Juwele—van die Afrikahemel
Deur Ontwaak!- medewerker in Kenia
DIE Afrikagrasvlakte is droog en bruin, hard gebak deur die felle son bo die ewenaar. Ons het tussen die haakdorings van die blinkblaar-wag-’n-bietjiebome en doringbosse deur gesukkel.
Skielik het ons in ons spore vasgesteek. Ons aandag is getrek deur ’n metaalglans. Op ’n akasiatak vol blomme het ’n voëltjie gaan sit met sulke helder kleure dat dit gelyk het asof die son self in sy veertjies vasgevang is. Hierdie gevleuelde juweel word ’n suikerbekkie genoem.
Metaalagtige spieëls
Daar is meer as eenhonderd soorte suikerbekkies. Die meeste kom in tropiese Afrika voor, maar hulle kan ook in Asië, Australië en selfs die Pasifiese eilande gevind word. So pragtig as wat suikerbekkies is, verskil hulle ook heelwat van mekaar. Hulle weerkaats die son soos piepklein metaalagtige spieëltjies en vertoon ’n reënboog van skitterende kleure: metaalglansende rooi, geel, blou en groen, sowel as skakerings van koper.
Suikerbekkies word gewoonlik met Amerikaanse kolibries vergelyk. Net soos kolibries het hulle buitengewone mooi kleure, en hulle lewe ook van nektar. Maar hulle is groter as kolibries, en hulle kan nie so goed as hulle Noord-Amerikaanse nefies vlieg nie.
Die suikerbekkie suig gewoonlik sy nektar uit deur op ’n blom te sit en dan sy lang, krom snawel diep binne-in die blomme te steek. Maar as ’n buisvormige blom te lank is en hy nie tot onder kan bykom nie, sal die suikerbekkie moontlik die blom se basis stukkend steek en die kosbare inhoud daarvan opdrink. Hulle eet ook insekte wat hulle van blomme en blare afpik.
Die mannetjies is ook talentvolle sangertjies. Hulle repertoire wissel van die yl, metaalagtige tssp van die manjifieke suikerbekkie tot die pragtige tsik-tsik-tsik-tsik-tsit tree-tree-turrrr-roep van Johnstone se jangroentjie van Oos-Afrika. Dit is dikwels hulle sang wat hulle teenwoordigheid in die ruie bosse verklap. Maar wanneer ’n mens hulle eers raakgesien het, is dit heel maklik om hulle van die droë, bruin agtergrond van die Afrikaveld te onderskei.
Ywerig, maar nie skitterend nie
Terwyl die mannetjie ’n lus vir die oog is en ’n vreugde om te hoor, is die wyfie kleiner en taamlik vaal. Sy word dus dikwels deur voëlkykers en fotograwe geïgnoreer. Trouens, sy word gewoonlik net raakgesien wanneer sy by ’n mannetjie is. Maar waar die wyfie in kleur te kort skiet, vergoed sy beslis daarvoor met haar ywer.
Dit is die wyfie wat gewoonlik die nes bou en die meeste van die werk doen om die kuikens groot te maak. Terwyl sy haarself met die takies in en om die nes besig hou, hou die mannetjie wag en is hy gereed om indringers van die nes af te verwilder.
Hangende neste
Suikerbekkies se neste is nie juis mooi nie. Hulle lyk dikwels maar soos stukkies rommel wat deur ’n vinnige wind bymekaargemaak is en toe aan ’n akasiadoring vasgehaak het. Die suikerbekkie se nes lyk soos ’n hangende sokkie in die vorm van ’n doudruppel en is van plantmateriaal gemaak wat inmekaar geweef of gekoek is en deur spinnerakke aanmekaar gehou word. Die buitekant van die nes word gewoonlik oulik versier met takkies, dooie blare, stukkies mos en dikwels sommer ook ’n hangende peul of twee daarby.
Binne-in word die nes met plantdonsies, sagte gras, vere en ander sagte materiaal uitgevoer. Die ingang is ’n openinkie aan die een kant, naby die bopunt. Die wyfie broei dikwels alleen. Waar sy binne-in die peervormige nes sit, kan ’n mens haar lang, krom snawel gewoonlik by die nesopening sien uitsteek. Sy lê een of twee eiers, wat ná ongeveer 14 dae uitbroei. Wanneer die kleintjies die nes verlaat, is hulle altyd vaal soos hulle ma. Maar wanneer die mannetjies volwasse begin raak, begin hulle die pragtige vere kry wat die sonstrale eendag op uitsonderlike wyse sal weerkaats.
Die suikerbekkie is net nog ’n voorbeeld van die oorvloed en verskeidenheid van ’n intelligente Ontwerper. Hulle pragtige kleure en instinktiewe gedrag beweeg ons om groter waardering vir hulle Skepper te hê. Suikerbekkies tel dus onder dié wat die Bybel beveel: “Loof die HERE van die aarde af . . . , kruipende diere en gevleuelde voëls.” “Laat alles wat asem het, die HERE loof!” (Psalm 148:7, 10; 150:6). Hierdie juwele van die Afrikahemel behoort ons almal te beweeg om die liefdevolle Skepper te loof wat hulle ontwerp het.