Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w96 8/1 bl. 4-8
  • ’n Beter hoop vir die siel

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Beter hoop vir die siel
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die siel in die Hebreeuse Geskrifte
  • Die Griekse invloed
  • Die vroeë Christene se beskouing van die siel
  • Die ware oorsprong van die leerstelling
  • Lewe die siel na die dood voort?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Lewe ná die dood—Wat sê die Bybel?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Jou beskouing van die siel raak jou lewe
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Hoe sterk is jou geloof in die opstanding?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
w96 8/1 bl. 4-8

’n Beter hoop vir die siel

DIE Romeinse soldate het dit nie verwag nie. Terwyl hulle in die laaste versterkte skuilplek van die Joodse rebellemagte, die bergvesting Masada, ingestorm het, het hulle hulle gereedgemaak vir die aanval van hulle vyande, vir die krete van soldate en vir die geskreeu van vrouens en kinders. In plaas daarvan het hulle net knetterende vlamme gehoor. Namate die Romeine die brandende vesting verken het, het hulle die aaklige waarheid te wete gekom: hulle vyande—sowat 960 mense—was klaar dood! Die Joodse soldate het hulle eie gesinne en toe mekaar stelselmatig doodgemaak. Die laaste man het homself om die lewe gebring.a Wat het hulle beweeg om hierdie afgryslike massamoord en selfmoord te pleeg?

Volgens die destydse geskiedskrywer Josefus was ’n belangrike faktor die feit dat hulle aan die onsterflikheid van die siel geglo het. Eleasar Ben Jaïr, die leier van die Selote in Masada, het sy manne eers probeer oortuig dat selfmoord eerbaarder sou wees as om deur die Romeine doodgemaak te word of om hulle slawe te wees. Toe hy sien dat hulle huiwer, het hy oorgegaan tot ’n vurige toespraak oor die siel. Hy het vir hulle gesê dat die liggaam maar net ’n las is, ’n tronk vir die siel. “Maar wanneer dit bevry is van die gewig wat dit na die aarde toe aftrek en wat daarom gehang is”, het hy voorts gesê, “keer die siel na sy eie plek terug en maak dit dan in werklikheid gebruik van ’n geseënde krag en ’n heeltemal ongebonde sterkte en bly dit so onsigbaar vir mense-oë soos God Self.”

Hoe het hulle hierop gereageer? Josefus sê dat ná Eleasar lank in hierdie trant gepraat het “al sy toehoorders hom in die rede geval en hulle vol onbeteuelbare geesdrif gehaas het om tot die daad oor te gaan”. Josefus voeg by: “Soos besetenes het hulle hulle weggehaas, elkeen gretig om vinniger as die volgende man te wees, . . . so onweerstaanbaar was die begeerte wat hulle beetgepak het om hulle vrouens, hulle kinders en hulleself dood te maak.”

Hierdie aaklige voorbeeld illustreer hoe diepgaande die leerstelling van die onsterflike siel die normale menslike beskouing van die dood kan verander. Gelowiges word geleer om die dood te beskou, nie as die mens se grootste vyand nie, maar as ’n poort wat die siel bevry om ’n hoër bestaan te geniet. Maar waarom het daardie Joodse Selote dit geglo? Baie sou veronderstel dat hulle heilige boek, die Hebreeuse Geskrifte, leer dat die mens ’n bewuste gees in hom het, ’n siel wat ontsnap om ná die dood voort te leef. Is dit werklik so?

Die siel in die Hebreeuse Geskrifte

Kortom: nee. Reg in die heel eerste boek van die Bybel, Genesis, word daar vir ons gesê dat die siel nie iets is wat jy het nie, dit is iets wat jy is. Ons lees aangaande die skepping van Adam, die eerste mens: “Die mens [het] ’n lewende siel geword” (Genesis 2:7). Die Hebreeuse woord wat hier vir siel gebruik word, neʹfesj, kom meer as 700 keer in die Hebreeuse Geskrifte voor, en nie een enkele keer dra dit die gedagte oor dat die siel ’n afsonderlike, eteriese, geestelike deel van die mens is nie. Inteendeel, die siel is tasbaar, konkreet en fisies.

Slaan gerus die volgende teksverwysings in jou eie Bybel na, aangesien die Hebreeuse woord neʹfesj in elkeen van hulle gevind word. Dit toon duidelik dat die siel voor risiko’s en gevare te staan kan kom en selfs ontvoer kan word (Deuteronomium 24:7; Rigters 9:17; 1 Samuel 19:11; vergelyk tekste met NW); dinge kan aanraak (Job 6:7); in ysters geboei kan word (Psalm 105:18, vergelyk NW); lus kan hê om te eet, gekwel kan word met vas en flou kan word van honger en dors asook aan ’n uitterende siekte of selfs weens droefheid aan slapeloosheid kan ly (Deuteronomium 12:20; Psalm 35:13; 69:11; 106:15; 107:9; 119:28; vergelyk tekste met NW). Met ander woorde, omdat jou siel jy is, jy self, kan jou siel enigiets ondervind wat jy kan ondervind.b

Beteken dit dan dat die siel in werklikheid kan doodgaan? Ja. Dit is nie onsterflik nie; inteendeel, in die Hebreeuse Geskrifte praat dit van mensesiele wat “uitgeroei”, of tereggestel, word vir oortredinge en wat doodgeslaan, vermoor, vernietig en verskeur word (Exodus 31:14; Deuteronomium 19:6; 22:26; Psalm 7:3; vergelyk tekste met NW). “Die siel wat sondig, dié moet sterwe”, sê Esegiël 18:4. Die dood is duidelik die gemeenskaplike einde van mensesiele, aangesien ons almal sondig (Psalm 51:7). Daar is vir die eerste mens, Adam, gesê dat die straf vir sonde die dood is—nie verplasing na die geesteryk en onsterflikheid nie (Genesis 2:17). En toe hy gesondig het, is die vonnis gevel: “Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer” (Genesis 3:19). Toe Adam en Eva gesterf het, het hulle eenvoudig geword waarna die Bybel dikwels as ‘dooie siele’ of ‘afgestorwe siele’ verwys.—Numeri 5:2; 6:6, NW.

Geen wonder nie dat The Encyclopedia Americana aangaande die siel in die Hebreeuse Geskrifte sê: “In die Ou Testament word die mens as ’n eenheid voorgestel, nie as ’n vereniging van siel en liggaam nie.” Dit voeg by: “Nefesj . . . word nooit voorgestel as iets wat afsonderlik van die liggaam funksioneer nie.”

Wat het die getroue Jode dus aangaande die dood geglo? Eenvoudig gestel, hulle het geglo dat die dood die teenoorgestelde van die lewe is. Psalm 146:4 sê wat gebeur wanneer die gees, of lewenskrag, ’n mens verlaat: “Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan.”c Koning Salomo het eweneens geskryf dat die dooies ‘glad niks weet nie’.—Prediker 9:5.

Waarom was baie eerste-eeuse Jode, soos die Selote van Masada, dan so oortuig dat die siel onsterflik is?

Die Griekse invloed

Die Jode het hierdie idee, nie van die Bybel nie, maar van die Grieke gekry. Dit lyk asof die konsep tussen die sewende en die vyfde eeu v.G.J. van mistieke Griekse godsdienskultusse in Griekse filosofie ingesypel het. Die idee van ’n hiernamaals waar slegte siele pynlike vergelding sou ontvang, het lank groot byval gevind, en die gedagte het vorm aangeneem en versprei. Filosowe het eindeloos oor die presiese aard van die siel gedebatteer. Homerus het beweer dat die siel by die dood wegvlieg en ’n hoorbare gons-, kwetter- of ruisgeluid maak. Epikurus het gesê dat die siel in werklikheid massa het en gevolglik ’n oneindige klein liggaam is.d

Maar miskien was die grootste voorstander van die onsterflike siel die Griekse filosoof Plato, van die vierde eeu v.G.J. Sy beskrywing van die dood van sy leermeester, Sokrates, toon dat sy opvattings baie soos dié van die Selote van Masada eeue later was. Soos die geleerde Oscar Cullmann dit stel: “Plato toon vir ons hoe Sokrates in volkome vrede en kalmte sterf. Die dood van Sokrates is ’n pragtige dood. Hier is geen teken van die verskrikking van die dood nie. Sokrates kan die dood nie vrees nie, aangesien dit ons in werklikheid van die liggaam bevry. . . . Die dood is die siel se groot vriend. So leer hy; en so, in wonderlike harmonie met sy lering, sterf hy.”

Dit was blykbaar gedurende die Makkabese tydperk, in die tweede eeu voor Christus, wat die Jode hierdie lering van die Grieke begin oorneem het. Josefus sê vir ons dat die Fariseërs en die Essene—invloedryke Joodse godsdiensgroepe—hierdie leerstelling in die eerste eeu G.J. voorgestaan het. Van die poësie wat waarskynlik in daardie era geskryf is, weerspieël dieselfde oortuiging.

Maar wat van Jesus Christus? Het hy en sy volgelinge ook hierdie idee uit die Griekse godsdiens verkondig?

Die vroeë Christene se beskouing van die siel

Die eerste-eeuse Christene het ’n ander beskouing van die siel as die Grieke gehad. Beskou byvoorbeeld die dood van Jesus se vriend Lasarus. Sou die verslag in Johannes hoofstuk 11 nie baie anders gelui het indien Lasarus ’n onsterflike siel gehad het wat vry en gelukkig by sy dood weggevlieg het nie? Jesus sou tog seker vir sy volgelinge gesê het as Lasarus gesond en lewendig in die hemel was; pleks daarvan het hy, in ooreenstemming met die Hebreeuse Geskrifte, vir hulle gesê dat Lasarus slaap, onbewus van enigiets (Vers 11). Jesus sou tog seker bly gewees het as sy vriend ’n wonderlike nuwe bestaan geniet het; in plaas daarvan ween hy openlik oor sy dood (Vers 35). Jesus sou tog seker nooit so wreed gewees het om Lasarus terug te laat kom om nog ’n paar jaar in die “tronk” van ’n onvolmaakte fisiese liggaam tussen siek en sterwende mense te lewe as sy siel in die hemel was en salige onsterflikheid geniet het nie.

Het Lasarus uit die dood teruggekeer met kleurryke vertellings van sy wonderlike vier dae as ’n bevryde, liggaamlose geeswese? Nee, hy het nie. Diegene wat aan die onsterflikheid van die siel glo, sal antwoord dat dit weens die feit is dat die man se ondervinding te wonderlik vir woorde was. Maar dit is nie ’n oortuigende argument nie; buitendien, kon Lasarus dan nie vir sy dierbares ten minste dít vertel het nie—dat hy ’n ondervinding gehad het wat te wonderlik is om te beskryf? In plaas daarvan het Lasarus niks gesê van enige ondervindinge wat hy gehad het terwyl hy dood was nie. Dink net daaraan—hy het stilgebly oor die een onderwerp wat groter belangstelling by mense as enige ander wek: hoe dit is om dood te wees! Sy stilswye kan op net een manier verklaar word. Daar was niks om te vertel nie. Die dooies slaap, hulle is van niks bewus nie.

Stel die Bybel die dood dus voor as die siel se vriend, ’n blote deurgangsrite tussen fases van bestaan? Nee! Vir ware Christene soos die apostel Paulus was die dood geen vriend nie; dit was die “laaste vyand” (1 Korintiërs 15:26). Christene beskou die dood, nie as iets natuurliks nie, maar as iets verskrikliks, as iets onnatuurliks, want dit is ’n regstreekse gevolg van sonde en opstand teen God (Romeine 5:12; 6:23). Dit was nooit deel van God se oorspronklike voorneme met die mensdom nie.

Ware Christene is egter nie sonder hoop wat die dood van die siel betref nie. Lasarus se opstanding is een van baie Bybelverslae wat ons op ’n aanskoulike wyse toon wat die ware, skriftuurlike hoop vir afgestorwe siele is—die opstanding. Volgens die Bybel is daar twee verskillende soort opstandings. Vir die oorgrote meerderheid van die mensdom wat in die graf slaap, of hulle nou regverdig of onregverdig is, is daar die hoop van ’n opstanding tot ewige lewe in die Paradys hier op aarde (Lukas 23:43; Johannes 5:28, 29; Handelinge 24:15). Vir ’n klein groepie na wie Jesus as sy “klein kuddetjie” verwys het, is daar ’n opstanding tot onsterflike lewe as geesskepsele in die hemel. Hulle, wat Christus se apostels insluit, sal saam met Christus Jesus oor die mensdom heers en sal hulle tot volmaaktheid herstel.—Lukas 12:32; 1 Korintiërs 15:53, 54; Openbaring 20:6.

Waarom leer die kerke van die Christendom dan, nie die opstanding nie, maar die onsterflikheid van die mensesiel? Beskou die antwoord wat die teoloog Werner Jaeger destyds in 1959 in The Harvard Theological Review gegee het: “Die belangrikste feit in die geskiedenis van die Christelike leer is dat die vader van Christenteologie, Origines, ’n Platoniese filosoof aan die skool van Alexandrië was. Hy het die hele kosmiese drama van die siel, wat hy van Plato gekry het, deel van die Christelike leer gemaak.” Die kerk het dus presies gedoen wat die Jode eeue tevore gedoen het! Hulle het Bybelse leringe ten gunste van Griekse filosofie versaak.

Die ware oorsprong van die leerstelling

Nou sal party dalk ter verdediging van die leerstelling van die onsterflikheid van die siel vra: Waarom word dieselfde leerstelling, in die een of ander vorm, deur soveel van die wêreld se godsdienste geleer? Die Skrif verskaf ’n goeie rede waarom hierdie lering so algemeen in die godsdiensgemeenskappe van hierdie wêreld is.

Die Bybel sê vir ons dat ‘die hele wêreld in die mag van die bose lê’ en identifiseer Satan spesifiek as “die heerser van hierdie wêreld” (1 Johannes 5:19; Johannes 12:31). Dit spreek vanself dat die wêreld se godsdienste nie vry van Satan se invloed was nie. Inteendeel, hulle het grootliks tot die probleme en onenigheid in vandag se wêreld bygedra. En wat die siel betref, lyk dit of hulle Satan se denke maar alte duidelik weerspieël. Hoe so?

Onthou jy die eerste leuen wat ooit vertel is? God het vir Adam en Eva gesê dat hulle sou sterf as hulle teen hom sondig. Maar Satan het Eva verseker: “Julle sal gewis nie sterwe nie” (Genesis 3:4). Adam en Eva het natuurlik gesterf; hulle het teruggekeer tot die stof soos God gesê het. Satan, “die vader van die leuen”, het nooit sy eerste leuen laat vaar nie (Johannes 8:44). In tallose godsdienste wat van Bybelleerstellings afwyk of dit heeltemal ignoreer, word dieselfde gedagte steeds verkondig: ‘Jy sal gewis nie sterwe nie. Jou liggaam sal dalk vergaan, maar jou siel sal vir ewig voortleef—soos God!’ Dit is interessant dat Satan ook vir Eva gesê het dat sy “soos God” sou wees!—Genesis 3:5.

Hoeveel beter is dit tog om ’n hoop te hê wat, nie op leuens of mensefilosofieë nie, maar op die waarheid gegrond is. Hoeveel beter is dit tog om die versekering te hê dat ons afgestorwe dierbares onbewus van enigiets in die graf is as om bekommerd te wees oor waar ’n onsterflike siel hom bevind! Hierdie slaap van die dooies hoef ons nie bang of terneergedruk te maak nie. Op ’n manier kan ons aan die dooies dink asof hulle in ’n veilige rusplek is. Waarom veilig? Omdat die Bybel ons verseker dat die dooies vir wie Jehovah lief is in ’n spesiale opsig lewe (Lukas 20:38). Hulle lewe in sy geheue. Dit is ’n uiters vertroostende gedagte, omdat sy geheue geen perke het nie. Hy is gretig om tallose miljoene afgestorwe dierbares lewend te maak en hulle die geleentheid te gee om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe.—Vergelyk Job 14:14, 15.

Die glorieryke dag van die opstanding sal kom, omdat al Jehovah se beloftes vervul moet word (Jesaja 55:10, 11). Dink net aan die vervulling van hierdie profesie: “Maar u dode lewe, hulle liggame sal weer opstaan. Hulle wat in die aarde slaap, sal wakker word en uitroep van vreugde; want u dou is ’n dou van skitterende lig, en die aarde sal weer geboorte skenk aan diegene wat lank dood is” (Jesaja 26:19, The New English Bible). Die dooies wat in die graf slaap, is dus so veilig soos ’n baba in sy moeder se baarmoeder. Hulle gaan binnekort “gebore” word, oftewel tot lewe op ’n paradysaarde opgewek word!

Kan enige hoop beter as dit wees?

[Voetnote]

a Twee vroue en vyf kinders het volgens berig weggekruip en oorleef. Die vroue het later die besonderhede aan hulle Romeinse gevangenemers vertel.

b Die woord neʹfesj het natuurlik ook, soos baie ander woorde wat ’n breë gebruiksveld het, ander fyn betekenisverskille. Dit kan byvoorbeeld verwys na die innerlike mens, veral met verwysing na diep gevoelens (1 Samuel 18:1). Dit kan ook verwys na die lewe wat ’n mens as ’n siel geniet.—1 Konings 17:21-23.

c Die Hebreeuse woord vir “gees”, ruʹach, beteken “asem” of “wind”. Met betrekking tot mense verwys dit nie na ’n bewuste geeswese nie, maar eerder, soos The New International Dictionary of New Testament Theology dit stel, na “die lewenskrag van die individu”.

d Hy was nie die laaste wat op hierdie taamlik eksentrieke wyse gedink het nie. Vroeg in hierdie eeu het ’n wetenskaplike eintlik beweer dat hy die siele van verskeie mense geweeg het deur hulle gewig onmiddellik ná hulle dood van hulle gewig onmiddellik voor hulle dood af te trek.

[Prent op bladsy 7]

Die Joodse Selote in Masada het geglo dat die dood hulle siele sou bevry

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel