Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 11/8 bl. 5-10
  • Geraas—Wat jy daaromtrent kan doen

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Geraas—Wat jy daaromtrent kan doen
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat is geraasbesoedeling?
  • Die uitwerking van geraas
  • Wat jy kan doen
  • Hoe om jou teen geraas te beskerm
  • Geraas—’n hedendaagse steurnis
    Ontwaak!—1997
  • Rus en vrede—Sal ons dit ooit geniet?
    Ontwaak!—1997
  • Beskerm jou gehoor!
    Ontwaak!—2002
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1998
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 11/8 bl. 5-10

Geraas—Wat jy daaromtrent kan doen

AAN die einde van ’n vermoeiende dag raak jy vas aan die slaap. Skielik word jy wakker gemaak deur die geblaf van honde in die buurt. Jy draai in jou bed om en hoop dat die irriterende lawaai binnekort sal ophou. Maar dit hou aan. Weer en weer blaf die honde. Vererg, gefrustreerd deur slapeloosheid en nou wawyd wakker wonder jy hoe jou bure so ’n lawaai kan verdra.

Mense verskil grootliks in die manier waarop hulle geraas verdra. Werkers by lughawens wat naby ’n aanloopbaan woon, word baie minder deur vliegtuiggeraas gesteur as diegene wie se werk niks met vliegtuie te doen het nie. Die huisvrou wat ’n elektriese voedselverwerker gebruik, verdra die geraas daarvan baie beter as iemand in die kamer langsaan wat probeer om ’n boek te lees of TV te kyk.

Wat is geraasbesoedeling?

Lande definieer geraasbesoedeling op verskillende maniere. In Mexiko is geraas “enige ongewenste klank wat ’n steurnis is of wat vir mense skadelik is”. Nieu-Seeland beskou geraas as te erg wanneer dit “van so ’n aard [is] dat dit op onredelike wyse met die vrede, gemak en gerief van enigiemand inmeng”.

Twee bekende wetenskaplikes, Aleksander Graham Bell, die uitvinder van die telefoon, en Heinrich Hertz, ’n Duitse fisikus, word ten nouste verbind met die meting van klank. Bels, of gewoonlik desibels (een tiende van ’n bel), meet relatiewe hardheid, terwyl hertz die toonhoogte, of frekwensie, van ’n klank meet. Wanneer geraas gemeet word, verwys verslae gewoonlik na die desibelvlak van die klank.a

Maar wie bepaal hoeveel steurnis ’n klank veroorsaak? Jy, die hoorder! “Vir steurnisbepaling bly die mense-oor die beste aanwyser”, sê The Independent van Londen.

Die uitwerking van geraas

Aangesien die oor die “beste aanwyser” van geraas is, is dit uiteraard die orgaan wat heel waarskynlik daardeur beskadig sal word. Skade aan die sensitiewe senuselle van jou binneoor kan permanente gehoorverlies veroorsaak. Mense verskil weliswaar in hulle reaksie op harde klanke. Maar herhaaldelike blootstelling aan klanke bo 80 tot 90 desibel kan tot geleidelike gehoorverlies lei. Trouens, hoe hoër die geraasvlakke, hoe minder tyd kan jy daagliks in daardie omgewing deurbring voordat jou gehoor beskadig word.

Die tydskrif New Scientist berig dat talle walkmans wat in Frankryk verkoop word tot 113 desibel lewer. Dit het een studie aangehaal en gesê dat “rockmusiek wat een uur lank op sy hardste op klein draagbare laserplaatspelers gespeel word die meeste van die tyd harder as 100 desibel was en partykeer tot om en by 127 desibel bereik het”. Die uitwerking van geraas wat gedurende konserte gemaak word, is nog ernstiger. Een navorser het mense gevind waar hulle in ’n beswyming saamgebondel gesit het naby luidsprekers wat opmekaar gepak is. “Ek kon nie meer goed sien nie, die basnote het in my liggaamsholtes weergalm”, vertel hy, “en die geraas het my ore seergemaak.”

Watter uitwerking kan geraas op jou hê? Een kenner sê: “Aanhoudende geraas wat redelik hard tot baie hard is, veroorsaak spanning, vermoeidheid en geïrriteerdheid.” “As ’n mens geraas moet verduur, maak dit jou nie net ongelukkig nie, maar dit kan ’n mens fisies en emosioneel uitput”, sê professor Gerald Fleischer, van die Universiteit van Giessen, Duitsland. Wanneer ’n mens nie net met geraas nie, maar ook met ander spanningsvolle toestande te kampe het, kan dit, volgens professor Makis Tsapogas, depressie sowel as organiese siektes veroorsaak.

Langdurige blootstelling aan geraas kan ’n uitwerking hê op jou persoonlikheid. Toe Britse regeringsnavorsers slagoffers van geraasbesoedeling gevra het hoe hulle oor diegene voel wat daarvoor verantwoordelik is, het hulle van haat, wraak en selfs moord gepraat. Aan die ander kant word diegene wat die geraas maak dikwels aggressief wanneer daar herhaalde klagtes oor hulle is. “Geraas verminder mense se altruïsme en skep aggressie en vyandigheid”, beweer ’n persoon wat hom vir die bestryding van geraas beywer.

Die meeste mense wat al weens geraasbesoedeling gely het, besef dat hulle weerstand teen die steurnis geleidelik afneem. Hulle het dieselfde beskouing as ’n vrou wie se lawaaierige bure gedurig harde musiek gespeel het: “Wanneer jy gedwing word om na iets te luister waarna jy nie wil luister nie, put dit jou uit. . . . Selfs wanneer die geraas opgehou het, het ons gewag dat dit weer moet begin.”

Is daar dan geen manier waarop geraasbesoedeling bekamp kan word nie?

Wat jy kan doen

Omdat geraas so immerteenwoordig is, besef baie mense eenvoudig nie wanneer hulle ander se rus versteur nie. As hulle geweet het, sou party ongetwyfeld die hinderlike bedrywigheid gestaak het. Dit is om hierdie rede dat dit kan werk om ’n lawaaierige buurman vriendelik te nader. Een persoon het kwaad geword oor sy bure se amptelike klagtes dat hy lawaaierig is. Hy het gesê: “Ek sou dink dat hulle met my persoonlik sou kom praat as hulle ontsteld was oor die geraas.” ’n Ma wat ’n partytjie vir ’n paar jong kinders gereël het, het haar verbasing uitgespreek toe sy gekonfronteer is deur ’n amptenaar wat ’n geraasklag ondersoek. “Ek wens diegene wat die klagtes gelê het, het aan my deur kom klop en vir my gesê dat hulle ongelukkig is”, het sy gesê. Dit is dan geen wonder nie dat een Britse omgewingsgesondheidsamptenaar verbaas was om te ontdek dat 80 persent van diegene wat oor huishoudelike geraas gekla het nooit hulle bure gevra het om minder te raas nie.

Mense se onwilligheid om met lawaaierige bure te praat, toon ’n gebrek aan wedersydse respek. ‘As ek my musiek wil speel, kan ek. Dis my reg!’ is die reaksie wat hulle verwag en dikwels kry. Hulle is bang dat ’n vriendelike voorstel om die klank sagter te stel dalk tot ’n konfrontasie sal lei omdat die lawaaierige buurman hulle klagte as bemoeisiek sal bestempel. Wat ’n jammerlike weerspieëling is dit tog van ons hedendaagse samelewing! Dit is soos die Bybelse verklaring wat sê dat mense in hierdie “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom” oor die algemeen ‘liefhebbers van hulleself, hoogmoedig, wreedaardig en eiesinnig’ sou wees!—2 Timoteus 3:1-4.

Baie hang van die benadering van die slagoffer af. Die tydskrif Woman’s Weekly het die volgende voorval beskryf om te wys hoe ’n gespanne situasie opgelos kan word ná ’n aggressiewe klagte wat misluk het: “As ’n mens hartlik en op ’n baie menslike wyse sê: ‘Kyk, ek is jammer—ek was woedend, maar ek raak so moeg wanneer ek nie kan slaap nie’, sal dit waarskynlik al wees wat nodig is om die vrede met [verdedigende bure] te herstel.” Dalk sal hulle met graagte hulle klanktoerusting van die aangrensende muur af wegskuif en die klank ietwat sagter sit.

Dit is natuurlik die moeite werd om goeie verhoudinge met jou bure te handhaaf. Party plaaslike regeringsowerhede bied ’n bemiddelingsdiens om geskille tussen bure by te lê. Met die oog op die sterk gevoelens wat amptelike klagtes uitlok, moet dit as “’n absoluut laaste uitweg” beskou word om ’n wetstoepasser in te roep.

As jy dit oorweeg om na ’n nuwe woonplek te trek, sal dit verstandig wees om moontlike bronne van geraassteurnis na te gaan voordat jy die kontrakte finaliseer. Eiendomsagente stel voor dat jy op verskillende tye van die dag na jou toekomstige huis gaan om te hoor of daar geraas is. Jy kan die bure vir hulle waarnemings vra. As jy probleme ondervind nadat jy in jou nuwe woning ingetrek het, moet jy dit op ’n vriendelike manier probeer oplos. Regsgedinge blaas gewoonlik vyandigheid aan.

Maar gestel jy woon in ’n lawaaierige buurt en jy beskik nie oor die middele om êrens anders heen te trek nie. Is jy daartoe gedoem om ’n onbepaalde tyd lank te ly? Nie noodwendig nie.

Hoe om jou teen geraas te beskerm

Kyk na wat jy kan doen om jou huis teen geraas van buite af te isoleer. Gaan die mure en vloere na om te sien of daar enige gate is wat opgevul kan word. Let veral op na waar elektriese muurproppe geleë is. Is hulle stewig vas?

Geraas kom dikwels deur deure en vensters in ’n huis in. As ’n mens vensters met dubbele glasruite insit, kan dit help om die geraas te verminder. Jy kan selfs ’n dun skuimstrokie om jou deurkosyn sit wat sal verseker dat die deur goed pas. Dit sal dalk jou woonvertrekke teen steurende verkeersgeraas beskerm as jy ’n stoep bou en ’n tweede deur insit.

Hoewel verkeersgeraas teen ’n onrusbarende tempo toeneem, ontwikkel motorvervaardigers voortdurend nuwe materiale en metodes om klankvlakke in jou voertuig te verlaag. Stiller bande op jou motor help ook. In baie lande het eksperimente met verskillende soorte padoppervlaktes produkte opgelewer soos “fluisterbeton”, waar van die aggregaat blootgestel bly en daar gevolglik net gedeeltelike bandkontak is. Die gebruik van hierdie oppervlak verlaag na bewering geraasvlakke met tot twee desibel vir ligte voertuie en een desibel vir swaar vragmotors. Hoewel dit dalk nie noemenswaardig lyk nie, is ’n verlaging van gemiddeld drie desibel daaraan gelyk om die verkeersgeraas met die helfte te verminder!

Padbouers ontwerp nou hoofweë wat deur versperrings of grondwalle versteek word, wat sodoende geraas doeltreffend verminder. Selfs waar daar nie plek is hiervoor nie, beskut spesiaal ontwerpte heinings, soos die een in oostelike Londen wat van geweefde wilgerlote en immergroen plante gemaak is, inwoners naby die hoofweg teen ongewenste geraas.

In party omgewings, soos kantore, kan dit nuttig wees om steurende klanke te verdof met wat witgeruis genoem word—byvoorbeeld, statiese steurings of suisende lug.b In Japan het geluidlose klaviere op die mark gekom. In plaas van die snaar te slaan, aktiveer die hamer ’n elektroniese stroombaan wat die noot in die oorfone van die speler voortbring.

Wetenskaplikes het reeds baie tyd daaraan bestee om navorsing te doen oor die voortbrenging van wat hulle antigeraas noem. Basies behels dit die gebruik van ’n ander klankbron om trillings voort te bring wat die uitwerking van geraas kanselleer. Dit behels natuurlik bykomende toerusting en ekstra onkoste en verwyder nie werklik die bron van die probleem nie. “Totdat mense geraas as klankvullis begin beskou”, sê U.S.News & World Report, “sal antigeraas dalk die enigste manier wees om ’n oomblik van stilte te kry.” Dit is dalk waar, maar is stilte die teenmiddel vir geraasbesoedeling?

Is daar werklik enige vooruitsig op rus en vrede vir jou huis en jou buurt? Ons volgende artikel bied ’n werklike hoop.

[Voetnote]

a Geraasvlakke word gewoonlik bepaal deur ’n meter te gebruik wat klank in desibels meet. Aangesien die oor party frekwensies beter hoor as ander, is die meter ontwerp om op soortgelyke wyse te reageer.

b Net soos witlig ’n mengsel van al die frekwensies in die ligspektrum is, is witgeruis klank wat al die frekwensies in die gehoorveld bevat, op naastenby gelyke vlakke van hardheid.

[Venster op bladsy 6]

Hoe om te voorkom dat jy ’n lawaaierige buurman is

● Neem jou bure in ag wanneer jy iets lawaaierigs doen, en stel hulle voor die tyd in kennis.

● Gee jou samewerking wanneer jou buurman jou vra om geraas te verminder.

● Besef dat jou plesier nie tot jou bure se ongerief moet lei nie.

● Onthou dat geraas en trillings maklik deur gange en vloere oorgedra word.

● Sit lawaaierige huishoudelike toerusting op dempers.

● Maak seker dat iemand geroep kan word om vals alarms van die huis en motor af te sit.

● Moenie laat in die nag lawaaierige werk doen of lawaaierige huishoudelike toerusting gebruik nie.

● Moenie musiek so hard speel dat dit jou bure pla nie.

● Moenie honde vir lang tye alleen los nie.

● Moenie toelaat dat kinders op die vloer spring en sodoende mense onder julle steur nie.

● Moenie in die nag motors se toeters blaas, deure toeklap of die enjin se omwentelings opjaag nie.

[Venster/Prent op bladsy 7]

Geraas en jy

“Geraas is vandag die algemeenste nywerheidsgevaar in Brittanje”, sê The Times, “en doofheid is die algemene gevolg daarvan.” Party beroepsgesondheidstudies dui aan dat geraas bo 85 desibel vir ’n fetus skadelik kan wees. Die baba se gehoor word beskadig, en die baba kan hormoonversteurings sowel as geboortedefekte hê.

Blootstelling aan harde geraas laat bloedvate toetrek en verminder die vloei van bloed na jou organe. Die liggaam reageer op sy beurt deur hormone te vervaardig wat die bloeddruk verhoog en jou hart vinniger laat klop, wat partykeer tot hartkloppings of selfs angina lei.

Wanneer geraas jou roetine ontwrig, kan ander probleme voorkom. Versteurde slaap kan jou reaksies gedurende die dag beïnvloed. Geraas verander dalk nie die gemiddelde spoed waarteen jy werk nie, maar dit kan ’n invloed hê op die aantal foute wat jy maak.

[Venster/Prent op bladsy 9]

Beskerming by die werk

As jy vind dat geraas by die werk ’n probleem is, moet jy dit oorweeg om die een of ander soort oorbeskutting te dra.* Oorskutte pas oor jou kop soos oorfone en is gewoonlik doeltreffend waar geraasvlakke hoog is. Die voordeel daarvan is dat jy nog mondelinge boodskappe en masjienwaarskuwingseine kan hoor, hoewel dit vir jou moeilik mag wees om presies te sê waar die klank vandaan kom. Oorpluisies moet die regte grootte wees vir jou en is ongeskik as jy ’n oorsiekte of irritasie in die oorkanaal het.

Goeie instandhouding van masjiene kan trillings verminder. Geraasbesoedeling kan verminder word deur toerusting op rubber te monteer, asook deur lawaaierige masjinerie af te skerm.

*Wetgewing in baie lande vereis dat werkgewers seker maak dat hulle werkers voldoende gehoorbeskutting dra.

[Prent op bladsy 8]

Hoe kan jy jou teen geraas beskerm wat deur ’n mobiele samelewing gemaak word?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel