Kokos-eiland sy verhale van verborge skatte
Deur Ontwaak!-medewerker in Costa Rica
DAAR is ’n eiland ongeveer 480 kilometer van die suidwestelike kus van Costa Rica af wat bekend is vir sy verhale van verborge skatte. Party meen dat Robert Louis Stevenson sy welbekende boek Treasure Island gebaseer het op verhale van seerowerskatte wat daar begrawe is.
Kartograwe en seevaarders het die eiland al verskillende name genoem sedert dit in die 16de eeu ontdek is. Onder Spaanssprekende inboorlinge staan die eiland vandag bekend as Isla del Coco (eiland van die kokosneut). Sy Afrikaanse naam is Kokos-eiland.
Tussen Costa Rica en die Galapagos-eilande is daar ’n ondersese landmassa wat as die Kokos-rif bekend staan. Vulkaniese aktiwiteit het op hierdie rif sy enigste eiland voortgebring. Hierdie ruwe stukkie land is die enigste groot eiland in die oostelike tropiese Stille Oseaan wat genoeg reën kry om ’n tropiese reënwoud te onderhou. Die eiland kry elke jaar ongeveer 7000 millimeter reën!
Die 18de-eeuse Engelse digter Coleridge het die verknorsing van die eertydse seevaarder beskryf wat “water, water, oral, maar nie ’n enkele druppel te drinke” gehad het nie. Gedurende die 17de en 18de eeu het die vars water van Kokos-eiland egter as ’n oseaanoase gedien vir matrose wat die eiland kon vind.
’n Legendeeee van versteekte skatte
In ’n era toe internasionale kommunikasie en handel van seereise afhanklik was, was gewapende roof op die oop see, of seerowery, ’n bedreiging vir die samelewing. Seerowers het ook vir mekaar ’n gevaar ingehou.
Nadat ’n kusdorpie of ’n skip beroof is, is die gesteelde goedere onder die bemanning verdeel. Die dilemma waarvoor elke seerower dus te staan gekom het, was hoe om sy deel van die buit teen diefstal deur sy makkers te beveilig. Die metode wat hulle verkies het, was om die skatte op ’n geheime plek weg te steek met die hoop dat dit later uitgehaal kon word. Die kaart waarop die skat aangedui is, is deur kriptiese aanwysings gekenmerk wat net deur die kaartmaker verstaan kon word, en dit het die sleutel geword om die versteekte skat te vind.
Volgens een van die legendes van Kokos-eiland het suksesvolle rooftogte van skepe en stede al langs die Pasifiese kus van Sentraal-Amerika daartoe gelei dat een seerowerbende met goud en juwele oorlaai was. Omdat die eiland baie vars water en ’n goeie voorraad vleis gehad het (varke is aan die einde van die 18de eeu daarheen gebring), het die skeepskaptein beplan om Kokos-eiland as sy basis te gebruik.
Volgens een weergawe van die verhaal het dit ’n hele dag geneem om die buit te verdeel. Goud is in potte uitgemeet. Uit vrees dat hulle gierige makkers hulle rykdom sou steel, het al die seerowers besluit om hulle deel van die skat êrens op die eiland te begrawe. Elke seerower het in die tropiese woud verdwyn deur die kranse al langs die eiland se kuslyn met toue uit te klim. Terwyl party op hulle geheue staatgemaak het, het ander teruggekeer met kaarte wat net húlle kon ontsyfer en wat hulle weer na hulle skat toe sou lei. Maar al hierdie inspanning was verniet. Volgens die legende het die seerowers, nadat hulle hulle goedere weggesteek het, in hulle galjoen weggevaar op soek na meer buit. Toe hulle hulle volgende hawe bereik het, het die kaptein, omdat hy ’n muitery gevrees het, weggevaar nadat hy die vermeende rebelle aan wal gestuur het. Sy hoop dat hulle as seerowers geïdentifiseer en gehang sou word, is byna verwesenlik. Wat hy nie voorsien het nie, was die vermoë van sy twee mees hooggeplaaste bemanningslede om ’n ooreenkoms aan te gaan met die owerheid wat die kaptein gevange wou neem. Die Britse vloot het ’n skip uitgestuur om die galjoen vinnig agterna te sit, en dit het tot die gevangeneming en dood van die kaptein en sy bemanning gelei.
