Ons beskou die wêreld
Vroeë opsporing van borskanker Borskanker is die algemeenste kwaadaardigheid onder Brasiliaanse vroue en tas volgens skatting 1 uit elke 12 aan, berig die Brasiliaanse tydskrif Medicina Conselho Federal. Die tydskrif moedig ’n gereelde selfondersoek van die borste vir alle vroue ouer as 25 aan. Medicina beveel ook aan dat vroue hulle eerste mammogram tussen die ouderdomme van 35 en 40 laat doen, dan ’n mammogram elke twee jaar tussen 40 en 50 en daarna ’n mammogram elke jaar. Hoewel vroue met ’n dieet wat ryk aan versadigde vette is en dié met ’n familiegeskiedenis van die siekte in groter gevaar verkeer, val 70 persent van borskankerpasiënte nie in enige hoërisiko-kategorie nie. Hierdie feit, sê Medicina, “toon duidelik hoe belangrik ’n beleid van vroeë opsporing is”.—Sien die Ontwaak! van 8 April 1994.
Huismiddelverslaafdes
Verslawing aan medisyne wat sonder voorskrif gekoop kan word, neem toe in Noord-Ierland, berig The Irish Times. In Noord-Ierland, soos in baie ander lande, kan produkte soos pynstillers en hoesmedisyne wat kodeïen of ander middels bevat wat verslawend kan wees sonder ’n voorskrif verkry word. Party wat onopsetlik daaraan verslaaf raak, hou vol met die gewoonte al is dit duur, aangesien onttrekkingsimptome pynlik kan wees en dit naarheid en terneergedruktheid kan insluit. Een verslaafde het sy erfenis uitgegee, sy huis verkoop en skuld van £18000 (R144 000) aangegaan om sy verslawing aan 70 bottels per week te onderhou. Frank McGoldrick, van Belfast se Groep vir Navorsing oor Chemiese Afhanklikheid, sê dat die meeste mense wat medisyne misbruik wat sonder voorskrif gekoop kan word onwillig is om hulle afhanklikheid te erken en die gedagte dat hulle hulleself skade berokken ongeërg afmaak. “Hulle oortree nie die wet nie”, sê McGoldrick. “Die meeste besef nie eers dat hulle die middels misbruik nie.”
Die mag van skoolmeisies
Hoërskoolmeisies is die tendensstellers onder verbruikers in Japan, sê ’n verslag wat in The Daily Yomiuri verskyn het. Giere versprei vinnig deur middel van hulle mondelinge netwerk, wat meer as 1000 kennisse kan insluit. Hulle invloed brei ook uit tot ander ouderdomsgroepe deur ouers en broers en susters. Die “meisies is geseën met ideale verbruikerseienskappe: geld, nuuskierigheid oor nuwighede en die tyd om vrye teuels daaraan te gee”. Ongeveer 68 persent van Japannese tieners ontvang ’n toelaag van gemiddeld R1030 per maand, en baie ontvang ook geld van grootouers wat hulle bederf en van deeltydse werk. Sosioloë is besorg oor die meisies se genzai sjiko, of lewe-vir-die-oomblik-gesindheid, en oor hulle algemene gebrek aan sinvoller persoonlike doelwitte. ’n Onlangse studie het tot die slotsom gekom dat vandag se hoërskoolmeisies “verveeld is omdat hulle alles kry wat hulle wil hê sonder dat hulle hard daarvoor hoef te werk”.
Wêreld se oudste mens sterf
Jeanne Louise Calment, die wêreld se oudste mens volgens die Guinness Book of World Records, het op 4 Augustus 1997 op die ouderdom van 122 gesterf, berig die Franse koerant Le Figaro. Jeanne is op 21 Februarie 1875 in Arles, suidoostelike Frankryk, gebore—vóór die gloeilamp, die grammofoon en die motor uitgevind is. Sy is in 1896 getroud en het een dogter gehad wat sy met 63 jaar oorleef het en een kleinseun, wat in 1963 dood is. Sy het vertel dat sy die skilder Vincent van Gogh in 1888 ontmoet het toe sy ’n tiener was, en sy was bevriend met die digter Frédéric Mistral, wat in 1904 die Nobelprys gewen het. Jeanne het baie grappe oor die geheime van langlewendheid gemaak en het faktore genoem soos om te lag, bedrywig te wees en “’n volstruismaag te hê”.
Tweetalige kinders
Terwyl ’n baba sy moedertaal leer, word ’n groot mate van sy vermoë om te praat in ’n deel van die brein vasgelê wat as die Broca-gebied bekend staan. Onlangs het navorsers by die Sloan-Kettering-Gedenk-Kankersentrum in New York funksionele magnetiese resonansiebeelding gebruik om vas te stel watter deel van die brein bedrywig is wanneer tweetalige mense die een of ander taal gebruik. Hulle het ontdek dat albei tale in dieselfde deel van die Broca-gebied geberg word wanneer iemand as jong kind twee tale tegelyk leer. Maar wanneer ’n tweede taal gedurende adolessensie of later geleer word, word dit blykbaar langs die eerste geplaas en nie daarmee vermeng nie. Die Londense koerant The Times sê: “Dit is asof die aanleer van die eerste taal die verbindings in die Broca-gebied vasgestel het, en die tweede taal moet dus elders geberg word.” Die navorsers meen dat dit dalk help verduidelik waarom dit moeiliker is om later in die lewe ’n tweede taal aan te leer.
Chinese se kommer oor die grootmaak van kinders
’n Omvattende studie van ouer-kind-verhoudings is onlangs met die ondersteuning van die Chinese Akademie vir Sosiale Wetenskappe gedoen, berig China Today. Die navorsing het aan die lig gebring dat baie ouers bekommerd is oor die grootmaak van vandag se kinders. Volgens China Today “weet party glad nie wat hulle hulle kinders moet leer nie—tradisionele Chinese sedes soos eerlikheid, beskeidenheid, verdraagsaamheid en besorgdheid oor ander of die moderne gesindheid van mededinging?” Nagenoeg 60 persent van die ouers was bekommerd oor die negatiewe uitwerking wat TV op kinders het. Nuusnavorser Boe Wei het ouers aangeraai om die programme waarna ’n kind kyk volgens sy of haar ouderdom en persoonlikheid te reguleer, om saam met die kind na die programme te kyk en dit met hom of haar te bespreek en om nie toe te laat dat die TV te veel van die kind se tyd in beslag neem nie.
Die haai se grootste vyand?
Mense is oor die algemeen baie bang vir haaie. Maar dit wil voorkom of haaie groter rede het om mense te vrees. “Minder as honderd” mense sterf elke jaar as gevolg van haaiaanvalle, terwyl ongeveer 100 000 000 haaie elke jaar deur vissers doodgemaak word, berig die Franse koerant Le Monde. Hierdie feit kwel baie seebioloë, wat bevrees is dat die natuurlike balans van die oseane versteur kan word as die verwoesting aanhou. Haaie speel ’n noodsaaklike rol daarin om seebevolkings onder beheer te hou. Aangesien haaie nie gou geslagsryp word nie en ná ’n lang draagtyd net ’n paar kleintjies kry, dreig oorbevissing om sekere haaisoorte te laat uitsterf. ’n Gebruik wat seekundiges veral betreur, is dat mense die vinne vir voedsel afsny en die haai dan in die see teruggooi om te sterf.
Aankeerdery uit die lug
Stadige, ultraligte vliegtuie word nou deur party Australiese veeboere vir aankeerdery op hulle uitgestrekte bees- en skaapplase gebruik, berig The Sunday Mail, ’n koerant van Brisbane, Australië. ’n Veeboer van Queensland sê dat sy ultraligte vliegtuig hom twee weke se loon vir ’n hele paar mans gespaar het elke keer wanneer hy sy skape aangekeer het. “Die motorfiets het die perd se plek ingeneem, en nou neem die ultraligte vliegtuig die plek van die motorfiets in”, het hy gesê. Die ligte vliegtuie is met kragtige bandspelers toegerus wat opnames speel van honde wat blaf. Wanneer hulle dit hoor, “spring die verskrikte beeste en skape weg op ’n stywe galop en hardloop hulle reguit na die naaste krale”, sê die artikel.
Besige Kanadese
Kanadese werk langer ure, en talle ly weens die gevolge daarvan, sê die koerant The Globe and Mail. Ekonomiese vrese oefen druk uit op mans en vrouens, met inbegrip van die ouers van jong kinders, om harder en langer te werk. Bykans 2000 000 Kanadese werk gemiddeld meer as nege uur oortyd per week, en 700 000 het ten minste een ekstra werk. Party navorsers sê dat spanningsvlakke die hoogte ingeskiet het, veral onder kantoorwerkers. Deskundiges is bekommerd oor die gevolge van die tendens vir die kinders, wat hulle ouers baie min sien. Dr. Kerry Daly van die gesinstudieafdeling by die Universiteit van Guelph, Ontario, sê: “Dit voel vir mense of hulle beheer oor hulle lewe verloor. Hulle is nie seker hoe om dit reg te stel nie.”
Die spanning van werkloosheid
Volgens studies wat in die Duitse koerant Süddeutsche Zeitung gemeld is, kan die emosionele en maatskaplike spanning van werkloosheid ’n mens se gesondheid aantas. Die liggaam se immuunstelsel word glo deur sulke spanning verswak. Werklose mense staan ook ’n groter kans om aan hoë bloeddruk te ly en hartaanvalle te kry as dié wat werk het. “Die spanning waarmee diegene te kampe het wat lank werkloos is, is erger en het meer nadelige gevolge as dié van mense wat werk het”, sê professor Thomas Kieselbach van die Universiteit van Hannover, Duitsland. “Feitlik alle werkloses ly aan die een of ander vorm van depressie.” Die aantal werkloses in die Europese Unie is glo nagenoeg gelyk aan die gesamentlike bevolkings van Denemarke, Finland en Swede.