Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 1/8 bl. 14-17
  • Die Middellandse See—’n ingeslote see met oop wonde

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Middellandse See—’n ingeslote see met oop wonde
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Toeriste-toestroming
  • Swaar tenkskipverkeer
  • Verswakte ekosisteme
  • Dood in die water
  • ’n Plan van aksie
  • Mediterreense monnikrobbe—Sal hulle bly voortbestaan?
    Ontwaak!—2001
  • Oseane vol probleme
    Ontwaak!—1992
  • ’n Warmwaterrob?
    Ontwaak!—1994
  • Spesies wat met uitwissing bedreig word
    Ontwaak!—2005
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 1/8 bl. 14-17

Die Middellandse See—’n ingeslote see met oop wonde

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN GRIEKELAND

Meer as duisend dolfynkarkasse spoel uit op die strande van Griekeland tot by Marokko, giftige rooigetye in die Egeïese See, miljoene tonne slymerige skuim in die Adriatiese See, skilpaaie en robbe op die randjie van uitsterwing, stroke water met hoegenaamd geen lewe nie. Wat is besig om in die Middellandse See te gebeur? Is dit gedoem tot ’n toekoms van besoedeling en verwoesting?

“DIE wêrelddeel wat die langste deur die mens bewoon word.” Dit is hoe die dierkundige David Attenborough die Middellandse See en sy strande beskryf. Omdat hierdie see toegang tot drie vastelande bied, het dit ’n sleutelrol in die opkoms en ondergang van Egipte, Griekeland en Rome gespeel. Dit is die oorsprong van baie van vandag se kulture en beskawings. Maar die oorontwikkeling, oplewing in toerisme, oorbevissing en besoedeling van onlangse dekades het die Middellandse See in ’n krisis gedompel. Besorgde wetenskaplikes en geteisterde lande spook om met oplossings vorendag te kom—tot dusver met net ’n mate van sukses.

Die Middellandse See is die wêreld se grootste binnesee. Sy 46 000 kilometer lange kus, ’n natuurlike grens wat deur 20 lande gedeel word, word deur meer as 160 miljoen mense bewoon, ’n syfer wat na raming teen 2025 sal verdubbel. Die Middellandse See met sy warmer water en hoër soutgehalte as die Atlantiese Oseaan, wat die hoofbron van sy water is, het feitlik geen getye nie. Aangesien sy water slegs ongeveer elke 80 of 90 jaar vervang word, kan dit ook maklik besoedel raak. “Wat ook al in die Middellandse See gestort word, bly lank daar”, sê die National Geographic.

Toeriste-toestroming

Sonnige strande, pragtige natuurskoon, tradisionele Mediterreense gasvryheid en ’n ryk geskiedenis maak die hele gebied ’n uiters gewilde vakansieplek. Die gebied word elke jaar deur ’n 100 miljoen plaaslike bewoners en buitelandse toeriste besoek, en hierdie syfer sal na verwagting binne 25 jaar verdriedubbel. Is hierdie toevloei van mense gedeeltelik vir die agteruitgang van hulle somerbestemming verantwoordelik? Kom ons ondersoek die feite.

Hierdie menigtes bring vullis saam met hulle wat die Mediterreense lande nie in staat is om te verwerk nie. Ongeveer 80 persent van die rioolvuil—meer as 500 miljoen ton per jaar—beland uiteindelik in die see, heeltemal onbehandeld! Die meeste van hierdie toeriste kom in die droë seisoen en dra by tot die besmetting van die gebied se reeds beperkte waterbronne. Besmette water hou weer ’n gesondheidsgevaar in. As ’n mens in sekere dele van die Middellandse See swem, kan dit tot oor-, neus- en keelinfeksies lei, om nie eens te praat van siektes soos hepatitis en disenterie en af en toe gevalle van cholera nie.

Die ekonomie van talle Mediterreense lande is egter van toerisme afhanklik. Michel Batisse, ’n voormalige adjunk-direkteur-generaal van die Verenigde Nasies se Organisasie vir Onderwys, Wetenskap en Kultuur sê van hierdie lande: “Hulle vernaamste bron van inkomste is toerisme, maar dan moet die kuslyn nie vernietig word deur onbeheerde konstruksie wat voortgedryf word deur die begeerte om vinnig wins te maak nie”.

Swaar tenkskipverkeer

Die Middellandse See is ’n hoofvervoerroete tussen die Midde-Ooste en Europa, wat swaar olietenkskipverkeer tot gevolg het. Meer as 20 persent van die wêreld se olie word langs hierdie roete vervoer. Die hoeveelheid afvalolie wat elke jaar in die Middellandse See gestort word, is na raming 17 keer meer as wat die Exxon Valdez in 1989 in Alaska gestort het. Tussen 1980 en 1995 was daar 14 oliestortings in die Middellandse See, en elke jaar word tot ’n miljoen ton ruolie uit skepe gepomp omdat hawens dikwels nie die fasiliteite het om afvalolie te berg of tenkskepe skoon te maak nie.

Wat sake verder vererger, is dat die water wat van die Middellandse See deur die Straat van Gibraltar in die Atlantiese Oseaan uitvloei diep is. Aangesien olie dryf, verloor die see die dieper, skoner water, maar is geneig om die olie wat aan die oppervlak versamel het te behou. “Die voedselketting van die Middellandse See word nou deur oliebesoedeling gekenmerk”, sê Colette Serruya, voormalige direktrise van Israel se Instituut vir Oseanografie. “Dit word deel van die weefsel van ons vis en weekdiere.” In 1990 het die Verenigde Nasies se Omgewingsprogram (UNEP) berig dat 93 persent van die skulpvis wat uit die Middellandse See gehaal is meer fekale bakterieë bevat as die maksimum wat deur die Wêreldgesondheidsorganisasie toegelaat word.

Verswakte ekosisteme

Buiten hierdie vernietigende besoedeling word groot skade aan die Mediterreense kus aangerig, waarvan groot dele nog tot in die 15de eeu G.J. dig bebos was. Ontbossing, wat plaasvind om meer landbougrond te skep, stede uit te brei of skeepsboumateriaal vir Venesiaanse galeie te voorsien, het onherstelbare erosie tot gevolg gehad. Buiten die stowwe wat deur middel van die reën in die see beland, word besoedelstowwe soos reinigingsmiddels, plaagdoders en swaar metale deur riviere na die see afgevoer. Al hoe meer landbou- en industriële afval word in die Rhône in Frankryk, die Nyl in Egipte, die Po in Italië, die Ebro in Spanje en ander riviere gestort.

Een direkte gevolg van hierdie besoedeling is die rooigetye wat verskeie gebiede van die Adriatiese en Egeïese See teister en die strande met ’n stink, taai slyk bedek. Hierdie verskynsel word veroorsaak deur eutrofikasie, ’n proses wat voorkom wanneer ontbindende afvalstowwe die water van sy opgeloste suurstof beroof sodat baie van die plaaslike flora en fauna doodgaan. Ander gebiede wat deur hierdie verskynsel bedreig word, is onder meer die Leeugolf (Frankryk), die Golf van Tunis (Tunisië), die Golf van Ismir (Turkye) en die Venesiese Strandmeer (Italië).

Die kus se ekosisteem is in so ’n mate verswak dat uitheemse spesies die inheemse spesies van die Middellandse See kan verdring. ’n Tipiese voorbeeld is ’n “dodelike” wier, Caulerpa taxifolia, wat ander mariene spesies uitroei. Dit het per toeval langs die kus van Monaco beland en is nou besig om op die seebodem te versprei. Dit is giftig, het geen vyande waarvan ons weet nie en het reeds wyd versprei. “Wat ons sien, is dalk die begin van ’n ekologiese ramp”, sê Alexandre Meinesz, professor in mariene biologie aan die Universiteit van Nice, Frankryk.

Daar is nog meer slegte nuus. Volgens die mariene bioloog Charles-François Boudouresque het meer as 300 vreemde seeorganismes in die Middellandse See begin groei. Die meeste het deur die Suez-kanaal van die Rooi See af gekom. Sommige navorsers glo dat hierdie biologiese besoedeling onomkeerbaar is en dat dit een van die grootste ekologiese probleme van die volgende eeu kan word.

Dood in die water

Die Mediterreense flora word deur baie dinge bedreig, waarvan een die vernietiging van die Posidonia-seegraslande is wat as die longe, spens en kweekplek van die see dien en ’n skuilplek bied waar honderde mariene spesies voortplant. Piere en vasmeerplekke wat in hierdie seegraslande indring, kan hulle vernietig, so ook kan plesierbote wat die plante met hulle ankers uitruk.

Die see se fauna word net soveel bedreig. Die Mediterreense monnikrob, een van die wêreld se 12 mees bedreigde spesies, is op die randjie van uitwissing. Daar was in 1980 byna 1 000 monnikrobbe in die Middellandse See, maar jagters en vissers het hulle getalle so laat daal dat daar vandag maar net tussen 70 en 80 oor is. Die grootkopseeskilpaaie lê nou hulle eiers slegs op Griekse en Turkse strande, waar dit soms deur toeriste stukkend getrap word. Die skilpaaie raak dikwels in visnette verstrengel en beland dan op die spyskaart van plaaslike restaurante. Die seesprinkaan, die edelskulp en die boormossel is by die lys van bedreigde spesies gevoeg.

’n Plan van aksie

Om hierdie onrusbarende situasie die hoof te bied, is die Mediterreense Aksieplan (MAP) in 1975 onder beskerming van UNEP aangeneem. Hulle streef daarna om die Mediterreense lande, asook ander lede van die Europese Unie, daartoe te verbind om nie net die see teen besoedeling te beskerm nie, maar ook om seker te maak dat kusontwikkeling die omgewing in ag neem. In 1990 is die Mediterreense Tegniese Omgewingshulpprogram (METAP) van stapel gestuur, wat in 1993 deur METAP II opgevolg is. Ander pogings om natuurreservate en mariene nasionale parke te skep, het prysenswaardige resultate opgelewer wat die beskerming van dolfyne, walvisse, monnikrobbe, seeskilpaaie en ander bedreigde spesies betref.

Die daad is egter nie altyd by die woord gevoeg nie. Teen die vroeë negentigerjare het MAP byna tot ’n einde gekom omdat lidlande wat die vernaamste bydraers is, versuim het om hulle ledegeld te betaal. Volgens kenners van die plan is nie een van die doelwitte sover hulle weet, bereik nie. Ljubomir Jeftic, adjunk-koördineerder van MAP, het verslag gelewer oor die Mediterreense lande se gewilligheid om maatreëls ter verbetering te tref en het gewaarsku: “Moenie te optimisties wees nie.” Selfs al sou hierdie lande instem om op te tree, kan dit dekades neem om die skade wat reeds aangerig is te herstel. Die tydskrif New Scientist sê: “Soos baie van die Mediterreense natuurlewe lyk MAP dood in die water.”

Watter toekoms het die Middellandse See dan? Sal dit ’n dooie see vol stink, modderige alge word? Heel moontlik, as sy toekoms slegs van die mens afgehang het. Die Skepper van hierdie planeet, Jehovah God, is egter besorg oor “die see . . . wat Hy self gemaak het” (Psalm 95:5). Hy het belowe dat hy binnekort “die verderwers van die aarde [sal] verderf” (Openbaring 11:18). Ná hierdie noodsaaklike verwydering van onverantwoordelike mense wat onder andere die see besoedel, sal God die ekologiese balans en regte biodiversiteit op ons planeet herstel. Dan sal “die see en alles wat daarin roer” met hulle ongerepte, onbesoedelde toestand “Hom prys”.—Psalm 69:35.

[Kaart/Prente op bladsy 15]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

ATLANTIESE OSEAAN

PORTUGAL

SPANJE

MAROKKO

FRANKRYK

MONACO

ALGERIË

TUNISIË

SLOWENIË

ITALIË

KROASIË

JOEGO-SLAWIË

ALBANIË

MALTA

GRIEKELAND

TURKYE

LIBIË

EGIPTE

SIPRUS

SIRIË

LIBANON

ISRAEL

[Prente op bladsy 16]

Oorontwikkeling het tot besoedeling gelei

Lloret de Mar, Costa Brava, Spanje

Hotelle in Benidorm, Spanje

[Prente op bladsy 16]

Besoedelde Spaanse waters en (onder) ’n oliekol by Genua, Italië

[Erkenning]

V. Sichov/Sipa Press

[Prente op bladsy 17]

Grootkopskilpaaie word bedreig

Mediterreense monnikrobbe is op die randjie van uitsterwing

[Erkennings]

Skilpad: Tony Arruza/Corbis; Rob: Panos Dendrinos/HSSPMS

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel