Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g02 1/8 bl. 22-25
  • ’n Fassinerende besoek aan die Olympic- Nasionale Park

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Fassinerende besoek aan die Olympic- Nasionale Park
  • Ontwaak!—2002
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Reënwoude in Noord-Amerika?
  • Waar bome op ander bome groei
  • Ruwe pieke en vergletserde bergrûe
  • Die brekende branders van die Stille Oseaan
  • Die verkragting van die reënwoude
    Ontwaak!—1998
  • Die voordele van die reënwoude
    Ontwaak!—1998
  • Weg in ’n oogwink!
    Ontwaak!—1990
  • Waarom die reënwoude red?
    Ontwaak!—1990
Sien nog
Ontwaak!—2002
g02 1/8 bl. 22-25

’n Fassinerende besoek aan die Olympic- Nasionale Park

AANGESIEN ek naby die oorspronklike berg Olympus in suidelike Europa grootgeword het, was ek natuurlik nuuskierig oor die Olimpiese kenmerke van ’n skiereiland wat duisende kilometers daarvandaan aan die kus van Noord-Amerika in die Stille Oseaan uitsteek. Toe ’n vriend melding maak van reënwoude in daardie afgeleë gebied—8 000 kilometer noordwes van die Amasone—was dit genoeg om my te oorreed om die Olympic- Nasionale Park te besoek.

Ons het voor ons besoek ’n bietjie navorsing gedoen en uitgevind dat die park van 350 000 hektaar, wat in die noordwestelike hoekie van die Verenigde State in die staat Washington geleë is, uit ’n fassinerende verskeidenheid natuurwonders bestaan. Hier, onder die mis van die Stille Oseaan wat oor die kuslyn en die boomgrens hang, is daar groot bome, gebroke kuslyne en van die natste weer op aarde. Die park het hoë berge wat met sneeu en stadig bewegende gletsers bedek is en het ook ’n reënwoud wat net so geheimsinnig en donker is as enige in die Amasonestreek.

In 1788 het ’n Engelse kaptein die hoogste piek—wat amper 2 500 meter hoog is—die berg Olympus genoem, na die legendariese woonplek van die mitiese gode van Griekeland. Die Olympic- Nasionale Park is in 1938 gestig om hierdie ongerepte wildernis te bewaar.

Reënwoude in Noord-Amerika?

Op ’n heerlike herfsoggend het Mike, ’n boorling van die gebied en ’n gids, vir my en my vrou by die park se hoofkwartier in Port Angeles gewag. Mike, ’n lang breëborsman, wys met trots vir besoekers soos ons die skatte van die reënwoud. “Die reënwoude is moontlik die grootste wonder van die Olympic- Nasionale Park”, het hy met duidelike entoesiasme gesê. “Die term word gewoonlik in verband met tropiese woude gebruik. Ons reënwoude is van die kleineres in die gematigde gebiede.” Toe ek ’n verduideliking vra, noem Mike dadelik ’n paar syfers: Die woude word gevoed deur die buitengewoon hoë reënval teen die westelike hange van die Olympic-berge, wat wissel van ongeveer 2 000 millimeter per jaar naby die kus tot 4 000 millimeter of meer langs die riviervalleie in die voetheuwels. Die reënwoude kom hoofsaaklik in drie valleie voor: dié van die Hoh-, Queets- en Quinaultrivier.

Die geluid van ons voetstappe word gedemp deur die bosturf op die woudvloer wat byna ’n halwe meter dik is. Die digte bome laat geen wind deur nie; selfs die reën, waarvan hierdie gebied so baie kry, val in die vorm van ’n groenerige mis. Slegs klein, dowwe kolle sonlig bereik ons op die woudvloer. Die sagste voëlgesang klink hard, en takbokke beweeg soos bruin skimme tussen die mosbegroeide boomstamme.

Waar bome op ander bome groei

Aangesien die grondbedekking so dig is, kry sade selde die kans om te groei—dit is waarom die meeste van die grootste bome in die woud op pleegstompe groei. Dit is verrottende boomstompe wat as ’n vrugbare gasheer dien vir sade wat daarop val. Dit is nie ongewoon om te sien hoe ’n hele paar groot bome in ’n reguit lyn op ’n reuseboomstomp groei nie, en omdat daar soveel pleegstompe is, sien ’n mens soms rye bome—asof hulle noukeurig so geplant is.

Wanneer ons die gelyke voetslaanpaaie agterlaat en hoër teen die Olympic-berge opklim, verander die woud en word dit oorheers deur ontsaglike Pasifiese silwerdenne en Alpynse denne. Die berg Olympus het 7 gletsers teen sy hange, met ys wat op plekke 300 meter dik is, en daar is meer as 50 gletsers in die hooglande.

Ruwe pieke en vergletserde bergrûe

Die kilojoules wat ons op daardie veeleisende voetslaanpaaie verbrand het, moes vervang word. Ons volgende dag het dus met ’n stewige ontbyt by ’n restaurant in Port Angeles begin. Arlene, ons vriendelike kelnerin, was meer opgewonde oor die sneeu as oor die reënval in die gebied. Sy het volgehou dat ons nie werklik die wonders van die Olympic-berge sou sien as ons nie eers die hoërliggende gebiede naby die oostelike sneeubedekte hange in die park besoek nie.

Die pad oos van Port Angeles waarmee ons na Deer-park gery het, was omtrent heeltyd ’n steil, kronkelende grondpad. Ons is beloon met ’n pragtige uitsig na die noorde en die suide, oor die Juan de Fuca-straat tot by Vancouver-eiland en na die hoë, koue sentrale deel van die Olympic-berge. In die Alpynse graslande het ons baie takbokke gesien, sowel as ’n paar delikate plante wat nêrens anders op aarde groei nie, insluitende die Piper-klokblom en die Flett-viooltjie.

Daarna het ons by Hurricane Ridge aangekom. Dit is maklik om te sien waarom die grootpad wat soontoe lei, ’n gewilde bergpad in die park is. Dit is ’n goeie pad, wat naby die park se hoofkwartier begin en op ’n hoogte van 1 755 meter in blomryke graslande eindig waar die Olympic-berge begin. Van hier af strek die berge tot ver in die suide, met ’n reeks sneeubedekte pieke en gletsers wat in die valleie tussen hulle voorkom. Terwyl ons op hierdie panorama uitgekyk het, het donker wolke uit die weste aangerol gekom.

Wanneer die sneeu op die graslande smelt, begin die eerste berglelies blom, en vir die daaropvolgende drie maande is daar die een kleurvolle vertoon van blomme na die ander. Takbokke kan gesien word waar hulle wei met die pragtige berg in die agtergrond, en soms kan ’n mens bergbokke teen die steil kranse bokant die grootpad sien.

Die brekende branders van die Stille Oseaan

Die beste strande in die Olympic- Nasionale Park word te voet bereik, nie per motor nie. Ons het deur die woude van die dorp Forks, in die ooste, gestap en by strande met getypoele gekom wat vol uiters fassinerende seelewe is. Anderkant Teahwhit Head het ons afgekom op die Giants Graveyard, ’n onordelike versameling vervormde rotsformasies waarteen die reusegolwe van die Stille Oseaan skuimend breek. Die bome langs hierdie kus is amper heeltemal oorgebuig weens die aanhoudende stormsterk seewinde. Terwyl ons op die strand in die sterk wind geloop het, was daar pragtig gevormde dryfhout en seepgladde klippies oral om ons.

Die indruk wat die Olympic- Nasionale Park hoofsaaklik op ons gelaat het, was een van ongetemdheid en tydloosheid. Dit het ons met ontsag vir die Skepper gevul, “hy in wie se hand die diepste plekke van die aarde is en aan wie die pieke van die berge behoort; aan wie die see behoort, wat hy gemaak het, en wie se hande die droë land gevorm het” (Psalm 95:4, 5, NW).—Bygedra.

[Venster op bladsy 25]

Waarom soveel reën?

Vogbelaaide wolke wat van ’n warm Pasifiese kusstroom landwaarts waai, word deur die hoë Olympic-berge opwaarts gedwing. Namate die wolke styg, koel dit af en het dit swaar reën of sneeu tot gevolg. Die westelike hang van die berge ontvang dus tot 3 500 millimeter reën per jaar. Die berg Olympus kry sowat 5 000 millimeter reën, wat meestal as sneeu val. Maar die gebied aan die oostelike kant daarvan lê in ’n sogenaamde reënskadu en bly betreklik droog.

[Kaart op bladsy 22]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

STILLE OSEAAN

KANADA

VSA

OLYMPIC- NASIONALE PARK

[Prente op bladsy 23]

Die vergletserde berg Olympus, met die Hoh-reënwoud aan die voet daarvan

[Prent op bladsy 23]

Home-meer, aan die bopunt van die Dungeness-riviervallei

[Prente op bladsy 24]

In die Alpynse graslande is daar baie takbokke en unieke plante, soos die Flett-viooltjie

[Prent op bladsye 24, 25]

Pasifiese kuslyn van Kalaloch-strand

[Prent op bladsy 25]

Sol Duc- waterval

[Prent op bladsy 25]

Dryfhout langs Rialto-strand

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel