Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 1/8 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die huwelik is goed vir jou
  • Gewelddadige helde
  • Elektroniese hulp vir eensames
  • “Hoofoorsaak van sterfgevalle onder jong vroue”
  • Besoedelingvrye motor
  • Besoedelde Alpe
  • Gesinne wat saam eet
  • Doofheid as gevolg van oorfone
  • Tabak borg sport
  • Die eerste boere
  • Miljoene lewens gaan in rook op
    Ontwaak!—1995
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1994
  • Tabakmoraliteit?
    Ontwaak!—1991
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1996
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 1/8 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Die huwelik is goed vir jou

Die getroude lewe “lei tot ’n langer lewe, ’n aansienlike verbetering in liggaamlike en emosionele gesondheid en ’n groter inkomste” vir vroue sowel as mans, sê ’n navorser in The New York Times. ’n Studie deur professor Linda J. Waite van die Universiteit van Chicago weerspreek ’n verslag wat in 1972 gepubliseer is wat sê dat getroude vrouens meer aan sielkundige spanning ly. Dr. Waite het bevind dat “die huwelik mense se gedrag wysig op maniere wat hulle lewe verbeter”, soos om minder alkohol te drink. Dit lyk ook asof die huwelik depressie verminder. Trouens, “ongetroude mans as ’n groep was depressief aan die begin van die studie en het meer depressief geraak as hulle ongetroud gebly het”. Maar dr. William J. Doherty, van die Universiteit van Minnesota, sê dat die data gemiddeldes verteenwoordig en nie beteken dat almal gelukkiger sal wees as hulle getroud is of dat mense wat met die verkeerde persoon getroud is gelukkig en gesond sal wees nie.

Gewelddadige helde

Volgens ’n studie van die Verenigde Nasies se Organisasie vir Onderwys, Wetenskap en Kultuur oor die uitwerking van geweld in die media is helde in aksierolprente van die gewildste rolmodelle vir kinders. Van die vyfduisend 12-jariges in 23 lande met wie daar onderhoude gevoer is, het 26 persent gesê dat hierdie rolprenthelde “baie gewilder is as popsterre en musikante (18,5 persent), godsdiensleiers (8 persent) of politici (3 persent)” as hulle rolmodelle wat gedrag betref, sê Brasilië se Jornal da Tarde. Professor Jo Groebel, koördineerder van die studie, sê dat kinders klaarblyklik gewelddadige helde hoofsaaklik sien as rolmodelle van hoe hulle moeilike situasies kan oorleef. Hoe meer kinders aan geweld gewoond raak, waarsku Groebel, hoe makliker sal hulle hulle aan uiterste gedrag skuldig maak. Hy sê voorts: “Die media bevorder die idee dat geweld normaal en lonend is.” Groebel het beklemtoon dat ouers ’n fundamentele rol daarin speel om hulle kinders van leiding te voorsien wat hulle help om tussen fiksie en die werklikheid te onderskei.

Elektroniese hulp vir eensames

In Japan is die “liefdesbieper” die jongste manier waarop eensames ander kan ontmoet, berig die Mainichi Daily News. Die bieper kan vir voorkeuraktiwiteite gestel word: karaoke (om saam met ’n musiekopname te sing), vriende en klets. Sê nou ’n jong man soek ’n jong meisie om mee te gesels. Hy stel sy handpalmgrote elektroniese maatsoeker op “klets”. As hy ’n paar meter van ’n jong meisie af kom wat ook ’n liefdesbieper het en dit op “klets” gestel het, sal die toestelle begin biep en ’n groen lig sal flits. Daar is alreeds 400 000 mense wat die biepers gekoop het. Diegene wat besorg is oor die soort persoon wat hulle dalk sal ontmoet, kan die biepgeluide afskakel en net op die flitsende lig staatmaak. Takeja Takafoeji, beplanningsdirekteur vir die vervaardiger, sê: ‘As jy nie van hierdie middeljarige man hou nie, of as jy glad nie met hom wil praat nie, kan jy eenvoudig wegstap.’

“Hoofoorsaak van sterfgevalle onder jong vroue”

In ekonomies ontwikkelde lande kry mans bo 65 dikwels tering, berig Nando Times. Maar op ’n wêreldskaal, volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), het tering “die hoofoorsaak van sterfgevalle onder jong vroue” geword, sê die verslag. “Vrouens, moeders en broodwinners sterf in hulle fleur”, het dr. Paul Dolin, van die WGO se Wêreldwye Teringprogram, gesê. Deskundiges wat by ’n onlangse mediese seminaar in Gotenburg, Swede, byeengekom het, het gesê dat meer as 900 miljoen vroue regoor die wêreld met tering besmet is. Ongeveer eenmiljoen van hulle sal elke jaar sterf, die meeste tussen die ouderdomme van 15 en 44. Een rede vir hierdie sterftesyfer, volgens Brasilië se koerant O Estado de S. Paulo, is dat baie met die behandeling ophou voordat hulle gesond is.

Besoedelingvrye motor

Motors is ’n groot bron van lugbesoedeling in die groot stede van die wêreld. Om die probleem aan te spreek, het ’n Franse ingenieur ’n stedelike motor ontwerp wat stil en reukloos is en “net op die lug om ons loop”, berig The Guardian Weekly van Londen. Die motorontwerper Guy Nègre het ’n motor ontwerp wat op druklug ry. Minder as twaalf rand se elektrisiteit is nodig om die druklugtenk te vul, waarna die motor tien uur lank in stedelike toestande teen ’n topsnelheid van ongeveer 100 kilometer per uur kan ry. Die motor suig lug van buite af in wanneer die rem getrap word. Weens sy koolstoflugsuiweringstelsel is die uitlaatgasse suiwerder as die lug wat hy insuig. Nadat die Mexikaanse owerheid tientalle toetse op ander besoedelingvrye voertuie gedoen het, het hulle hierdie motor gekies om die 87 000 taxi’s in Mexikostad te vervang.

Besoedelde Alpe

Twaalf jaar ná die ongeluk by die kernkragaanleg by Tjernobil, in die Oekraïne, is Europa se Alpynse halfmaan nog steeds ernstig besoedel deur radioaktiewe neerslag. ’n Onlangse ontleding het getoon dat daar baie hoë vlakke van die radioaktiewe isotoop Sesium-137 is, berig die Franse koerant Le Monde. Op sommige plekke was die radioaktiwiteit 50 maal hoër as die Europese standaard vir kernafval. Die mees besoedelde monsters het gekom uit die Mercantour- Nasionale Park, in suidoostelike Frankryk; die Matterhorn, op die grens tussen Switserland en Italië; Cortina, in Italië, en die Hohe Tauern-park, in Oostenryk. Die owerhede vra nou die betrokke lande om die stralingsvlak van water en van sensitiewe voedselsoorte, soos sampioene en melk, te monitor.

Gesinne wat saam eet

In ’n opname wat onder 527 tieners gedoen is, het dié wat ten minste vyf keer per week aandete saam met hulle gesin geëet het “nie so maklik dwelms gebruik of depressief geraak nie”, en hulle was “meer gemotiveerd op skool en het beter met hulle maats oor die weg gekom”, sê die Kanadese koerant Toronto Star. “Tieners wat as ‘wanaangepas’ beskryf word, het drie dae of minder per week saam met hulle gesin geëet.” Die sielkundige Bruce Brian voer aan dat die gesin se etenstyd “’n kenmerk van ’n gesonde gesin” is. Wanneer ons saam eet, word gesinsbande versterk, verbeter kommunikasievaardighede en bevorder dit ’n samehorigheidsgevoel, sê die verslag, en dit bied ’n geleentheid om tafelmaniere aan te leer en om saam te gesels, te lag en te bid. ’n Volwasse dogter van ’n gesin wat gereeld saam geëet het, sê: “Ek dink nie ek sou so na aan hulle gewees het as wat ek nou is” as ons nie altyd saam geëet het nie.

Doofheid as gevolg van oorfone

Navorsing deur Australië se Nasionale Akoestiese Laboratorium het aan die lig gebring dat selfs die normale gebruik van jou hoëtroustel se oorfone latente skade aan jou ore kan aanrig, berig The Courier-Mail van Brisbane. Die navorser dr. Eric LePage het gesê dat jongmense onwillig is om sulke waarskuwings ernstig op te neem. “Hulle kan hulleself jare lank herhaaldelik aan baie harde klanke of musiek blootstel en hulle dink dat dit geen uitwerking op hulle het nie”, het hy gesê. Een opname het getoon dat waarskuwings “min trefkrag gehad het totdat mense begin doof word het”, het die koerant gesê. Die nuwe navorsing bevestig Duitse studies wat getoon het dat ongeveer ’n kwart van die militêre rekrute daar tussen 16 en 24 alreeds hulle gehoor beskadig het deur na harde musiek te luister en dat “byna 10 persent van die studente tussen 16 en 18 se gehoor so swak is dat hulle sukkel om ’n gewone gesprek te volg”.

Tabak borg sport

Die tabakbedryf se grootskaalse gebruik van sportgeleenthede en ander vermaak om hulle produkte te bevorder, skep “’n positiewe verband tussen sport . . . en sigaretrokery”, sê Rhonda Galbally, van Australië se Victoriaanse Stigting vir die Bevordering van Gesondheid. Gevolglik kan die dikwels subtiele tabakreklame in sport mense beweeg om te rook. Die Kankernavorsingsbeweging in Brittanje het bevind dat “die moontlikheid byna twee keer so groot is dat seuns wat dit geniet om na Formule Een-motorwedrenne op televisie te kyk, sal begin rook”, berig die nuusagentskap Panos. “Regoor Europa bestee tabakmaatskappye elke jaar honderdmiljoene dollars ter ondersteuning van motorwedrenne alleen.” En die motors is mobiele advertensies wat gereeld op televisie verskyn.

Die eerste boere

Die Franse koerant Le Monde berig dat ’n span Europese wetenskaplikes bevind het dat die DNS van sekere soorte wilde koring in die Vrugbare Halfmaan van die Midde-Ooste byna dieselfde is as die gekweekte variëteite wat vandag elders gebruik word. Tesame met koring en ander “oorspronklike gewasse” is daar blykbaar ook in hierdie streek met die eerste mak skape, bokke, varke en beeste geboer. Wetenskaplikes sê dat die gebruik van gekweekte gewasse van daar af regoor Europa en Asië versprei het. Dit is interessant dat party van die eerste landboudorpies waar koring ontdek is wat duisende jare terug dateer suidwes van die Wan-meer en die Araratgebergte geleë is.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel