Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 9/8 bl. 14-17
  • Kilimandjaro—Die dak van Afrika

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kilimandjaro—Die dak van Afrika
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Afrika se “dak”
  • Sy indrukwekkende pieke
  • ’n Ekologiese meesterstuk
  • “Kili” word oorwin
  • Gletsers op die ewenaar
    Ontwaak!—2005
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1998
  • Berge word bedreig
    Ontwaak!—2005
  • Die Maanberge
    Ontwaak!—1998
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 9/8 bl. 14-17

Kilimandjaro—Die dak van Afrika

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN KENIA

NET 150 jaar gelede was die binneland van Afrika nog grotendeels ongekarteer. Vir die buitewêreld was hierdie groot vasteland onbekend en geheimsinnig. Van die baie verhale wat uit Oos-Afrika gekom het, was daar een wat vir Europeërs veral eienaardig geklink het. Dit was ’n verslag deur die Duitse sendelinge Johannes Rebmann en Johann L. Krapf, wat beweer het dat hulle in 1848 ’n berg naby die ewenaar gesien het wat so hoog was dat sy piek wit was van die sneeu.

Die verhaal dat ’n sneeubedekte berg in tropiese Afrika bestaan het, is nie net in twyfel getrek nie, maar ook bespot. En tog het die verslae van ’n reusagtige berg die nuuskierigheid en belangstelling van geograwe en ontdekkingsreisigers geprikkel, en hulle het uiteindelik die sendelinge se verslae bevestig. Daar was inderdaad ’n sneeubedekte vulkaniese berg in Oos-Afrika wat Kilimandjaro genoem is. Party volke het gemeen dat dit “Berg van Grootheid” beteken.

Afrika se “dak”

Vandag is die groot Kilimandjaro bekend vir sy ongelooflike skoonheid en indrukwekkende hoogte. Daar is min tonele wat so skilderagtig en onvergeetlik is soos dié van ’n trop olifante wat al weiend oor die droë, stowwerige Afrikavlaktes trek met die imposante, sneeubedekte “Kili” ver en majestueus op die agtergrond.

Kilimandjaro is die hoogste berg op die vasteland van Afrika en is een van die grootste rustende vulkane in die wêreld. Dit is in Tanzanië geleë, net suid van die ewenaar en langs die Keniaanse grens. Hier het die aarde meer as viermiljard kubieke meter vulkaniese materiaal uitgestoot en hierdie berg gevorm met sy pieke in die wolke.

Die berg se ontsaglike grootte word deur sy afsondering beklemtoon. Hy staan eenkant en alleen in die dorre Masai-bosveld wat ongeveer 900 meter bo seevlak geleë is, en styg tot ’n ontsaglike hoogte van 5895 meter! Dit is geen wonder dat Kilimandjaro partykeer as die dak van Afrika beskryf word nie.

Kilimandjaro is ook “Berg van Karavane” genoem, want sy groot ysvelde en gletsers kon, soos ’n glimmende wit baken, honderde kilometers ver vanuit enige rigting gesien word. In vorige eeue het sy sneeubedekte top dikwels as ’n gids gedien vir die karavane wat uit die woeste binneland van Afrika gereis het en ivoor, goud en slawe vervoer het.

Sy indrukwekkende pieke

Kilimandjaro bestaan uit twee vulkaniese spitse. Kibo is die hoof- vulkaniese piek; sy pragtige simmetriese keël is met permanente ys en sneeu bedek. Aan die oostekant is ’n tweede piek, met die naam Mawenzi, wat 5354 meter hoog is en self die tweede hoogste bergtop in Afrika is, naas Kibo. In teenstelling met Kibo se hange wat geleidelik afloop, is Mawenzi ’n ruwe en pragtig gevormde piek met steil skerppuntige rotsmure aan alle kante. Die pieke Kibo en Mawenzi word op 4600 meter deur ’n uitgestrekte, skuins vlakte verbind wat met rotse besaai is. Aan die westekant van Kibo lê Shira, wat die ingestorte oorblyfsels van ’n antieke vulkaan is wat lank gelede al deur wind en water verweer is en nou ’n asemrowende moerasplato 4000 meter bo seevlak vorm.

’n Ekologiese meesterstuk

Kilimandjaro se ekosisteem bestaan uit verskillende sones wat deur hoogte, reënval en plantegroei bepaal word. Die laer hange is met ongerepte tropiese woude bedek waar troppe olifante en buffels aangetref word. Etlike soorte ape woon hoog in die wouddak, en ’n besoeker kan partykeer skugter bergbosbokke en duikers, wat so maklik deur die digte struikgewas verberg word, vlugtig sien.

Bo die woud is die heidesone. Ou vergroeide bome, wat deur die felheid van wind en ouderdom skeef gedraai is, is bedek met stringe korsmos wat lyk soos die lang grys baard van ’n ou man. Hier word die berghang minder ruig en floreer reuseheidebome. Tussen die graspolle is daar oral bossies helderkleurige blommetjies wat die landskap skilderagtig mooi maak.

Verder boontoe, bo die boomgrens, kom die moerasland voor. Bome word vervang deur buitengewone plante wat reusekruiskruid genoem word en wat tot vier meter hoog word, asook lobelias, wat soos groot koolkoppe of artisjokke lyk. Rondom rotse en klipriwwe groei sewejaartjies, strooiagtige, droë blommetjies wat ’n bietjie kleur aan die andersins silwergrys landskap gee.

Hoër op, ná die moerasland, kry ’n mens die alpynse sone. Die terrein is vaal met skakerings van donkerbruin en grys. Min plante kan in hierdie yl begroeide, droë omgewing groei. Hier word die twee hoofpieke, Kibo en Mawenzi, deur ’n groot, droë en rotsagtige bergrug verbind wat ’n hoogliggende woestyn is. Daar is uiterste temperature in hierdie gebied, wat gedurende die dag tot 38 grade Celsius kan styg en snags tot ver onder vriespunt kan daal.

Uiteindelik bereik ons die spitssone. Hier is die lug koud en helder. Teen die donkerblou lug lyk groot gletsers en ysvelde wit en skoon en kontrasteer dit mooi met die berg se donker terrein. Die lug is dun en het ongeveer die helfte van die suurstofinhoud van lug wat by seevlak voorkom. Op Kibo se plat kruin is die vulkaan se krater, wat byna heeltemal rond is en ’n deursnee van 2,5 kilometer het. Binne die krater, reg in die hart van die berg, is ’n reusagtige asput wat meer as 300 meter wyd is en 120 meter diep in die keel van die vulkaan afgaan. Uit klein fumaroles (rookgate) styg warm swaweldampe stadig in die ysige lug op, wat getuig van die intense aktiwiteit diep binne-in die slapende reus.

Omdat Kilimandjaro so ontsaglik groot is, skep hy sy eie klimaat. Vogtige wind wat van die Indiese Oseaan af na die binneland oor halfdor laaglande waai, waai teen die berg vas en word boontoe gedeflekteer, waar dit kondenseer en reën voortbring. Dit maak die laer hange vrugbaar vir koffieplantasies en voedselgewasse wat die mense voed wat om die voet van die berg woon.

“Kili” word oorwin

Die mense wat in die omgewing van Kilimandjaro woon, het bygelowig geglo dat sy hange die tuiste van bose geeste was wat enigiemand wat sy ysige top probeer bereik kwaad sou aandoen. Dit het voorkom dat die plaaslike mense sy spits probeer bereik. Dit was eers in 1889 dat twee Duitse ontdekkingsreisigers die berg geklim het en bo-op die hoogste punt in Afrika gestaan het. Die tweede piek, Mawenzi, wat tegnies gesproke moeiliker is om te klim, is eers in 1912 oorwin.

Vandag kan enigiemand wat goeie gesondheid geniet Kilimandjaro klim, en dit is heel gewild by besoekers aan Oos-Afrika. Die Tanzaniese parkowerheid het goed georganiseerde reëlings vir diegene wat graag die berg wil klim. Klere en toerusting kan gehuur word. Opgeleide draers en gidse is beskikbaar, en etlike herberge bied gerieflike verblyf vanaf die begin tot die einde van ’n bergklimsafari. Goed geboude hutte op verskillende hoogtes op die berg bied die klimmer slaapplek en skuiling.

Om Kilimandjaro self te sien, is indrukwekkend en stem ’n mens tot nadenke. ’n Mens kan geredelik saamstem met die woorde wat oor God geskryf is: “Hy grondves die berge stewig met sy krag” (Psalm 65:6, NW). Ja, hoog en alleen bo Afrika staan Kilimandjaro as ’n verhewe getuienis van die krag van die Grootse Skepper.

[Kaart op bladsy 16]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

AFRIKA

Kenia

KILIMANDJARO

Tanzanië

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel