Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 3/8 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die voordele van Bybellees
  • Wat babas hoor
  • Buitengewone myte
  • Twee is beter as een
  • Stemsorg
  • Tibet se weer word gemonitor
  • Romeinse regeringskompleks opgegrawe in Israel
  • Miere as geneesmiddel
  • “Kantoorsiekte”
  • Jong Brasiliaanse lesers
  • Pandjabi’s en nierstene
  • Kom ons eet kassawe!
    Ontwaak!—1993
  • Kassaweblare—daaglikse voedsel vir miljoene
    Ontwaak!—1996
  • ’n Spinnekop wat hom voordoen as ’n mier
    Ontwaak!—2002
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1997
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 3/8 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Die voordele van Bybellees

Volgens ’n studie wat deur Associated Press gedoen is, is Amerikaners wat die Bybel ten minste een keer per week lees gelukkiger en meer tevrede en bewus van groter sin in die lewe as diegene wat die Bybel minder gereeld lees. In ’n steekproef onder Amerikaanse volwassenes, wat deur Market Facts, Inc., van Illinois gedoen is, het bykans 90 persent van die gereelde Bybellesers gesê dat hulle die hele tyd of die meeste van die tyd gemoedsrus geniet in vergelyking met 58 persent van diegene wat die Bybel minder as een keer per maand lees. Daarbenewens het 15 persent van die gereelde Bybellesers gesê dat aanvaarding deur ander hulle kwel in vergelyking met 28 persent van die ongereelde lesers. Net 12 persent van die gereelde lesers het gesê dat hulle hulle soms of baie dikwels oor die dood kwel in vergelyking met 22 persent van die ongereelde lesers.

Wat babas hoor

Navorsing wat onlangs gedoen is, bevestig dat die aantal woorde wat ’n kindjie hoor en die toon daarvan ’n uitwerking het op sy vermoë om logies te dink, probleme op te los en abstrak te redeneer, berig The New York Times. ’n Studie aan die Universiteit van Iowa het bevind dat die kinders van ouers wat beroepsmense is gemiddeld 2100 woorde elke uur gehoor het, terwyl dié van ouers uit die arbeidersklas 1200 woorde gehoor het en dié van ouers wat welsynshulp ontvang slegs 600. Daar is ook gelet op die ouers se stemtoon—aanmoedigend, kwaai, hartlik of bevelend. Die studie, wat twee en ’n half jaar geduur het, het getoon dat wat hulle gehoor het “’n diepgaande uitwerking gehad het op elke kind se vermoë om teen die ouderdom van 4 konseptueel te dink”. Een van die navorsers, dr. Betty Hart, het gesê dat die eerste drie jaar uniek is in die lewe van mense omdat babas so geheel en al afhanklik is van volwassenes wat al hulle versorging en taal betref.

Buitengewone myte

Kassawe is ’n stapelvoedsel vir ongeveer 200 miljoen mense in Afrika. En nou, danksy ’n klein roofmyt wat Typhlodromalus aripo genoem word, is daar baie meer kassawe beskikbaar. Volgens die tydskrif New Scientist is die T. aripo uit Brasilië ingevoer om een van die wêreld se mees verwoestende kassaweplae te bestry, naamlik die groen spinnekopmyt, wat verantwoordelik was vir die vernietiging van tot een derde van party kassaweoeste in Afrika. Navorsers het ontdek dat noordoostelike Brasilië, wat baie kassawe het, min probleme het wat deur die groen spinnekopmyt veroorsaak word. Daar is gevind dat die roofmyte, T. aripo, op die punt van die plant sit en vir die groen spinnekopmyte wag om te verskyn en hulle dan eet. Nie alleen maak T. aripo tot 90 persent van die groen spinnekopmyte dood nie, sê die tydskrif, maar hulle help boere ook om die gebruik van plaagdoders te vermy, wat baie nie kan bekostig nie.

Twee is beter as een

Mense wat ’n gesonder lewenswyse probeer aankweek, slaag beter daarin wanneer hulle ’n maat het wat dieselfde doen, aldus die tydskrif New Scientist van Brittanje. Dit is die gevolgtrekking wat gemaak is uit ’n opname onder 1204 egpare, wat in die Archives of Family Medicine berig is. Stephen Pyke, van die Londense Skool vir Higiëne en Tropiese Geneeskunde, sê: “Die kanse is groter dat mense sal ophou rook, hulle cholesterolvlak sal verlaag en gewig sal verloor as albei maats die raad volg.”

Stemsorg

Enigiemand wat sy stem baie gebruik, soos ’n onderwyser, loop gevaar om sy stem te ooreis of te verloor, berig die koerant The Toronto Star. As iemand voortdurend moet skree om hom in ’n lawaaierige omgewing hoorbaar te maak, kan dit eweneens die stembande beskadig. ’n Gefluister en gedurige keelskoonmakery benadeel ook die stem, sê stem- en taalpatoloog Bonnie Mann. Sy raai aan dat ’n mens nie wag tot die probleem ernstig word voordat jy iets daaromtrent doen nie en moedig ’n goeie liggaamshouding aan om spanning in die nek en skouers te verlig. Sy voeg by: “Dit is veral belangrik om jou keel nat te hou.” As jy op jou stem staatmaak, beveel Bonnie Mann aan dat jy kort-kort gedurende die dag ’n bietjie water drink.

Tibet se weer word gemonitor

Tien lande in die Asië-Pasifiese streek het eksperimente gereël om moesons te bestudeer, berig die tydskrif New Scientist. Die landbou in groot dele van Asië is afhanklik van die reëns wat deur die moesons gebring word, maar dit kan van jaar tot jaar aansienlik verskil. Weerkundiges meen dat die Tibettaanse plato ’n vername oorsaak van die moesonreëns is, maar daar was nie gegewens uit Tibet beskikbaar vir ontleding nie. Ná onderhandelinge met China word onbemande toerusting nou in Tibet geïnstalleer om die temperatuur, voggehalte, wind en ander weerfaktore van die Himalaja te monitor. Navorsers is vol hoop dat die gegewens wat verkry sal word tot ’n beter begrip van die Asiatiese moesons sal lei.

Romeinse regeringskompleks opgegrawe in Israel

Argeoloë in Israel het ’n Romeinse regeringskompleks in Sesarea ontdek wat moontlik die pretoriaanse paleis kan wees waar die apostel Paulus gevange gehou is, sê ’n Reuters-verslag. Yosef Porath, hoof van die werksaamhede van Israel se Departement van Oudhede in Sesarea, het gesê dat argeoloë by die terrein ’n mosaïek met ’n Latynse inskripsie opgegrawe het wat aandui dat een kantoor daar dalk as ’n buro vir binnelandse veiligheid gedien het. “Hierdie inskripsie help die probleem oplos van waar die verhoor van St. Paulus voor die Romeinse goewerneur wat in die Nuwe Testament beskryf word, plaasgevind het”, het Porath gesê. Hy het gesê dat die terrein die enigste Romeinse regeringsetel is wat nog in Israel opgegrawe is en een van die min in die antieke Romeinse wêreld.

Miere as geneesmiddel

Tydens ’n veldslag in 1947 moes die Chinese offisiergeneeskundige Woe Zjitsjeng infeksie onder die gewondes beheer, maar sy voorraad geneesmiddels was uitgeput. Uit wanhoop het hy hom tot ’n plaaslike dokter gewend, wat tradisionele Chinese geneesmiddels voorgeskryf het—gekookte water met miere om die wonde skoon te maak en ’n geneesmiddel wat van spesiale soorte miere gemaak is. Volgens China Today was die resultate so bemoedigend dat dr. Woe ’n lang loopbaan as navorser begin het om die geneeskundige gebruike van miere te ondersoek. Hy glo dat miergeneesmiddels die immuunstelsel in ewewig help hou en sê: “Die mier is ’n minivoedingskatkamer. Dit bevat meer as 50 voedingstowwe wat die menseliggaam nodig het, 28 aminosure en verskeie minerale en chemiese verbindings.”

“Kantoorsiekte”

Volgens ’n studie wat deur professor Maurizio Ricciardi, direkteur van die Universiteit van Siëna se liggaamshoudingsentrum, gedoen is, ondervind meer as 80 persent van die Italianers liggaamshoudingsprobleme weens ’n sittende lewenswyse. Meer as die helfte van hierdie mense wat aan “kantoorsiekte” ly, kla ook oor dinge soos rugpyn, hoofpyn, naarheid, duiseligheid en balansprobleme, wisseling van bloeddruk, diarree, hardlywigheid, dikdermontsteking en maagvliesontsteking, berig die koerant Il Messaggero. “Ná elke uur van werk doen die Japannese en Chinese ’n paar eenvoudige oefeninge” om hierdie probleme teë te werk, sê Ricciardi, “terwyl ons enigste onderbreking die koffiepouse is”.

Jong Brasiliaanse lesers

Geletterdheid sowel as die aantal jare wat leerlinge op skool bly, neem in Brasilië toe, sê die tydskrif Exame. Hoewel dit nog baie kan verbeter, het ongeletterdheid tussen 1991 en 1995 met 36 persent afgeneem onder diegene wat tussen 7 en 14 jaar oud is, aldus die Brasiliaanse Instituut vir Aardrykskunde en Statistiek. Die gemiddelde aantal jare op skool het tussen 1990 en 1995 met 10 persent toegeneem. Die groeiende belangstelling in lees onder Brasiliaanse jongmense word moontlik weerspieël in die toename van bykans 40 persent in die aantal leerlinge wat ’n onlangse boekskou in Rio de Janeiro bygewoon het. Die trefferboeke by die skou—wat 24 persent van alle verkope uitgemaak het—was boeke wat vir jongmense geskryf is, berig die koerant O Estado de S. Paulo.

Pandjabi’s en nierstene

Mense van die staat Pandjab en omliggende gebiede van Indië is vatbaarder vir nierstene as enige ander gemeenskap in die wêreld, berig India Today International. Dit is bekend dat Pandjabi’s hardwerkend is en smaaklik eet, maar hulle drink dikwels nie genoeg water in die snikhete somermaande nie, sê die berig. Om hierdie rede is hulle streek by ’n onlangse internasionale urologiese konferensie as die “niersteengordel” van die wêreld beskryf. Die gemiddelde niersteengrootte daar is tussen twee en drie sentimeter in vergelyking met een sentimeter in Europa en die Verenigde State. Die verslag skryf dit toe aan baie Indiërs se neiging om ligte pyne te ignoreer of behandeling uit te stel. Uroloë sê dat gesonde mense elke dag ten minste twee liter skoon water moet drink.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel