Jehovah het ons weg gelyk gemaak
EK IS in 1924 gebore naby Cham, ’n dorp in die Switserse distrik Zug. My ouers het 13 kinders gehad—10 seuns en 3 dogters. Ek was die oudste. Twee seuns is oorlede toe hulle nog baie klein was. Die res van ons is tydens die Groot Depressie as getroue Katolieke op ’n plaas grootgemaak.
My pa was ’n eerlike, goedgeaarde man, maar hy was geneig tot woedebuie. Hy het my ma selfs af en toe geslaan wanneer sy hom vals beskuldig het weens haar jaloesie. Al het sy geen rede gehad om sy getrouheid te betwyfel nie, kon sy dit nie verdra dat hy met die vrouens in ons buurt gesels nie. Dit het my baie ontstel.
My ma was baie bygelowig. Sy sou selfs onbeduidende voorvalle as ’n teken van “die arme siele in die vaevuur” vertolk. Ek het sulke liggelowigheid gehaat. Maar die priesters het haar bygelowigheid aangemoedig met leesstof wat haar valse godsdiensbeskouing ondersteun het.
Ek het vrae gehad
Van kleins af het vrae oor God en oor die mens se lot in my verstand gemaal. Ek het tot logiese gevolgtrekkings probeer kom, maar daar was soveel teenstrydighede! Ek het Katolieke publikasies oor die heiliges, wonderwerke, en so meer gelees. Maar dit het nie my sin vir wat redelik is, bevredig nie. Ek het gevoel asof ek in die donker rondtas.
Die plaaslike priester het my gewaarsku om nie oor hierdie vrae van my te peins nie. Hy het gesê dat die begeerte om alles te verstaan ’n teken van trots was en dat God die hoogmoediges weerstaan. Die leerstelling wat veral vir my afstootlik was, is dat God enigiemand wat sterf sonder dat hy sy sondes bely het vir ewig in ’n brandende hel sou pynig. Aangesien dit beteken het dat die meeste mense op die aarde vir ewig gepynig sou word, het ek dikwels gewonder: ‘Hoe versoen ’n mens dit met God se liefde?’
Ek het ook die Katolieke gebruik dat ’n mens moet bieg, bevraagteken. Dit het my bang gemaak toe hulle ons by die Katolieke skool vertel het dat onkuise gedagtes ’n ernstige sonde was wat aan ’n priester bely moes word. Ek het altyd gewonder: ‘Het ek onthou om alles te bely? Of het ek iets vergeet en sodoende my belydenis ongeldig gemaak en my sondes sonder vergifnis gelaat?’ Twyfelgedagtes oor God se genade en sy bereidwilligheid om te vergewe, is dus in my hart gesaai.
Ek het omtrent drie of vier jaar lank met neerdrukkende gedagtes geworstel wat my uitgeput het. Ek het dit oorweeg om alle geloof in God te laat vaar. Maar dan het ek gedink: ‘As ek volhard, sal ek ongetwyfeld die regte weg vind.’ Ek het mettertyd vertroue in die bestaan van God ontwikkel, maar onsekerheid oor my godsdiensoortuiging het my gekwel.
As gevolg van my vroeë onderrigting het ek geglo dat Jesus Christus die Rooms-Katolieke Kerk in gedagte gehad het toe hy aan die apostel Petrus gesê het: “Op hierdie rots sal ek my kerk bou” (Matteus 16:18, Katolieke Douay Version). Ek het begin glo dat die goeie in die kerk uiteindelik sou seëvier, en met daardie vooruitsig in gedagte wou ek graag die kerk ondersteun.
Die huwelik en ’n gesin
As die oudste seun in die gesin, het ek saam met my pa op die plaas gewerk totdat my broer, wat net jonger as ek is, my plek kon inneem. Ek is toe na ’n Katolieke landbouskool waar ek ’n meestersgraad verwerf het. Daarna het ek na ’n huweliksmaat begin soek.
Ek het Maria deur een van my susters leer ken. Ek het gehoor dat sy gebid het vir ’n eggenoot saam met wie sy die ewige lewe kon nastreef. Ons het op ons huwelikskennisgewing geskryf: “Verenig in liefde soek ons na geluk, ons oë op God gerig. Ons weg is die lewe en ons doelwit ewige heil.” Ons is op 26 Junie 1958 in die Fahr-klooster naby Zürich getroud.
Ek en Maria het ’n eenderse agtergrond gehad. Haar gesin was baie godsdienstig en sy was die oudste van sewe kinders. Hulle is almal besig gehou met plaaswerk, skoolwerk en kerkbywoning, en daar was maar min tyd om te speel. Die eerste paar jaar van ons huwelik was nie maklik nie. Weens die talle vrae wat ek oor godsdienssake gehad het, het Maria begin twyfel of sy met die regte man getrou het. Sy het geweier om kerkleerstellings of die kerk se ondersteuning van oorloë, kruistogte en inkwisisies te bevraagteken. Ons albei het egter ons vertroue in God gestel en was daarvan oortuig dat hy ons nooit sou verlaat nie solank ons sy wil na die beste van ons vermoë probeer doen.
In 1959 het ons ’n plaas naby Homburg in oostelike Switserland gehuur. Dit was 31 jaar lank ons tuiste. Ons eerste seun, Josef, is op 6 Maart 1960 gebore. Hy is gevolg deur ses broers en ’n suster, Rachel. Maria het bewys dat sy ’n regverdige en onpartydige ma is, getrou aan diepgewortelde beginsels. Sy was nog altyd ’n ware seën vir die gesin.
Ons soek na Bybelwaarheid
Ons godsdiensonkunde het gaandeweg al hoe ondraagliker geword. In die laat sestigerjare het ons lesings by die Katolieke Volkshoërskool begin bywoon, maar wanneer ons terug huis toe gegaan het, was ons meer verward as ooit tevore. Die sprekers het hulle eie teorieë voorgedra wat sonder enige skriftuurlike bewyse was. Gedurende die vroeë deel van 1970 het ek gepeins oor Jesus se woorde: “As julle die Vader enigiets in my naam vra, sal hy dit vir julle gee. . . . Vra, en julle sal ontvang.”—Johannes 16:23, 24, Dy.
Die bogenoemde versekering uit God se Woord het my herhaaldelik laat bid: “Vader, as die Katolieke Kerk die ware godsdiens is, sal u dit asseblief duidelik aan my openbaar. Maar as dit vals is, laat ek dit dan net so duidelik sien, en ek sal dit aan almal verkondig.” Ek het oor en oor gesmeek in ooreenstemming met Jesus se opdrag in die Bergpredikasie om ‘aan te hou vra’.—Matteus 7:7, 8.
My gesprekke met Maria—veral oor veranderinge in Katolieke leerstellings tydens die sestigerjare in verband met die aanbidding van “heiliges”, die eet van vleis op Vrydae, en so meer—het haar uiteindelik laat twyfel. Sy het eenkeer in die lente van 1970, terwyl sy die mis bygewoon het, gebid: “O God, wys ons tog die weg na die ewige lewe. Ons weet nie meer wat die regte weg is nie. Ek sal my aan enigiets onderwerp, maar wys tog net die regte weg vir ons hele gesin.” Ek het nie van haar gebed geweet nie, en sy ook nie van myne nie, totdat ons besef het dat ons gebede verhoor is.
Ons vind Bybelwaarheid
Nadat ons een Sondagoggend, vroeg in 1970, van die kerk af teruggekeer het, het iemand aan ons deur geklop. ’n Man, vergesel van sy tienjarige seun, het hom as een van Jehovah se Getuies voorgestel. Ek het tot ’n Bybelbespreking ingestem. Ek het gedink dat ek hom maklik verkeerd sou kon bewys, aangesien die dinge wat ek van Jehovah se Getuies gehoor het my laat glo het dat hulle nie baie goed ingelig was nie.
Ons bespreking het twee uur geduur sonder bevredigende resultate en dit was die volgende Sondag dieselfde. Ek het uitgesien na ’n derde bespreking, maar die Getuie het nie opgedaag nie. Maria het gesê dat hy moes besef het dat dit nie die moeite werd was nie. Ek was bly toe hy twee weke later teruggekom het. Ek het onmiddellik gesê: “Ek wonder al 35 jaar lank oor die hel. Ek kan eenvoudig nie aanvaar dat God, wat liefde is, mense op so ’n wrede manier sal pynig nie.”
“Jy is reg”, het die Getuie geantwoord. “Die Bybel leer nie dat die hel ’n plek van pyniging is nie.” Hy het vir my gewys dat die Hebreeuse en Griekse woorde vir Sjeool en Hades, wat dikwels in die Katolieke Bybel met “hel” vertaal word, bloot na die gemeenskaplike graf verwys (Genesis 37:35; Job 14:13; Handelinge 2:31). Hy het ook tekste gelees wat bewys het dat die mensesiel sterflik is en dat die straf vir sonde die dood is, nie pyniging nie (Esegiël 18:4; Romeine 6:23). Daarop het ek begin besef dat ek my hele lewe lank deur godsdiensvalshede verblind was. Ek het toe begin wonder of ander leerstellings van die kerk verkeerd was.
Ek wou nie langer mislei word nie en het dus ’n Katolieke Bybelwoordeboek en ’n reeks van vyf boeke oor die geskiedenis van die pouse gekoop. Die boeke het die imprimatur gehad; dit wil sê, die Rooms-Katolieke biskoplike owerheid het die drukwerk goedgekeur. Toe ek die geskiedenis van die pouse lees, het ek besef dat party van hulle onder die wêreld se grootste misdadigers was! En deur die Bybelwoordeboek te gebruik, het ek uitgevind dat die Drie-eenheid, die helse vuur, vaevuur en soveel ander leerstellings van die kerk nie die Bybel as grondslag het nie.
Ek was nou gereed vir ’n Bybelstudie met die Getuies. Maria het aanvanklik net bygesit om beleef te wees, maar sy het weldra dit wat sy geleer het, aangeneem. Ná vier maande het ek uit die Katolieke Kerk bedank en die priester in kennis gestel dat ons kinders nie meer die godsdiensklasse sou bywoon nie. Die volgende Sondag het die priester sy gemeentelede teen Jehovah se Getuies gewaarsku. Ek het aangebied om my oortuiging met behulp van die Bybel te verdedig, maar die priester wou nie tot so ’n bespreking instem nie.
Daarna het ons vinnig gevorder. Ek en my vrou het uiteindelik op 13 Desember 1970 ons toewyding aan Jehovah deur waterdoop gesimboliseer. ’n Jaar later moes ek twee maande in die tronk deurbring weens die geskil oor Christelike neutraliteit (Jesaja 2:4). Dit was nie maklik om my vrou alleen te laat met agt kinders nie, selfs al was dit so ’n kort tydjie. Die kinders was maar tussen 4 maande en 12 jaar oud. Buitendien het ons ’n plaas en vee gehad om voor te sorg. Maar met Jehovah se hulp kon hulle sonder my die mas opkom.
Ons stel Koninkryksbelange eerste
Niemand in ons gesin het ooit van ’n gemeentelike vergadering weggebly tensy hy siek was nie. En ons het ons werk so gereël dat ons altyd die streekbyeenkomste kon bywoon. Ons kinders se speletjies op die solder het weldra bestaan uit opvoerings van wat hulle by die Christelike vergaderinge waargeneem het. Hulle sou byvoorbeeld vir mekaar studentetoesprake gee om te hou en hulle sou aanbiedings oefen. Hulle het gelukkig almal gunstig op ons geestelike onderrigting gereageer. Ek sal altyd die herinnering koester van die keer toe daar met my en my vrou ’n onderhoud gevoer is by ’n kringbyeenkoms, met ons agt kinders in ’n ry—van die oudste tot die jongste—wat aandagtig sit en luister.
Die opvoeding van ons kinders “in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah” het ons hoofdoel geword (Efesiërs 6:4). Ons het besluit om van ons televisiestel ontslae te raak, en ons het dikwels ywerige mede-Christene na ons huis genooi sodat ons kinders by hulle ondervindinge en geesdrif baat kon vind. Ons was versigtig om nie onbedagsaam van ander te praat of krities teenoor ander te wees nie. As iemand ’n fout gemaak het, het ons daaroor gepraat en na versagtende omstandighede gesoek. Ons het ons kinders probeer leer om ’n situasie met redelikheid en regverdigheid te beoordeel. Ons was versigtig om hulle nie met ander jongmense te vergelyk nie. En ons het besef hoe belangrik dit is dat ouers nie hulle kinders moet verwen of hulle teen die gevolge van hulle dade moet beskerm nie.—Spreuke 29:21.
Die grootmaak van ons kinders was egter nie sonder probleme nie. Hulle skoolmaats het hulle byvoorbeeld eenkeer oorreed om lekkers uit ’n winkel te neem sonder om daarvoor te betaal. Toe ons daarvan hoor, het ons ons kinders na die winkel laat teruggaan om daarvoor te betaal en om vergifnis te vra. Dit was ’n verleentheid vir hulle, maar hulle het ’n les in eerlikheid geleer.
Ons het nie ons kinders gedwing om ons in die predikingswerk te vergesel nie, maar het eerder die voorbeeld gestel deur aan sulke aktiwiteite die voorkeur te gee. Die kinders het gesien dat ons vergaderinge en velddiens voor werk stel wat op die plaas gedoen moes word. Ons pogings om ons agt kinders in Jehovah se weg op te voed, is beslis geseën.
Ons oudste seun, Josef, is ’n Christen- ouer man en het ’n paar jaar lank saam met sy vrou by die takkantoor van Jehovah se Getuies in Switserland gedien. Thomas is ’n ouer man en hy en sy vrou is pioniers, soos voltydse bedienaars genoem word. Daniel, wat sy loopbaan as ’n kampioenfietsryer prysgegee het, is ’n ouer man en hy en sy vrou is pioniers in ’n ander gemeente. Benno en sy vrou is aktiewe bedienaars in Sentraal-Switserland. Ons vyfde seun, Christian, dien as ’n ouer man in ons gemeente. Hy is getroud en het twee kinders. Franz is ’n pionier en ’n ouer man in ’n gemeente in Bern en Urs, wat ’n tyd lank by die takkantoor in Switserland gedien het, is getroud en dien as ’n pionier. Ons enigste dogter, Rachel, en haar man was ook ’n paar jaar lank pioniers.
Ek het die voorbeeld van my kinders gevolg en ook ’n pionier geword nadat ek in Junie 1990 afgetree het. As ek nou terugdink aan my en my gesin se lewe, kan ek beslis sê dat Jehovah ons weg gelyk gemaak en “oorvloedige” seëninge op ons uitgestort het.—Maleagi 3:10.
My liewe vrou se geliefkoosde Bybelvers is: “Werp jou sorg op die HERE, en Hý sal jou onderhou; hy sal nooit die regverdige laat wankel nie” (Psalm 55:23). En myne is: “Verlustig jou in die HERE; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart” (Psalm 37:4). Ons het albei die waarheid van hierdie pragtige uitdrukkings ondervind. Ons doelwit is om ons God, Jehovah, vir ewig te loof saam met ons kinders en hulle gesinne.—Soos vertel deur Josef Heggli.