Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 9/22 bl. 15-17
  • Die Jagluiperd—die vinnigste van alle katte

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Jagluiperd—die vinnigste van alle katte
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vinnige kat
  • Gespikkelde prag
  • Ouerlike katsorg
  • Die jagter word gejag
  • Die koning van spoed
    Ontwaak!—1996
  • Die luiperd—’n geheimsinnige kat
    Ontwaak!—1995
  • Voeding en versorging in die dierewêreld
    Ontwaak!—2005
  • Leeus—Afrika se majestueuse maanhaarkatte
    Ontwaak!—1999
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 9/22 bl. 15-17

Die Jagluiperd—die vinnigste van alle katte

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN KENIA

DIE hitte het bewegingloos oor die savanna gehang. Ons verkykers was gerig op ’n trop Thomson-gaselle, met hulle goue, gestreepte flanke wat blink in die laaste ligstrale van die ondergaande son. Nie ver daarvandaan nie, bo-op ’n termiethoop, was daar ’n ander waarnemer wat ook in die rigting van die wildsbokke gekyk het. Dit was ’n gespikkelde kat met haar welpies. Haar gelerige oë het die toneel aandagtig bespied. Haar spiere het skielik verstyf, en sy het stadig opgestaan en in die rigting van die trop beweeg. Haar welpies het blykbaar geweet dat hulle moes wag totdat sy terugkeer.

Sy het versigtig vorentoe beweeg terwyl sy haar agter klein bossies en graspolle versteek het. Haar bewegings was glad en seker. Toe sy 200 meter van haar prooi af was, het sy skielik doodstil gaan staan. Een van die gaselle het opgekyk en het in haar rigting gestaar; toe het hy verder geëet. Sy het weer nader begin kruip. Sy het tot 50 meter van die niksvermoedende diere gekom voordat sy besluit het om te hardloop. Soos ’n spiraalveer wat gelos word, het sy in die skemerlig vorentoe geskiet. Die trop gaselle het in alle rigtings gespat, maar die kat het haar oë stip gehou op die een waarop sy besluit het. Sy het oor die vlakte genael en die ligvoetige gasel begin inhaal.

Die verskrikte dier het heen en weer geswenk om die jagluiperd af te skud, maar sy ontwykende bewegings kon nie die blitsvinnige ratsheid van die kat oortref nie. Toe, ongeveer ’n meter van haar beloning af, het sy ’n voorpoot uitgesteek om haar prooi te pootjie. Op daardie oomblik het sy effens gestruikel. In ’n oogwink was die gasel weg.

Die jagluiperd het uitasem gaan staan, toe gaan sit en in die rigting van haar honger welpies gekyk. Ek het verbaas na my vrou gekyk. Ons het so pas die indrukwekkende spoed van die merkwaardige jagluiperd gesien.

Vinnige kat

Die jagluiperd is werklik blitsvinnig. Dit is ongelooflik dat hy in slegs twee sekondes van ’n stilstaande posisie tot ongeveer 65 kilometer per uur kan versnel! Hy kan ’n spoed van tot 110 kilometer per uur bereik! Hy is die vinnigste landdier. In vergelyking hiermee kan ’n resiesperd ’n spoed van bietjie meer as 72 kilometer per uur bereik, en die windhond kan versnel tot ongeveer 65 kilometer per uur. Die jagluiperd kan egter sy verstommende spoed slegs oor kort afstande volhou.

Die jagluiperd is slank met lang, dun bene en ’n soepel, hol rug. Sy lang gespikkelde stert help die jagluiperd om hom te balanseer wanneer hy teen ’n hoë spoed moet draai. Wanneer hy in volle vaart is, kan hy met hale van meer as ses meter hardloop. Iets wat die jagluiperd help om so vinnig te hardloop, is sy unieke pote; hulle is meer soos dié van ’n hond as van ’n kat. Hy gebruik sy kloue om vas te trap vir groter trekkrag.

Gespikkelde prag

Die jagluiperd se gesig is inderdaad uniek en pragtig. Twee fyn swart lyne loop van die oë tot by die hoeke van die bek, en laat die kat hartseer en half ongelukkig lyk. Sy pels, wat klein, soliede kolle het, is kort en het dikwels ’n ligte rooibruin kleur op die lyf, maar is witterig op die maag. Die welpies is baie donkerder by geboorte en het ’n dik pels van lang, blougrys hare wat van hulle nek tot by hulle stert loop.

Die jagluiperd maak snorgeluide of tjirpgeluide soos ’n voël. Hierdie geluid kan tot twee kilometer ver gehoor word en word gebruik om met hulle welpies en ander jagluiperds te kommunikeer.

Die jagluiperd is saggeaard en vreedsaam in vergelyking met sy medekatte die leeu en die luiperd. Wanneer hy tevrede is, spin hy soos ’n groot huiskat. Hulle pas maklik by die mens se teenwoordigheid aan en is selfs al getem. ’n Jagluiperd is natuurlik glad nie ’n huiskat nie. ’n Volgroeide jagluiperd weeg 45 kilogram of meer, en sy skerp tande en kloue maak hom ’n gevaarlike dier—een wat versigtig behandel moet word.

Die jagluiperd word nie gebore met die vermoë om te jag nie en moet deeglik deur sy moeder geleer word om dit te doen. As ’n welpie in gevangenskap grootgemaak word, sal hy nie die vermoë hê om sy prooi te bekruip en neer te trek nie. Wanneer ’n moeder en welpies saam vreet, doen hulle dit vreedsaam, sonder die gegrom en bakleiery wat so algemeen is onder leeus wat vreet. Dit is selfs bekend dat jagluiperds in droë gebiede al sappige spanspekke geëet het.

Toeriste in wildreservate in Afrika was al verbaas oor hoe onbevrees hierdie vreedsame katte kan wees. Dit is nie ongewoon vir ’n volgroeide jagluiperd om die skaduwee van ’n toeristevoertuig op te soek of om op die enjinkap te spring en deur die voorruit na die verbaasde en dikwels bevreesde passasiers te kyk nie.

Ouerlike katsorg

Die wyfiejagluiperd kan aan ’n werpsel van tot ses klein welpies geboorte gee. Sy beskerm hulle moedig en hou hulle goed verskuil, en in die eerste paar maande van hulle lewe verander sy dikwels hulle lêplek. Maar ondanks die pogings van die jagluiperdmoeders om hulle welpies te beskerm, lyk dit of net ongeveer ’n derde van die welpies volwassenheid bereik.

Dit is glad nie maklik vir die wyfie om na ’n werpsel jagluiperdwelpies om te sien nie. Hulle is vol energie en baie spelerig. Die welpies bekruip dikwels hulle rustende moeder se stert en bespring dit terwyl sy dit rond piets soos katte gewoonlik maar doen. Hulle stoei, byt en jaag mekaar en is dikwels onbewus van die immerteenwoordige gevaar van roofdiere.

Die jagter word gejag

Die jagluiperd het baie vyande in die natuur, onder andere leeus, luiperds en hiënas. Maar die jagluiperd se grootste vyand is die mens. Sy lieflike, gespikkelde pels is gesog as klere, vloerbedekkings en trofeë. Hierdie snelvoetige dier is al gevang en vir sportjagtery afgerig. Omdat die jagluiperd nie in gevangenskap aanteel nie, is hulle oral gejag om in hierdie vraag te voorsien. Verlies van habitat het ook druk op die jagluiperd geplaas, sodat hulle nou in Oos-Afrika hoofsaaklik in natuurreservate aangetref word.

In 1900 was daar na raming 100 000 jagluiperds in 44 lande. Vandag is daar moontlik net 12 000 in 26 lande, waarvan die meeste in Afrika is. Pogings word aangewend om hierdie pragtige, gespikkelde kat te beskerm, maar hulle getalle neem nog steeds af.

Party meen dat die jagluiperd moontlik nie van uitwissing gered sal word nie. Maar dit is gerusstellend om te weet dat die tyd nader kom wanneer die mens sy godgegewe verantwoordelikheid ten volle sal aanvaar om “oor al die diere wat op die aarde kruip [te heers]”, vir hulle te sorg en hulle te beskerm (Genesis 1:28). Slegs dan sal daar ’n vaste waarborg wees dat sulke pragtige katte soos die jagluiperd die inwoners van die aarde vir ewig genot sal verskaf.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel