Wat vorm jou gesindheid?
ONGEVEER 2700 jaar gelede het ’n geïnspireerde skrywer hierdie gedagteprikkelende spreuk neergeskryf: “Vir die sot is dit soos vermaak om losbandige gedrag te bedryf” (Spreuke 10:23, NW). Dat dit waar is, was veral sedert die seksuele revolusie duidelik. Voor die vrees vir vigs posgevat het, was dit ’n heersende gesindheid dat seks ’n ‘deelnemersport’ is en dat die geslagsdrang bevredig moet word ‘ongeag die gevolge’. Het hierdie gesindheid verander? Nie eintlik nie.
Vandag se beheptheid met seks bring steeds “verliefdheidsverslaafdes”, ‘reekspoligamiste’ en “seksjagters” voort, wat redeneer dat sedes ’n privaat aangeleentheid is en dat vrye liefde met verskeie persone normaal is. (Sien die venster “Seksuele lewenstyle”, op bladsy 6.) Hulle beweer dat ’n losse geslagslewe ‘niemand seermaak nie’, solank dit tussen instemmende volwassenes is. In 1964 het sosioloog Ira Reiss, van die Staatsuniversiteit van Iowa, dit “permissiwiteit met geneentheid” genoem.
Die Anglikaanse biskop van Edinburg, Skotland, voel blykbaar dieselfde daaroor, aangesien hy gesê het dat die mens gebore is om baie minnaars te hê. In ’n toespraak oor seks en die Christelike godsdiens het hy gesê: “Toe God ons gemaak het, het hy geweet dat hy ons ’n ingeboude geslagsdrang gegee het om uit te gaan en ons saad te saai. Hy het vir ons promiskue gene gegee. Ek dink dit sal verkeerd wees van die kerk om mense te veroordeel wat hulle instinkte gevolg het.”
Is dít ’n gesonde beskouing? Wat is die prys van vrye liefde? Bring korttermynverhoudings met ’n reeks seksmaats vervulling en geluk mee?
Die wêreldwye epidemie van seksueel oordraagbare siektes en die feit dat daar miljoene buite-egtelike swangerskappe is, veral onder tieners, bewys dat so ’n filosofie verkeerd is. Volgens die tydskrif Newsweek word daar geskat dat driemiljoen tieners in die Verenigde State alleen elke jaar seksueel oordraagbare siektes opdoen. Daarbenewens lyk dit of baie van hierdie “instemmende volwassenes” ‘geen natuurlike geneentheid’ of ’n verantwoordelikheidsgevoel teenoor die ongebore kind het wat dikwels verwek word nie, en hulle probeer gou ’n aborsie kry (2 Timoteus 3:3). Die ongebore kind betaal met sy lewe daarvoor wanneer dit wreed van sy moeder weggeskeur word. Die prys wat die jong moeder betaal, kan diep depressie wees sowel as skuldgevoelens wat haar vir die res van haar lewe kan teister.
In die middel van die negentigerjare was die geldelike koste van die gevolge van die seksuele revolusie in Brittanje alleen ’n verbysterende R93,4 miljard elke jaar, het dr. Patrick Dixon uitgewerk. In sy boek The Rising Price of Love het dr. Dixon hierdie syfer bereik deur die koste op te teken vir die behandeling van seksueel oordraagbare siektes, waaronder vigs; die koste van die verbrokkeling van langtermynverhoudings; die koste van enkelouerskap vir die gemeenskap en die koste van terapie vir gesinne en kinders. Volgens ’n berig in The Globe and Mail, ’n Kanadese dagblad, het dr. Dixon tot hierdie gevolgtrekking gekom: “’n Revolusie in seksuele verhoudings wat vir ons vryheid beloof het, het baie mense in kettings gelaat, in ’n wêreld wat verwoes is deur seksuele chaos, tragedie, eensaamheid, emosionele pyn, geweld en misbruik.”
Maar waarom die voortgesette beheptheid met seks, die voorkeur vir korttermynverhoudings en die aandrang op onverantwoordelike vrye liefde? Waardeur word hierdie vernietigende beheptheid aangedryf, aangesien dit duidelik is dat dit oor die afgelope drie dekades sulke slegte vrugte voortgebring het?
Pornografie verdraai seks
Daar is al gesê dat pornografie een van die faktore is wat die beheptheid met seks aandryf. ’n Selferkende seksverslaafde skryf in die koerant The Toronto Star: “Ek het vyf jaar gelede opgehou rook, twee jaar gelede opgehou drink, maar niks in my lewe was moeiliker as om my verslaafdheid aan seks en pornografie af te leer nie.”
Hy is ook oortuig daarvan dat tieners wat voortdurend aan pornografie blootgestel word ’n verdraaide beskouing van seksuele gedrag ontwikkel. Hulle leef seksuele fantasieë uit, en werklike verhoudings is vir hulle ingewikkeld en moeilik. Dit lei tot afsondering en ander probleme, waarvan ’n groot probleem is dat hulle dit moeilik vind om blywende liefdesbande te vorm.
Die vermaaklikheidswêreld buit seks uit
Promiskue lewenstyle waarby verskeie seksmaats betrokke is, hetsy getroud of ongetroud, word algemeen beoefen en openlik deur die vermaaklikheidswêreld ten toon gestel. Die liefdelose en perverse vertoon van seksuele intimiteite op die skerm vuur die beheptheid met seks aan en gee aan hierdie geslag ’n verdraaide beskouing van menslike seksualiteit. Die vermaaklikheidsmedia stel buite-egtelike seks dikwels verkeerdelik gelyk aan liefdevolle intimiteit. Mense wat vermaaklikheidspersoonlikhede verafgod, is blykbaar nie in staat om te onderskei tussen wellus en liefde, tussen korttermyn- seksuele flirtasies en langtermynverbintenisse of tussen fantasie en die werklikheid nie.
So ook het die advertensiewese al baie dikwels seks as ’n bemarkingshulpmiddel uitgebuit. Dit het “’n onpersoonlike middel [geword] wat gebruik word om die aandag op ’n produk te vestig”, het ’n seksterapeut gesê. Adverteerders het seks uitgebuit en die uitlewing van seksualiteit met die lekker lewe verbind, en tog is dit net nog ’n 20ste-eeuse “verdraaiing van seksuele perspektief”, soos die tydskrif Family Relations gesê het.
Veranderende rolle verdraai beskouings
Die veranderende sosiale milieu en die bekendstelling van die voorbehoedpil op die mark in 1960 het miljoene vroue se seksuele gedrag verander. Die Pil het vroue laat voel dat hulle gelyke seksuele status met mans het, ’n seksuele vryheid of onafhanklikheid wat hulle nooit voorheen ervaar het nie. Soos mans kon hulle nou met korttermynverhoudings eksperimenteer, sonder die vrees vir ongewenste swangerskappe. As gevolg van hulle seksuele bevryding het beide mans en vrouens normale gesins- en seksuele rolle tot op die randjie van uitwissing gedryf.
’n Eerste-eeuse Bybelskrywer het van sulke mense gesê: “Hulle het oë wat vol egbreuk is en wat nie kan ophou sondig nie . . . Hulle het ’n hart wat geoefen is in hebsug. . . . Omdat hulle die reguit weg verlaat het, is hulle mislei.”—2 Petrus 2:14, 15.
Seksonderrig in skole
In Amerika het ’n studie van ongeveer 10-000 ongetroude meisies van hoërskoolouderdom aan die lig gebring dat “kennis, soos gemeet aan seksonderrigkursusse en persoonlike kennis van geboortebeperking”, geen uitwerking op die syfers vir ongehude swangerskappe gehad het nie. Sommige openbare skole reageer nietemin op die epidemie deur gratis kondome vir hulle leerlinge beskikbaar te stel, hoewel hierdie gebruik hewig betwis word.
’n Sewentienjarige hoërskoolleerling met wie die koerant Calgary Herald ’n onderhoud gevoer het, het gesê: “Dis ’n feit dat die meeste tieners op hoërskool seks het . . . , selfs sommige 12-jariges.”
Wat is liefde en verbintenis?
Liefde, vertroue en gekoesterde samesyn is nie die outomatiese byprodukte van spontane seksuele aangetrokkenheid óf die bevrediging van seksuele drange nie. Geslagsomgang alleen kan nie ware liefde skep nie. Liefde en intimiteit word voortgebring in die harte van twee liefdevolle individue wat hulle daartoe verbind het om ’n permanente verhouding op te bou.
Korttermynverhoudings laat ’n persoon op die ou end onseker, alleen en dalk besmet met ’n seksueel oordraagbare siekte soos vigs. Voorstanders van vrye liefde kan gepas beskryf word met die woorde in 2 Petrus 2:19: “Terwyl hulle vryheid aan hulle beloof, voer hulle self ’n bestaan as slawe van verderflikheid. Want elkeen wat deur ’n ander oorwin word, word deur dié tot slaaf gemaak.”
Die Anglikaanse Kerk se Raad vir Maatskaplike Verantwoordelikheid het in Junie 1995 hulle verslag vrygestel met die titel “Iets om te vier”. In skerp kontras met die raad in die Bybel het die Raad die kerk aangespoor om “die uitdrukking ‘in sonde lewe’ te laat vaar en weg te doen met sy veroordelende gesindheid teenoor diegene wat saamwoon sonder om te trou”, aldus The Toronto Star. Die verslag het voorgestel dat “gemeentes die mense wat saamwoon, moet verwelkom, na hulle moet luister, by hulle moet leer, . . . sodat almal God se teenwoordigheid in hulle lewe kan ontdek”.
Wat sou Jesus sulke godsdiensleiers genoem het? Ongetwyfeld “blinde gidse”. En wat van diegene wat sulke gidse volg? Hy het geredeneer: “As ’n blinde man dan ’n blinde man lei, sal albei in ’n gat val.” Daar bestaan geen twyfel nie, Jesus het duidelik gesê dat “egbreuk” en “hoererye” van die dinge is wat ‘’n mens verontreinig’.—Matteus 15:14, 18-20.
Met hierdie verskillende faktore wat seks verdraai en uitbuit, hoe kan ’n mens, en veral jongmense, wegbreek van ’n beheptheid met seks? Wat is die geheim van gelukkige, langtermynverhoudings? Die volgende artikel sal bespreek wat ouers kan doen om jongmense te help om vir die toekoms voor te berei.
[Lokteks op bladsy 5]
Daar word geskat dat driemiljoen tieners in die Verenigde State alleen elke jaar seksueel oordraagbare siektes opdoen
[Venster op bladsy 6]
Seksuele lewenstyle
Verliefdheidsverslaafdes: Hulle hou eenvoudig daarvan om verlief te raak, daarom gaan hulle van verhouding tot verhouding sodra die opwinding van hulle verliefdheid verflou. Die benaming is geskep deur dr. Michael Liebowitz, van die staat New York se Instituut vir Psigiatrie.
Reekspoligamiste: Die benaming wat sosioloë gebruik vir mense wat deur ’n reeks liefdesverhoudings gaan wat die wetlike prosedures van die huwelik, egskeiding en hertroue insluit.
Seksjagters: Hulle probeer hulle seksuele vermoëns bewys deur baie seksmaats te hê, sê Luther Baker, ’n professor in gesinstudies en ’n gesertifiseerde seksterapeut. Die benaming word nou ook vir kindermolesteerders gebruik.
[Prent op bladsy 7]
Pornografie is verslawend en lei tot ’n verdraaide beskouing van seksuele gedrag