Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 8/22 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Bepaal die waarde van die onskatbare
  • Die Pous besoek Kuba
  • Wêreld se langste hare
  • Geskiedenis uit drie oogpunte beskou
  • Groener gras in die stadion
  • Trampolienbeserings
  • Die liefde faal nooit nie
  • Ideale natuurbewaarders
  • Gewelddadige rekenaarspeletjies
  • ’n Bybel sonder God
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1993
  • Is jy bekommerd oor jou hare?
    Ontwaak!—2002
  • Is spelers in gevaar?
    Ontwaak!—2002
  • Teokratiese nuus
    Ons Koninkryksbediening—1995
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 8/22 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Bepaal die waarde van die onskatbare

Dertien wetenskaplikes van verskillende lande het ’n verslag saamgestel wat die waarde van die natuur se oorvloed in rande omsit. Die wetenskaplikes het meer as 100 gepubliseerde studies gebruik om te raam wat die koste per hektaar sou wees om die verskillende dienste wat die aarde lewer te vervang. Een studie het byvoorbeeld getoon dat vleiland wat in die Verenigde State vir ontwikkeling gebruik word, “jaarlikse vloedskade [per hektaar] van $3300 tot $11 000 [R16-400 tot R54 700] laat toeneem het weens ’n verlies aan grond waarin vloedwaters kan wegsak”, sê die tydskrif Science. Hoewel baie mense die aarde se natuurlike produkte en dienste as vanselfsprekend beskou, raam wetenskaplikes dat hulle jaarlikse geldelike waarde R165 500 000 000 000 is—byna twee maal die gesamentlike bruto nasionale produksie van die hele wêreld.

Die Pous besoek Kuba

Gedurende sy besoek aan Kuba verlede Januarie het pous Johannes-Paulus II die Katolieke Kerk se verwagtinge van ’n uitgebreide rol in die Kubaanse gemeenskap uiteengesit. Volgens L’Osservatore Romano het hy gesê dat ouers “die etiese en burgerlike beginsels en die godsdienstige inspirasie vir hulle kinders moet kan kies . . . , wat hulle in staat sal stel om ’n volledige opvoeding te ontvang”. Hoewel die Pous graag Katolieke skole in die land wil heropen, sê Kubaanse amptenare dat hulle die Staat se monopolie van openbare opvoeding wil behou. Die Franse tydskrif Le Monde Diplomatique het die volgende oor die Kubaanse regering se beskouing van die Pous se besoek gesê: “Fidel Castro beskou die besoek as ’n oorwinning oor die uitsluiting waaraan sy regime onderworpe was.” Hoewel party van die Pous se stellings terwyl hy in Kuba was duidelik ’n politieke inslag gehad het, bly Jehovah se Getuies polities neutraal in hulle godsdiensbedrywighede.

Wêreld se langste hare

Hoo Sateow, ’n 85-jarige man van die Hmong-stam in noordelike Thailand, het sy hare byna 70 jaar laas gesny. “Ek het dit gesny toe ek 18 was, en ek het baie siek geword”, het Hoo gesê. Sy hare wat onlangs deur ’n beoordelaar vir die Guinness Book of World Records gemeet is, is 5,2 meter lank en daar word nou gemeen dat dit die langste in die wêreld is, berig die Associated Press. Hoo was sy hare een keer per jaar en hang dit oor latwerk om droog te word. Sy 87-jarige broer Ji, wat sy hare in 1957 laas gesny het, is Hoo se naaste mededinger. Ji se hare is nogtans langer as dié van die vorige rekordhouer, ’n Indiese vrou met hare wat 4,2 meter lank is. Hoo beskou dit as voordelig om sulke lang lokke te hê, veral so hoog op in Thailand se koel berge. “Dit help my om warm te bly”, sê hy.

Geskiedenis uit drie oogpunte beskou

Skoolkinders in Bosnië word drie verskillende weergawes van die streek se geskiedenis, kuns en taal geleer. Wat hulle hoor, hang af van watter van die drie vernaamste etniese groepe hulle leerplan beheer, berig The New York Times. Leerlinge in die Oosters-Ortodokse Serwies-beheerde gebied leer byvoorbeeld dat die man wat aartshertog Ferdinand in 1914 doodgemaak het en die Eerste Wêreldoorlog ontketen het “’n held en ’n digter” was. Daar word vir Rooms-Katolieke Kroatiese leerlinge gesê dat hy ’n “sluipmoordenaar was wat deur die Serwiërs opgelei en opdrag gegee is om hierdie terreurdaad te pleeg”. Die Moslem-weergawe van die gebeurtenis beskryf hom as “’n nasionalis wie se daad aanleiding gegee het tot anti-Serwiese onluste wat net deur die polisie uit al drie etniese groepe stopgesit kon word.” Leerlinge word gevra om hulle as Serwiërs, Moslems of Kroate te identifiseer sodat die etniese groepe in verskillende klaskamers ingedeel kan word, sê die berig.

Groener gras in die stadion

’n Stadion met 28 000 sitplekke wat vir die Nederlandse voetbalklub Vitesse Arnhem gebou is, spog met ’n pragtige grasspeelveld en ook ’n dak daaroor. Dit is moeilik om hierdie twee kenmerke te versoen, aangesien gras beter groei wanneer dit goeie natuurlike lig en reën kry. Daarsonder word gras geel en verwelk dit. Die probleem is opgelos deur die ontwerp van die gebou, berig die tydskrif New Scientist. Die speelveld is op ’n betonblad aangelê wat op plastiese rollertjies beweeg. Wanneer dit nie gebruik word nie, kan die hele speelveld van 11 000 ton deur vier hidrouliese silinders uit die stadion en in die ope lug geskuif word. ’n Bykomende voordeel van hierdie reëling is dat die stadion se harde vloer dan vir konserte en soortgelyke geleenthede gebruik kan word.

Trampolienbeserings

Trampoliene het in die laaste jare al hoe gewilder geraak, maar dit het ’n toename in kinders se beserings veroorsaak, sê The New York Times. “Mense verkeer in die waan dat trampoliene sag en kussingagtig is”, sê dr. Gary A. Smith, van Children’s Hospital in Columbus, Ohio, VSA. Dr. Smith het gesê dat kinders seerkry deur van die trampolien af te val, verkeerd op die mat te land, met ’n ander kind te bots wat ook spring of op ’n harde oppervlak te lande te kom. Hy het bygevoeg dat trampoliene wat met ’n leer toegerus is veral gevaarlik is, want daarmee kan klein kindertjies, wat die maklikste seerkry, op die trampolien klim. Ann Brown, van die Kommissie vir Veilige Verbruikersprodukte, stel voor dat kinders onder ses nie op trampoliene moet spring nie en dat net een kind op ’n slag moet spring. Sy het gesê: “Soos met ’n kind in ’n swembad moet ’n kind op ’n trampolien heeltyd dopgehou word.”

Die liefde faal nooit nie

“Tieners wat ’n sterk emosionele band met hulle ouers en onderwysers het, sal heel waarskynlik nie dwelms en alkohol gebruik, selfmoord probeer pleeg, gewelddadig raak of op ’n vroeë ouderdom seksueel aktief raak nie”, berig The Washington Post. Navorsers by die Universiteit van Minnesota en die Universiteit van Noord-Carolina in Chapel Hill het ook bevind dat dit die geval is ongeag of die kind in ’n gesin met een of twee ouers is. Die belangrike ding is dat die kind moet voel dat iemand hom liefhet en dat hy waardeer en verstaan word. Nog ’n faktor wat die studie beklemtoon het, is “die belangrikheid daarvan dat ouers intens betrokke bly by hulle kinders se lewe gedurende die tienerjare, selfs wanneer hulle dalk voel dat die rol wat hulle speel kleiner word”, sê die Post.

Ideale natuurbewaarders

Brittanje se Koninklike Vloot maak gebruik van bokke om die steenwerk van ’n historiese seevesting te bewaar, berig The Sunday Telegraph. Wortels van braambosse, bome en onkruid het die stene en messelklei beskadig. Die gewone metodes om dit te verwyder, is onder meer die gebruik van duur kettingsae en onkruiddoders, wat gevaarlik kan wees. Daarbenewens vernietig hierdie metodes seldsame plante, korsmos en insekte. Die ratse bokke is egter nie net goedkoop arbeid nie, maar hulle verminder ook die skade aan bedreigde plante en natuurlewe. Die projek se konsultant, Mike Beauchamp, sê: “Binne 10 jaar sal die meeste bewaringsgroepe bokke gebruik om ruigtes aanvanklik te herstel.”

Gewelddadige rekenaarspeletjies

Een van die gewelddadigste rekenaarspeletjies wat nog gemaak is, Quake II, is bygewerk sodat dit meer geweld kan insluit. Die program het “’n groot aanhang omdat dit spelers se rekenaarskerms vol bloed en liggaamsdele bespat”, berig The Wall Street Journal. “Die terugvoering wat ons gekry het, was dat daar nie genoeg bloed was nie”, sê die hoofprogrammeerder John Carmack, “daarom het ons nog bygesit.” Quake II laat spelers aan ’n “groot verskeidenheid slagtings” deelneem deur teen tientalle ander spelers oor die Internet te veg in tweestryde wat doodstryde genoem word. Die speletjie laat spelers ook toe om onbetaamlike gebare vir hulle opponente te maak. Die programmeerders en kunstenaars wat die speletjie ontwikkel het, “werk in ’n spelersparadys wat ’n vertrek insluit vir gewigoptel, asook ’n kombuis vol gemorskos. Die nommer van die suite is 666, ’n verwysing . . . in die Bybelboek Openbaring.”

’n Bybel sonder God

’n Deense geneesheer het ’n hersiene weergawe van die Hebreeuse Geskrifte gepubliseer—wat alle verwysings na God weglaat. Dr. Svend Lings glo dat God en geloof “dinge van die verlede is wat ons net gevange kan hou”, berig die Deense koerant Kristeligt Dagblad. Lings het gesê dat baie mense ongelukkig en eensaam is. “Ons lewe in ’n Joods-Christelike kultuur”, sê Lings. “Die Joods-Christelike kultuur moet dus verantwoordelik wees vir ons ongelukkigheid.” Lings se doel met sy nuwe weergawe van die Bybel is, volgens die koerant, om “die fondamente van ons kultuur te skud”. In Lings se Bible Without God sê Genesis 3:12: “Adam het by homself gedink: ‘Die vrou aan my sy het my van die vrugte van die boom gegee, en toe het ek geëet.’” Kristeligt Dagblad vra: “Is dit nie soos om die water uit sneeu te probeer haal om te sien wat oorbly nie?”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel