Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 3/8 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hitte in stede het uitwerking op plante
  • Vriendskap tussen diere
  • Ontbossing in Latyns-Amerika
  • Oefeninge vir CMS-lyers
  • Pandas en bamboesplante
  • Waarskuwing teen muskietweermiddel
  • Standaarde minder streng
  • Hoe om die uitdaging wat CMS inhou die hoof te bied
    Ontwaak!—1992
  • Is CMS ’n werklike siekte?
    Ontwaak!—1992
  • ’n Geheimsinnige siekte word erken
    Ontwaak!—1992
  • Op soek na ’n oorsaak
    Ontwaak!—1992
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 3/8 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Hitte in stede het uitwerking op plante

Volgens satellietbeelde van die oostelike deel van Noord-Amerika wil dit voorkom of die hitte wat deur stede uitgestraal word, ’n uitwerking het op hoe plante groei, sê ’n berig wat in Science News gepubliseer is. Die berig sê dat plante in stede vroeër in die lente bot en hulle blare later in die herfs verloor as plante in die omliggende plattelandse gebiede. Volgens Science News was temperature in stede oor ’n tydperk van vyf maande “gemiddeld 2,28°C warmer as by plekke ongeveer 10 km buite die middestad”. Tussen Noord-Florida en Suid-Kanada is daar ten minste 70 stede wat elk meer as 10 vierkante kilometer beslaan. “Hierdie data gee te kenne dat daardie stede die plaaslike klimaat grootliks beïnvloed”, sê Science News.

Vriendskap tussen diere

Boere en veewagters vermoed dit al lank, maar nou het ’n wetenskaplike studie deur die bioloog Anja Wasilewski getoon dat gehoefde diere moontlik persoonlike vriendskappe met ander lede van hulle trop of kudde aanknoop. Volgens Wasilewski, wat perde, donkies, beeste en skape bestudeer het, toon diere hulle vriendskap deur dikwels naby mekaar te wees, aan mekaar te raak terwyl hulle rus of eet, kos te deel en mekaar se pels of vel te versorg. Skape sal byvoorbeeld hulle kop vryf teen dié van ’n vriend wat met ’n ander dier baklei het. Dit lyk asof hierdie gedrag die skaap kalmeer en vertroos, berig die Duitse koerant Die Zeit. Donkies het gewoonlik net een vriend, maar hulle vriendskappe hou langer. Navorsers wil die diere egter nie vermenslik nie, en daarom is hulle versigtig wanneer hulle spekuleer oor watter funksie en uitwerking sulke sosiale bande het.

Ontbossing in Latyns-Amerika

Volgens ’n verslag wat deur die Verenigde Nasies se Omgewingsprogram gepubliseer is, is 50 miljoen hektaar woud in Latyns-Amerika, ’n gebied so groot soos die hele Sentraal-Amerika, binne net 13 jaar vernietig. In Brasilië is 23 miljoen hektaar beskadig, terwyl Mexiko 6,3 miljoen hektaar woud verloor het en grondverarming op 400 000 hektaar bewerkbare land plaasgevind het. Haïti, El Salvador en die eiland St. Lucia het tussen 46 en 49 persent van hulle woude in dieselfde tydperk verloor. Hierdie statistieke is “skrikwekkend”, sê ¿Cómo Ves?, ’n wetenskapstydskrif van die Nasionale Outonome Universiteit van Mexiko, en “dit is selfs skrikwekkender wanneer ons dink aan . . . die honderdduisende plante en diere wat van ons planeet, wat net al hoe droër word, verdwyn het”.

Oefeninge vir CMS-lyers

Ondanks uitgebreide navorsing kon die mediese wetenskap nog nie die oorsake van chroniese moegheidsindroom (CMS) vasstel of moontlike geneesmiddels daarvoor vind nie. “Daar is tot dusver nog verbasend min voordeel getrek uit enige van die wye verskeidenheid antivirale, immunologiese, hormonale, antidepressante- en ander behandelings wat ondersoek is”, sê ’n verslag wat in The Medical Journal of Australia (MJA) gepubliseer is. Programme wat fisiese oefening, soos stap, fietsry of swem insluit, het egter beter resultate opgelewer as baie van die ander behandelings. Party CMS-lyers vermy oefening omdat hulle vind dat hulle simptome vererger wanneer hulle te veel oefening doen. Maar balans is nodig. Party mense wat versigtig is wanneer hulle oefen en nie meer doen as wat hulle simptome hulle toelaat nie, vaar ‘baie beter’ in depressietoetse, en hulle gevoel van welsyn, werkvermoë en bloeddruk ‘verbeter aansienlik’, berig die MJA. “Gegradeerde fisiese oefening moet ’n hoeksteen word van die behandeling van pasiënte met CMS”, sê die verslag ten slotte.

Pandas en bamboesplante

“Die reusepanda, wat die simbool van China en van wildbewaring is, is nie so bedreig soos mense vroeër gedink het nie”, sê The Daily Telegraph van Londen. ’n Vier jaar lange studie deur die Wêreld-natuurfonds en die Chinese regering het aan die lig gebring dat daar meer as 1 590 pandas in die natuur is, en nie 1 000 tot 1 100 soos vroeër geskat is nie. Die akkurater telling is gedoen met behulp van verbeterde tegnologie, insluitende die satellietposisioneringstelsel, wat gebruik is om die gebied te karteer wat deursoek moes word. Hoewel die resultate goeie nuus vir bewaringsgesindes is, waarsku die Sentrum vir die Kontrolering van Wêreldwye Bewaring, in Cambridge, Engeland, dat bamboes, die reusepanda se vernaamste voedselbron, ernstig bedreig word deur ontbossing. Die rede waarom ontbossing so ’n ernstige bedreiging vir bamboes is, is dat “plante van elke spesie een keer elke 20 tot 100 jaar gelyktydig blom en dan doodgaan”, berig The Guardian van Londen.

Waarskuwing teen muskietweermiddel

In twee afsonderlike studies is daar bevind dat muskietspirale—een van die algemeenste insekweermiddels in Asië—skadelik kan wees, veral vir kinders, berig die tydskrif Down to Earth van Indië. Eerstens, wetenskaplikes aan die Universiteit van Kalifornië, VSA, sê dat die smeulende spirale kragtige stowwe vrystel wat longkanker kan veroorsaak. Baie gesinne in ontwikkelende lande gebruik muskietspirale in hulle huisies. “Daarbenewens word die vensters toe gehou wanneer mense slaap”, sê die samestellers van die studie. Die tweede studie, deur wetenskaplikes van Maleisië en die Verenigde State, het aan die lig gebring dat een spiraal wat agt uur lank brand “net soveel besoedelingstowwe vrystel as 75 tot 137 sigarette”. As ’n alternatief stel kenners voor dat mense plantprodukte gebruik, soos dié wat van die Indiese seringboom gemaak word. “Dit is nie net effektief en goed vir die gesondheid nie, maar ook goedkoper”, sê die verslag.

Standaarde minder streng

“Die gemiddelde rolprent van vandag bevat aansienlik meer geweld, seks en vloektaal as rolprente ’n dekade gelede met dieselfde ouderdomsbeperking.” Dit is die gevolgtrekking wat navorsers by Harvard se Fakulteit van Openbare Gesondheid, in die Verenigde State, gemaak het nadat hulle die ouderdomsbeperkings van rolprente ondersoek het, ’n stelsel wat algemeen in sommige lande is. Die studie het na die verband gekyk tussen die ouderdomsbeperking en die inhoud van rolprente wat tussen 1992 en 2003 uitgereik is. Die resultate toon dat beperkings wat op ouderdom gebaseer is, al hoe meer verslap het. Die navorsers het tot die slotsom gekom dat “ouers hulle verantwoordelikheid moet besef om gepaste rolprente saam met en vir hulle kinders te kies, en wanneer hulle die boodskappe wat rolprente oordra, met hulle kinders bespreek, moet hulle enige potensieel nadelige uitwerking teëwerk en enige potensieel nuttige uitwerking versterk”.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel