Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 7/22 bl. 5-8
  • Dienste en funksies van die Internet

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Dienste en funksies van die Internet
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Nuusgroepe
  • Lêerdeling en onderwerpsoek
  • Die Wêreldwye Web
  • Blaai deur die Internet
  • Wat is “Klets”?
  • Wie betaal vir die Internet?
  • Hoe kan ek gevare op die Internet vermy?
    Ontwaak!—2000
  • Die Internet—Waarom versigtig wees?
    Ontwaak!—1997
  • Die Internet—Wees op jou hoede vir die gevare!
    Ons Koninkryksbediening—1999
  • Wat is die Internet?
    Ontwaak!—1997
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 7/22 bl. 5-8

Dienste en funksies van die Internet

’N ALGEMENE funksie van die Internet is ’n wêreldwye stelsel vir die versending en ontvangs van elektroniese pos, bekend as e-pos. Trouens, e-pos verteenwoordig ’n groot deel van al die Internet-verkeer en is vir baie mense die enigste Internet-funksie wat hulle gebruik. Hoe werk dit? Kom ons kyk eers na die gewone posstelsel om die antwoord op daardie vraag te kry.

Gestel jy woon in Kanada en jy wil ’n brief stuur aan jou dogter wat in Moskou woon. Nadat jy die brief behoorlik geadresseer het, pos jy dit en begin so die brief se reis. By die poskantoor word die brief na die volgende plek toe gestuur, miskien ’n streeks- of nasionale verspreidingsentrum, en dan na ’n plaaslike poskantoor naby jou dogter.

’n Soortgelyke proses vind plaas met e-pos. Nadat jou brief op jou rekenaar opgestel is, moet jy ’n e-pos-adres verskaf wat jou dogter identifiseer. Sodra jy hierdie elektroniese brief stuur, loop dit vanaf jou rekenaar, dikwels deur ’n toestel wat ’n modem genoem word, wat jou rekenaar via die telefoonnetwerk met die Internet verbind. En daar gaan dit, op pad na verskillende rekenaars wat as plaaslike en nasionale posroeteringsfasiliteite dien. Hulle het genoeg inligting om die brief by ’n bestemmingsrekenaar te kry, waar jou dogter dit kan lees.

Anders as gewone pos bereik e-pos dikwels die bestemming, selfs op ander vastelande, binne minute of minder, tensy ’n deel van die netwerk baie druk verkeer het of tydelik buite werking is. Wanneer jou dogter haar elektroniese posbus deurgaan, sal sy jou e-pos kry. Die spoed van e-pos en die gemak waarmee dit selfs aan verskeie persone regoor die wêreld gestuur kan word, maak dit ’n baie gewilde vorm van kommunikasie.

Nuusgroepe

Nog ’n gewilde diens word Usenet genoem. Usenet bied toegang tot nuusgroepe vir groepbesprekings oor spesifieke onderwerpe. Sommige nuusgroepe lê hulle toe op die koop en verkoop van verskillende verbruiksartikels. Daar is duisende nuusgroepe, en wanneer ’n gebruiker eers toegang tot Usenet verkry het, kan hy gratis op hulle inteken.

Kom ons sê dat iemand aangesluit het by ’n nuusgroep wat betrokke is by die versameling van posseëls. Wanneer nuwe boodskappe oor hierdie stokperdjie deur ander intekenare in hierdie groep gestuur word, kry die nuweling ook toegang tot die boodskappe. Hierdie persoon lees nie net wat iemand aan die nuusgroep gestuur het nie, maar ook wat ander in reaksie daarop geskryf het. As iemand byvoorbeeld inligting oor ’n sekere reeks seëls aanvra, kan daar kort daarna baie reaksies van regoor die wêreld wees, wat inligting bied wat onmiddellik beskikbaar is aan al die intekenare op hierdie nuusgroep.

’n Variasie van hierdie idee is die Kennisgewingsdiens (KGD). KGD’s is soortgelyk aan Usenet, behalwe dat al die lêers op ’n enkele rekenaar is, wat gewoonlik deur een persoon of groep in stand gehou word. Die inhoud van nuusgroepe weerspieël die uiteenlopende belange, beskouings en sedelike waardes van diegene wat dit gebruik, en daarom is onderskeidingsvermoë nodig.

