Tandpyn—’n geskiedenis van lyding
Op die markplein van ’n Middeleeuse dorp spog ’n deftig geklede kwaksalwer dat hy tande pynloos kan trek. Sy handlanger, wat kamma huiwerig is, tree vorentoe; die tandetrekker maak asof hy sy tand uittrek en hou ’n bebloede kiestand omhoog sodat almal dit kan sien. Tandpynlyers word kort voor lank oorreed om van hulle geld en hulle tande afstand te doen. Tromme en trompette oordonder hulle geskreeu sodat dit ander nie afskrik nie. Binne dae kom ernstige gevalle van bloedver- giftiging soms voor, maar teen daardie tyd is die kwaksalwer lankal weg.
MIN slagoffers van tandpyn hoef vandag van die dienste van sulke skelms gebruik te maak. Hedendaagse tandartse kan tandpyn stil en kan dikwels tandverlies voorkom. Nietemin is baie mense angstig oor ’n besoek aan die tandarts. As ons kyk na hoe tandartse aanvanklik geleer het om hulle pasiënte se pyn te verlig, sal dit ons dalk help om die hedendaagse tandheelkunde te waardeer.
Tandbederf is na bewering die mensdom se algemeenste kwaal naas die gewone verkoue. Maar dit is glad nie ’n nuwe kwaal nie. Die poësie van koning Salomo bring aan die lig dat die ongemak wat daarmee gepaardgaan om min tande te hê, die verwagte lot van ouer mense in eertydse Israel was.—Prediker 12:3.
Selfs koninklikes het gely
Hoewel Elizabeth I die koningin van Engeland was, kon sy nie tandpyn vryspring nie. ’n Duitse besoeker wat haar swart tande gesien het, het berig dat dit “blykbaar ’n probleem onder die Engelse [was] omdat hulle soveel suiker gebruik”. In Desember 1578 het die koningin dag en nag tandpyn verduur. Haar dokters het aanbeveel dat die vrot tand uitgetrek moet word, maar sy het geweier, moontlik uit vrees vir die pyn wat dit sou veroorsaak. Om haar gerus te stel, het John Aylmer, die biskop van Londen, een van sy eie tande, moontlik een wat ook vrot was, voor haar laat trek—’n moedige daad, aangesien die bejaarde man maar min tande oorgehad het!
Destyds het gewone mense wat ’n tand wou laat trek, na ’n haarkapper of selfs ’n ystersmid gegaan. Maar toe meer mense suiker kon bekostig, het tandpyn algemener geword—en so ook die aanvraag na bekwame tandetrekkers. Daarom het sommige dokters en chirurge in die behandeling van probleemtande begin belangstel. Hulle moes hulleself egter leer, want kenners het hulle vakgeheime streng bewaar. Daar was ook nie veel boeke oor die onderwerp beskikbaar nie.
’n Eeu ná Elizabeth I het Lodewyk XIV as koning van Frankryk geheers. Hy is vir ’n groot deel van sy lewe deur tandpyn gefolter, en in 1685 het hy al sy linker-botande laat uittrek. Party beweer dat die koning se tandinfeksies verklaar waarom hy die rampspoedige besluit geneem het om godsdiensvryheid in Frankryk in daardie jaar weg te teken, iets wat ’n vlaag van wrede vervolging teen godsdiensminderhede ontketen het.
Die geboorte van hedendaagse tandheelkunde
Die invloed van Lodewyk XIV se kwistige lewenswyse op Parys se sosiale kringe het tot die geboorte van die tandheelkundige beroep gelei. Sukses in die hof en in hierdie kringe het van ’n modieuse voorkoms afgehang. Die aanvraag na kunstande, wat meer ter wille van voorkoms gedra is as om mee te eet, het aanleiding gegee tot ’n nuwe groep chirurge—tandartse wat vir elite-klante gewerk het. Die toonaangewende tandarts in Parys was Pierre Fauchard, wat opgelei is as ’n chirurg in die Franse vloot. Hy het chirurge gekritiseer wat dit aan onbevoegde haarkappers en kwaksalwers oorgelaat het om mense se tande te trek, en hy was die eerste persoon wat homself ’n tandheelkundige genoem het.
Fauchard het weggebreek van die gebruik om vakgeheime streng te bewaar en het in 1728 ’n boek geskryf waarin hy al die prosedures waarvan hy geweet het, bekend gemaak het. As gevolg daarvan het hy bekend geword as “die vader van die tandheelkunde”. Hy was die eerste persoon wat sy pasiënte in ’n tandartsstoel laat sit het en nie op die vloer nie. Fauchard het ook vyf stukke gereedskap ontwikkel om tande te trek, maar hy was veel meer as net ’n tandetrekker. Hy het ’n tandboor ontwikkel asook metodes om gaatjies te stop. Hy het geleer hoe om ’n wortelkanaal te stop en om ’n kunstand aan die wortel te heg. Sy kunstande, wat van ivoor gemaak is, het ’n springveertjie gehad wat die boonste stel in posisie gehou het. Fauchard het tandheelkunde as ’n professionele beroep gevestig. Sy invloed het selfs oor die Atlantiese Oseaan gestrek.
Die eerste Amerikaanse president se lyding
’n Eeu ná Lodewyk XIV het George Washington in Amerika aan tandpyn gely. Hy het amper elke jaar vandat hy 22 jaar oud was, ’n tand laat trek. Stel jou die ellende voor wat hy moes verduur toe hy sy Kontinentale Leër gelei het! Teen die tyd dat hy in 1789 die eerste president van die Verenigde State geword het, het hy feitlik geen tande gehad nie.
Washington se tandverlies en swak passende kunstande, wat sy voorkoms bederf het, het hom baie gekwel. Hy was baie gesteld op sy voorkoms terwyl hy gesukkel het om ’n openbare beeld te skep vir die presidentskap van ’n nuwe nasie. In daardie dae is kunstande nie van afdrukke gegiet nie, maar van ivoor gemaak, en dit was dus moeilik om dit in posisie te hou. Engelse here het dieselfde probleme as Washington ondervind. Daar is al gesê dat hulle so ’n droë humorsin ontwikkel het omdat hulle bang was dat mense hulle kunstande sou sien as hulle hardop lag.
’n Legende dat Washington houtkunstande gehad het, is blykbaar nie waar nie. Hy het kunstande gehad wat van mensetande, ivoor en lood gemaak is, maar nie van hout nie. Sy tandartse het waarskynlik tande by grafdiewe gekry. Tandhandelaars het ook leërmagte gevolg en ná ’n veldslag dooie en sterwende soldate se tande getrek. Kunstande was dus ’n ryk man se luukse. Dit was eers in die 1850’s, met die ontdekking van gevulkaniseerde rubber, wat later gebruik is om basisse vir kunstande te maak, dat kunstande vir die man op straat beskikbaar geword het. Hoewel Washington se tandartse op die voorpunt van die tandheelkundige beroep was, het hulle nog steeds nie die oorsaak van tandpyn ten volle verstaan nie.
Die waarheid omtrent tandpyn
Sedert die ou tyd het mense gedink dat wurms tandpyn veroorsaak—’n teorie wat tot die 18de eeu voortgeleef het. In 1890 het Willoughby Miller, ’n Amerikaanse tandarts wat in Duitsland by die Universiteit van Berlyn gewerk het, die oorsaak van tandbederf, wat ’n vername oorsaak van tandpyn is, geïdentifiseer. ’n Sekere soort bakterie wat veral op suiker floreer, bring ’n suur voort wat die tande aanval. Maar hoe kan tandbederf voorkom word? ’n Antwoord het heel toevallig aan die lig gekom.
Tandartse in Colorado, VSA, het dekades lank gewonder waarom soveel mense daar gevlekte tande het. Uiteindelik is daar gevind dat ’n oormaat fluoried in die water die oorsaak is. Maar terwyl navorsers daardie plaaslike probleem ondersoek het, het hulle toevallig iets uitgevind wat van wêreldwye belang vir die voorkoming van tandpyn was: Daar was meer tandbederf onder mense wat grootgeword het waar die drinkwater nie genoeg fluoried bevat het nie. Fluoried, wat natuurlik voorkom in baie waterbronne, is ’n bestanddeel van tandemalje. Wanneer mense wie se watervoorraad nie genoeg fluoried bevat nie, van die regte hoeveelheid voorsien word, daal die voorkoms van tandbederf met tot 65 persent.
En so is die raaisel opgelos. Die meeste tandpyn word veroorsaak deur tandbederf. Suiker dra daartoe by. Fluoried help om dit te voorkom. Dit is natuurlik ’n aanvaarde feit dat fluoried nie ’n plaasvervanger is vir die gereelde borsel en vlos van tande nie.
Die soeke na pynlose tandheelkunde
Voordat verdowingsmiddels ontdek is, het tandheelkundige prosedures vreeslike pyn vir pasiënte veroorsaak. Tandartse het sensitiewe, vrot tande met skerp instrumente uitgegrawe en dan warm metaal in die gaatjie vasgedruk as ’n stopsel. Aangesien geen ander behandeling beskikbaar was nie, het hulle ’n tand wat ’n besmette tandmurg gehad het, doodgebrand deur ’n rooiwarm yster in die wortelkanaal in te druk. Voordat spesiale toerusting en antibiotika ontwikkel is, was die uittrek van ’n tand ook ’n angswekkende ondervinding. Die enigste rede waarom mense hulle aan sulke pyn onderwerp het, was omdat dit selfs erger was om met die tandpyn saam te leef. Hoewel kruiepreparate soos opium, Indiese hemp en alruin eeue lank gebruik is, het dit slegs die pyn effens verdoof. Sou tandartse ooit pynlose chirurgie kon uitvoer?
Die verdowende eienskappe van distikstofmonoksied, of laggas, is opgemerk kort nadat die Engelse chemikus Joseph Priestley dit vir die eerste keer in 1772 voorberei het. Maar tot 1844 het niemand dit as ’n verdowingsmiddel gebruik nie. Op 10 Desember van daardie jaar het Horace Wells, ’n tandarts in Hartford, Connecticut, VSA, ’n lesing bygewoon waar mense vermaak is met laggas. Wells het opgemerk dat iemand wat onder die invloed daarvan was, sy maermerrie teen ’n swaar bank gestamp het, maar geen teken van pyn getoon het nie. Wells was ’n simpatieke man, en dit het hom erg gekwel dat hy sy pasiënte pyn veroorsaak het. Hy het dadelik daaraan gedink om die gas te gebruik as ’n verdowingsmiddel. Maar voordat hy dit aan ander gegee het, het hy besluit om dit self te toets. Die volgende dag het hy in sy eie tandartsstoel gaan sit en die gas ingeasem totdat hy bewusteloos geraak het. Toe het ’n kollega sy seer verstandtand uitgetrek. Dit was ’n historiese gebeurtenis. Uiteindelik het pynlose tandheelkunde ’n werklikheid geword!a
Sedertdien het die tandheelkundige bedryf talle tegnologiese verbeterings ondergaan. Jy sal derhalwe vind dat ’n besoek aan jou tandarts vandag ’n baie aangenamer ondervinding is.
[Voetnoot]
a Vandag word plaaslike verdowingsmiddels algemener gebruik as distikstofmonoksied.
[Prent op bladsy 28]
Ivoorkunstande wat aan George Washington, die eerste Amerikaanse president, behoort het
[Erkenning]
Courtesy of The National Museum of Dentistry, Baltimore, MD
[Prent op bladsy 29]
’n Kunstenaar se voorstelling van die eerste tandheelkundige operasie waartydens distikstofmonoksied as verdowingsmiddel gebruik is, 1844
[Erkenning]
Courtesy of the National Library of Medicine
[Foto-erkenning op bladsy 27]
Courtesy of the National Library of Medicine