Die lykkleed van Turyn—Jesus se grafdoek?
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN ITALIË
Vanaf 18 April tot 14 Junie 1998 is die lykkleed, of grafdoek, waarin Jesus van Nasaret se liggaam na bewering ná sy dood toegedraai is, in Italië by die Katedraal van San Giovanni Battista, in Turyn, uitgestal. Dit is in ’n lugdigte, koeëlvaste glaskas gehou wat met ’n edelgas gevul is. Daarin is dit onder konstante toestande gehou.
BESOEKERS het op drie loopplanke wat op effens verskillende vlakke was verby die goed bewaakte lykkleed geloop. Dit het almal in staat gestel om goed te sien. Besoeke is tot twee minute beperk en was slegs vir mense wat vooraf bespreek het. Gevoelens het gewissel van uiters emosionele vervoering tot blote nuuskierigheid. Daar was volgens berig omtrent 2,5 miljoen besoekers.
“Wat beteken die lykkleed vir jou?” is die vraag wat dikwels gevra is. Vir enigeen wat daarvan hou om godsdiens te bespreek, het dié gebeurtenis ’n geleentheid gebied om die saak noukeuriger te ondersoek en om weer die bladsye van die Bybel te lees wat na Jesus se begrafnis verwys.—Sien die venster op die volgende bladsy.
Die lykkleed is ’n linnedoek wat 4,36 meter by 1,1 meter is en die afdruk het van ’n man se liggaam wat glo ’n gewelddadige dood gesterf het. Maar die vraag is: Was hierdie Lykkleed van Turyn die een waarin Jesus se liggaam meer as 19 eeue gelede toegedraai is?
Geskiedkundige verwikkelinge
“Daar is geen bewys van ’n lykkleed gedurende die eerste eeue van die Christelike era nie”, sê die New Catholic Encyclopedia. In 544 G.J. het ’n afbeelding wat glo nie die werk van mensehande was nie te voorskyn gekom in Edessa, wat in hedendaagse Turkye geleë is. Daar is gesê dat die afbeelding die gesig van Jesus is. In 944 G.J. is daar beweer dat die afbeelding in Konstantinopel was. Die meeste geskiedkundiges glo egter nie dat dit die afbeelding was wat nou as die Lykkleed van Turyn bekend staan nie.
In Frankryk het Geoffroi de Charny, aan die begin van die 14de eeu, ’n lykkleed besit. In 1453 het Louis, die Hertog van Savoje, in besit daarvan gekom en dit aan ’n kerk in Chambéry, die hoofstad van Savoje, gegee. Van daar het Emmanuel Philibert dit in 1578 na Turyn geneem.
Verskillende menings
In 1988 het die destydse Aartsbiskop van Turyn, Anastasio Ballestrero, die Lykkleed van Turyn deur middel van radiokoolstofdatering laat ondersoek om vas te stel hoe oud dit is. Die toetse, wat deur drie bekende laboratoriums in Switserland, Engeland en die Verenigde State gedoen is, het getoon dat dit uit die Middeleeue kom en dus tot ’n tydperk lank ná die dood van Christus behoort. Ballestrero het die uitslag aanvaar en in ’n amptelike verklaring gesê: “Deur die evaluering van hierdie resultate aan die wetenskap toe te vertrou, bevestig die kerk opnuut sy respek en verering van hierdie eerbiedwaardige ikon van Christus, wat ’n voorwerp van toewyding vir die gelowiges bly.”
Die huidige aartsbiskop, Giovanni Saldarini, het gesê: “Ons kan nie sê dat die afbeelding die beeld van Christus is wat van die kruis afgehaal is nie.” En tog beweer hy terselfdertyd: “Daar is geen twyfel dat die gelowige daarin die beeld van die man kan sien wat deur die Evangelies beskryf word nie.” Op 24 Mei 1998, terwyl die lykkleed ten toon gestel is, het pous Johannes-Paulus II die afbeelding “die afdruk [genoem] wat deur die gemartelde liggaam van die Gekruisigde gelaat is”.
Soos gesien kan word, is daar sterk getuienis dat die Lykkleed van Turyn nie die grafdoek van Jesus is nie. Maar sê nou dit is? Sou dit gepas wees vir iemand wat die leringe van die Bybel wil gehoorsaam om daardie kleed te vereer?
Let op die tweede van die Tien Gebooie, wat volgens ’n Rooms-Katolieke vertaling van die Bybel sê: “Jy mag vir jou nie ’n gesnede beeld of enige gelykenis maak van enigiets wat bo in die hemel of onder op die aarde of in die waters onder die aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig nie” (Exodus 20:4, 5, New Jerusalem Bible). Ware Christene neem inderdaad die woorde van die apostel Paulus ter harte: “Ons wandel deur geloof, nie deur aanskouing nie.”—2 Korintiërs 5:7; 1 Johannes 5:21.
[Venster op bladsy 24]
Die Lykkleed en die Evangelieverslae
Die Evangelieskrywers sê dat die liggaam van Jesus, nadat Josef van Arimatea dit van die folterpaal afgehaal het, “in skoon fyn linne” toegedraai is (Matteus 27:57-61; Markus 15:42-47; Lukas 23:50-56). Die apostel Johannes voeg by: “Ook Nikodemus . . . het gekom en ’n rol mirre en aalwyn gebring, omtrent honderd pond. Hulle het dus die liggaam van Jesus geneem en dit saam met die speserye met verbande toegedraai, net soos die Jode die gebruik het om vir ’n begrafnis voor te berei.”—Johannes 19:39-42.
Die Jode het gewoonlik die dooies gewas en dan olie en speserye gebruik om die liggaam te salf (Matteus 26:12; Handelinge 9:37). Die oggend ná die Sabbat was vriendinne van Jesus van plan om sy liggaam, wat reeds in ’n graf gelê is, klaar voor te berei. Maar toe hulle daar aankom met hulle ‘speserye om hom te salf’, was die liggaam van Jesus nie in die graf nie!—Markus 16:1-6; Lukas 24:1-3.
Wat het Petrus gevind toe hy kort daarna daar aangekom en in die graf ingegaan het? Die ooggetuie Johannes doen verslag: “Hy het die verbande sien lê, ook die doek wat op sy kop was, wat nie by die verbande gelê het nie maar afsonderlik op een plek opgerol was” (Johannes 20:6, 7). Let op dat fyn linne nie gemeld word nie—net verbande en die doek op die kop. Aangesien Johannes spesifiek van die verbande en die doek op die kop praat, sou hy tog immers ook van die fyn linne, of lykkleed, gepraat het as dit daar was, nie waar nie?
Let ook hierop: As Jesus se grafdoeke sy afbeelding daarop gehad het, sou dit dan nie opgemerk gewees het en die onderwerp van bespreking geword het nie? Maar behalwe wat in die Evangelies staan, sê die Bybel absoluut niks oor die grafdoeke nie.
Selfs die verklaarde Christenskrywers van die derde en vierde eeu, waarvan baie oor menige sogenaamde wonderwerke met betrekking tot talle relieke geskryf het, het nie die bestaan van ’n lykkleed met die afbeelding van Jesus daarop gemeld nie. Dit is moeilik om te verstaan, aangesien 15de- en 16de-eeuse waarnemers, volgens die Jesuïetegeleerde Herbert Thurston, “die besonderhede en kleure van die afdrukke op die lykkleed as so duidelik beskryf dat dit net kort tevore gemaak kon gewees het”.
[Foto-erkenning op bladsy 23]
David Lees/©Corbis