Lêerdeling en onderwerpsoek

Een van die oorspronklike doelwitte van die Internet was om wêreldwye inligtingsdeling moontlik te maak. Die onderwyser wat in die vorige artikel gemeld is, het ’n ander onderwyser op die Internet opgespoor wat bereid was om reeds ontwikkelde kursusmateriaal met hom te deel. Die lêers is binne minute oorgedra, al was dit oor ’n afstand van 3200 kilometer.

Watter hulp is beskikbaar wanneer jy nie weet waar ’n onderwerp op die Internet gevind kan word nie? Net soos ons ’n telefoonnommer opspoor deur ’n telefoongids te gebruik, kan die gebruiker plekke van belang op die Internet opspoor deur eerstens toegang te verkry tot wat bekend staan as soekruimtes. Die gebruiker voorsien ’n woord of ’n frase; die ruimte voorsien dan ’n lys van plekke op die Internet waar inligting gevind kan word. Die soekfunksie is gewoonlik gratis en duur slegs ’n paar sekondes!

Die boer wat vroeër gemeld is, het gehoor van ’n nuwe tegniek wat presisieboerdery genoem word en van rekenaars en satellietkaarte gebruik maak. Deur daardie frase in ’n soekruimte in te tik, het hy die name gekry van boere wat dit gebruik, asook breedvoerige inligting oor die metode.

Die Wêreldwye Web

Die deel van die Internet wat die Wêreldwye Web (of Web) genoem word, laat skrywers toe om ’n ou idee—naamlik voetnotas—op ’n nuwe manier te gebruik. Wanneer ’n skrywer van ’n tydskrifartikel of ’n boek ’n voetnootteken invoeg, kyk ons na die onderkant van die bladsy en word moontlik na ’n ander bladsy of boek verwys. Skrywers van rekenaardokumente op die Internet kan wesenlik dieselfde doen deur ’n tegniek te gebruik wat ’n woord, ’n frase of ’n beeld in hulle dokument sal onderstreep of uitlig.

Die uitgeligte woord of beeld sê vir die leser dat ’n verwante Internet-bron, dikwels ’n ander dokument, bestaan. Hierdie Internet-dokument kan onmiddellik vir die leser gehaal en vertoon word. Die dokument kan selfs op ’n ander rekenaar en in ’n ander land wees. David Peal, skrywer van Access the Internet!, sê dat hierdie tegniek “jou aan die eintlike dokumente koppel, nie net verwysings daarna nie”.

Die Web maak dit ook moontlik om foto’s, prente, animasie, video’s en geluide te berg en te herwin of te speel. Loma, die huisvrou wat aan die begin van die vorige artikel gemeld is, het ’n kort kleurfilm oor die huidige teorieë oor die heelal gekry en gespeel. Sy het die vertelling deur haar rekenaar se klankstelsel gehoor.

Blaai deur die Internet

Deur ’n webdeurblaaier te gebruik, kan ’n mens maklik en vinnig kyk na inligting en kleurvolle prente wat dalk op rekenaars in talle verskillende lande gestoor is. Die gebruik van ’n webdeurblaaier kan in sekere opsigte amper dieselfde wees as om werklik te reis, net makliker. ’n Mens kan besoek aflê by die Web se uitstallings van die Dooie See-rolle of die Slagtingsgedenkmuseum. Wanneer iemand vinnig van die een webruimte op die Internet na ’n ander blaai, word daar gesê dat hy deur die Net blaai.

Sakeondernemings en ander organisasies het in die Web begin belangstel as ’n manier om hulle produkte of dienste te adverteer en ook om ander soorte inligting te verstrek. Hulle skep ’n webblad, ’n soort elektroniese winkelvenster. Wanneer ’n organisasie se webbladadres eers bekend is, kan voornemende klante ’n deurblaaier gebruik om “inkopies” te gaan doen of inligting in te win. Maar soos in enige mark is nie al die produkte, dienste of inligting wat op die Internet verskaf word heilsaam nie.

Navorsers probeer die Internet veilig genoeg maak vir vertroulike en beveiligde transaksies. (Ons sal later weer oor sekuriteit gesels.) Nog ’n wêreldwye Internet—wat deur sommige Internet II genoem word—word nou ontwikkel as gevolg van die toenemende verkeer wat deur hierdie kommersiële bedrywighede veroorsaak word.

Wat is “Klets”?

Nog ’n algemene diens op die Internet is die Internet-herlei-klets, of Klets. Klets maak dit moontlik vir ’n groep mense, wat aliasse gebruik, om oombliklik boodskappe aan mekaar te stuur. Hoewel dit deur verskillende ouderdomsgroepe gebruik word, is dit veral gewild onder jongmense. Wanneer ’n gebruiker eers gekoppel is, word hy verbind met baie ander gebruikers van regoor die wêreld.

So genoemde kletskamers, of kletskanale, word geskep met ’n spesifieke tema, soos wetenskapsfiksie, rolprente, sport of romanse. Al die boodskappe wat in ’n kletskamer ingetik word, verskyn feitlik tegelykertyd op die rekenaarskerms van al die deelnemers van daardie kletskamer.

’n Kletskamer is soortgelyk aan ’n partytjie waar mense met mekaar meng en gesels, behalwe dat hulle almal in hierdie geval kort boodskappe intik. Kletskamers is gewoonlik 24 uur per dag in werking. Christene besef natuurlik dat die Bybelbeginsels oor omgang, soos die een in 1 Korintiërs 15:33, net so geldig is vir die deelname aan kletskamers as vir alle aspekte van die lewe.a

Wie betaal vir die Internet?

Jy wonder dalk: ‘Wie betaal die koste vir die lang afstande wat ’n mens op die Internet kan aflê?’ Die uitgawes word gedeel deur al die gebruikers, maatskappye en individue. Die eindgebruiker kry egter nie noodwendig ’n langafstandtelefoonrekening nie, selfs al het hy na talle internasionale blaaie gekyk. Die meeste gebruikers het ’n rekening by ’n plaaslike kommersiële Internet-diensverskaffer, wat in baie gevalle aan die gebruiker ’n rekening stuur vir ’n vaste maandelikse bedrag. Verskaffers voorsien gewoonlik ’n plaaslike telefoonnommer om ekstra telefoonkoste te vermy. ’n Tipiese maandelikse toegangsfooi is ongeveer R95.

Soos jy kan sien, is die potensiaal van die Internet geweldig groot. Maar moet jy by hierdie inligtingsnelweg aansluit?

[Voetnoot]

a Ons sal later bespreek waarom ’n mens versigtig moet wees wat kletskamers betref.

[Venster/Prent op bladsy 7]

Internet-adresse—Wat is dit?

Mense wat aan die Internet gekoppel is, word deur middel van e-pos-adresse geïdentifiseer. Gestel jy wil e-pos aan ’n vriend stuur wie se e-pos-adres drg@tekwriting.com is.b In hierdie voorbeeld is die persoon se identiteit, of aantekennaam, “drg”. Mense gebruik dikwels hulle voorletters of volle naam as hulle aantekennaam. Die woord ná die “@”-teken kan hulle werkgewer, hulle sakeonderneming of hulle e-pos-diensverskaffer wees. In hierdie geval is “tekwriting” so ’n sakeonderneming. Die laaste deel van die adres identifiseer die soort organisasie waarby jou vriend ’n aantekennaam het. In hierdie geval verwys “com” na ’n kommersiële organisasie. Opvoedkundige organisasies het ’n soortgelyke benamingsgebruik, maar dit eindig met “edu” en niewinsgewende organisasies eindig met “org”. ’n Ander e-pos-standaard eindig met die persoon se landkode. Die adres lvg@spicyfoods.ar dui byvoorbeeld aan dat die persoon met die aantekennaam “lvg” verbonde is aan ’n firma met die naam “spicyfoods” in Argentinië.

Nog ’n soort adres spoor webdokumente op die Internet op. Veronderstel dat inligting in verband met navorsing oor reënwoude gevind kan word in die webdokument http://www.ecosystems.com/research/forests/rf. Die letters “http” (Hiperteksoordragtaal) identifiseer die protokol vir die hantering van ’n spesifieke soort webdokument en “www.ecosystems.com” dui die naam aan van die webbediener, ’n rekenaar—in hierdie geval ’n kommersiële firma met die naam “ecosystems”. Die eintlike webdokument is die laaste deel van die adres—“/research/forests/rf”. Webadresse word dikwels URL’s genoem, wat staan vir Uniform Resource Locators.

[Voetnoot]

b Die Internet-adresse wat aangegee word, is denkbeeldig.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel