Ons beskou die wêreld
Vulkaan verkoel die planeet
Toe die Filippynse vulkaan, die berg Pinatubo, in 1991 uitgebars het, het wetenskaplikes voorspel dat ons planeet as gevolg daarvan effens koeler sou wees. Dit blyk dat hulle reg was. Die vulkaan het sowat 20 miljoen ton swaeldioksied tot in die stratosfeer uitgestoot. Die gas het ’n yslike wolk gevorm wat uit klein druppeltjies swaelsuur bestaan en dit het weens hoë, vinnige lugstrome binne ’n paar weke rondom die hele aardbol versprei. Die druppeltjies dryf uiteen en sluit party van die son se strale af wat dan laer temperature onder op die aarde tot gevolg het. Volgens Science News het die gemiddelde temperatuur in dele van die Noordelike Halfrond sedert die uitbarsting reeds met een graad Celsius gedaal. Maar hierdie effek is tydelik en moenie as ’n teenmiddel vir wêreldwye verwarming beskou word nie. Een deskundige op die gebied van klimaat voorspel dat hierdie verkoelingstendens wat deur die vulkaan veroorsaak is teen 1994 sal verdwyn.
Asië se orgaanhandel
“Vraag en aanbod is die landswet”, sê die tydskrif Asiaweek oor die handel in menslike organe. In die lente van 1992 het sowat 600 mense in Hong Kong op nieroorplantings gewag, maar na verwagting sou net 50 van hulle teen die einde van die jaar een daar kry. Baie reis dus na ander lande, soos Indië waar daar jaarliks sowat 6000 nieroorplantings gedoen word in ’n bedryf met ’n omset van 60 miljoen rand per jaar. Die armes of diegene wat die een of ander finansiële terugslag gehad het, is dikwels bereid om een van hulle niere te verkoop, aangesien ’n mens gewoonlik met net een nier aan die lewe kan bly. Maar Asiaweek sê dat die orgaanhandel vol korrupsie is. Korrupte tussenpersone het sommige skenkers al van hulle geld beroof. Een man is glo met ’n geringe maagkwaal in ’n hospitaal opgeneem en het op die ou end een nier verloor—dit is sonder sy toestemming verwyder!
Slagting onder die onskuldiges
Ten minste 1383 kinders in die Verenigde State het gedurende 1991 weens mishandeling of verwaarlosing gesterf, berig The Washington Post. Hierdie matige skatting wat deur die Nasionale Komitee vir die Voorkoming van Kindermishandeling gemaak is, kom daarop neer dat daar elke dag ’n ontstellende vier kindersterftes weens mishandeling is, ’n vermeerdering van 50 persent oor die afgelope ses jaar. Daar is verskillende redes vir die vermeerdering. Party deskundiges blameer verergerende ekonomiese toestande—met afdankings, lae inkomste en wanhoop—wat mense daartoe dryf om hulle frustrasies op hierdie hulpelose slagoffers uit te haal. Hoewel daar volgens die Post by etlike opspraakwekkende gevalle kinderoppassers betrokke was wat die kinders onder hulle sorg mishandel het, “weet die deskundiges dat die eintlike oorsaak van al hierdie sterftes gewoonlik eerder naasbestaandes is, die ma en pa, hulle wat veronderstel is om die babas die liefste te hê”.
Oorbevolking—Waarom?
Waarom is oorbevolking so algemeen in armer lande? Paulo Nogueira Neto, die destydse Sekretaris van Omgewingsake in Brasilië, druk hom in die tydskrif Visão sterk hieroor uit: “Daar word ’n storie in Brasilië vertel. ’n Man aan wie daar gevra is waarom hy nege kinders het, sê: ‘Want drie sterf wanneer hulle klein is; drie migreer na São Paulo, Rio de Janeiro of Brasília en drie bly hier om ons te versorg wanneer ons oud word.’ ’n Kind is die arm bevolking se bestaansbeveiliging.” Paulo Nogueira Neto voeg op hierdie onheilspellende trant by: “Dit kan maklik oor die hele wêreld heen gesien word: Waar daar armoede is, is daar ’n bevolkingsontploffing. En as dit voortduur, sal die planeet verlore wees. In ’n wêreld met beperkte hulpbronne kan ons nie onbeperkte ontwikkeling hê nie, tensy dit op geestelike, sedelike of wetenskaplike gebied is.”
Jesus op video
Verskeie organisasies in die Christendom ontsien feitlik niks in hulle pogings om jongmense sover te kry om ’n bietjie Bybelkennis op te doen nie. Die Amerikaanse Bybelgenootskap het byvoorbeeld ’n videoweergawe gemaak van die verslag in Markus 5:1-20 oor hoe Jesus ’n duiwelbesetene genees. The Miami Herald van Florida berig dat dit soos ’n musiekvideo is, met tonele wat geredigeer is tot stukkies waarin dinge vinnig gebeur. In een weergawe word daar rap-musiek en in ’n ander dreunsang gespeel. Jesus word in ’n T-hemp en baadjie uitgebeeld terwyl hy op ’n brandtrap fisies veg teen ’n duiwelbesetene wat kwyl en ’n bofbalpet op het. In ’n ander musiekvideo, wat Resurrection Rap genoem word, word Jesus glo as die leier van ’n straatbende uitgebeeld!
Dodelike waters
Wat moet ná ’n oorlog met al die ongebruikte ammunisie gedoen word? Volgens die Duitse koerant Hannoversche Allgemeine het die Geallieerdes ná die Tweede Wêreldoorlog met ’n eenvoudige, maar kortsigtige, oplossing vorendag gekom: Stort dit in die see. Die koerant berig dat tussen 700 000 en 1500 000 ton ammunisie uit die Derde Ryk op die seebodem beland het, waar van die Geallieerdes se ammunisie ook later gestort is. Stortplekke is in die Noordsee, die Oossee en die Skagerrak gekies—maar hulle is nie baie noukeurig opgeteken nie. Hoewel van hierdie gevaarlike vullis gedurende die vyftigerjare herwin is, het daar vermoedelik sowat 500 000 ton oorgebly. Nou bestaan daar al hoe meer kommer oor die gevare wat hierdie ondersese vullis inhou. Staatsduikers ondersoek nou party van die stortplekke en probeer vasstel hoeveel ammunisie daar is en hoe gevaarlik dit is. Van die plofstowwe is nog in ’n werkende toestand en party lek gevaarlike gifstowwe, soos loodasied, kwik en TNT in die water in.
Wipmatbeserings
Wipmatte in agterplase raak al hoe gewilder, maar hulle is potensieel gevaarlik, berig The Toronto Star van Kanada. Hoewel sommige ’n wipmat as ’n speelding beskou, het ’n twee jaar lange studie deur Statistics Canada bevind dat 324 ernstige wipmatbeserings oor die land aangemeld is. “Kinders van alle ouderdomme is in gevaar en die beserings wat opgedoen word, is geneig om ernstiger as die meeste ander kinderbeserings te wees”, sê Arlene Huhn van die Mediese Sportraad van Alberta. Die meeste wipmatongelukke gebeur wanneer mense op- of afklim of wanneer hulle bollemakiesie probeer slaan, voeg Arlene Huhn by. Deskundiges beveel aan dat eienaars die wipmat in ’n oop ruimte plaas, dat die springers skoene dra wat nie kan gly nie en dat hulle versigtig is wanneer hulle op- of afklim. Net een persoon op ’n slag moet ’n wipmat gebruik. Behoorlike toesig is belangrik.
’n Inval deur slange
Sowat 30 jaar gelede het ’n plaag die Mikronesiese eiland Guam getref en die meeste van sy bosvoëlspesies uitgewis. Die plaag was nie ’n virus of ’n plaagdoder nie, maar ’n slang—die bruinboomslang. Die slang, wat moontlik deur Amerikaanse militêre voertuie van Nieu-Guinee af na die eiland toe gebring is, het baie vinnig op Guam aangeteel. In party gebiede is daar nou tot 12 000 van die effens giftige reptiele per vierkante kilometer. Hulle hang glo aan heinings en elektriese drade, dring huise binne, kom onverwags uit afvoerpype en val troeteldiere en selfs babas aan. Omgewingsdeskundiges in Hawaii is nou bang dat die slange daar ook so ’n aanval sal maak. Hawaii het geen inheemse slange nie, maar het wel talle eksotiese en seldsame voëlspesies wat baie weerloos teen sulke roofslange sal wees. Tot dusver is etlike bruinboomslange al by Hawaii se lughawens aangetref—blykbaar verstekelinge op vliegtuie wat uit Guam kom.
Venesië bestry seewier
Venesië, die pragtige stad wat op ’n strandmeer in Noord-Italië geleë is, het met ’n ongewone besoedelingsprobleem te kampe—seewier. Weens ’n oorvloed voedingstowwe in die water lewer die strandmeer ’n ongelooflike 500 000 ton seewier per jaar! Wat moet met dit alles gedoen word? Die seewier word in papier omgesit in die eerste eksperiment van sy soort ter wêreld, wat deur die tydskrif Le Scienze ’n “ware sukses” genoem word. Wetenskaplikes het van die 40-000 tot 60 000 ton seewier gebruik wat elke jaar uit die strandmeer ingesamel word en het papier vervaardig deur ’n proses wat selfs minder skadelik is vir die omgewing as herbenutting. Die papier is soortgelyk aan, en in party opsigte beter as, papier wat van sellulose gemaak word. En die kleur? ’n Gespikkelde liggroen—natuurlik!
Ware liefdadigheid?
Die tydskrif Consumer Reports het onlangs ’n kankerliefdadigheidsfonds uitgesonder wat briewe uitgestuur het waarin mense gevra word om donasies van vriende en bure bymekaar te maak en in te stuur. Die verslag sê dat dit ’n paar interessante feite aan die lig bring as ’n mens die fyn druk agterop die brief ontsyfer. Hoewel die liefdadigheidsfonds byvoorbeeld gedurende die vorige jaar byna sewemiljoen rand ingesamel het, is minder as een sent uit elke rand in werklikheid gebruik om kankernavorsing te finansier. “Die res van die geld is gebruik om ’n professionele fondsinsamelaar, fondsinsamelingskoste en administrasiekoste te betaal en om vir hofsake wat uit vorige misleidende versoeke om geld voortgespruit het en vir ‘openbare onderwys’ te betaal”, sê die tydskrif. Dit noem ’n voorbeeld van die openbare onderwys wat hier ter sprake is—uiters niksseggende en algemene advies oor kankervoorkoming, soos: “Sorg dat jou werkplek sonder kankergevare is.”
Tale en die brein
Volgens Franco Fabbro, ’n navorser aan die Triëst-universiteit in Italië, is elke taal wat ons ken, of gedeeltelik ken, in ’n afsonderlike deel van die brein geleë. Hoe het hy tot hierdie slotsom gekom? ’n Aantal veeltaliges wat breinskade opgedoen het en hulle nie meer behoorlik in hulle eie taal kon uitdruk nie, het ’n vreemde taal vlot begin praat wat hulle gedink het hulle net oppervlakkig ken. Dit gee te kenne, sê die tydskrif L’Espresso, “dat die moedertaal die ander belemmer en hulle gebruik inperk”.