ore gevind. Ons bostoelae, soos ons dit genoem het, het tot ons vreugde bygedra. Terwyl ons geloop het, het ons vrugte wat in die bos groei, gepluk en geëet. Ons het gasvrye boere ontmoet wat ons pogings om hulle te bereik, waardeer het; hulle het vir ons lemoene gegee om ons dors te les. Ons het met ongeveer 250 mense gepraat, en al die traktate versprei wat ons by ons gehad het.

’n Groot uitdaging

Die eintlike uitdaging het twee dae later gekom. Twaalf kilometer van ons af is Ose Anasi, ’n gemeenskap wat waarskynlik nog nooit deur middel van georganiseerde prediking bereik is nie. Party was huiwerig om soontoe te gaan. Dit was gevaarlik om die Urasi-rivier oor te steek, en baie van ons kan nie swem nie. Dit kon gevaarlik wees om deur te loop weens skerp boomstompe. Modderige kolle sou glibberig wees, en as iemand sou val, kon hy seerkry. Sommige van die handgemaakte brûe was nie sterk nie. Daar was slange, krokodille en strome wat vervuil is van bloedsuiers.

Sestien van ons het besluit om in elk geval te gaan. Ons het ongeveer 1,5 kilometer ver gestap voordat ons in ’n kano geklim het om die snelvloeiende en gevaarlike Urasi-rivier oor te steek. Ons moes teen ’n steil heuwel afgaan om die kano te bereik. Dit was tydens die reënseisoen, en die rivier was in vloed. Die hele gebied het kleigrond; en gedurende die reënseisoen is dit baie glibberig. Toe ons uit die kano klim, het ons ontdek dat die voetpaadjie in ’n stroom verander het wat op plekke ’n meter diep was. Dit is waar ons groot probleme begin het.

Ons het ongeveer 30 minute lank in hierdie stroompaadjie gestap. Die grond was so glibberig dat baie van ons in die modderige water geval het, en ons Bybels, tydskrifte en traktate het sopnat geword. Ons was opgeruimd, en wanneer iemand geval het, het ons almal lekker gelag, ook die een wat geval het.

Terwyl ons een stroompie oorgesteek het, het bloedsuiers aan ons bene vasgesuig. Een jong suster wat ’n bloedsuier aan haar been gekry het, het kliphard gegil. Sy het nog steeds geskreeu nadat die bloedsuier verwyder is. Ook dít het ons opgeruimd aanvaar as deel van die avontuur, en ons het verder gegaan.

By ’n ander stroom wat ons moes oorsteek, het een broer besluit om nie soos die ander deur te stap nie, maar om oor te spring. Hy het dit reggekry om oor die water te spring, maar nie oor die modder nie. Hy het gegly en toe plat in die modder geval. Hy het opgestaan, homself ondersoek, gevind dat hy geen beserings het nie en toe gesê: “Geen probleem nie; dis deel van die ondervinding.” Ons het onthou dat die apostel Paulus ook te kampe gehad het met “gevare van riviere”, waarskynlik baie groter as dié waarvoor ons te staan gekom het.—2 Korintiërs 11:26.

Ons het ’n handgemaakte brug oorgesteek, wat gevaarlik gelyk het, maar ons almal het dit tot aan die anderkant gemaak. Daarna het die gebied glibberiger geraak, sodat ons al hoe meer geval het.

Saam met ons was ’n broer wat ’n gewone pionier is en wat amper 70 jaar oud is. Hy het daardie oggend gekom om ons voorspoed toe te wens met ons reis. Maar nadat ons om Jehovah se seën gebid het, het hy gevra: “Hoe kan ek agterbly terwyl julle besig is met die predikingswerk?” Hy het daarop aangedring om saam te kom, en niks wat enigeen gesê het, kon hom oortuig om tuis te bly nie. Hy het gesê dat Jehovah met hom sou wees. Hy het dus saamgekom.

Toe hy plat op sy rug op die glibberige grond geval het, het niemand gelag nie. Ons het bekommerd gevra of hy seergekry het. Hy het geantwoord: “Nee. Ek het stadig geval sodat ek nie die grond sou seermaak nie.” Ons het van verligting gelag en aan Jesaja 40:31 gedink wat sê: “Die wat op die HERE wag, kry nuwe krag.”

Waarderende luisteraars

Uiteindelik het ons ons bestemming bereik. Die mense se reaksie was baie bemoedigend. Een man het bang geword toe hy ons na sy hut sien kom, maar toe hy uitvind wie ons is, het hy gesê: “Ek kan amper nie glo dat julle daardie moeilike reis onderneem het net om vir ons te kom getuig nie. Ons waardeer dit.” Ons het hom geantwoord met ’n plaaslike gesegde: “Wat ’n hoender in die reën jaag, is vir hom belangrik.” Die man het verstaan.

’n Ander boer het gesê: “As die predikingswerk hierdie plek bereik het, beteken dit dat redding ons bereik het.” Baie van hulle het vrae gehad, wat ons beantwoord het. Hulle het ons gevra om weer te kom, en ons het belowe om dit te doen.

In Ose Anasi het ons ongeveer 112 traktate versprei—alles wat ons gehad het. Ons het altesaam vir ongeveer 220 mense getuig.

Op pad terug het ons verdwaal. Om al die pad tot by die kamp terug te stap, sou ’n uur en ’n half geneem het, en dit was vinnig besig om donker te word. Ons het stil tot Jehovah gebid en besluit om voort te gaan, hoewel dit beteken het dat ons deur ’n gevaarlike stroom moes gaan wat tot by ons heupe gekom het.

Nadat ons daardeur is, het ons ons pad gevind en tot ons verbasing agtergekom dat ons al vier vyfdes van die pad huis toe afgelê het. Die feit dat ons verdwaal het, het ons eintlik ’n kortpad laat neem wat ons reis met ten minste ’n uur verkort het! Ons was natuurlik almal bly en het Jehovah gedank. Ons het met sononder by die huis gekom—moeg en honger, maar baie gelukkig.

Later, terwyl ons oor die ondervindinge van die dag gesels het, het een suster gesê: “Ek het stories oor die plek gehoor en het dus geweet dat ek gaan val. As ons nie die goeie nuus moes verkondig nie, sou ek nie na hierdie plek toe gegaan het nie, nie vir al die geld in die wêreld nie!” ’n Broer het uitgeroep: “Uiteindelik het die goeie nuus Ose Anasi bereik!”

[Prente op bladsy 23]

Ons steek ’n plaaslike brug oor

Ons het baie strome oorgesteek wat vol bloedsuiers was

Aan die onderpunt van hierdie gevaarlike voetpad het ons in ’n kano geklim om die Urasi-rivier oor te steek

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel