Die Baikalmeer—die grootste ter wêreld
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN RUSLAND
DEUR die eeue heen het hierdie meer die Mongoolse stamme in die afgeleë streek wat vandag as Suid-Siberië bekend staan, met ontsag vervul. Hoewel daar ’n aantal mere is wat ’n groter oppervlak het, is dit die diepste varswatermeer ter wêreld en bevat dit verreweg die meeste water. Een van die name vir die meer wat behoue gebly het, is Baikal, wat blykbaar “Ryk Meer” of “See” beteken. Trouens, omdat die meer “so groot en wispelturig” is, sê matrose wat langs die oewers daarvan woon, soms dat hulle “see toe gaan”.
Wanneer daar van die Baikalmeer gepraat word, roer dit Russe se hartsnare. Een wetenskaplike van Moskou het dit beskryf as “’n pragtige musiekstuk wat almal as kind geleer het”. Dit het baie “note”—asemrowende oewers, ongelooflike helder water en ’n verskeidenheid ongewone diere wat nêrens anders aangetref word nie.
Uit die ruimte lyk die Baikalmeer—wat ongeveer 636 kilometer lank en op sy breedste punt 80 kilometer breed is—soos ’n blou oog wat half oop is. Dit bevat een vyfde van al die varswater op die aarde, meer as in al vyf van Noord-Amerika se Groot Mere saam! Die Baikalmeer is oor die 1 600 meter diep. As dit skielik sou leegloop, sou dit al die water wat in al die riviere van die wêreld vloei, ’n hele jaar neem om dit weer vol te maak!
Die botsing van die vastelande
Geoloë bespiegel dat ’n subkontinent in die aarde se verre verlede noordwaarts gedryf en teen Asië gebots het. Die impak het groot stukke rotsbodem opgefrommel asof dit aluminiumfoelie was en het die aardoppervlak opgestoot sodat die Himalajas gevorm is. Party glo dat die impak van die botsende vastelande ’n aantal diep skeure in Siberië weer aktief gemaak het. Een hiervan staan vandag bekend as die Baikalskeur. Mettertyd het die afloop van die omliggende berge hierdie skeur gevul met ’n laag slik wat omtrent sewe kilometer dik is. Die skeur het heeltemal vol water geloop, en so is die Baikalmeer gevorm. Nou vloei meer as 300 riviere en strome in die meer in, maar slegs een, die Angara, loop daaruit.
Anders as die meeste van die wêreld se eeue oue mere, het die Baikalmeer nie vol sediment geword of ’n moeras geword nie. Volgens wetenskaplikes is die rede hiervoor dat die aktiewe tektoniese plate onder die meer nog steeds van mekaar af wegbeweeg en die skeur vergroot. In plaas daarvan dat die meer met verloop van tyd vol word, raak dit in werklikheid elke jaar al hoe dieper! Hierdie aktiewe plate maak dit ook moontlik dat kolomme warm water uit die meer se bodem spuit.
’n Kykie onder die oppervlak van die Baikalmeer
Party vind dat ’n bootrit oor die middel van die Baikalmeer hulle senuweeagtig maak, aangesien ’n mens tot omtrent ’n diepte van 50 meter deur skitterende helder water kan sien, asof jy deur lug kyk! ’n Gemeenskap van piepklein skaaldiertjies wat epischura genoem word, dien as die meer se filter en verwyder alge en bakterieë, wat die water van baie mere vertroebel. Hulle word gehelp deur etlike kreefsoorte wat in die meer voorkom en organiese afvalstowwe eet wat andersins sou ontbind. Die water is dus so suiwer dat ’n monster wat minder as twee dekades gelede vir laboratoriumontleding geneem is, deur die glashouer besmet is!
Benewens die beroemde deursigtigheid daarvan, is die water in die Baikalmeer buitengewoon ryk aan suurstof. In party diep mere raak die suurstof op ’n sekere diepte op, wat die meeste van die waterlewe dwing om in relatief vlak water te lewe. Maar in die Baikalmeer word suurstof deur vertikale en horisontale strome na die meer se diepste dele geneem en word die water deeglik gemeng. Gevolglik wemel die hele meer van lewe.
’n Onderwaterwoud floreer in die koue, skoon water. Varswatersponse wat soos korale vertak, voorsien skuiling aan ’n magdom waterdiertjies. Baie hitteliewende organismes drom om die meer se hidrotermiese openinge saam. Van die meer as 2 000 soorte waterdiere wat in die meer lewe, word 1 500 nêrens anders aangetref nie.
Die Baikalmeer is beroemd weens die omoel, ’n smaaklike, salmagtige arktiese vis wat deur vissermanne hoog op prys gestel word. Ander diere wat hier gevind word, is ongewoon, selfs eienaardig. Een platwurmsoort word langer as 30 sentimeter en vreet vis. Daar is selfs eensellige organismes wat tussen sanddeeltjies lewe! Die meer is ook bekend vir die golomjanka—uniek aan die Baikalmeer. Dit is moontlik die vreemdste vis hier.
Die piepklein golomjanka is deurskynend, met ’n reënboogkleurige glans. Dit lewe naby die bodem van die meer en bring lewende kleintjies voort. ’n Derde van sy liggaam bestaan uit vet, wat ryk is aan vitamien A. Die vis weerstaan die geweldige druk op dieptes van 200 tot 450 meter; maar wanneer hy aan sonlig blootgestel word, smelt sy liggaam weg en bly net sy grate en vet agter. Die golomjanka is ’n lekkerny vir die nerpa, of Baikalrob—moontlik een van die Baikalmeer se beroemdste inwoners. Dit is die enigste rob ter wêreld wat uitsluitlik in varswater lewe.
Die veranderende seisoene
Die Baikalmeer is ongeveer vyf maande van die jaar met ys bedek. Teen laat Januarie is die ys ’n meter of meer dik. Lyne soos dié van ’n mosaïek vorm ’n patroon op die oppervlak, en die ys glinster soos wanneer sonlig teen vensters weerkaats. Die ys lyk ook bedrieglik dun—dit is so deursigtig dat mense wat daarop loop, rotse op die bodem van die meer kan sien. In werklikheid is die ys gewoonlik ongelooflik sterk. ’n Eeu gelede, gedurende die winter van die Russies-Japannese Oorlog, het die Russiese leër ’n spoorweg oor die ys gebou en 65 lokomotiewe suksesvol daaroor laat loop!
Van laat April tot Junie breek die ys met oorverdowende slae op. Die voortdurende geluide van die meer veroorsaak seisoenale “ysmusiek” wat die plaaslike inwoners goed ken. Die natuurkundige Gerald Durrell het geskryf dat die ys “soos piepklein simbale klingel [en] soos ’n mandjie vol katte spin”. Kort voor lank, wanneer die weer warmer raak, dryf die wind en die golwe die ys in skitterende hope bymekaar en gooi dit op die oewer.
Namate die ys smelt, begin die voëls terugkeer. Sommige van die voëls by die Baikalmeer, soos die waterspreeu, bring die hele winter deur by die oorsprong van die Angararivier, die enigste deel van die meer wat nie toeys nie. Nou sluit hulle aan by ander watervoëls—soos eende, ganse, basuinswane en reiers.
Mense wat die meer in Junie besoek, sal dalk beerfamilies sien wat na die oewer loop om vlieglarwes te gaan eet wat in swerms op die rotse uitbroei. Die bere is salig onbewus van die gegons om hulle terwyl hulle aan die insekte smul. Baie diere en voëls word gedurende hierdie tyd na die oewer gelok deur die oorvloed kos.
In die vroeë lente en somer floreer alge ’n tydjie lank in die meer, wat voedsel aan skaaldiertjies voorsien en die water ’n groenerige kleur gee. Maar gewoonlik is die water van die Baikalmeer turkoois wanneer ’n mens van die oewer daarna kyk, en die dieptes daarvan is donkerblou—die kleur van ’n oseaan.
Langs die oewers is daar sandduine sowel as majestueuse kranse. Talle skilderagtige baaie en kape bied asemrowende uitsigte oor wat een skrywer “’n sagte, pêrelagtige uitspansel van veranderende landskappe” genoem het—’n immerveranderende panorama van water en lug.
Later in die jaar word die meer dikwels stormagtig. Die herfs bring winde wat soms met die intensiteit van ’n orkaan op die meer afkom. Dit kan die kalm oppervlak binne ’n kort tydjie in onstuimige golwe van vier tot ses meter opswiep. Selfs gedurende ander tye van die jaar het winde al groot passasierskepe en vissersbote laat sink.
’n Land met ’n verskeidenheid landskappe
Die onherbergsaamheid van Siberië laat die Baikalmeer dalk soos ’n koue, eensame reus lyk, maar in werklikheid kan ’n oorvloed natuurlewe en ’n verskeidenheid landskappe in die omgewing gevind word. Die vier majestueuse bergreekse wat die meer omring, is die tuiste van rendiere sowel as die bedreigde Siberiese ibeks.
Laer af is die steppe. Party van hierdie grasvlaktes kan Siberië se blombeddings genoem word weens die buitengewone verskeidenheid veldblomme wat hier aangetref word. Onder die seldsame voëlsoorte op die steppe is die elegante jonkvroukraanvoël en die groot gompou, die grootste voël in Asië.
Die taiga, die digte naaldbos wat om die Baikalmeer groei, is belangrik vir die meer se voortbestaan. Die taiga is twee keer so groot soos Brasilië se Amasonereënwoud. Soos daardie woud, speel die taiga ’n onontbeerlike rol daarin om die wêreld se ekologie en klimaat in ewewig te hou. ’n Aantal voëlsoorte lewe hier, insluitende die auerhoender, ’n soort wildehoender met ’n skouspelagtige paringsdans en -lied. Die elegante Baikaleend, wat op bladsy 17 gesien kan word, kom ook op die meer voor.
Een merkwaardige soogdier is die beroemde Bargoezin-sabelmarter. Dit is vroeër meedoënloos gejag vir sy glansende pels, maar danksy bewaringsgesindes neem hulle getalle weer toe. Pogings om hierdie pragtige dier te red, het in 1916 gelei tot die stigting van die Bargoezin-natuurreservaat, op die oewers van die Baikalmeer. Drie natuurreservate grens nou aan die oewers van die meer, tesame met drie nasionale parke wat oop is vir die publiek.
Peins oor die wondere van die skepping
Die Baikalmeer is ’n UNESCO-Wêrelderfenisgebied en ’n gewilde toeristebestemming. Meer as 300 000 toeriste van regoor die wêreld kom lê elke jaar hier besoek af. “Die Baikalmeer is vandag ’n natuurkundige se paradys en ’n idilliese vakansiebestemming”, sê een reisgids. “Met sy pragtige strande, uitstekende staproetes, voëlkykgeleenthede en plesierbootritte, kan die Baikalmeer heel moontlik een van die aantreklikste vakansieplekke in Asië word.”
Die meer is ’n gepaste plek om te peins oor God se voortreflike wysheid en die majesteit van sy skepping. Wie anders as God kon al die unieke natuurlike prosesse geskep het wat lewe in sulke oorvloedige mate in hierdie wonderlike meer onderhou? Wanneer ’n mens op die oewer van die Baikalmeer staan, kan jy die woorde van die Bybelskrywer beaam wat uitgeroep het: “O die diepte van God se rykdom en wysheid en kennis!”—Romeine 11:33.
[Venster/Prent op bladsy 16, 17]
’N ROB WAT UITSLUITLIK IN VARSWATER LEWE
Die Baikalmeer is die tuiste van tienduisende nerpas, of Baikalrobbe, wat heeljaar van die meer se diepwatervisse lewe. Niemand is seker hoe die nerpa in die middel van Siberië beland het en tog nêrens anders voorkom nie. Sy naaste naverwant lewe sowat 3 200 kilometer daarvandaan.
Nerpas het baie groot oë, wat nogal naby mekaar is in ’n plat gesig, en is die kleinste rob ter wêreld, met ’n lengte van tot 1,4 meter. Hierdie rob word dikwels in vriendelike groepe gevind wat op rotse in die son lê, sonder die gewone gebyt en gestoot wat kenmerkend is onder die meeste robbe. Trouens, die saggeaarde nerpa is moontlik die vriendelikste rob op aarde.
’n Bioloog wat robbe bestudeer, het gesê dat die nerpa “selfs meer saggeaard is as die kalm en rustige ringkolrob en sonder om te byt, toelaat dat hy hanteer word wanneer hy vir wetenskaplike doeleindes in nette gevang word”. Een naslaanwerk sê dat diepwaterduikers geswem het tot reg by nerpas wat in die water geslaap het. Hulle het berig dat die robbe nie wakker geword het toe daar aan hulle geraak is en selfs toe hulle omgedraai is nie.
[Erkenning]
Dr. Konstantin Mikhailov/Naturfoto-Online
[Venster/Prent op bladsy 18]
’N PLEK WAARHEEN MENSE VERBAN IS
Van 1951 tot 1965 is baie van Jehovah se Getuies na die omgewing van die Baikalmeer verban omdat hulle geweier het om hulle godsdiensoortuigings prys te gee. In 1951 is Praskowja Wolosjanko na Olchon, die Baikalmeer se grootse eiland, geneem. Sy het saam met ander verbanne Getuies aan die lewe gebly deur met nette vis te vang. Tog het sy maniere gevind om aan ’n ander soort “visvangwerk” deel te neem deur haar Bybel te gebruik om die goeie nuus van God se Koninkryk aan baie van Olchon se bewoners te verkondig.
In 1953 is Praskowja en ses ander Getuies weens hulle predikingsbedrywighede in hegtenis geneem, en sy is tot 25 jaar tronkstraf gevonnis. Nadat sy vrygelaat is, het sy tot haar dood in 2005 getrou gedien in ’n gemeente in Oesol’je-Sibirskoje, in die Irkoetsk-streek. Omtrent 30 gemeentes van Jehovah se Getuies floreer nou in die Baikal-streek en in die nabygeleë stad Irkoetsk.
[Kaart op bladsy 15]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
RUSLAND
Die Baikalmeer
[Prent op bladsy 16, 17]
Die Baikalmeer en die Sajangebergte
[Erkenning]
© Eric Baccega/age fotostock
[Prent op bladsy 17]
Baikaleend
[Erkenning]
Dr. Erhard Nerger/ Naturfoto-Online
[Foto-erkenning op bladsy 15]
Dr. Konstantin Mikhailov/Naturfoto-Online
[Foto-erkennings op bladsy 18]
© Eric Baccega/age fotostock; Boyd Norton/Evergreen Photo Alliance