Veranderende gesindhede laat nuwe vrae ontstaan
“SEKSUELE REVOLUSIE”, “seksontploffing”, “sedelike revolusie”. Uitdrukkings soos hierdie het veranderende gesindhede teenoor seksualiteit aangekondig, veral in die middel-sestigerjare en daarna. Baie mense het die leuse “vrye liefde” aangeneem, wat ’n lewenstyl gekenmerk het waarin mense die huwelik en maagdelikheid verwerp het.
Die skrywer Ernest Hemingway se verklaring: “Wat sedelik is, is dít wat jou agterna goed laat voel, en wat onsedelik is, is dít wat jou agterna sleg laat voel”, is seker ’n goeie opsomming van die gesindheid van diegene wat meegevoer is deur beloftes van seksuele vryheid en vervulling. Die aanvaarding van hierdie filosofie het regverdiging verleen aan korttermyn- seksuele verhoudings met verskeie maats waardeur die individue, mans en vrouens, hulle eie seksualiteit verken het. Seksuele “vervulling” het geen perke geken nie. Die voorbehoedpil, wat in dieselfde dekade bekend gestel is, het tot verdere ongebonde seksuele eksperimentering bygedra.
Maar vigs en ander seksueel oordraagbare siektes het die erfenis van hierdie promiskue lewenstyl geword. Die seksuele gesindhede van ’n sedelose geslag is geskud. ’n Paar jaar gelede het die opskrif “Seks in die tagtigerjare—Die revolusie is verby” in die tydskrif Time verskyn. Hierdie aankondiging was hoofsaaklik gebaseer op die wydverspreide seksueel oordraagbare siektes waarmee talle Amerikaners toe reeds besmet was. Tot op hede het die totale aantal vigs-gevalle regoor die wêreld ’n ongelooflike syfer van byna 30 miljoen bereik!
Die vrees vir seksueel oordraagbare siektes het gelei tot ’n verdere verandering in baie mense se gesindheid teenoor korttermyn- seksuele verhoudings. Die vermaaklikheidstydskrif US het in een van sy nommers vir 1992 oor ’n regeringsopname verslag gedoen en gesê: “As gevolg van vigs en ander seksueel oordraagbare siektes het ongeveer 6,8 miljoen ongetroude vroue veranderinge in hulle seksuele gedrag aangebring.” Volgens die artikel is die boodskap duidelik: “Seks is ’n ernstige saak. Neem op eie risiko daaraan deel.”
Hoe het hierdie onstuimige dekades gesindhede teenoor seksuele verhoudings beïnvloed? Het mense enige lesse geleer uit die roekeloosheid wat gekenmerk is deur die vrye liefde van onlangse dekades en uit die ontnugterende werklikhede van seksueel oordraagbare siektes van die tagtigerjare? Het die instelling van seksonderrig in openbare skole jong mans en vrouens gehelp om suksesvol meester te wees van hulle seksualiteit? Wat is die beste manier om die uitdaging van vandag se veranderde gesindhede teenoor seksualiteit die hoof te bied?