Van ons lesers
Kinders en oorlog Ek het verskriklik hartseer gevoel toe ek die reeks “Wat oorlog aan kinders doen” (22 Oktober 1997) lees. Ek was as kind ook ’n slagoffer van oorlog. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het ek vier en ’n half jaar in die Japannese konsentrasiekampe Ngawi en Bandoeng deurgebring. Op tienjarige ouderdom is ek van my gesin geskei en het ek sewe dae per week in die tropiese son geswoeg—ondervoed en terwyl ek aan beri-beri en disenterie gely het. Maar my ondervindinge lyk na kinderspeletjies in vergelyking met die onbeskryflike wreedheid wat miljoene kinders vandag ondervind. Mag ons nooit ontmoedig voel omdat Jehovah tyd toegelaat het sodat mense regoor die wêreld, waaronder diegene wat as kinders slagoffers van oorlog was, aangaande sy vertroostende beloftes kan leer nie!
R. B., Verenigde State
’n Pot vet Ek het baie hartseer en jammer vir myself gevoel. ’n Jaar gelede het my man besluit dat hy nie meer ’n Christen as vrou wou hê nie, en hy het my en my seun uit die pragtige huis gesit wat hy gesê het hy vir my gekoop het. Ek het tot armoede verval. My lewe het hopeloos gelyk, en ek het Jehovah om hulp gevra. Wel, ek het ’n les geleer uit die artikel “’n Les uit ’n pot vet” (22 Oktober 1997). Dit het my daaraan herinner om tevrede te wees met voedsel, klere en onderdak en om Koninkryksbelange eerste te stel.
K. P., Verenigde State
Probleme met broers en susters Die artikel “Jongmense vra . . . Waarom kry my broer al die aandag?” (22 Oktober 1997) het net op die regte tyd gekom. Dit het ons help besef dat ongelyke behandeling nie noodwendig onregverdigheid is nie. Ons sien nou dat ons ouers goeie redes het om ons broers en susters ekstra aandag te gee. Ons stem werklik met die artikel saam.
B. K., H. K., en G. U. O., Nigerië
Geraasbesoedeling Ek werk al ’n paar jaar in ’n groot fabriek, en ek en party van my kollegas het die gevolge gely van die geweldige geraas in die fabriek. Ek het die nommer van 8 November 1997 werk toe geneem (“Geraas—Ons ergste vorm van besoedeling?”), en die bestuur het besluit om die nodige voorsorgmaatreëls te tref om die gesondheid van al die werkers te beskerm.
R. P., Italië
Die geraas wat my buurman maak, ontstel my al jare lank. Hy het ’n onderneming wat saans tot laat oopbly. Ek het soms al baie kwaad geword. Maar ek is versterk deur die wete dat daar Christenbroers en -susters is wat ook slagoffers van geraas is, maar wat dit die hoof bied deur selfbeheersing te beoefen.
T. O., Japan
Ek het ’n buurman wat my steur deur telefoonoproepe in die vroeë oggendure te maak. Hierdie artikels het my wonderlike wenke gegee oor hoe ek hierdie saak op ’n vriendelike, Christelike manier kan hanteer.
J. R., Engeland
Magellaan Ek het werklik die artikel oor Ferdinand Magellaan met die titel “Die man wat die wêreld ontsluit het” (8 November 1997) waardeer en geniet. Toe die artikel verskyn het, was ons besig om in ons graadvyfklas van hom te leer. Ek het meer oor hom geleer uit die artikel as uit my sosialestudiehandboek. Ek het vir my onderwyseres my persoonlike eksemplaar van die tydskrif gegee, en sy het dit baie geniet! ’n Paar dae later het ek die tydskrif teruggekry, en daar was ’n nota daarby wat my weer eens bedank het.
B. V., Verenigde State
Dit was wonderlik om my te kon voorstel hoe Ferdinand Magellaan, wat so ’n vasberade man was, vyandigheid en verskeie moeilikhede die hoof gebied het om een van die grootste prestasies in die geskiedenis te behaal. Dankie dat julle oor hierdie fassinerende onderwerp geskryf het.
M. E., Italië