Gedurende die laaste eeu het hierdie legende skattejagters se hoop gevoed. Maar soos die volgende verslag toelig, moet diegene wat graag skattejagters wil wees dit eers nog ’n slag oorweeg voordat hulle ’n skattejagekspedisie na Kokos-eiland onderneem. ’n Artikel wat in The New York Times van 14 Augustus 1892 gepubliseer is, het kaptein August Gisler se soektog beskryf om ’n skat van goud, silwer en juwele ter waarde van R266-000 000 te ontdek. Gisler se skattejag het behels dat hy hom van die beskawing afsny en hom aan baie strawwe toestande op hierdie verlate oerwoudeiland onderwerp. Hy het ten minste R221 500 van sy eie geld bestee en meer as 19 jaar na die skat gesoek. In 1908 het Gisler Kokos-eiland verlaat, bankrot en moedeloos, met geen skat ná al sy moeite nie.
Die feit dat Gisler nie skatte op die eiland ontdek het nie, het nie almal ontmoedig nie. Daar was al meer as 500 georganiseerde ekspedisies na die eiland toe. Volgens beskikbare inligting het niemand nog die legendariese rykdom opgespoor nie.
Die natuur se skatte op Kokos-eiland
Onlangs is ’n ander soort skattejagter na Kokos-eiland gelok. Ekotoeriste sowel as natuurkenners en ander wetenskaplikes is getrek deur die plantegroei en dierelewe van die eiland en die kosbare skat van seelewe in die waters om die eiland.
Die eiland is bedek met welige tropiese plantegroei. Nagenoeg 450 spesies insekte en geleedpotiges is al geïdentifiseer, hoewel daar na raming meer as 800 spesies op die eiland is. Daar is 28 riviere, wat om ruwe terrein kronkel en as pragtige watervalle oor indrukwekkende kranse stort.
Een van die 97 spesies voëls op die eiland is die wit seeswael. Hy het die snaakse gewoonte om in die lug net bo mense se koppe te fladder, blykbaar onbevrees vir menslike besoekers aan die eiland. Dié interessante neiging het hierdie voël die Spaanse bynaam espíritu santo, of heilige gees, gegee wat na die Bybelse verslag van Jesus se doop verwys.—Sien Matteus 3:16.
Diep in die waters om Kokos-eiland is ’n wêreld wat wemel van natuurlike skatte. Van die ekotoeriste wat die eiland besoek, is skubaduikers wat hulle verwonder oor die baie hamerkophaaie. Die hamerkop- en die stompkophaai kom dikwels in hierdie waters voor en is al in skole van tussen 40 en 50 gesien. Duikers is ook beïndruk deur die merkwaardige helderheid van die water. Hulle word betower deur die vertoning van kleure terwyl tropiese visse die alge en plankton eet.
Die land Costa Rica heg tradisioneel groot waarde aan sy biologiese skatte. Tans word 18 persent van sy landoppervlakte in ’n nasionale park- en reservaatstelsel beskerm. In 1978 is Kokos-eiland as deel van daardie parkstelsel verklaar, wat nou uit 56 beskermde gebiede in die land bestaan. In 1991 is die beskermde gebied uitgebrei om ’n bufferstrook van 24 kilometer om die eiland in te sluit. Dit bied ’n uitdaging om die seelewe te patrolleer en teen kommersiële vissery te beskerm. Omgewingsdeskundiges vrees dat onbeperkte vissery dalk die delikate ekosisteme in die ondersese wêreld om die eiland sal beskadig.
Tot op hede bly Kokos-eiland bekend vir sy verhale oor windmakerige seerowers en hulle verborge skatte. Dit boei en lok nog steeds skattejagters van regoor die wêreld. Maar die grootste rykdom van die eiland lê versteek in sy natuurlike hulpbronne.
[Foto-erkenning op bladsy 25]
Foto’s op bladsye 25-6: Met vergunning van José Pastora, Okeanos
[Prente op bladsy 26]
Die stompkophaai (1) en die hamerkophaai (2, 3) swem in die waters om Kokos-eiland in skole van tussen 40 en 50