Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 2/8 bl. 4-8
  • Beroerte—die oorsaak daarvan

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Beroerte—die oorsaak daarvan
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die uitwerking daarvan
  • Kommunikasieprobleme
  • Emosionele en persoonlikheidsveranderinge
  • Gesinslede is ook slagoffers
  • Hoe om die gevolge daarvan die hoof te bied
    Ontwaak!—1998
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1998
  • Beroerte!
    Ontwaak!—1998
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1999
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 2/8 bl. 4-8

Beroerte—die oorsaak daarvan

“DIE brein is die delikaatste orgaan in die liggaam”, sê die neuroloog dr. Wladimir Hatsjinski, van die Universiteit van Westelike Ontario in London, Kanada. Die brein is net 2 persent van die liggaam se totale gewig en bevat meer as tienmiljard senuselle, wat voortdurend onderling kommunikeer om elke gedagte, beweging en gewaarwording voort te bring. Die brein is afhanklik van suurstof en glukose vir energie en ontvang ’n bestendige voorraad deur middel van ’n ingewikkelde bloedvatstelsel.

Maar wanneer enige deeltjie van die brein selfs net ’n paar sekondes nie suurstof kry nie, word delikate senufunksies aangetas. As dit langer as ’n paar minute aanhou, veroorsaak dit breinskade, aangesien breinselle begin doodgaan saam met die funksies wat hulle beheer. Hierdie toestand word iskemie genoem, ’n tekort aan suurstof wat hoofsaaklik deur bloedvatverstopping veroorsaak word. Die breinweefsel word verder beskadig omdat ’n suurstoftekort ’n dodelike stroom chemiese reaksies aan die gang sit. Die gevolg is ’n beroerte. ’n Beroerte vind ook plaas wanneer bloedvate skeur en bloeding in die brein voorkom, wat verbindingsweë afsluit. Dit ontwrig chemiese en elektriese strome na die spiere en beskadig breinweefsel.

Die uitwerking daarvan

Elke beroerte is anders, en beroertes kan individue op feitlik oneindige maniere raak. Hoewel niemand aan elke moontlike gevolg van ’n beroerte ly nie, kan die uitwerking wissel van lig en skaars waarneembaar tot hewig en baie duidelik. Die gebied van die brein waarin ’n beroerte plaasvind, bepaal watter liggaamsfunksies aangetas word.

’n Algemene probleem is swakheid of verlamming van die boonste en onderste ledemate. Dit is gewoonlik tot een kant van die liggaam beperk, die kant wat aan die teenoorgestelde kant van die brein is waar die beroerte plaasvind. Skade aan die regterbrein lei derhalwe tot verlamming aan die linkerkant, en skade aan die linkerbrein tot verlamming aan die regterkant. Party mense behou dalk die gebruik van hulle arms en bene, maar vind dat hulle spiere so erg bewe dat dit voel of hulle ledemate elkeen sy eie rigting inslaan. Die slagoffer lyk soos iemand wat onlangs begin skaats het en sy balans probeer behou. Dr. David Levine, van die Mediese Sentrum van die Universiteit van New York, sê: “Hulle het die soort gewaarwording verloor wat vir hulle sê of hulle ledemaat beweeg of nie en waar dit is.”

Meer as 15 persent van dié wat ’n beroerte oorleef, ondervind sametrekkings, wat voorvalle van onbeheerste bewegings en gewoonlik tye van bewusteloosheid tot gevolg het. Dit is ook algemeen om pyn sowel as veranderinge in gewaarwordings te voel. Iemand wat ’n beroerte oorleef het en gedurigdeur gevoelloosheid in sy hande en voete ondervind, sê: “Daar is nagte wanneer iets aan my bene raak en ek wakker word omdat dit voel of ek elektriese skokke kry.”

’n Beroerte kan ook dubbelsiendheid en slukprobleme tot gevolg hê. As die sensoriese sentra van die mond en die keel beskadig is, kan beroerteslagoffers verdere vernederings ondergaan, soos om te kwyl. Enige van die vyf sintuie kan beïnvloed word, wat versteurings in sig, gehoor, reuk, smaak en gevoel kan veroorsaak.

Kommunikasieprobleme

Stel jou voor dat jy in ’n donker straat deur twee groot vreemdelinge agtervolg word. As jy omkyk, sien jy dat hulle op jou afgestorm kom. Jy probeer om hulp skreeu, maar niks wil uitkom nie! Kan jy dink hoe uiters gefrustreerd jy in so ’n situasie sou voel? Dit is wat baie beroerteslagoffers ondervind wanneer hulle skielik hulle spraakvermoë verloor.

Een van die mees verwoestende gevolge van ’n beroerte is as ’n mens nie jou denke, gevoelens, verwagtinge en vrese in woorde kan stel nie—as jy figuurlik van vriende en familie afgesonder is. Iemand wat ’n beroerte oorleef het, het dit só beskryf: “Elke keer as ek my probeer uitdruk het, het niks uitgekom nie. Ek is gedwing om stil te bly en kon nie mondelinge of geskrewe opdragte uitvoer nie. Woorde het geklink . . . asof die mense om my ’n vreemde taal praat. Ek kon taal nie gebruik of verstaan nie.”

Charles het egter alles verstaan wat vir hom gesê is. Maar oor sy reaksie daarop, skryf hy: “Ek het die woorde wat ek wou sê goed agtermekaargekry, maar dit het deurmekaar en verdraai uitgekom. Op daardie tydstip het ek gevoel of ek binne-in myself vasgekeer was.” In sy boek, Stroke: An Owner’s Manual, verduidelik Arthur Josephs: “Meer as eenhonderd verskillende spiere word gedurende spraak beheer en gekoördineer en elkeen van hierdie spiere word gemiddeld deur meer as eenhonderd motoreenhede beheer. . . . ’n Verstommende 140 000 senuspiergebeurtenisse [word] vir elke sekonde van spraak vereis. Verbaas dit jou enigsins dat ’n besering aan ’n deel van die brein wat hierdie spiere beheer tot onsamehangende spraak kan lei?”

Talle raaiselagtige verskynsels op die gebied van spraak word deur ’n beroerte veroorsaak. Iemand wat byvoorbeeld nie kan praat nie, is dalk in staat om te sing. Iemand anders sê woorde dalk onwillekeurig, maar nie wanneer hy dit moet sê nie, of hy praat andersins dalk onophoudelik. Ander herhaal woorde of frases oor en oor of gebruik woorde verkeerd deur ja te sê wanneer hulle nee bedoel en andersom. Party weet watter woorde hulle wil gebruik, maar die brein kan nie die mond, lippe en tong beweeg om dit te sê nie. Of hulle praat dalk sleeptong as gevolg van spiere wat verswak het. Party onderbreek miskien hulle woorde met eksplosiewe klanke.

Beroerte kan ook die deel van die brein beskadig wat emosionele toon beheer. Die gevolg kan wees dat spraak eentonig klink. Of dit kan moeilik wees om die emosionele toon van ander te begryp. Sulke kommunikasieversperrings en dié wat hierbo beskryf is, kan ’n wig tussen gesinslede, soos man en vrou, indryf. Georg verduidelik: “Omdat ’n beroerte gesigsuitdrukkings en gebare, trouens die hele persoonlikheid, aantas, het ons skielik nie meer soos voorheen met mekaar oor die weg gekom nie. Dit het vir my gevoel asof ek ’n heeltemal ander vrou het, iemand wat ek van voor af moes leer ken.”

Emosionele en persoonlikheidsveranderinge

Ongepaste luimveranderinge, uitbarstings van trane of gelag, uiterste woede, ongewone agterdogtigheid en oorweldigende hartseer is net ’n paar van die ontstellende emosionele en persoonlikheidsversteurings waarmee dié wat ’n beroerte oorleef asook hulle gesin moontlik te kampe het.

’n Beroerteslagoffer met die naam Gilbert vertel: “Soms raak ek emosioneel en lag of huil ek oor die kleinste dingetjie. Nou en dan, wanneer ek lag, sal iemand vra: ‘Hoekom lag jy?’ en kan ek werklik nie sê waarom nie.” Dit, tesame met balansprobleme en ’n effense mankheid, het Gilbert beweeg om te sê: “Ek voel of ek in ’n ander liggaam is, of ek iemand anders is, nie dieselfde persoon wat ek voor die beroerte was nie.”

Min mense, indien enige, wie se verstand en liggaam aangetas is en wat daarmee moet saamleef, kan die gevoel van emosionele omwenteling vryspring. Hirojoeki, wie se spraak ná sy beroerte aangetas is en wat gedeeltelik verlam is, sê: “Selfs met verloop van tyd het ek nie beter geword nie. Toe ek besef dat ek nie soos voorheen met my werk sou kon voortgaan nie, het ek wanhopig geraak. Ek het dinge en mense begin blameer en gevoel asof my emosies wou ontplof. Ek het nie soos ’n man opgetree nie.”

Vrees en angs is vir beroerteslagoffers iets algemeens. Ellen sê: “Ek het gevoelens van onsekerheid wanneer ek drukking in my kop voel wat dalk ’n waarskuwingsteken van ’n beroerte kan wees. Ek raak werklik bang as ek myself toelaat om negatief te dink.” Ron verduidelik die angs waarmee hy te kampe het: “Dit is partykeer byna onmoontlik om die regte gevolgtrekkings te maak. Dit frustreer my om twee of drie klein probleme tegelykertyd op te los. Ek vergeet dinge so vinnig dat ek soms nie ’n besluit kan onthou wat ek ’n paar minute tevore geneem het nie. Gevolglik maak ek verskriklike foute, en dit is vir my en vir ander ’n verleentheid. Hoe sal ek oor ’n paar jaar wees? Sal ek ’n intelligente gesprek kan voer of ’n motor kan bestuur? Sal ek vir my vrou ’n las word?”

Gesinslede is ook slagoffers

Ons kan dus sien dat slagoffers van beroerte nie die enigstes is wat met die verwoestende gevolge moet worstel nie. Hulle gesin moet ook. In party gevalle moet hulle die verskriklike skok verwerk om te sien hoe iemand wat voorheen welsprekend en bekwaam was skielik voor hulle oë soos ’n afhanklike babatjie word. Verhoudings kan ontwrig word namate gesinslede moontlik ongewone rolle moet aanneem.

Haroeko vertel van die tragiese gevolge: “My man het sy geheue verloor van byna alles wat belangrik was. Ons moes skielik ontslae raak van die onderneming wat hy bedryf het en ons huis en besittings opgee. Wat die seerste gemaak het, was dat ek nie meer vryelik met my man kon praat of na hom toe kon gaan vir raad nie. Omdat hy nie weet of dit dag of nag is nie, verwyder hy dikwels beskermende luiers wat hy snags nodig het. Hoewel ons geweet het dat die tyd sou aanbreek wanneer hy in so ’n toestand sou wees, is dit nog vir ons moeilik om die werklikheid van sy toestand te aanvaar. Ons situasie is nou heeltemal omgekeer, aangesien ek en my dogter nou my man se oppassers is.”

“Dit kan soms oorweldigend wees om na iemand wat ’n beroerte gehad het om te sien—ongeag hoeveel jy hulle liefhet”, sê Elaine Fantle Shimberg in Strokes: What Families Should Know. “Die druk en verantwoordelikheid hou nie op nie.” In party gevalle kan die hoë vlak van versorging wat sommige gesinslede voorsien die versorger se gesondheid, emosies en geestelikheid aantas. Maria verduidelik dat haar moeder se beroerte ’n geweldige uitwerking op haar lewe gehad het: “Ek besoek haar elke dag en probeer haar geestelik opbou deur vir haar te lees en saam met haar te bid, en dan gee ek haar baie liefde, drukkies en soentjies. Wanneer ek by die huis kom, is ek emosioneel uitgeput—party dae so erg dat ek opgooi.”

Die verandering in gedrag is vir party versorgers die moeilikste om te verwerk. Die neuropsigoloog dr. Ronald Calvanio sê vir Ontwaak!: “Wanneer jy ’n siekte het wat hoër kortikale funksies beïnvloed—dit wil sê hoe iemand dink, sy lewe lei, sy emosionele reaksies—het ons te doen met die diepste wese van die persoon, en dus bring die psigologiese aantastings wat voorkom in sekere opsigte werklik ’n dramatiese verandering in die wêreld van die gesin mee.” Josjiko vertel: “Dit lyk of my man ná sy siekte heeltemal verander het en oor die geringste dingetjie woedend raak. By sulke geleenthede voel ek waarlik ellendig.”

Dikwels sien diegene buite die gesin nie die persoonlikheidsveranderinge raak nie. Derhalwe voel party versorgers afgesonderd en dra hulle hulle las alleen. Midori verduidelik: “Die beroertes het my man met verstandelike en emosionele gebreke gelaat. Hoewel hy baie aanmoediging nodig het, sal hy nie met enigiemand daaroor praat nie en ly hy alleen. Dit word dus aan my oorgelaat om sy emosies te hanteer. As ek elke dag my man se buie sien, maak dit my onrustig en soms selfs bang.”

Hoe het baie wat ’n beroerte oorleef het en hulle gesin die veranderinge wat ’n beroerte in hulle lewe meebring die hoof gebied? Op watter maniere kan elkeen van ons diegene help wat ly weens die aftakelende gevolge van beroerte? Ons volgende artikel verduidelik hoe.

[Venster/Prent op bladsy 7]

Waarskuwingstekens

• Skielike swakheid, gevoelloosheid of verlamming van die gesig, arm of been, veral aan die een kant van die liggaam

• Skielike onduidelike of dowwe gesigsvermoë, veral in een oog; ’n geval van dubbelsiendheid

• Vind dit moeilik om te praat of selfs eenvoudige sinne te verstaan

• Duiseligheid of balans- of koördinasieverlies, veral wanneer dit saam met ’n ander simptoom voorkom

Minder algemene simptome

• Skielike, onverklaarde en hewige hoofpyn—dikwels beskryf as “die ergste hoofpyn nog”

• Skielike naarheid en koors—dit word van ’n virussiekte onderskei deur die vinnige intrede daarvan (minute of ure eerder as etlike dae)

• Bewusteloosheid wat ’n kort rukkie duur of ’n tydperk van verminderde bewustheid (floute, verwarring, stuiptrekkings, koma)

Moenie die simptome ignoreer nie

Dr. David Levine maan dat die pasiënt, wanneer simptome verskyn, “so gou as moontlik na ’n hospitaal se ongevalle-afdeling toe moet gaan. Daar is bewyse dat die skade tot ’n minimum beperk kan word as ’n beroerte binne die eerste paar uur behandel word.”

Soms kan simptome vir ’n baie kort tydjie verskyn en dan verdwyn. Hierdie voorvalle staan as TIA’s bekend, oftewel kort iskemiese aanvalle. Moet dit nie ignoreer nie, aangesien dit ernstige gevaartekens van ’n beroerte kan wees, en ’n volle beroerte kan daarop volg. ’n Dokter kan die oorsake behandel en help om die gevaar van ’n toekomstige beroerte te verminder.

Met wysiging ontleen aan riglyne voorsien deur die Nasionale Beroerte Vereniging, Englewood, Colorado, VSA.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel