Jy kan in ’n paradys op aarde glo
DEUR die geskiedenis heen het miljoene mense geglo dat hulle uiteindelik die aarde sou verlaat en hemel toe sou gaan. Volgens party was dit nooit ons Skepper se bedoeling dat die aarde ons permanente woonplek moet wees nie. Askete het selfs verder gegaan. Vir baie van hulle is die aarde en alle stoflike dinge boos—iets wat hulle verhoed om ware geestelike vervulling en intimiteit met God te verkry.
Diegene wat die voorafgaande idees ontwikkel het, was óf onbewus van wat God oor ’n paradysaarde gesê het óf het verkies om dit te ignoreer. Trouens, vandag stel baie nie belang daarin om uit te vind wat God manne geïnspireer het om oor hierdie onderwerp in sy Woord, die Bybel, te skryf nie (2 Timoteus 3:16, 17). Maar sal dit nie verstandig wees om eerder op God se Woord te vertrou as om teorieë van mense aan te neem nie? (Romeine 3:4). Dit is in werklikheid noodsaaklik dat ons dit doen, want die Bybel waarsku ons dat ’n kragtige, maar onsigbare bose skepsel mense geestelik verblind en nou “die hele bewoonde aarde mislei”.—Openbaring 12:9; 2 Korintiërs 4:4.
Waarom die verwarring?
Teenstrydige idees oor die siel het mense verwar oor wat God se voorneme met die aarde is. Baie glo dat ons ’n onsterflike siel het—iets wat apart van die menseliggaam is en wat ná die dood voortleef. Ander glo dat die siel bestaan het voordat die menseliggaam geskep is. Volgens een naslaanwerk was die Griekse filosoof Plato van mening dat die siel “in die liggaam opgesluit is as straf vir die sondes wat dit in die hemel gepleeg het”. Die derde-eeuse teoloog Origines het eweneens gesê dat “siele [in die hemel] gesondig het voordat hulle met ’n liggaam verenig is” en dat hulle “opgesluit [is in daardie liggaam op aarde] as straf vir hulle sondes”. En miljoene glo dat die aarde maar net die een of ander toetsterrein is op die mens se reis na die hemel.
Daar is ook verskeie idees oor wat met die siel gebeur wanneer iemand sterf. Volgens die boek History of Western Philosophy het die Egiptenare die beskouing ontwikkel dat “die siele van dooies na die onderwêreld afdaal”. Later het filosowe aangevoer dat die siele van die dooies nie na ’n donker onderwêreld afdaal nie, maar in werklikheid na ’n hoër geesteryk opvaar. Die Griekse filosoof Sokrates het blykbaar geglo dat die siel by die dood “na [’n] onsigbare gebied gaan . . . en die res van sy bestaan saam met die gode deurbring”.
Wat sê die Bybel?
God se geïnspireerde Woord, die Bybel, sê nêrens dat mense ’n onsterflike siel het nie. Lees self die verslag in Genesis 2:7. Dit sê: “Jehovah God het die mens uit stof van die aarde begin vorm en in sy neusgate die asem van die lewe geblaas, en die mens het ’n lewende siel geword.” Dit is duidelik en ondubbelsinnig. Toe God die eerste man, Adam, geskep het, het Hy nie iets onstofliks binne-in hom gesit nie. Nee, want die Bybel sê dat “die mens . . . ’n lewende siel geword” het. Die mens het nie ’n siel in hom gehad nie. Hy was ’n siel.
Toe Jehovah die aarde en die mensdom geskep het, was dit nooit sy voorneme dat die mens moet sterf nie. God wou hê dat mense vir ewig op aarde onder paradystoestande moet lewe. Adam het slegs gesterf omdat hy ongehoorsaam was aan God se wet (Genesis 2:8, 15-17; 3:1-6; Jesaja 45:18). Het die eerste mens, toe hy gesterf het, na die een of ander geesteryk gegaan? Nee! Hy—die siel Adam—het na die lewelose stof waaruit hy geskep is, teruggekeer.—Genesis 3:17-19.
Ons het almal sonde en die dood by ons voorvader Adam geërf (Romeine 5:12). Die dood beteken dat ’n mens ophou bestaan, net soos dit met Adam die geval was (Psalm 146:3, 4). Trouens, in nie een van die Bybel se 66 boeke word die terme “onsterflik” of “ewig” met die woord “siel” verbind nie. Inteendeel, die Skrif stel dit duidelik dat die siel—die persoon—sterflik is. Ja, die siel sterf.—Prediker 9:5, 10; Esegiël 18:4.
Is stoflike dinge inherent boos?
Wat van die idee dat stoflike dinge, onder andere die aarde, boos is? Hierdie beskouing is gehuldig deur aanhangers van Manicheïsme, ’n godsdiensbeweging wat gedurende die derde eeu G.J. in Persië begin is deur ’n persoon met die naam Mani. The New Encyclopædia Britannica sê: “Manicheïsme het ontstaan weens die ellende wat kenmerkend is van die mens se toestand.” Mani het geglo dat dit “onnatuurlik, ondraaglik en uiters boos” is om mens te wees. Hy het ook geglo dat die siel slegs uit hierdie “ellende” kon kom as dit uit die liggaam ontsnap, die aarde verlaat en ’n geestelike bestaan voer in ’n geestelike wêreld.
Daarteenoor sê die Bybel vir ons dat ‘alles wat God gemaak het’ toe hy die aarde en die mensdom geskep het, in sy oë “baie goed” was (Genesis 1:31). Op daardie stadium was daar geen hindernis tussen die mens en God nie. Adam en Eva het noue omgang met Jehovah geniet, net soos die volmaakte man Jesus Christus ’n intieme verhouding met sy hemelse Vader geniet het.—Matteus 3:17.
As ons eerste ouers, Adam en Eva, nie ’n sondige weg ingeslaan het nie, sou hulle vir ewig op ’n paradysaarde ’n hegte verhouding met Jehovah God gehad het. Hulle lewe het in die Paradys begin, want die Skrif sê vir ons: “Jehovah God [het] ’n tuin in Eden geplant, na die ooste, en daar het hy die mens geplaas wat hy gevorm het” (Genesis 2:8). Dit was in daardie paradystuin dat Eva geskep is. As Adam en Eva nie gesondig het nie, kon hulle en hulle volmaakte nageslag in geluk saamgewerk het totdat die ganse aarde ’n paradys was (Genesis 2:21; 3:23, 24). Die aardse Paradys sou vir ewig die mensdom se tuiste gewees het.
Waarom gaan party hemel toe?
‘Maar’, sê jy dalk, ‘die Bybel praat tog van mense wat hemel toe gaan, nie waar nie?’ Ja. Nadat Adam gesondig het, het Jehovah hom voorgeneem om ’n hemelse Koninkryk op te rig waarin sommige van Adam se nakomelinge saam met Jesus Christus “as konings oor die aarde [sou] heers” (Openbaring 5:10; Romeine 8:17). Hulle sou tot onsterflike lewe in die hemel opgewek word. Hulle volledige getal is 144 000, en die eerstes onder hulle was Jesus se getroue eerste-eeuse dissipels.—Lukas 12:32; 1 Korintiërs 15:42-44; Openbaring 14:1-5.
Dit was egter nie God se oorspronklike voorneme dat regskape mense die aarde verlaat en hemel toe gaan nie. Trouens, toe Jesus op die aarde was, het hy gesê: “Geen mens het in die hemel opgevaar nie, behalwe hy wat uit die hemel neergedaal het, die Seun van die mens” (Johannes 3:13). Deur “die Seun van die mens”, Jesus Christus, het God ’n losprys voorsien wat die ewige lewe moontlik maak vir diegene wat geloof in Jesus se offerande beoefen (Romeine 5:8). Maar waar sal miljoene van hierdie mense vir ewig lewe?
God se oorspronklike voorneme sal vervul word
Hoewel dit God se voorneme was om sommige uit die mensdom te neem om as medeheersers saam met Jesus Christus in die hemelse Koninkryk te heers, beteken dit nie dat alle goeie mense hemel toe gaan nie. Jehovah het die aarde geskep om die Paradystuiste van die mensdom te wees. Binnekort sal God daardie oorspronklike voorneme vervul.—Matteus 6:9, 10.
Onder die heerskappy van Jesus Christus en sy hemelse medeheersers sal daar vrede en geluk oor die hele aarde wees (Psalm 37:9-11). Diegene in God se geheue sal opgewek word en volmaakte gesondheid geniet (Handelinge 24:15). Weens hulle getrouheid aan God sal die gehoorsame mensdom dít gegun word wat ons eerste ouers verloor het—ewige lewe in menslike volmaaktheid op ’n paradysaarde.—Openbaring 21:3, 4.
Jehovah God volbring altyd sy voornemens. Deur sy profeet Jesaja het hy verklaar: “Net soos die stortreën en die sneeu uit die hemel neerdaal en nie daarheen terugkeer nie, tensy dit die aarde deurweek en dit laat voortbring en uitspruit, en saad aan die saaier en brood aan die eter gegee word, so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan. Dit sal nie sonder resultate na my toe terugkeer nie, maar dit sal beslis doen wat my behaag en sal beslis sukses behaal in alles waarvoor ek dit gestuur het.”—Jesaja 55:10, 11.
In die Bybelboek Jesaja kry ons ’n voorskou van hoe die lewe op die Paradysaarde sal wees. Geen inwoner van die Paradys sal sê: “Ek is siek” nie (Jesaja 33:24). Diere sal geen gevaar vir die mens inhou nie (Jesaja 11:6-9). Mense sal pragtige huise bou en daarin woon en hulle sal gewasse plant en genoeg eet (Jesaja 65:21-25). Verder “sal [God] die dood vir ewig verswelg, en die Soewereine Heer Jehovah sal beslis die trane van alle gesigte afvee”.—Jesaja 25:8.
Die gehoorsame mensdom sal binnekort onder hierdie geseënde toestande lewe. Hulle sal “van die slawerny aan die verderflikheid vrygemaak . . . word en die glorieryke vryheid van die kinders van God . . . hê” (Romeine 8:21). Hoe wonderlik sal dit tog wees om vir ewig in die beloofde aardse Paradys te lewe! (Lukas 23:43). Jy kan daar wees as jy reageer op die juiste kennis wat in die Skrif gevind word en geloof beoefen in Jehovah God en Jesus Christus. En jy kan die vertroue hê dat dit wel sin maak om te glo dat daar ’n paradys op aarde sal wees.
[Prent op bladsy 5]
Adam en Eva was gemaak om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe
[Prente op bladsy 7]
Op die aardse Paradys sal mense . . .
huise bou
wingerde plant
deur Jehovah geseën word
[Foto-erkenning op bladsy 4]
U.S. Fish & Wildlife Service, Washington, D.C./NASA