Het jy werklik die Internet nodig?
MOET jy die Internet gebruik? Dit is natuurlik ’n persoonlike saak waaroor jy versigtig moet nadink. Watter faktore kan jou besluit raak?
Behoefte—Het jy die koste bereken?
Baie van die onlangse groei van die Internet is as gevolg van intense bemarkingspogings in die sakewêreld. Dit is duidelik dat hulle wil hê mense moet dink dat hulle dit nodig het. Wanneer hierdie veronderstelde behoefte eers ontwikkel is, vra sommige organisasies lede- of jaarlikse intekengeld vir die inligting of diens wat jy oorspronklik gratis ontvang het. Hierdie gelde is nie ingesluit by jou maandelikse Internet-toegangskoste nie. Sommige gekoppelde koerante is ’n goeie voorbeeld van hierdie gebruik.
Het jy die koste van toerusting en sagteware bereken en dit teen jou werklike behoeftes opgeweeg? (Vergelyk Lukas 14:28.) Is daar openbare biblioteke of skole wat toegang tot die Internet het? As jy eers van hierdie fasiliteite gebruik maak, kan dit jou help om jou behoeftes te bepaal voordat jy ’n groot klomp geld op ’n persoonlike rekenaar en verwante toerusting uitgee. Geskikte openbare Internet-dienste kan dalk na gelang van jou behoefte gebruik word totdat dit duidelik is hoe dikwels sulke dienste werklik nodig is. Onthou dat die Internet al meer as twee dekades bestaan het voordat die algemene publiek eers daarvan bewus geword het, wat nog te sê ’n behoefte daaraan gehad het!
Sekuriteit —Is jou privaatheid verseker?
Nog ’n belangrike faktor is vertroulikheid. Jou e-pos-boodskap moet byvoorbeeld net gesien word deur die persoon vir wie jy dit stuur. Maar terwyl die brief op pad is, kan ’n slim en moontlik gewetenlose persoon of groep jou korrespondensie onderskep of monitor. Ten einde boodskappe te beskerm, gebruik party mense e-pos-sagteware om hulle briewe se vertroulike inhoud te skommel voor hulle dit pos. Aan die anderkant sal die ontvanger dalk soortgelyke sagteware nodig hê om die boodskap te ontskommel.
In die laaste tyd het die uitruil van kredietkaart- en ander vertroulike inligting vir kommersiële gebruik op die Internet dikwels ter sprake gekom. Hoewel wesenlike veranderinge na verwagting die sekuriteit sal verbeter, sê die bekende rekenaarsekuriteitsanalis Dorothy Denning: “Dit is nie moontlik om stelsels te hê wat heeltemal veilig is nie, maar die risiko kan aansienlik verminder word, waarskynlik tot op ’n vlak wat ooreenkom met die waarde van die inligting wat op die stelsels gestoor word en die gevaar wat beide stelselinbrekers en ingewydes inhou.” Algehele veiligheid kan in geen rekenaarstelsel verseker word nie, hetsy dit aan die Internet gekoppel is of nie.
Kan jy die tyd afstaan?
’n Ander belangrike kwessie is jou tyd. Hoe lank sal dit neem om alles wat nodig is om die Internet te gebruik te installeer en te leer ken? ’n Ervare Internet-instrukteur het ook daarop gewys dat dit “vir ’n nuwe Internet-gebruiker een van die verslawendste en tydrowendste bedrywighede kan wees” om deur die Internet te blaai. Waarom?
Daar is soveel interessante onderwerpe en ontelbare nuwe dinge om te ontdek. Die Internet is in werklikheid ’n ontsaglike versameling biblioteke met aantreklike dokumente daarin. As jy net deur ’n fraksie daarvan blaai, kan die grootste deel van die aand daarmee heen wees lank voor jy daaraan dink om te gaan slaap. (Sien die venster “Hoe kosbaar is jou tyd?” op bladsy 13.) Dit beteken natuurlik nie dat alle webgebruikers geen selfbeheersing het nie. Maar dit sal wys wees om beperkings te plaas op die hoeveelheid tyd wat aan die Web bestee word en waarna daar gekyk word—veral vir kinders. Baie gesinne doen dieselfde met die televisie.a Dan sal dit nie inbreuk maak op die tyd wat opsy gesit is vir gesins- en geestelike bedrywighede nie.—Deuteronomium 6:6, 7; Matteus 5:3.
Loop jy iets mis?
Mettertyd sal Internet-tegnologie al hoe meer in ontwikkelende dele van die wêreld ingespan word. Maar dink weer aan die mense wat aan die begin van die eerste artikel gemeld is. Die meeste van die inligting wat hulle bekom het, kon hulle deur die gebruik van biblioteke, telefone, die gewone posstelsel of koerante verkry het. Van hierdie metodes kan natuurlik langer neem en meer kos. Maar vir die oorgrote meerderheid mense in die wêreld sal hierdie meer tradisionele maniere waarskynlik nog ’n ruk lank die vernaamste vorm van kommunikasie wees.
[Voetnoot]
a Sien die artikel “Hoe kan ek ophou om so baie TV te kyk?” in die Ontwaak! van 22 Augustus 1985.
[Prent op bladsy 9]
Om deur die Net te blaai, kan ’n strik word as jy nie selfbeheersing het nie