Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g03 7/22 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Slagting van haaie
  • Tydbestuur
  • Suikersiekte neem toe in Indië
  • Getraumatiseerde oorlogskorrespondente
  • Veroudering in Europa
  • ’n Dringende behoefte aan seksonderrig
  • E-pos en sosiale vaardighede
  • Twee senuweestelsels?
  • Die haai—’n vis in krisis
    Ontwaak!—2007
  • Die vis vir wie niemand lief is nie
    Ontwaak!—1991
  • Die witdoodshaai—in gevaar
    Ontwaak!—2000
  • Die uitdagings van behandeling
    Ontwaak!—2003
Sien nog
Ontwaak!—2003
g03 7/22 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Slagting van haaie

Wêreldwyd fynkam kommersiële vissermanne die oseane vir haaie; hulle vang die haaie, sny die vinne af en gooi die karkasse oorboord. “Hierdie grusame amputasies word aangedryf deur die vraag na niks meer as duur [haaivin]sop nie”, berig Science News. In Augustus 2002 het die Amerikaanse Kuswag naby die kus van Mexiko op ’n Hawaise boot beslag gelê nadat ’n enorme vrag van 32 ton haaivinne daarop gevind is. Daar was geen ander dele van die haaie aan boord nie. “Vir hierdie afskuwelike vrag is ten minste 30 000 haaie geslag en sowat 1,28 miljoen pond [580 000 kilogram] vis weggegooi”, sê die tydskrif. “Wêreldwyd vang vissersvlote elke jaar ongeveer 100 miljoen haaie.” Met haaivinne wat meer as R3 000 per kilogram op die ope mark haal, is daar ’n groeiende vraag waarin daar nie onbepaald voorsien kan word nie.

Tydbestuur

’n Onlangse studie maak die gevolgtrekking dat “mense wat kla dat hulle nie genoeg tyd het nie, hulleself bedrieg”, berig The Australian. Die koerant verwys na ’n studie deur die Universiteit van Nieu-Suid-Wallis en die Australiese Nasionale Universiteit en sê: “Baie van ons bestee meer tyd by die werk en aan huishoudelike takies as wat streng gesproke nodig is.” Navorsers het bereken hoeveel ure ’n werkende egpaar sonder kinders moet werk om die blote noodsaaklikhede te voorsien. Hulle het toe die tyd wat hulle bereken het, vergelyk met die hoeveelheid tyd wat hulle werklik aan daardie bedrywighede bestee. Die studie het gevind dat kinderlose, werkende egpare “saam 79 uur per week by die werk deurbring en 37 uur aan huishoudelike takies en 138 uur aan persoonlike versorging bestee, maar hulle het net nodig gehad om 20 uur per week [10 uur elk] te werk en 18 uur aan huishoudelike takies en 116 uur aan persoonlike versorging [insluitende eet en slaap] te bestee”, sê die koerant. As ’n egpaar bereid is om hulle lewe te vereenvoudig, kan hulle tot 100 bykomende ure vrye tyd per week hê. Volgens The Australian toon die studie dat werkende egpare sonder kinders “beweer dat hulle die minste tyd het, maar in werklikheid het hulle meer tyd as enige ander groep, terwyl ouers baie minder tyd het”.

Suikersiekte neem toe in Indië

Die Wêreldgesondheidsorganisasie skat dat meer as 170 miljoen mense regoor die wêreld suikersiekte het. Indië is die land met die meeste lyers—32 miljoen—en teen 2005 sal hierdie syfer volgens verwagting meer as 57 miljoen wees, berig die koerant Deccan Herald. By ’n internasionale kongres oor suikersiekte in Asië, wat in Sri Lanka gehou is, het kenners veranderinge in dieet en lewenswyse as die hoofredes vir hierdie skerp toename genoem, tesame met spanning, genetiese faktore, lae geboortegewig en die oorvoeding van pasgebore babas. In Indië is die koste van suikersiektebehandeling van die laagste in die wêreld. Nietemin bly suikersiekteverwante gesondheidskomplikasies en sterftes hoog, deels omdat mense nie weet dat hulle die siekte het nie en omdat dit laat gediagnoseer word. ’n Studie wat in groot Indiese stede gedoen is, het getoon dat 12 persent van die volwassenes aan suikersiekte ly en 14 persent belemmerde glukosetoleransie het, wat dikwels suikersiekte voorafgaan.

Getraumatiseerde oorlogskorrespondente

“’n Aansienlike aantal [oorlogskorrespondente] is ernstig getraumatiseer deur wat hulle gesien en ondervind het”, sê The New York Times. Die koerant het kommentaar gelewer oor “’n studie van [140] buitelandse korrespondente wat vir ses groot nuusorganisasies werk en gereeld oorloë en ander gewapende konflikte dek”. Die artikel verduidelik dat “aansienlik meer oorlogsverslaggewers aan ernstige depressie en posttraumatiese stresversteuring gely het as [’n kontrolegroep van 107] verslaggewers wat nie oorloë gedek het nie”. Die simptome “het terugflitse, terugkerende nagmerries, prikkelbaarheid, konsentrasieprobleme en oormatige waaksaamheid ingesluit”. Daarbenewens “het die korrespondente verskeie sosiale probleme genoem, . . . waaronder ’n onvermoë om by die burgerlike samelewing aan te pas, ’n onwilligheid om met vriende om te gaan, versteurde verhoudings en die gebruik van alkohol om hulle te help slaap”. Die mans en vroue in die studie het gemiddeld “15 jaar in konflikgebiede deurgebring, insluitende Bosnië, Rwanda, Tsjetsjnja, Somalië en Afganistan”.

Veroudering in Europa

“Ou Europa doen sy naam al hoe meer gestand”, berig die Spaanse koerant El País. In feitlik al die lande van die Europese Unie is ten minste 20 persent van die bevolking ouer as 60. Demograwe voorspel dat 4 uit elke 10 burgers in party lande, soos Oostenryk, Italië en Spanje, teen 2050 ouer as 60 sal wees. Volgens die Tweede Wêreldberaad oor Veroudering, wat in Madrid, Spanje, gehou is, sal hierdie geleidelike veroudering van die bevolking maatskaplike en ekonomiese aanpassings vereis. Dit sal moeiliker word om pensioene en gesondheidsversekering te finansier. Werkgewers sal byvoorbeeld ouer werkers in diens moet neem, aanpasbare of gedeelde werkroosters moet organiseer en verspreide aftreeplanne moet aanbied. En “omdat daar minder jongmense sal wees, sal maatskappye wat wil groei, hulle dienste en produkte aan ouer mense moet probeer verkoop”, sê die Spaanse sakeman Josep Maria Riera.

’n Dringende behoefte aan seksonderrig

Volgens amptelike syfers in Duitsland het aborsies tussen 1996 en 2001 met sowat 60 persent toegeneem onder 15- tot 17-jariges en met 90 persent onder meisies wat selfs jonger is, berig Der Spiegel. Norbert Kluge, van die Universiteit van Koblenz-Landau, sê dat kinders al hoe vroeër geslagsryp raak, maar dat hulle ‘nie behoorlik in seksuele sake onderrig word nie—en veral nie vroeg genoeg nie’. Voordat kinders tien jaar oud is, moet hulle goed ingelig wees oor die feite van die lewe, maar baie ouers skram weg van hulle verantwoordelikheid, sê Kluge. Volgens die Berliner Morgenpost raai die hoof van die Federale Raad vir Ouers in Bonn ouers aan om meer klem te lê op emosionele temas, soos “liefde en verhoudings”, as op die biologiese prosesse wanneer hulle vir hulle kinders seksonderrig gee.

E-pos en sosiale vaardighede

Volgens twee navorsers is dit net so waarskynlik dat werknemers via e-pos met ’n medewerker op dieselfde vloer sal praat as met kollegas in ander tydsones, sê die Kanadese koerant Globe and Mail. David Crystal, ’n professor van taalkunde aan die Universiteit van Wallis, sê oor die moontlike uitwerking van e-pos op sosiale vaardighede: “Gelyktydige terugvoering is ’n grondliggende kenmerk van kommunikasie”, en e-pos maak nie hiervoor voorsiening nie omdat tyd verloop vandat ’n boodskap ontvang word totdat dit beantwoord word. Daarbenewens kan ’n e-posskrywer die gesprek oorheers sonder om onderbreek te word. “Die vermoë om beurte te neem in ’n gesprek”, sê die Globe, “is ’n noodsaaklike sosiale vaardigheid.”

Twee senuweestelsels?

Mense het ’n spesiale senuweestelsel om liefde en teerheid te voel, berig die Duitse wetenskaptydskrif Bild der Wissenschaft. Sweedse wetenskaplikes het ontdek dat ’n vrou wat haar primêre tasreseptore verloor het, nog steeds ’n aangename sensasie ondervind wanneer sy met ’n sagte verfkwas gestreel word. Hulle het gevind dat hierdie aangename gevoel veroorsaak is deur ’n tweede senuweenetwerk in die vel, wat uit stadig geleidende vesels, sogenoemde tas-C-vesels, bestaan. Die netwerk reageer net op ’n sagte aanraking en aktiveer die dele van die brein waar emosies verwerk word. Die International Herald Tribune lewer kommentaar oor die rede waarom mense dalk twee verskillende senuweestelsels het en sê: “Die stadige vesels funksioneer van die vroegste lewensure af, miskien selfs in die baarmoeder, terwyl die vinnige vesels ná geboorte stadig ontwikkel. Pasgebore babas kan moontlik die liefde in ’n ouer se aanraking voel voordat hulle die aanraking self kan voel.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel