Ons beskou die wêreld
’n Wanhopige geslag
Opnames wat die gesindhede van vandag se 15- tot 24-jariges met die jongmense van twee geslagte gelede vergelyk, het aan die lig gebring dat daar ’n toename in dwelmmisbruik, misdaadsyfers en selfmoord is, berig The Australian. Richard Eckersley, ’n beleidsontleder en wetenskapskrywer, het die gevoelens van talle hedendaagse jongmense opgesom toe hy gesê het: “Jongmense glo dat die lewe opwindend en vol pret moet wees, dat hulle vir hulleself moet sorg, dat hulle hulle eie lewenstyl moet kan kies, dat regerings nie in staat is om die samelewing se probleme op te los nie en dat hulle self magteloos is om maatskaplike toestande te verander.” Shanu, ’n 15-jarige meisie, het gesê: “Die bevolking groei en ons moet meeding om minder werksgeleenthede, minder behuising, minder van alles.”
Ruimtestasierommel
Persone wat die Russiese ruimtestasie Mir gebruik, leer nou ná 11 jaar om ’n probleem die hoof te bied waarmee talle aardbewoners goed bekend is—wat om met al die opgegaarde goed te maak. In die gewigloosheid van die ruimte moet noodsaaklike artikels soos ruimtepakke, rekenaarkabels, voedselpakkies, gereedskap en onderdele aan vloere, plafonne en mure vasgemaak word. Maar met rommel wat omtrent 30 sentimeter dik op elke oppervlak gepak is, word die beskikbare ruimte in Mir al hoe minder. Wanneer die nuwe Internasionale Ruimtestasie gelanseer word, sal ruimtevaarders moontlik ’n ingeboude saamperser vir vullis tot hulle beskikking hê. Dít sal ongetwyfeld baie waardeer word, aangesien diegene op Mir tot nou toe die blikkies ná ’n maaltyd moes platdruk, in die voedselkartonne terugpak en dan teen die muur vasmaak.
Strydlustige bobbejane
Reisigers op een van Suid-Afrika se besigste hoofweë het vroeër vanjaar voor ’n ongewone gevaar te staan gekom—’n trop bobbejane wat hulle met klippe bestook het. Volgens die International Herald Tribune het die bobbejane die motoriste ingewag langs ’n bergpas op die pad tussen Kaapstad en Johannesburg. Hoewel geen beserings of motorongelukke aangemeld is nie, het die verkeerspolisie die diere van die hoofweg af probeer wegdryf deur hulle ook met klippe te bestook. Daar was geen berigte van ’n definitiewe oorwinnaar in hierdie klipgooistryd tussen die polisie en die bobbejane nie.
Rokers in Asië
Daar word geraam dat bykans 73 persent van alle mans in Viëtnam rook. Dit is “die hoogste voorkomssyfer van rokende mans ter wêreld”, berig ’n studie wat in The Journal of the American Medical Association gepubliseer is. In vergelyking hiermee lyk dit asof net meer as 4 persent van die Viëtnamese vrouens rook. Dieselfde patroon kom ook in ander Asiatiese lande aan die Stille Oseaan voor. Byvoorbeeld, in Indonesië rook 53 persent van die mans en 4 persent van die vrouens; en in China weer rook 61 persent van die mans en 7 persent van die vrouens.
Kweekskool verslap beleid oor seks
’n Kweekskool van die Episkopaalse Kerk in Virginië “het sy 25 jaar oue beleid verslap wat studente en die fakulteit verbied om buite-egtelike geslagsomgang te hê en homoseksualiteit te beoefen”, berig die tydskrif The Christian Century. Die raad se voorsitter, Peter J. Lee, het gesê: “Ons moet onthou dat die meeste teologiestudente in hulle dertiger- of veertigerjare is. Daar is geen huismoeders en geen bedinspeksies nie.” Oor die afgelope 11 jaar het inskrywings by die kweekskool met 33 persent afgeneem. Daarbenewens het die gemiddelde ouderdom van studente wat by die kweekskool inskryf oor die afgelope 25 jaar van 27 tot 40 gestyg. “Wat ek as voorsitter van die raad probeer doen, is om te voorkom dat die een of ander 28-jarige toelating geweier word omdat ons uitgevind het dat hy geslagsomgang met sy verloofde gehad het”, het Lee gesê.
Peusel en tandbederf
Dit is al lank bekend dat dit tandbederf kan help beveg as ’n mens minder soet versnaperinge eet. Maar wat veral belangrik is, is om te let op wanneer en hoe gereeld jy peusel, berig die gesinstandheelkundige handleiding How to Keep Your Family Smiling. Wanneer soetgoed of verfynde koolhidrate in aanraking kom met plaak op jou tande, word suur gevorm. Hierdie suur val op sy beurt jou tandemalje omtrent 20 minute lank aan, sê die brosjure. Gedurende hierdie tyd kan gaatjies begin vorm. Wat meer is, “dit kan elke keer gebeur wanneer jy ’n lekker of styselrige versnapering eet”. As jy dus wil peusel, “is dit beter om die hele ding op een slag op te eet” en sodoende jou tande net een keer aan suur bloot te stel. As jy andersins oor ’n langer tyd aan dieselfde versnapering peusel, veroorsaak dit ’n verlengde suuraanval. Tandartse beveel aan dat jy jou tande ten minste twee keer per dag borsel om tandbederf te help voorkom. Moet ook nie vergeet om daagliks met tandevlos tussen jou tande skoon te maak nie.
Wetenskaplikes se geloof in God
Die Amerikaanse sielkundige, James Leuba, het in 1916 ’n steekproef onder wetenskaplikes gedoen en 1000 van hulle gevra of hulle aan God glo. Hulle antwoord? Volgens The New York Times het 42 persent van die wetenskaplikes wat geantwoord het, gesê dat hulle aan God glo. Leuba het voorspel dat geloof in God sou afneem namate opvoeding toeneem. Nou, meer as 80 jaar later, het Edward Larson, van die Universiteit van Georgia, Leuba se beroemde opname herhaal. Deur dieselfde vrae en metodes te gebruik, het Larson bioloë, fisici en wiskundiges gevra of hulle aan ’n God glo wat daadwerklik met die mensdom kommunikeer. Die resultate dui daarop dat ongeveer dieselfde aantal wetenskaplikes vandag, nagenoeg 40 persent, gesê het dat hulle aan God glo. Volgens dr. Larson “het Leuba óf die menslike psige óf die vermoë van die wetenskap om alle menslike behoeftes te bevredig verkeerd beoordeel”.
Virusse op ’n wêreldreis
Die tydskrif New Scientist berig dat die riooltenks van vliegtuie chemikalieë bevat wat veronderstel is om virusse dood te maak, maar dat party virusse blootstelling aan die ontsmettingsmiddel oorleef. Mark Sobsey, ’n omgewingswetenskaplike aan die Universiteit van Noord-Carolina, wat rioolvullis toets, het bevind dat amper die helfte van die rioolvullis van internasionale vlugte wat in die Verenigde State land, lewendige virusse bevat. In die Verenigde State word afval wat van vliegtuie verwyder word gewoonlik by openbare rioolplase behandel en later in die omgewing gestort. Die gevaar bestaan dus dat sommige van hierdie virusse siektes soos hepatitis A en E, meningitis en polio kan versprei. Sobsey voeg by: “Die verskeidenheid siektes wat deur die wêreld se lugdienste versprei kan word, is nogal kommerwekkend.”
Die verdwynende Ganges
Die Gangesrivier, wat in Indië as die Ganga bekend staan, word deur honderdmiljoene Hindoes as heilig beskou. Die Ganges is ook die lewensaar van landbou al met sy loop langs. India Today berig dat sy waters nou egter vinnig besig is om op te droog en breë stroke droë grond tussen die rivier en sy eertydse walle laat. Die drastiese afname in vloei is die gevolg van te min reën sowel as ’n toename in die gebruik van rivierwater vir besproeiing stroomop. Behalwe dat die streek se landbou bedreig word, kan toeslikking as gevolg van ’n watertekort Kalkutta se hawe onbevaarbaar maak, sê die berig.
Seerowery neem toe
Volgens die Buro vir Internasionale Seevaart is berigte van seerowery aan die toeneem—van 90 voorvalle in 1994 tot 226 net twee jaar later. Hierdie toename bekommer handelsvlootamptenare sowel as toeriste. Maar die werklike syfer is dalk meer as twee keer so hoog, aangesien “talle skeepseienaars nie die moeite doen om voorvalle aan te meld nie omdat die daaropvolgende ondersoeke tot duur vertragings kan lei”, sê The Sunday Telegraph van Londen. Gebiede wat deesdae veral gevaarlik is, is die Middellandse See aan die kus van Albanië en Libië en die Suid-Chinese See. ’n Verteenwoordiger van die Britse handelsvloot het Brittanje aangespoor om die leiding te neem in ’n internasionale taakmag van die VN om die seerowers te bestry. Maar ’n woordvoerder van die skeepseienaars het gesê “hy glo nie dat ’n VN-taakmag enigiets aan die probleem kan doen nie, aangesien die meeste aanvalle binne gebiedswaters plaasvind”, het die koerant berig.