Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 12/8 bl. 13-15
  • Moet Christene homoseksuele haat?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Moet Christene homoseksuele haat?
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • God se beskouing
  • “Haat die kwaad”
  • ‘God is nie partydig nie’
  • Christene verwelkom die berouvolles
  • Homoseksualiteit—Is dit werklik so verkeerd?
    Ontwaak!—1995
  • Is homoseksualiteit ooit geregverdig?
    Ontwaak!—2012
  • Is homoseksualiteit verkeerd?
    Jongmense vra
  • Hoe kan ek verduidelik wat die Bybel oor homoseksualiteit sê?
    Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 1
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 12/8 bl. 13-15

Die Bybelse beskouing

Moet Christene homoseksuele haat?

IN 1969 is ’n nuwe woord in Engels geskep wat ’n onredelike vrees vir of afkeer van homoseksuele beskryf. Die woord is “homophobia”. Baie tale het nie so ’n spesifieke woord nie, maar duisende jare al toon mense van baie nasies en tale ’n afkeer van homoseksuele.

In onlangser tye is homoseksualiteit egter oral bevorder as bloot ’n alternatiewe vorm van geslagsomgang. Die geskiedskrywer Jerry Z. Muller het onlangs geskryf oor ’n “toenemende aandrang op openbare erkenning en respek vir homoseksualiteit as sodanig”. Hy het verduidelik dat homoseksuele “al hoe meer saamgespan het om hulle lewenstyl as lofwaardig te verklaar en om te eis dat ander dit ook doen”. Dit word veral in Westerse lande gesien. Maar in die meeste wêrelddele, selfs in sogenaamd liberale lande, word homoseksualiteit nog deur baie afgekeur en verag.

Homoseksuele en dié wat van homoseksualiteit verdink word, word dikwels uitgesonder as teikens van minagtende aanmerkings, teistering en geweld. Selfs godsdiensleiers het sulke haat getoon. Party het blykbaar hulle eie privaat oorlog teen homoseksuele begin. Neem byvoorbeeld die opmerkings van ’n biskop van die Grieks-Ortodokse Kerk wat onlangs oor die Griekse nasionale radio uitgesaai is. Hy het gesê: “God sal homoseksuele vir ewig in die vuur en swael van die hel laat brand. Die gille uit hulle vuil monde sal tot in alle ewigheid weerklink. Hulle verdorwe liggame sal ondraaglike foltering ondergaan.” Is dit werklik waar? Hoe beskou God homoseksuele?

God se beskouing

Die Bybel vestig nie die aandag op homoseksuele in die besonder as ’n groep wat deur Christene verstoot of gehaat moet word nie. Boonop leer dit nie dat God homoseksuele—of enige van sy skepsele—sal straf deur hulle vir ewig in die helse vuur te laat brand nie.—Vergelyk Romeine 6:23.

Maar die Skrif sit wel die sedelike standaarde van ons Skepper uiteen, wat dikwels in stryd is met hedendaagse sedes. Homoseksuele dade, heteroseksuele geslagsomgang tussen ongetroude persone en bestialiteit word alles in die Bybel veroordeel (Exodus 22:19; Efesiërs 5:3-5). God het Sodom en Gomorra weens hierdie seksuele gebruike vernietig.—Genesis 13:13; 18:20; 19:4, 5, 24, 25.

Oor homoseksuele dade sê God se Woord uitdruklik: “Dit is iets haatliks” (Levitikus 18:22, The New Jerusalem Bible). God se Wet aan Israel het bepaal: “As ’n man met ’n manspersoon gemeenskap het soos ’n mens met ’n vrou het, het hulle altwee iets gruweliks gedoen. Hulle moet sekerlik gedood word” (Levitikus 20:13). Dieselfde straf is voorgeskryf vir diegene wat hulle aan bestialiteit, bloedskande en owerspel skuldig gemaak het.—Levitikus 20:10-12, 14-17.

Die apostel Paulus is geïnspireer om homoseksuele dade te beskryf as maniere om “skandelike geslagsluste” te bevredig en as iets “wat teen die natuur is”. Hy skryf: “Dit is waarom God hulle aan skandelike geslagsluste oorgegee het, want ook hulle vroue het die natuurlike gebruik van hulleself verander in een wat teen die natuur is; en net so het ook die mans die natuurlike gebruik van die vrou laat vaar en hewig in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand, mans met mans, en onwelvoeglike dinge bedryf en in hulleself die volle vergelding ontvang wat hulle vir hulle dwaling verdien het. En net soos hulle dit nie goedgevind het om God in juiste kennis te hou nie, het God hulle aan ’n afgekeurde geestestoestand oorgegee, om die dinge te doen wat nie gepas is nie.”—Romeine 1:26-28.

Volgens die Skrif is daar geen verskonings, geen toegewings, geen dubbelsinnigheid nie; homoseksuele dade, owerspel en hoerery is alles verfoeilik in God se oë. Gevolglik verwater ware Christene nie die Bybel se standpunt ten opsigte van “skandelike geslagsluste” bloot om gewilder of aanvaarbaarder vir die hedendaagse kultuur te word nie. En hulle stem ook nie saam met enige beweging wat hom vir die bevordering van homoseksualiteit as ’n normale lewenswyse beywer nie.

“Haat die kwaad”

Die Bybel waarsku: “o Liefhebbers van die HERE, haat die kwaad!” (Psalm 97:10). Daar word dus van Christene verwag om enige gebruik te haat wat Jehovah se wette skend. Party mense reageer dalk selfs met sterker gevoelens van afkeer of walging op homoseksualiteit as op ander vorme van onsedelikheid, omdat hulle homoseksualiteit as ’n onnatuurlike seksuele verdorwenheid beskou. Maar moet Christene die mense haat wat hierdie dinge beoefen?

Die psalmis werp lig op die kwessie in Psalm 139:21, 22: “HERE, sou ek dié nie haat wat vir U haat, en ’n afsku hê van die wat teen U opstaan nie? Ek haat hulle met ’n volkome haat; vyande is hulle vir my!” Ons lojaliteit teenoor Jehovah en sy beginsels moet ons ’n hewige afkeer laat kry van diegene wat opsetlik teen Jehovah in opstand kom en wat standpunt inneem as God se vyande. Satan en die demone tel onder sulke verstokte vyande van God. Party mense val waarskynlik ook onder hierdie kategorie. Dit kan nietemin vir ’n Christen baie moeilik wees om hierdie mense op die oog af te identifiseer. Ons kan nie harte lees nie (Jeremia 17:9, 10). Dit sou verkeerd wees om aan te neem dat iemand ’n onverbeterlike vyand van God is omdat hy of sy sonde beoefen. In baie gevalle ken kwaaddoeners eenvoudig nie God se standaarde nie.

Oor die algemeen haat Christene dus nie sommer hulle medemens nie. Selfs as hulle sekere lewenswyses ten sterkste verafsku, probeer hulle ander nie kwaad aandoen nie, en hulle koester ook nie ’n wrok of haat teenoor hulle nie. Die Bybel raai Christene eerder aan om “vreedsaam teenoor alle mense” te wees.—Romeine 12:9, 17-19.

‘God is nie partydig nie’

Jehovah sal iemand vergewe wat waarlik berou het, ongeag die vorm van onsedelikheid waaraan hy hom skuldig gemaak het. Daar is geen bewys dat Jehovah een vorm van onsedelikheid in ’n ernstiger lig beskou as ’n ander nie. ‘God is nie partydig nie’ (Handelinge 10:34, 35). Beskou byvoorbeeld die geval van die eerste-eeuse gemeente in Korinte. Die apostel Paulus het aan hulle geskryf: “Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of mans wat vir onnatuurlike doeleindes aangehou word of mans wat by mans lê of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of afpersers sal God se koninkryk beërf nie.” Toe het Paulus erken dat party voormalige hoereerders, egbrekers, homoseksuele en diewe as lede van die Christengemeente in Korinte aanvaar is. Hy het verduidelik: “En tog is dit wat party van julle was. Maar julle is skoon gewas, maar julle is geheilig, maar julle is regverdig verklaar in die naam van ons Here Jesus Christus en met die gees van ons God.”—1 Korintiërs 6:9-11.

Jehovah duld natuurlik geen volgehoue en hardnekkige skending van sy volmaakte sedelike standaarde nie. Hy haat beslis die koppige verontagsaming van sy beginsels. Maar hy hou die deur oop vir versoening (Psalm 86:5; Jesaja 55:7). In ooreenstemming hiermee maak Christene nie homoseksuele, of enigiemand anders, die teiken van kwaadwilligheid, bespotting of teistering nie. Ware Christene beskou hulle medemens as moontlike dissipels van Christus en behandel hulle met respek en waardigheid. Die Bybel sê: “Dit is goed en aangenaam in die oë van ons Redder, God, wie se wil dit is dat alle soorte mense gered moet word en tot juiste kennis van die waarheid moet kom.”—1 Timoteus 2:3, 4.

Christene verwelkom die berouvolles

Die Bybel sê herhaaldelik dat God vergewensgesind is. Dit beskryf hom as “’n God van vergewing, genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid” (Nehemia 9:17; Esegiël 33:11; 2 Petrus 3:9). Die Bybel vergelyk hom verder met die vader in Jesus se gelykenis oor die verlore seun wat sy erfporsie verkwis het deur ’n losbandige lewe in ’n ver land te lei. Die vader het met ope arms gewag om sy seun terug te verwelkom toe die seun uiteindelik tot besinning gekom, berou gehad en na sy gesin se huis teruggekeer het.—Lukas 15:11-24.

Ja, ’n kwaaddoener kán verander. Die Skrif erken dit deur mense aan te spoor om die ou persoonlikheid af te lê en hulle met die nuwe te beklee en om ‘vernuwe te word in die krag wat die verstand aandryf’ (Efesiërs 4:22-24). Diegene wat sonde beoefen, met inbegrip van homoseksuele, kan ingrypende veranderinge aanbring in hulle denkpatroon en gedrag, en baie het inderdaad met welslae hierdie metamorfose ondergaan.a Jesus self het vir sulke mense gepreek; en wanneer hulle berou getoon het, het hulle vir hom aanneemlik geword.—Matteus 21:31, 32.

Christene verwelkom berouvolle mense van verskillende agtergronde. Almal wat onsedelike gebruike laat vaar het, wat dit ook al was, kan ten volle by God se vergifnis baat vind, want “die HERE is vir almal goed, en sy barmhartighede is oor al sy werke”.—Psalm 145:9.

Christene is bereid om die nodige geestelike ondersteuning te bied, selfs aan dié wat nog ’n stryd voer teen homoseksuele neigings. Dit is in ooreenstemming met die liefde wat God self openbaar, want die Bybel sê: “God beveel sy eie liefde by ons aan daarin dat Christus vir ons gesterf het terwyl ons nog sondaars was.”—Romeine 5:8.

[Voetnoot]

a Sien die artikel “Hoe kan ek hierdie gevoelens laat weggaan?” in die Ontwaak! van 22 Maart 1995.

[Lokteks op bladsy 14]

Christene verwater nie die Bybel se beskouing van homoseksualiteit nie

[Foto-erkenning op bladsy 13]

Punch

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel