Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 8/8 bl. 18-19
  • Die wêreldwye aantrekkingskrag van Latyns-Amerikaanse musiek

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die wêreldwye aantrekkingskrag van Latyns-Amerikaanse musiek
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Merengue, salsa en Tex-Mex
  • ’n Gebalanseerde beskouing van musiek en dans
  • Hoe kan ek musiek op sy plek hou?
    Ontwaak!—1993
  • Hoe kan ek musiek op sy plek hou?
    Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2
  • Pas op vir musiek wat verderf!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Musiek—Jehovah se genotvolle gawe aan ons
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 8/8 bl. 18-19

Die wêreldwye aantrekkingskrag van Latyns-Amerikaanse musiek

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN MEXIKO

MEER as 400 miljoen mense regoor die wêreld praat Spaans. Naas Mandaryns en Hindi is Spaans die moedertaal van meer mense as enige ander taal. Dit is dus nie verbasend dat baie mense die musiek van Latyns-Amerika goed ken nie. Mense regoor die wêreld geniet dit om na die mambo, cha-cha, merengue of salsa te luister of om op die maat daarvan te dans.

Waarom is hierdie musiek so gewild? Deels omdat dit ’n lewendige, opgewekte ritme het. Baie Latyns-Amerikaners hou van vinnige, tropiese ritmes. Sommige van hierdie ritmiese maatslae is honderde jare gelede deur slawe van Wes-Afrika na Latyns-Amerika gebring. Party nie-Latyners vind dit weliswaar moeilik om sommige van die vinniger melodieë met hulle herhalende tromslae te geniet.

Latyns-Amerikaanse musiek kan ook stadig, romanties en selfs treurig wees. Die Latyns-Amerikaanse bolero is byvoorbeeld nog altyd in baie lande geniet. Die bolero is gewoonlik deur drie mense gedans en is deur die romantiese en digterlike aard daarvan gekenmerk. Die bolero was baie gewild gedurende die veertiger- en vyftigerjare, en dit is nou weer besig om gewild te raak in die liedjies van jong kunstenaars. Mexiko se mariachis, met hulle mooi kostuums, groot sombrero’s en unieke musiek is ook regoor die wêreld bekend.

Merengue, salsa en Tex-Mex

Merengue en salsa het in talle lande baie gewild geraak. Hierdie ritmes is nie nuut nie. Die merengue het in die Dominikaanse Republiek en Haïti ontstaan. Dit is al beskryf as ‘ongelooflik vinnig, herhalend, aansteeklik en verruklik’. Die Spaanse woord merengue beteken eenvoudig meringue, die gebak wat gemaak word deur suiker en eierwit styf te klits. Nadat ’n mens die energieke bewegings van sommige merengue-dansers dopgehou het, kan jy maklik sien dat die naam gepas is.

’n Verskeidenheid ritmes, meestal van Kubaanse en Puerto Ricaanse oorsprong, tel onder die soort musiek wat salsa genoem word. Die Spaanse woord salsa beteken “sous”. Volgens sommige is salsa die gevolg van ’n samesmelting van musiekstyle wat in New York-stad plaasgevind het, waar ’n verskeidenheid kunstenaars van oral in die Karibiese lande met mekaar gemeng het. Van daar af het dit deur die hele wêreld versprei.

Die sluipmoord in 1995 op Selena, ’n Spaanssprekende sangeres in die Verenigde State, het haar liedjies selfs gewilder gemaak as toe sy geleef het. Sy was bekend as die koningin van Tex-Mex-musiek, wat al beskryf is as ’n kombinasie van Amerikaanse countrymusiek en norteño- (noordelike Mexikaanse) ritmes. Hierdie melodieë word gesing in Engels, Spaans of in ’n mengsel van die twee tale. Hierdie musiek het baie gewild geraak by Latyners in die Verenigde State en Latyns-Amerika.

’n Gebalanseerde beskouing van musiek en dans

Dit is die beste om musiek, net soos baie ander dinge wat genot kan verskaf, met matigheid te geniet (Spreuke 25:16). Christene is selektief in hulle keuse van musiek. Die Bybel maan: “Let . . . voortdurend streng op hoe julle wandel, dat dit nie as onwyses is nie, maar as wyses, terwyl julle die geleë tyd vir julleself uitkoop, omdat die dae goddeloos is” (Efesiërs 5:15, 16). Dit is goed bekend dat party liedjies oneerbiedige, onsedelike of selfs sataniese temas het. Latyns-Amerikaanse musiek is nie immuun teen sulke verderflike invloede nie.

Sommige Latyns-Amerikaanse liedjies het onwelvoeglike woorde. Party het dubbelsinnige woorde, terwyl ander eroties of seksueel eksplisiet is. Politieke geskille, geweld en opstandigheid kom ook opvallend in ’n hele paar liedjies voor. Die Mexikaanse musiek wat as corrido bekend staan, is byvoorbeeld al lank ’n gunsteling onder baie Latyners. Maar onlangs het ’n nuwe soort corrido, wat as narco corrido bekend staan, gewild begin raak. Hierdie liedjies vertel die gewelddadige verhale van dwelmhandelaars en beeld hulle as helde uit. Party mariachi-liedjies bevorder ook aanstootlike temas en verheerlik dronkenskap, manlike chauvinisme en nasionalisme. Daar is soortgelyke bekommernisse oor die woorde van merengue, salsa en ander soorte Latyns-Amerikaanse musiek.

Sommige wat Latyns-Amerikaanse musiek geniet, verstaan nie die woorde nie. Hulle kan onwetend liedjies geniet wat geslagsonsedelikheid, geweld of selfs die okkulte bevorder. Diegene wat Spaans verstaan, kan heeltemal onbewus raak van die woorde van twyfelagtige liedjies terwyl hulle op die aansteeklike en vrolike ritmes daarvan dans. Maar ’n diepe respek vir Bybelstandaarde behoort ons aan te spoor om elke liedjie sorgvuldig te ondersoek wat in ons huis en by gesellighede gespeel word. Dit sal voorkom dat ons luister na of dans op die maat van liedjies met woorde wat aanstootlik vir God is.

Ons moet ook versigtig wees om ander nie te laat struikel deur die manier waarop ons dans nie (1 Korintiërs 10:23, 24). Christene is versigtig om nie op ’n onverskillige, losbandige wyse te dans wat hulle van hulle waardigheid beroof nie. Hulle sal ook nie aan opsetlik uitdagende dansery wil deelneem nie. Egpare lê goeie oordeel aan die dag sodat hulle dansery nie ’n ongepaste openbare vertoning van intimiteit binne die huwelik word nie.

Christelike balans vereis dat matigheid geopenbaar word deur die musiek nie te hard te speel en die geselligheid nie te lank te laat duur nie. Aanbidders van Jehovah kan tog sekerlik hulle keuse van musiek geniet sonder dat hulle aan “swelgerye” deelneem wat tot in die vroeë oggendure duur en waar oorverdowende musiek gespeel word. Die Bybel maan: “Die tyd wat verby is, is voldoende vir julle om die wil van die nasies te kon volbring toe julle in losbandige dade, welluste, oordadighede met wyn, swelgerye, drinkpartye en onwettige afgoderye gewandel het.”—1 Petrus 4:3.

Ten spyte van die algemeenheid van onsedelike elemente in die vermaak van vandag, is daar nog ’n groot verskeidenheid heilsame musiek wat ’n mens kan geniet. Musiek is ’n wonderlike gawe van God, en die Bybel sê daar is “’n tyd vir elke saak of aangeleentheid onder die hemel . . . , ’n tyd om te treur en ’n tyd om te dans” (Prediker 3:1, 4, The Amplified Bible). As jy van lewendige, aansteeklike, vrolike musiek hou, sal jy dit beslis geniet om na die aangename ritmes van Latyns-Amerikaanse musiek te luister en daarop te dans, terwyl jy matigheid en Christelike balans aan die dag lê.—1 Korintiërs 10:31; Filippense 4:8.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel