Geraas—’n hedendaagse steurnis
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRITTANJE
Een van die lewe se grootste oorsake van spanning.”—Makis Tsapogas, raadgewer van die Wêreldgesondheidsorganisasie.
“Amerika se algemeenste vorm van besoedeling.”—The Boston Sunday Globe, VSA.
“Die ergste vorm van besoedeling van ons tyd.”—Daily Express, Londen, Engeland.
JY KAN dit nie sien, ruik, proe of voel nie. GERAAS, die vloek van die hedendaagse stadslewe, besoedel nou die platteland.
’n Amerikaanse natuurkenner wat ongeveer 16 jaar lank opnames van die klanke van die natuur gemaak het, het gevind dat sy taak al hoe moeiliker word. In 1984 het hy 21 plekke in die staat Washington, VSA, bestudeer wat 15 minute of langer sonder geraas was. Vyf jaar later het net drie oorgebly.
Vir baie van die wêreld se bewoners is dit ’n uitdaging om drie plekke sonder geraas te vind. In Japan het ’n landwye verslag vir 1991 gesê dat geraas meer klagtes veroorsaak het as enige ander vorm van besoedeling. Trouens, The Times van Londen beskryf geraas gepas as “die grootste teistering van die hedendaagse lewe”. Geraas het iets normaals geword—van die irriterende en aanhoudende geblaf van ’n hond tot die geblêr van ’n buurman se stereospeler of die knaende lawaai van ’n motoralarm of -radio. En tog is geraasbesoedeling niks nuuts nie. Dit het ’n lang geskiedenis.
Nie ’n nuwe probleem nie
Julius Caesar het verkeer met wiele in die middestad van Rome gedurende die dag verbied om verkeersopeenhoping te voorkom. Ongelukkig vir hom en sy mede-Romeine het dié uitvaardiging snags intense geraasbesoedeling veroorsaak, “aangesien hout- of ysterbeklede karwiele oor die klipplaveiblokke gerammel het” (The City in History, deur Lewis Mumford). Meer as ’n eeu later het die digter Juvenalis gekla dat geraas die Romeine tot ewige slapeloosheid verdoem het.
Teen die 16de eeu het Engeland se hoofstad, Londen, ’n bedrywige metropolis geword. “Die eerste ding wat die meeste besoekers moes getref het”, skryf Alison Plowden, skryfster van Elizabethan England, “was die geraas: die gekletter en gehamer van ’n duisend werkswinkels, die gerammel en gepiep van karwiele, die gebulk van beeste wat mark toe aangedryf word, die luidrugtige uitroepe van straatverkopers wat hulle ware bekend maak.”
Die 18de eeu het die industriële revolusie ingelui. Die uitwerking van meganiese geraas het toe duidelik geword namate fabriekswerkers se gehoor beskadig is. Maar selfs stadsbewoners wat nie naby fabrieke gewoon het nie, het oor toenemende steuring gekla. Die geskiedkundige Thomas Carlyle het in ’n “goed geïsoleerde vertrek” op die dak van sy Londense huis gaan skuil om kraaiende hane, bure se klaviere en die nabygeleë straatverkeer te vermy. The Times berig: “Dit het nie gewerk nie.” Waarom nie? “Toe het ’n nuwe reeks geluide, waaronder riviertoeters en spoorwegfluite, hom gek gemaak”!
’n Wydverspreide hedendaagse vorm van besoedeling
Vandag spits geraasbetogers hulle toe op lughawens terwyl lugrederye hard stry teen pogings om wette teen geraasbesoedeling te maak. Manchester-lughawe in Engeland het outomaties boetes opgelê elke keer as die supersoniese Concorde opstyg. Was dit doeltreffend? Nee. Een Concorde-kaptein het erken dat die vliegtuig lawaaierig is, maar dat dit nie ononderbroke na Toronto of New York sou kon vlieg as dit met minder brandstof opstyg om die geraasvlak te verlaag nie.
Dit is net so moeilik om die geraas van padverkeer te voorkom. In Duitsland toon studies byvoorbeeld dat hierdie soort besoedeling 64 persent van die bevolking steur. En dit is ’n groeiende probleem, wat na bewering eenduisend keer groter is as in die tyd voordat die gemeenskap motors begin gebruik het. ’n Verslag uit Griekeland sê: “Atene is een van die lawaaierigste stede in Europa, en die geraas is so erg dat dit Ateners se gesondheid benadeel.” Japan se Omgewingsagentskap sê dat daar eweneens ’n verergerende neiging in verkeersgeraas is en skryf dit toe aan die voortdurende toename in die gebruik van motors. Teen ’n lae spoed is ’n motor se enjin die hoofbron van geraas, maar bo 60 kilometer per uur maak die bande die meeste geraas.
Die grootste oorsaak van klagtes oor geraas in Brittanje is huishoudelike geraas. In 1996 het Brittanje se Geoktrooieerde Instituut vir Omgewingsgesondheid ’n styging van 10 persent in klagtes oor lawaaierige bure opgeteken. ’n Woordvoerster vir die instituut het gesê: “Dit is moeilik om te verduidelik. Een faktor is dalk dat die spanning wat mense by die werk ondervind daartoe lei dat hulle hoër eise stel vir rus en vrede by die huis.” Twee derdes van al die klagtes wat gedurende 1994 in Brittanje ingedien is, was oor musiek wat laat in die nag gespeel is en oor lawaaierige motorenjins, -alarms en -toeters. Maar wat van die geraamde 70 persent van slagoffers van geraasbesoedeling wat nie kla nie uit vrees vir vergelding? Die probleem is voorwaar baie algemeen.
As gevolg van die wydverspreide geraassteurnis dring agentskappe wat die omgewing wil beskerm aan op wette om geraasbesoedeling te beperk. In die Verenigde State het party gemeenskappe byvoorbeeld plaaslike verordeninge aangeneem om die gebruik van elektriese tuingereedskap te beperk. In Brittanje is ’n nuwe Geraaswet op lawaaierige bure gemik en magtig dit die onmiddellike heffing van boetes vir oortredings tussen 11:00 nm. en 7:00 vm. Plaaslike owerhede het selfs die mag om beslag te lê op stereotoerusting wat te hard gespeel word. Geraas duur nogtans voort.
Aangesien geraasbesoedeling waarlik ’n groeiende probleem is, wonder jy dalk wat jy as ’n slagoffer kan doen. Maar hoe kan jy dit ook vermy om geraas te veroorsaak? Sal daar ooit blywende rus en vrede wees? Lees die volgende artikels vir die antwoorde.