Hedendaagse menseregte en onregte
VOORSTANDERS van menseregte het onlangs ’n prestasie behaal. Eerstens het hulle meer as 1000 organisasies in 60 lande verenig in ’n organisasie wat die Internasionale Veldtog vir die Verbod op Landmyne (ICBL) genoem word. Toe is daar danksy hulle pogings ’n internasionale verdrag gesluit wat hierdie wapens verbied. Daarna het die ICBL en sy ywerige direkteur, die Amerikaanse aktivis Jody Williams, in 1997 die Nobelprys vir vrede gewen.
Maar prestasies soos hierdie is nie ’n onvoorwaardelike sukses nie. Die Human Rights Watch World Report 1998 sê dat die universaliteit van menseregte nog steeds “voortdurend bedreig” word. En dit is nie net die derderangse diktatorskappe wat daaraan skuldig is nie. “Die groot moondhede”, sê die verslag, “het ’n duidelike neiging getoon om menseregte te ignoreer wanneer dit ongerieflik vir hulle ekonomiese of strategiese belange was—’n algemene kwaal in Europa sowel as die Verenigde State.”
Vir miljoene mense regoor die wêreld is dit onmoontlik om menseregteskendings te ignoreer. Die benarde posisie waarin hulle hulle daagliks bevind, word nog steeds deur diskriminasie, armoede, verhongering, vervolging, verkragting, kindermishandeling, slawerny en gewelddadige dood vererger. Vir hierdie slagoffers is die belowende toestande wat in die lywige stapel menseregteverdrae uiteengesit word ligjare ver van die toestande waaraan hulle gewoond is. Trouens, vir die meeste mense bly selfs die basiese regte wat in die 30 artikels van die Universele Verklaring van Menseregte opgenoem word ’n onvervulde belofte. Ter toeligting kan ons kortliks ondersoek hoe sommige van die verhewe regte wat in die Verklaring genoem word in die alledaagse lewe werk.
Gelykheid vir almal?
Alle mense word vry gebore en het gelyke waardigheid en regte.—Artikel 1.
’n Vroeër weergawe van Artikel 1 van die Universele Verklaring het in Engels gesê: “All men are . . . equal.” Maar om te verseker dat mense nie sal dink dat hierdie stelling vroue uitsluit nie, het die vroulike lede van die komitee wat die dokument moes opstel daarop aangedring dat die bewoording verander word. Hulle het dit reggekry, en “all men are . . . equal” het “all human beings are . . . equal” geword. (Ons kursiveer.) Maar het die verandering in die bewoording van hierdie artikel tot ’n verandering in die posisie van vroue gelei?
Op 10 Desember 1997, Menseregtedag, het die presidentsvrou van die Verenigde State, Hillary Clinton, vir die VN gesê dat die wêreld voortgaan om “vroue as minderwaardige burgers te behandel”. Sy het ’n paar voorbeelde genoem: Sewentig persent van die wêreld se armes is vroue. Twee derdes van die wêreld se 130 miljoen kinders wat nie kan skoolgaan nie, is meisies. Twee derdes van die wêreld se 96 miljoen ongeletterdes is vroue. Vroue ly ook geweldig as gevolg van gesins- en seksuele geweld, wat nog steeds “een van die menseregteskendings in die wêreld [is] wat die minste aangemeld word en die meeste voorkom”, het mev. Clinton bygevoeg.
Sommige vroue word selfs voor hulle geboorte slagoffers van geweld. Veral in sommige Asiatiese lande dryf party moeders hulle ongebore dogtertjies af omdat hulle eerder seuns as dogters wil hê. Op sekere plekke het die voorkeur vir seuns daartoe bygedra dat genetiese toetsing vir geslagsbepaling floreer. Een kliniek waar geslagsbepaling gedoen word, het hulle dienste geadverteer deur te sê dat dit beter is om nou R228 te bestee om ’n vroulike fetus af te dryf as om later R22 800 aan haar bruidskat te bestee. Sulke advertensies werk. ’n Studie wat in ’n groot Asiatiese hospitaal gedoen is, het bevind dat 95,5 persent van die vroulike fetusse afgedryf is. Mense in ander wêrelddele verkies ook seuns. Toe daar vir ’n voormalige Amerikaanse bokskampioen gevra is hoeveel kinders hy het, het hy geantwoord: “Een seun en sewe foute.” Die VN-publikasie Women and Violence sê dat “dit lank sal neem—ten minste ’n geslag, meen baie, en moontlik langer—om mense se gesindheid teenoor vroue en hulle beskouing van hulle te verander”.
Kinders sonder kinderdae
Niemand sal in slawerny of knegskap gehou word nie; alle vorme van slawerny en die slawehandel sal verbode wees.—Artikel 4.
In teorie bestaan slawerny nie meer nie. Regerings het tallose verdrae onderteken wat slawerny onwettig maak. Maar volgens Brittanje se Genootskap teen Slawerny, wat as die wêreld se oudste menseregte-organisasie bekend staan, “is daar vandag meer slawe as ooit tevore”. Hedendaagse slawerny sluit ’n verskeidenheid menseregteskendings in. Gedwonge kinderarbeid is na bewering een vorm van hedendaagse slawerny.
Derivan, ’n Suid-Amerikaanse seuntjie, is een hartverskeurende voorbeeld. ‘Sy handjies is rou geskaaf aan die growwe sisalblare, ’n plantvesel waarvan matrasse gemaak word. Dit is sy werk om die blare in ’n pakhuis op te tel en dit sowat 300 voet [90 m] ver te dra na ’n masjien wat dit verwerk. Aan die einde van elke 12 uur lange werksdag het hy ’n ton blare verskuif. Derivan het begin werk toe hy vyf was. Hy is nou 11 jaar oud.’—World Press Review.
Die Internasionale Arbeidsburo skat dat 250 miljoen kinders tussen 5 en 14 jaar vandag kinderarbeiders is—’n menigte werkertjies wat byna net soveel is as die gesamentlike bevolking van Brasilië en Mexiko! Baie van hierdie kinders sonder kinderdae swoeg in myne, waar hulle houers vol steenkool trek; strompel deur modder om oeste in te samel of hurk voor weefstoele om matte te maak. Selfs kleuters—drie-, vier- en vyfjariges—word saam onder ’n juk ingespan en moet van sonop tot sononder landerye omploeg, saai en oes. “Kinders”, sê ’n grondeienaar in ’n Asiatiese land, “is goedkoper as trekkers en slimmer as osse.”
Die reg om jou godsdiens te kies en te verander
Elkeen het die reg op vryheid van denke, ge-wete en godsdiens; hierdie reg behels ook die vryheid om sy godsdiens te verander.—Artikel 18.
Op 16 Oktober 1997 het die Algemene Vergadering van die VN ’n “voorlopige verslag oor die uitskakeling van alle vorme van godsdiensonverdraagsaamheid” ontvang. Die verslag, wat saamgestel is deur die Spesiale Referent van die Kommissie oor Menseregte, Abdelfattah Amor, noem voortgesette skendings van Artikel 18. Die verslag praat van ’n groot verskeidenheid lande en noem tallose gevalle van ‘teistering, dreigemente, mishandeling, arrestasies, aanhoudings, verdwynings en moorde’.
Die 1997 Human Rights Reports, wat deur die Amerikaanse Buro vir Demokrasie, Menseregte en Arbeid saamgestel word, wys eweneens daarop dat selfs lande met ’n lang tradisie van demokrasie “probeer het om die vryhede van ’n uiteenlopende groep minderheidsgelowe in te perk en hulle almal as ‘kultusse’ saam te groepeer”. Sulke neigings is kommerwekkend. Willy Fautré, president van die organisasie Menseregte Sonder Grense in Brussel, sê: “Godsdiensvryheid is een van die beste aanduidings van die mate van vryheid wat mense oor die algemeen in enige gegewe gemeenskap geniet.”
’n Seer rug, maar ’n leë beursie
Elkeen wat werk, het die reg op regmatige en voldoende vergoeding sodat hy ’n menswaardige bestaan vir homself en sy gesin kan maak.—Artikel 23.
Werkers wat in die Karibiese lande suikerriet sny, verdien moontlik R18 per dag, maar die koste van huur en gereedskap steek hulle onmiddellik in die skuld by die eienaars van die plantasie. Hulle word boonop nie met kontant betaal nie, maar met koepons. En aangesien die plantasie se maatskappywinkel die enigste winkel binne bereik van die snyers is, moet hulle noodgedwonge hulle kookolie, rys en boontjies daar koop. Maar die winkel trek 10 tot 20 persent van ’n koepon se waarde af as ’n diensfooi omdat hulle die werkers se koepons aanvaar. Bill O’Neill, adjunkdirekteur van die Komitee van Regsgeleerdes vir Menseregte, het tydens ’n radio-uitsending van die VN gesê: “Teen die einde van die oestyd het hulle niks geld oorgehou ná weke, maande van moordende werk nie. Hulle het nie ’n sent gespaar nie, en hulle kon beswaarlik deur daardie oestyd kom.”
Mediese sorg vir almal?
Elkeen het die reg op ’n lewenstandaard wat voldoende is vir die gesondheid en welstand van homself en sy gesin, met inbegrip van voedsel, klere, behuising en mediese sorg.—Artikel 25.
‘Ricardo en Justina is arm Latyns-Amerikaanse boere wat sowat 80 kilometer van die naaste stad af woon. Toe Gemma, hulle babadogtertjie, siek geword het, het hulle haar na ’n nabygeleë privaat kliniek geneem, maar die personeel het hulle weggestuur omdat dit duidelik was dat Ricardo nie die koste sou kon dek nie. Die volgende dag het Justina geld by bure geleen om vir openbare vervoer te betaal, en sy het die lang reis na die stad aangepak. Toe Justina en die baba uiteindelik by die stad se klein staatshospitaal aankom, is daar vir Justina gesê dat daar geen beddens beskikbaar was nie en dat sy die volgende oggend moet terugkom. Aangesien sy geen familielede in die stad gehad het nie en geen geld om ’n kamer te huur nie, het sy die nag op ’n tafel in die openbare mark deurgebring. Justina het die baba styf teen haar vasgehou om haar te troos en ’n mate van beskerming te verleen, maar dit was tevergeefs. Daardie nag het klein Gemma gesterf.’—Human Rights and Social Work.
Regoor die wêreld moet 1 uit 4 mense van slegs ses rand ’n dag aan die lewe bly. Hulle kom voor dieselfde dodelike dilemma te staan as Ricardo en Justina: Privaat gesondheidsorg is beskikbaar maar nie bekostigbaar nie, terwyl openbare gesondheidsorg bekostigbaar is maar nie beskikbaar nie. Ongelukkig is die voordele van mediese sorg nog steeds buite die bereik van die meer as eenmiljard armes in die wêreld, al het hulle nou ‘die reg op mediese sorg’ ontvang.
Die verskriklike lys menseregteskendings is nimmereindigend. Daar is honderdmiljoene gevalle soos dié wat hierbo genoem word. Ondanks die reusepogings van menseregte-organisasies en ondanks die toewyding van duisende aktiviste wat letterlik hulle lewe waag om die lot van mans, vroue en kinders regoor die wêreld te verbeter, bly dit net ’n droom dat daar menseregte vir almal sal wees. Sal dit ooit ’n werklikheid word? Dit sal beslis, maar etlike veranderinge moet eers plaasvind. Die volgende artikel sal twee daarvan bespreek.
[Foto-erkenning op bladsy 8]
Met vergunning van MgM Stiftung Menschen gegen Minen (www.mgm.org)
[Foto-erkennings op bladsy 9]
WHO photo/PAHO by J. Vizcarra
UN PHOTO 148051/J. P. Laffont—SYGMA