Die aarde se verdwynende natuurlewe
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN AUSTRALIË
HOU jy daarvan om wilde diere in lewende lywe te sien en te hoor—’n tier, ’n walvis of ’n gorilla? Om ’n koala te versorg? Om die gedreun van die aarde te voel onder die dawerende hoewe van migrerende troppe wat strek so ver as wat die oog kan sien? Maar ongelukkig sal baie mense dalk nooit sulke avonture geniet nie—tensy ’n museum, ’n boek of ’n rekenaarskerm as ’n avontuur beskou kan word. Waarom is dit so?
Omdat duisende plante en diere meedoënloos tot uitwissing gedryf word terwyl jy hierdie artikel lees. Dr. Edward O. Wilson, ’n bioloog by die Harvard-universiteit, skat dat 27000 spesies per jaar, of drie per uur, uitsterf. Teen hierdie tempo kan tot 20 persent van die aarde se spesies binne 30 jaar uitgewis wees. Maar die uitwissingstempo bly nie konstant nie; dit neem toe. Teen vroeg in die volgende eeu sal daar na verwagting elke dag honderde spesies verdwyn!
Afrika se swartrenoster staan op die randjie van uitwissing. Wildstropery het hulle getalle in minder as 20 jaar van 65 000 tot 2500 laat daal. Daar is minder as 5000 orangoetangs oor in die krimpende oerwoude van Borneo en Sumatra. Die uitwissing het ook die aarde se waters getref. Een slagoffer is die grasieuse rivierdolfyn van China se Jangtserivier. Weens besoedeling en onoordeelkundige visvangs is ’n skamele eenhonderd oor, en hulle sal dalk almal binne ’n dekade weg wees.
“Wetenskaplikes van verskeie vakrigtings verskil oor baie dinge”, sê Linda Koebner in Zoo Book, “maar oor die dringendheid daarvan om spesies en die biologiese gesondheid van die planeet te red, staan hulle soos een man saam: Die volgende vyftig jaar is kritiek.”
Wie se skuld is dit?
’n Groeiende mensebevolking het die uitwissingstempo versnel, maar al die skuld kan nie op bevolkingsdruk gepak word nie. Baie diere—die trekduif, die moa, die groot alk en die buidelwolf, om maar ’n paar te noem—is uitgewis lank voordat die mensebevolking op sigself ’n bedreiging was. Dr. J. D. Kelly, direkteur van die Dierkundige Parkeraad van Nieu-Suid-Wallis, Australië, sê van daardie land se geskiedenis: “Die verlies van biodiversiteit sedert kolonisasie in 1788 is ’n nasionale skande.” Hierdie waarneming is ongetwyfeld waar van baie ander lande. Dit sinspeel ook op die donkerder oorsake van uitwissing—onkunde en hebsug.
Weens die wêreldwye uitwissingskrisis het ’n nuwe en onwaarskynlike bondgenoot die stryd aan die kant van die bedreigde diere betree—die dieretuine. Hierdie stedelike vestings word in al hoe groter mate die laaste toevlug vir baie spesies. Maar dieretuine het beperkte ruimte, en dit is duur en moeilik om wilde diere aan te hou. Daar is ook die etiese aspek om hulle ingehok te hou, al word hulle goed behandel. In die dieretuin is hulle bowendien heeltemal afhanklik van die mens se finansiële vrygewigheid en gebrekkige, dikwels onbestendige, politieke en ekonomiese stelsels. Hoe veilig is hierdie vlugtelinge van die natuur dus werklik?
[Venster op bladsy 3]
Is uitsterwing natuurlik?
“Is uitsterwing nie deel van die natuurlike verloop van sake nie? Die antwoord is nee, ten minste nie op die skaal wat dit in onlangse tye plaasgevind het nie. Gedurende die grootste deel van die laaste 300 jaar was die uitwissingstempo van spesies ongeveer een per jaar. Tans is die uitwissingstempo van spesies weens die mens se toedoen ten minste duisend keer hoër. . . . Die oorsaak van hierdie vinnige toename in die uitwissingstempo is menslike aktiwiteite.”—The New York Public Library Desk Reference.
“Ek is gefassineer deur talle, uitsonderlike uitgestorwe diere, en bedroef, dikwels woedend, oor hulle uitwissing. Want die mens was, met die uitsondering van net ’n paar gevalle, deur hebsug of wreedheid, agterlosigheid of onverskilligheid direk of indirek verantwoordelik vir hierdie uitwissings.”—David Day, The Doomsday Book of Animals.
“Menslike aktiwiteite veroorsaak die uitwissing van spesies voordat hulle opgeteken is.”—Biological Conservation.