Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 11/8 bl. 12-17
  • Die man wat die wêreld ontsluit het

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die man wat die wêreld ontsluit het
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Van hofknaap tot onverskrokke seevaarder
  • Sal Spanje se koning luister?
  • “Die grootste seevaartprestasie in die geskiedenis”
  • Ontberinge in die Stille Oseaan
  • Tragedie—’n Droom word verpletter
  • Rampspoed teister die tuisvaart
  • Magellaan se naam lewe voort
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1998
  • Die soektog na speserye, goud, bekeerlinge en roem
    Ontwaak!—1992
  • ’n Botsing van kulture
    Ontwaak!—1992
  • Die merkwaardige seereis van Vasco da Gama
    Ontwaak!—1999
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 11/8 bl. 12-17

Die man wat die wêreld ontsluit het

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN AUSTRALIË

TOE mense vir die eerste keer maan toe gegaan het, het hulle met wiskundige presisie beplan waarheen hulle gaan en hoe hulle daar sou kom. En hulle kon met die aarde kommunikeer. Maar toe Ferdinand Magellaana se vyf klein houtskepe—waarvan die meeste ongeveer 21 meter lank was en in lengte met ’n hedendaagse leunwa ooreenkom—Spanje in 1519 verlaat het, het hulle die onbekende ingevaar. En hulle was heeltemal alleen.

Magellaan se reise word gereken onder die dapperste en moedigste skeepvaartprestasies van alle tye en dien as herinnering aan die Groot Ontdekkingsera—’n era van moed en vrees, verheuging en tragedie, God en Mammon. Kom ons gaan dus terug na omstreeks 1480, toe Ferdinand Magellaan in noordelike Portugal gebore is, en laat ons kyk na die merkwaardige man wat die wêreld ontsluit het en na sy epiese reise.

Van hofknaap tot onverskrokke seevaarder

Die Magellaan-gesin is lede van die adelstand, en terwyl Ferdinand nog ’n jong seun is, word hy dus volgens gebruik as hofknaap in die koninklike hof aangestel. Hier word hy nie net opgevoed nie, maar leer hy ook eerstehands van die avonture van manne soos Christophorus Columbus, wat kort tevore van die Amerikas teruggekeer het nadat hy ’n westelike seeroete na die fabelagtige Spesery-eilande (Indonesië) gesoek het. Kort voor lank droom die jong Ferdinand van die dag wanneer hy ook die geklap van seile bo hom kan hoor en die sproeireën van onbekende oseane op sy gesig kan voel.

Ongelukkig word sy beskermheer, koning Johan, in 1495 vermoor, en die hertog Manuel, wat nie in ontdekkingsreise belangstel nie, maar wel in rykdom, bestyg die troon. Om die een of ander rede hou Manuel nie van die 15-jarige Ferdinand nie en ignoreer hy jare lank sy versoek om ’n seevaarder te word. Maar toe Vasco da Gama met ’n groot vrag speserye van Indië af terugkeer, ruik Manuel groot rykdom. Uiteindelik, in 1505, gee hy Magellaan toestemming om ’n seevaarder te word. Magellaan vaar uit na Oos-Afrika en Indië in ’n Portugese vloot om beheer oor die speseryhandel van Arabiese handelaars te help oorneem. Daarna seil hy verder oos na Malakka met ’n ander militêre ekspedisie.

Tydens ’n skermutseling in Marokko in 1513 word Magellaan ernstig in die knie gewond. As gevolg hiervan loop hy vir die res van sy lewe mank. Hy vra Manuel vir ’n groter pensioen. Maar Magellaan se onlangse prestasies, opofferinge en moed laat Manuel se vyandigheid glad nie afneem nie. Hy stuur hom weg met beswaarlik genoeg om soos ’n arm aristokraat te lewe.

Op hierdie laagtepunt in Magellaan se lewe, besoek ’n ou vriend hom, die beroemde seevaarder João de Lisboa. Die twee bespreek maniere om die Spesery-eilande te bereik deur suidwes te gaan, deur el paso—’n seestraat wat volgens gerug deur Suid-Amerika gaan—en dan oor die oseaan wat Balboa onlangs ontdek het toe hy die Panamese landengte oorgesteek het. Hulle meen dat die Spesery-eilande aan die oorkant van hierdie oseaan lê.

Magellaan is nou gretig om te doen wat Columbus nie kon doen nie—om daardie westelike roete na die Ooste te vind, wat hy meen korter is as die oostelike roete. Maar hy het finansiële steun nodig. Omdat hy nog verbitterd is oor die feit dat Manuel sy woede op hom gekoel het, doen hy wat Columbus self ’n paar jaar vroeër gedoen het—hy soek die beskermheerskap van die koning van Spanje.

Sal Spanje se koning luister?

Oor oopgespreide kaarte lê Magellaan sy argumente voor aan Spanje se jong heerser, Karel I, wat baie belangstel in Magellaan se westelike roete na die Spesery-eilande, want dit sal voorkom dat hulle in Portugal se vaarwater oortree. Boonop sê Magellaan vir hom dat die Spesery-eilande dalk in werklikheid in Spanje se gebied lê, nie in Portugal s’n nie!—Sien die venster “Die Verdrag van Tordesillas”.

Karel word oorreed. Hy gee vir Magellaan vyf ou skepe om vir die ekspedisie te herstel, maak hom kaptein-generaal en beloof hom ’n deel van die wins van die speserye wat hy terugbring. Magellaan spring dadelik aan die werk. Maar omdat koning Manuel listig probeer om die projek te saboteer, neem dit meer as ’n jaar voordat die vloot uiteindelik gereed is vir sy epiese reis.

“Die grootste seevaartprestasie in die geskiedenis”

Op 20 September 1519 volg die San Antonio, die Concepción, die Victoria en die Santiago—van die grootste tot die kleinste—Magellaan se vlagskip, die Trinidad, die tweede grootste vaartuig, wanneer hulle na Suid-Amerika uitvaar. Op 13 Desember bereik hulle Brasilië, en in die majestueuse skadu van Pão de Açúcar, of Sugarloaf-berg, vaar hulle die pragtige baai Rio de Janeiro vir herstelwerk en voorraad binne. Dan vaar hulle verder suid na wat nou Argentinië is, voortdurend op die uitkyk na el paso, die ontwykende deurgang na ’n ander oseaan. Intussen word die dae kouer en ysberge verskyn. Uiteindelik, op 31 Maart 1520, besluit Magellaan om in die koue hawe San Julián te oorwinter.

Die reis het nou ses keer langer as Columbus se eerste Atlantiese oorvaart geneem—en nog steeds geen seestraat nie! Die moraal is so laag soos die temperatuur in San Julián, en die manne, onder meer van die kapteins en offisiere, is desperaat en wil huis toe gaan. Dit is nie ’n verrassing wanneer muitery uitbreek nie. Maar dit misluk weens vinnige, besliste optrede deur Magellaan, en twee van die belhamels word doodgemaak.

Die teenwoordigheid van vreemde skepe in die hawe prikkel natuurlik die nuuskierigheid van die sterk—en groot—plaaslike inwoners. Omdat die besoekers soos dwergies langs hierdie reuse voel, noem hulle daardie land Patagonië—van ’n Spaanse woord wat “groot voete” beteken—wat dit tot vandag toe nog genoem word. Hulle sien ook ‘seewolwe so groot soos kalwers, en swart-wit ganse wat onder die water swem, vis eet en snawels soos kraaie het’. Ja, jy het reg geraai—robbe en pikkewyne!

Skielike, hewige storms is geneig om in die poolbreedteliggings op te steek, en voor die einde van die winter ly die vloot sy eerste verlies—die klein Santiago. Maar gelukkig word die bemanning van die gestrande wrak af gered. Soos gehawende klein gevleuelde motte wat oorgegee is aan die genade van aanhoudende ysige stormwinde, sukkel die vier oorblywende skepe dan verder suid in water wat al hoe kouer word—tot 21 Oktober. Deur sproei- en ysreën is almal se oë gerig op ’n deurgang in die weste. El paso? Ja! Uiteindelik draai hulle en vaar hulle die seestraat binne wat later as die Straat van Magellaan bekend staan! Maar selfs hierdie oomblik van triomf word bederf. Die San Antonio verdwyn opsetlik in die doolhof van die seestraat en keer terug na Spanje.

Die drie oorblywende skepe, met somber fjords en sneeubedekte pieke aan weerskante, worstel vasberade deur die kronkelende seestraat. Na die suide sien hulle tallose vure, moontlik van Indianekampe, en dus noem hulle daardie land Tierra del Fuego, “Land van Vuur”.

Ontberinge in die Stille Oseaan

Ná vyf folterende weke vaar hulle ’n oseaan binne wat so rustig is dat Magellaan dit die Stille Oseaan noem. Die manne bid, sing gesange en vier hulle oorwinning met hulle kanonne. Maar hulle blydskap is van korte duur. Groter ellende as wat hulle tot dusver ondervind het, wag op hulle, want dit is nie die klein see wat hulle verwag het nie—dit lyk nimmereindigend, en die manne word al hoe hongerder en swakker en sieker.

Antonio Pigafetta, ’n taai Italianer, hou ’n dagboek. Hy skryf: “Op Woensdag, die agt-en-twintigste November 1520, het ons . . . die Stille Oseaan binnegevaar, waar ons drie maande en twintig dae gebly het sonder om voorrade in te neem . . . Al wat ons geëet het, was ou, verpoeierde beskuitjies wat vol wurms was en gestink het van die mis wat die rotte daarop gelaat het . . . , en ons het water gedrink wat geel was en gestink het. Ons het die beesvelle geëet . . . , asook houtsaagsels en rotte wat ’n halfkroon elk gekos het, maar ons kon nie genoeg van hulle vind nie.” Terwyl fris passaatwinde dus hulle seile vul, en hulle deur helderskoon water klief, lê die manne siek van skeurbuik. Negentien sterf teen die tyd dat hulle die Mariana-eilande op 6 Maart 1521 bereik.

Maar as gevolg van vyandelikhede met die eilandbewoners kan hulle net ’n bietjie vars kos kry voordat hulle verder seil. Uiteindelik, op 16 Maart, sien hulle die Filippyne. Op langelaas eet al die manne goed, rus hulle en herwin hulle hulle gesondheid en krag.

Tragedie—’n Droom word verpletter

Magellaan, ’n baie godsdienstige man, bekeer baie plaaslike inwoners en hulle heersers tot Katolisisme. Maar sy ywer is ook sy ondergang. Hy raak betrokke by ’n geskil tussen die stamme en val ongeveer 1500 inboorlinge met net 60 manne aan, in die oortuiging dat die kruisboog, die musket en God hom die oorwinning sal verseker. In plaas daarvan word hy en ’n aantal van sy manne doodgemaak. Magellaan is ongeveer 41. Die getroue Pigafetta betreur die voorval en sê: ‘Hulle het ons model, lig, troos en ware leier doodgemaak.’ ’n Paar dae later word ongeveer 27 offisiere wat bloot van hulle veilige posisie op hulle skepe alles dopgehou het, deur eens vriendelike hoofmanne doodgemaak.

Toe Magellaan gesterf het, was hy in bekende waters. ’n Bietjie verder suid was die Spesery-eilande en na die weste, Malakka, waar hy in 1511 geveg het. As hy, soos sommige geskiedkundiges dink, ná die slag by Malakka na die Filippyne geseil het, dan het hy inderdaad om die aarde gevaar—al het hy dit natuurlik nie in een seereis gedoen nie. Hy het die Filippyne van die ooste sowel as die weste bereik.

Rampspoed teister die tuisvaart

Omdat daar nou so min van die bemanning oor is, is dit onmoontlik om drie skepe te beman, en gevolglik kelder hulle die Concepción en vaar hulle met die oorblywende twee vaartuie na hulle eindbestemming, die Spesery-eilande. Nadat hulle die skepe vol speserye gelaai het, gaan die twee skepe uitmekaar. Die bemanning van die sukkelende Trinidad word egter deur die Portugese gevange geneem en in die tronk gestop.

Maar die Victoria, onder die bevel van die voormalige muiter Juan Sebastián de Elcano, ontsnap. Hulle waag dit om die Portugese roete om die Kaap die Goeie Hoop te gebruik deur alle hawens behalwe een te vermy. Maar die feit dat hulle nie vir kos stop nie, kom hulle duur te staan. Wanneer hulle Spanje uiteindelik op 6 September 1522 bereik—drie jaar nadat hulle vertrek het—het slegs 18 siek, uitgeteerde manne die reis oorleef. Dit is nietemin ’n onbetwisbare feit dat hulle die eerstes ter wêreld is wat om die aarde gevaar het. En De Elcano is ’n held. Dit is ongelooflik dat die 26 ton speserye op die Victoria vir die hele ekspedisie betaal!

Magellaan se naam lewe voort

Magellaan word jare lank sy verdiende plek in die geskiedenis ontsê. Die Spanjaarde wat deur die verslae van die muitende kapteins beïnvloed word, beswadder sy naam en sê dat hy wreed en onbevoeg was. Die Portugese bestempel hom as ’n verraaier. Ongelukkig het sy skeepsdagboek verdwyn toe hy gesterf het; dit is waarskynlik deur diegene vernietig wat daardeur aan die kaak gestel sou word. Maar danksy die moedige Pigafetta—een van die 18 wat om die aarde gevaar het—en ongeveer 5 ander lede van die ekspedisie, het ons ten minste ’n rekord van hierdie tragiese, dog buitengewone reis.

Mettertyd het die geskiedenis sy oordeel hersien, en vandag word die verskuldigde eer aan die naam Magellaan bewys. ’n Seestraat is na hom vernoem, asook die Magellaanse Wolke—twee newelagtige suidelike sterrestelsels wat vir die eerste keer deur sy bemanning beskryf is—en die ruimteverkenningstuig Magellaan. En ons is natuurlik die naam van die wêreld se grootste oseaan—die Stille Oseaan—aan Magellaan te danke.

Ja, “mense sou eers 447 jaar later, toe Apollo 11 op die Maan geland het, so ’n belangrike reis onderneem”, skryf Richard Humble in The Voyage of Magellan. Waarom was die reis so belangrik? Dit het eerstens bewys dat die Amerikas, in teenstelling met wat Columbus gedink het, nie deel is van Asië nie en ook nie daar naby geleë is nie. Tweedens het ’n datumverskil van een dag aan die einde van die reis getoon dat ’n internasionale datumlyn nodig was. En laastens, soos die wetenskapskrywer Isaac Asimov gesê het, het dit getoon dat die aarde rond is. Ja, in hierdie laasgenoemde geval het Magellaan prakties bewys wat die Bybel self al 2250 jaar lank sê. (Jesaja 40:22; vergelyk Job 26:7.) Die diep godsdienstige man wat die wêreld ontsluit het, sou ongetwyfeld in sy skik gewees het daarmee.

[Voetnoot]

a Sy Portugese naam was Fernão de Magalhães.

[Venster op bladsy 14]

Die Verdrag van Tordesillas

’n Uitgestrekte wêreld het voor hulle oopgegaan, en Portugal en Spanje het deur middel van ’n verdrag ooreengekom om handel en gesag oor die nuwe lande te deel. Onder leiding van die pouse Aleksander VI en Julius II het hulle dus ’n lengtelyn deur die hedendaagse Brasilië getrek. Lande wat oos van hierdie lyn ontdek is, sou Portugal s’n wees; die res, Spanje s’n. Magellaan het dwaaslik aan Portugal se koning Manuel te kenne gegee dat die Spesery-eilande moontlik in Spanje se gebied sou val as hierdie lyn deur die pole tot aan die ander kant van die aarde verleng word. Hierdie eerlike waarneming wat gebaseer was op die heersende opvatting dat die Stille Oseaan baie kleiner was, het hom ’n skerp teregwysing op die hals gehaal. Dit is ironies dat Magellaan homself verkeerd bewys het. Wat hy geglo het, het hom nietemin bykomende rede gegee om die beskermheerskap van die koning van Spanje te probeer verkry.

[Venster/Prent op bladsy 15]

Die ontberinge van die vroeë matroos

Die lewe vir die eenvoudige matroos was glad nie ’n idilliese plesiervaart nie, veral nie op die langer ontdekkingsreise nie—wat dikwels jare geduur het. Hier is maar ’n paar van die ontberinge wat ’n seeman moes verduur:

• Uiters beknopte kwartiere en geen privaatheid nie

• Dikwels wrede straf, na gelang van die kaptein se bui

• Skeurbuik en die dood weens ’n tekort aan vitamien C

• Dood weens skipbreuk, honger, dors, blootstelling, inboorlinge

• Disenterie of ingewandskoors weens vuil drinkwater

• Voedselvergiftiging weens vrot, besmette voedsel

• Rotbytkoors van die tande van honger rotte

• Tifus weens luise wat op vuil liggame en klere wemel

• Gewoonlik was daar so ’n 50-50-kans om lewend by die huis te kom

[Erkenning]

Century Magazine

[Kaart/Prente op bladsy 16, 17]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Magellaan se reis, 1519-22

⇦••• Roete □ Begin- en eindpunt

Die Straat van Magellaan

Magellaan is in die Filippyne doodgemaak

Laaste skof wat deur Juan Sebastián de Elcano gevaar is

[Erkenning]

Magellaan: Giraudon/Art Resource, NY; wêreldkaart: Mountain High Maps® Copyright © 1995 Digital Wisdom, Inc.; astrolabium: Met vergunning van Adler Planetarium

[Prent op bladsy 16]

Ferdinand Magellaan

[Prent op bladsy 16]

“Victoria”, die eerste skip wat om die aarde gevaar het. Van sy vyf skepe was dit die vierde grootste met 45 bemanningslede. Die skip was ongeveer 21 meter lank

[Prente op bladsy 17]

Navigasie-instrumente: Die uurglas het die tyd gemeet, terwyl die astrolabium die skip se breedteligging bepaal het

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel