Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 3/8 bl. 14-18
  • Rio de Janeiro—pragtig en vol uitdagings

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Rio de Janeiro—pragtig en vol uitdagings
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Baaie, strande en volop sonskyn
  • ’n Stad om ’n woud
  • ’n Besoek aan die middestad
  • Sokker en die samba
  • Rio het sy probleme
  • Ander uitdagings
  • Rio is nog steeds pragtig!
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1999
  • Ons het in ons toewysing volhard
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Hoe kan jy in ’n gevaarlike buurt aan die lewe bly?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderskraag deur my vertroue in Jehovah
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 3/8 bl. 14-18

Rio de Janeiro—pragtig en vol uitdagings

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRASILIË

RIO DE JANEIRO het alles—strande, heuwels, mere, tropiese woude. “Die natuurskoon is so mooi dat dit moeilik is om te besluit waar om eerste te kyk!” het een besoeker uitgeroep. Rio de Janeiro, of net Rio, word deur baie beskou as een van die wêreld se mooiste stede. Hoewel die woord “rio” “rivier” beteken, is die stad eintlik by ’n baai geleë.—Sien die venster op bladsy 18.

Met 11 miljoen mense wat in die middestad woon, het Rio natuurlik sy probleme—geweld, werkloosheid en ’n behuisingstekort, om nie eens van besoedeling en chaotiese verkeer te praat nie. Nogtans praat Rio se inwoners met trots daarvan as Cidade Maravilhosa (Wonderlike stad). Soos een Carioca dit gestel het:a “Rio is ’n gelukkige stad. Die strande en heuwels wat ons op ’n sonnige dag op pad werk toe en terug sien, laat ons goed voel.” ’n Geïdealiseerde beskouing? Kom ons kyk.

Baaie, strande en volop sonskyn

Ons beginpunt is Guanabarabaai—die geboorteplek van Rio. Die gebied van 380 vierkante kilometer is besaai met beboste eilande, en dit word omring deur heuwels en berge, waarvan die bekendstes Corcovado (wat “Geboggeld” beteken) en Suikerbroodberg (Portugees, Pão de Açúcar) is. Corcovado se spits is 704 meter bo die baai en het op sy kruin ’n 30 meter hoë standbeeld van Christus wat met ope arms staan en 1 145 ton weeg. Suikerbroodberg wat slegs 395 meter hoog is, kry sy naam van ’n keëlvorm wat deur koloniale suikerraffinadeurs gebruik is. Besoekers kan met ’n klein trein of per motor bo-op Corcovado kom, en ’n kabelkar neem toeriste na die spits van Suikerbrood. Die uitsig oor Rio, wat begrens word deur die diepblou see aan die een kant en die donkergroen woud en die kronkelende kontoere van Rodrigo de Freitas-meer aan die ander kant, is asemrowend.

Strande met fyn wit sand, asook sonskyn—volop daarvan—maak Rio ’n toeristeparadys. Met somertemperature wat 40 grade Celsius bereik, is dit te wagte dat die meer as 70 strande langs Rio se 90 kilometer lange kuslyn stampvol sal wees. Watter strand is die beste? Die antwoord hang af van die persoon wat strand toe gaan. Vir Cariocas is die strand ’n saamkomplek, leeskamer, sokkerveld, vlugbalbaan, kroeg, restaurant, speelplek, konsertsaal, gimnasium en kantoor, asook ’n swemplek. Elke oggend is Rio se promenades vol drawwers en fietsryers. En op sonnige dae is die strande altyd vol. Maar ten spyte van die Cariocas se skynbaar maklike lewenswyse moet hulle hard werk om hulle plek in die son te verdien.

Tot die einde van die 19de eeu is die stad Rio om die strande van Guanabarabaai gebou. Toe het tonnels wat gebou is om die baai met oseaanstrande te verbind daartoe gelei dat die stad in ’n suidelike rigting uitbrei. Met die opening in 1923 van die Copacabana Palace-hotel, een van die eerste luuksehotelle in Suid-Amerika, was Copacabana, die “Klein prinses van die see”, die eerste strand wat beroemd geword het. Later, in die sestigerjare, het Ipanemastrand ’n bymekaarkomplek vir intellektuele en bohémiens geword. As iets in Ipanema nie in die mode was nie, was dit eenvoudig nie in nie. Die jongste en grootste van Rio se strande wat ontwikkel is, is Barra da Tijuca (18 kilometer lank), wat die bynaam Brasiliaanse Miami het. Dit is die tuiste van die stad se grootste winkelsentrums en talle nuwe woongeboue.

’n Stad om ’n woud

Plantegroei is ’n belangrike deel van Rio se natuurskoon, en sy rustige botaniese tuin van 141 hektaar, wat in die middestad geleë is, is net ’n paar minute van die gewoel van die strande. Die tuine wat uit die 19de eeu dateer, huisves meer as 6 200 spesies tropiese plante en bome.

Nog ’n toevlugsoord binne die stad se grense is die Tijucawoud. Dit is ongeveer 20 kilometer van die hart van Rio en dek ’n gebied van meer as 100 vierkante kilometer en is moontlik die grootste stedelike woud in die wêreld. Dit beslaan ’n deel van die Atlantiese woud, wat vroeër al met die Brasiliaanse kuslyn langs gestrek het. Besoekers kan die majestueuse pienk jequitiba sien tesame met die pragtige canelas-santas, wat geel blomme dra. Daar is ook die opvallende blou skoenlappers wat aan die Morpho-spesie behoort. Wat voëls betref, word die kleurvolle groenkop- of rooinekkoningsvoëls dikwels gesien.

’n Besoek aan die middestad

Die middestad van Rio is bedrywig—met haastige mense en baie geraas en hitte. Voetgangers kompeteer vir plek met smouse, wat so te sê alles verkoop, van ingevoerde elektroniese ware tot klere, speserye en middels vir liddorings. Jy kan op ’n tremrit gaan oor die 42 soliede granietboë wat Arcos da Lapa genoem word. Dit is tussen 1712 en 1750 deur Indiane en slawe gebou en was oorspronklik ’n akwaduk wat water na die middestad van Rio vervoer het. Maar in 1896 is ’n tremdiens op die akwaduk ingestel, wat dit in ’n viaduk verander het.

Die middestad sluit ook die Europese deel van die stad in. Die Nasionale Museum van die Skone Kunste, wat tussen 1906 en 1908 gebou is, het ’n voorgewel wat ’n mens aan die Louvre-museum in Parys laat dink, en die gekleurde panele en mosaïekwerk daarvan herinner jou aan die Italiaanse Renaissance. Nog ’n belangrike gebou is die Munisipale Teater, wat in 1909 geopen is, wat sitplek vir ’n gehoor van 2 357 het en gebou is volgens die voorbeeld van die Paryse Operagebou.

Sokker en die samba

Cariocas geniet ’n goeie sokkerwedstryd, en wanneer belangrike ligawedstryde gespeel word, word die Maracanã-stadion die middelpunt van belangstelling. Dit is bekend as die grootste sokkerstadion in die wêreld en was al die gasheer vir wedstryde met ’n bywoning van tot 200 000. Tans word die maksimum getal toeskouers tot 100 000 beperk weens veiligheidsredes sowel as die gerief van die ondersteuners.

’n Gunstelingdans onder Cariocas is die samba, wat sy oorsprong in Afrika het. Regdeur die stad lok sambaskole duisende dansers—mans, vroue en kinders—dikwels van dieselfde buurt. Gedurende karnavaltyd, net voor Vastyd, dans hierdie skole—met tot 5 000 dansers elk—deur die Sambódromo, ’n reuseparadegrond wat spesiaal gebou is tussen twee ewewydige betonpaviljoene wat tot 100 000 mense hou. Ongelukkig het karnavaltyd bekender geword vir oordadighede, wat wissel van dronkbestuur tot dwelmmisbruik en geslagsonsedelikheid.

Rio het sy probleme

Rio de Janeiro was dekades lank Brasilië se nywerheidsentrum, totdat dit in die vyftigerjare deur Sao Paulo verbygesteek is. Die droom van beter lewensomstandighede het talle beweeg om die plattelandse lewe vaarwel te sê en na Rio te verhuis, met die gevolg dat ’n deel van die stad se bevolking gedwing is om in woonstelgeboue te bly terwyl diegene wat nie so gelukkig is nie na die heuwels gegaan en groepies armsalige krotte gebou het—plakkersdorpe, of favelas. Dit is aanvanklik van plaatmateriaal en kartondose gemaak wat uitmekaargehaal is en met sinkplate bedek is. Hulle het geen elektrisiteit, riolering of lopende water gehad nie, maar omdat hulle ten minste naby aan hulle werk gebly het, het dit die inwoners se lewe makliker gemaak. Vandag bedek reuseplakkersdorpe die heuwelhange reg langs die mooi woonstelgeboue om Copacabana en Ipanema. Daar is min plekke in die wêreld waar daar so ’n sigbare kontras tussen die rykes en armes is.

Nuwer plakkershuise is van bakstene gebou. Stadsbeplanners het verbeteringe probeer aanbring deur paaie uit te lê en geriewe te installeer; maar dit is nie ’n maklike taak nie. Volgens ’n onlangse opname woon daar meer as 900 000 mense in Rio se meer as 450 plakkersdorpe. Rocinha, die grootste, het 150 000 inwoners. “Dit is soos ’n stad binne ’n stad”, verduidelik Antônio, wat daar woon maar by ’n bank in Ipanema werk. Inwoners het kabeltelevisie, ’n gemeenskapsradio en ’n FM-radiostasie, asook ’n professionele sokkerspan en ’n sambaskool. Maar die lewe in die plakkersdorp het ’n donker kant. Somerreëns veroorsaak grondstortings in die heuwels, wat tot beserings en selfs sterftes lei. ’n Onlangse herbebossingsprogram het huise verwyder wat in party gevaarlike gebiede gebou was en sodoende die situasie verbeter.

Nog ’n groot probleem is georganiseerde misdaad. Die vernaamste slagoffers daarvan is jongmense wat dwelmhandel hulle loopbaan maak. Die verhouding tussen dwelmhandelaars en inwoners word deur sekere reëls beheer. “Daar is feitlik geen inbrake, roofaanvalle of verkragtings in die plakkersdorpe nie. Niemand waag dit om hierdie misdade te pleeg nie. Mense weet dat hulle tereggestel sal word as hulle dit doen”, verduidelik João, wat al 40 jaar in ’n plakkersdorp woon. Dwelmhandelaars straf misdade wat nie met die dwelmhandel verband hou nie om die ondersteuning en simpatie van die inwoners te kry. “Hoewel dinge ietwat verander het”, voeg João by, “is dit nog steeds algemeen dat inwoners dwelmhandelaars vra om vir begrafnisse te betaal, medisyne of voedsel te koop, agterstallige huur te betaal of geld vir vermaak te gee.”

Ander uitdagings

Aangesien Rio tussen die see en die berge geleë is, het dit op ’n moerasagtige vlakte ontwikkel—’n terrein wat glad nie geskik is vir die ontwikkeling van ’n groot stad nie. Deur die jare heen was dit nodig om ’n “stryd te voer teen hierdie drie elemente: moerasse, die see en die berge”, verduidelik die boek Rio de Janeiro—Cidade e Região (Rio de Janeiro—stad en streek). In hierdie stryd is tallose tonnels gegrawe en grond opgevul sodat verskillende buurte met mekaar verbind is. Die spoorweg het ook ’n belangrike rol gespeel in die bevolking van voorstedelike gebiede, hoewel ’n treinrit deesdae ’n avontuur is. “Daar is soveel mense wat die trein probeer haal dat jy nie nodig het om jou in te span om op te klim nie. Jy word deur die skare vorentoe gedruk”, verduidelik Sérgio, wat vyfuur soggens ’n trein in ’n voorstad moet haal sodat hy sewe-uur by die werk kan wees. Die treine is so vol dat hulle dikwels die stasies verlaat met hulle deure oop en met passasiers wat aan die kante van die waens vashou. Die waaghalsigste Cariocas ry selfs bo-op die waens. Enige misrekening terwyl hulle vir die elektriese kabels koes, sal amper verseker hulle dood beteken.

Nog ’n uitdaging is die bewaring van Guanabarabaai, ’n simbool van die stad se skoonheid. Volgens ’n verslag van die Wêreldbank is die water daarvan op party plekke “byna soos onverwerkte riool as gevolg van die groot hoeveelhede nywerheidsafvalwater en onbehandelde (of gedeeltelik behandelde) riool wat daarin gestort word”. Die skade is ontsaglik en sluit ’n vermindering in die aantal visspesies in, wat 70 000 vissermanne raak wat van die baai afhanklik is vir hulle bestaan. Besoedelde strande jaag ook toeriste weg. Die regering het probeer om die rioolstelsel te verbeter en toesig oor nywerhede te hou. Rio se antibesoedelingsveldtog het twee dolfyne as hulle simbool gekies. Organiseerders voorspel dat daar voor die jaar 2025 weer dolfyne in Guanabarabaai sal swem!

Rio is nog steeds pragtig!

Wat is jou bevinding ná hierdie vinnig kykie na Rio? Vir die meeste toeriste en Cariocas is Rio nog steeds pragtig! En wat van die uitdagings? Dit sou goed wees as dit die hoof gebied kan word. Maar al wat Cariocas tot dan kan doen, is om so goed moontlik by die stad se probleme aan te pas en om sy pragtige omgewing te geniet. Dit is wat hulle geleer het om te doen, met vernuf en humor.

[Voetnoot]

a “Carioca” verwys na enige boorling of inwoner van Rio de Janeiro.

[Venster/Prent op bladsy 18]

Mylpale in Rio se geskiedenis

1502: Op 1 Januarie sien André Gonçalves, ’n Portugese seevaarder, die ingang tot Guanabarabaai aan vir ’n riviermond en gee hy die baai die naam Rio de Janeiro (Rivier van Januarie).

1565: Estácio de Sá, hoof van die Portugese magte, begin ’n klein nedersetting tussen die heuwels van Suikerbroodberg en Cara de Cão om die Franse teë te staan, wat ook op die streek aanspraak gemaak het. Hierdie nedersetting word die stad Rio.

1763: In ’n poging om beheer uit te oefen oor die groot hoeveelhede goud en diamante wat van die naburige staat Minas Gerais deur die hawe na Portugal gaan, verhef die Portugese Rio tot die status van hoofstad. Die Afrikaslawehandel kry momentum.

1808: Die Portugese koningshuis kom in Rio aan om die naderende inval van Portugal deur Napoleon I te ontvlug, en dit word die tydelike setel van die Portugese monargie. Rio bly die hoofstad totdat Brasília in 1960 gebou is.

[Erkenning]

FOTO: MOURA

[Prent op bladsy 16, 17]

Barra da Tijuca-strand

[Prent op bladsy 17]

Maracanã, die wêreld se grootste sokkerstadion

[Prent op bladsy 18]

Arcos da Lapa, die akwaduk wat ’n viaduk geword het

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel