Ek dank Jehovah vir my vyf seuns
SOOS VERTEL DEUR HELEN SAULSBERY
Die 2de Maart 1997 was een van die hartseerste dae van my lewe. Ongeveer 600 vriende en familielede was byeen in Wilmington, Delaware, VSA, vir die begrafnis van my geliefde man, Dean. Hy was ’n Christen- ouer man en die presiderende opsiener van ’n gemeente van Jehovah se Getuies. Wanneer ek aan ons 40 gelukkige jare van getroude lewe dink, het ek so baie waarvoor ek dankbaar kan wees. Ek weet dat Dean nou op die veiligste plek is, in die geheue van God die Almagtige, en dat ons Dean in die toekoms sal sien.
DEAN het in 1950 by die lugmag aangesluit nadat hy sy hoërskoolopleiding voltooi het. Hy was nie ’n godsdienstige man nie en het nie saamgestem met die leringe van die Katolieke Kerk waarvoor ek destyds so lief was nie. Maar ons het ooreengekom om ons kinders as Katolieke groot te maak. Ons het elke aand op ons knieë gegaan en stil gebid. Ek het my Katolieke gebede opgesê, en Dean het gesê wat ook al in sy hart was. In die jare daarna is ons vyf seuns gebore: Bill, Jim, Dean jr., Joe en Charlie.
Ek was ’n getroue kerkganger en het altyd die seuns saam met my geneem. Maar die kerk het my teleurgestel, veral weens die betrokkenheid daarvan by die Viëtnamoorlog. Wyle kardinaal Spellman het vir mense wat moontlik die gepastheid van die Verenigde State se betrokkenheid bevraagteken het, gesê: “My land reg of verkeerd.” Ek kon dit nie goedkeur dat my seuns gaan veg nie, al was my kerk daarby betrokke. Maar ek het gebid dat ten minste een van hulle ’n priester en my man ’n Katoliek sou word.
’n Verandering in denke
Een Saterdagaand het ek saam met ’n paar Katolieke vriende en ’n plaaslike priester gesellig verkeer. Ons het gedrink en die aand geniet toe een van die vroue die priester vra: “Vader, is dit werklik ’n doodsonde as ’n mens ná so ’n partytjie nie die volgende oggend kan opstaan om die mis by te woon nie?”
“Nee, nee”, het hy geantwoord. “Dis alles in orde. Dinsdagaand hou ons ’n mis by die pastorie. Dan kan jy vir die mis kom en só jou verpligting nakom.”
Ek is van kleins af geleer dat jy die mis Sondag móét bywoon, al gebeur wat ook al. Toe ek nie met hom saamstem nie, het hy gevloek en woedend gesê dat ’n vrou nie ’n priester mag teregwys nie.
Ek het by myself gedink: ‘Bid ek dat my seuns só moet word?’ Al het ek geweet dat nie alle priesters so is nie, het dit my laat wonder.
Gedurende die middelsestigerjare het Jehovah se Getuies ons in Philadelphia, Pennsilvanië, en later in Newark, Delaware, besoek. Hoewel ek hulle Christelike ywer bewonder het, het ek altyd gesê: “Jammer. Ek stel nie belang nie; ek is ’n Katoliek.”
Toe, een koue Novemberoggend in 1970, het die Getuies weer gekom. Hulle het ’n vraag oor die Bybel gevra en Psalm 119:105 gelees: “U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad.” Daardie woorde het my getref. Ek onthou nog hoe ek by myself gedink het: ‘Die Bybel! Miskien is dit die antwoord, maar ek besit nie eers een nie.’ Ek is geleer dat Katolieke nie ’n Bybel nodig het nie, dat dit ons sal verwar en dat net priesters die Bybel kon lees en verduidelik. Ek het gedink dat ek ’n getroue Katoliek is deur nie een te besit nie.
Daardie dag het ek die Bybelstudiehulp Die waarheid wat lei tot die ewige lewe by die Getuies geneem. Ek het dit daardie week gelees en eenvoudig geweet dat ek die waarheid gevind het! Die Getuies het teruggekeer met twee Bybels, waarvan een ’n Katolieke vertaling was. Ek was verbaas om te sien dat die tekste wat in daardie Bybelstudiehulp aangehaal is reg daar in die Katolieke Bybel was. Op daardie tydstip is ’n progressiewe tuisbybelstudie met my begin, en ek is in Augustus 1972 gedoop, saam met my suster Sally, wat ook die Bybel begin bestudeer het.
My man, Dean, het my nooit teëgestaan nie, maar hy was verbaas om te sien dat ek in iets anders as die Katolieke godsdiens belangstelling toon. Hy het altyd geluister na wat ek te sê het en my fyn dopgehou. Voorheen het dit gelyk of ek altyd op die seuns geskreeu het om hulle te kry om na my te luister. Maar ek het geleer dat die Bybel teen “gramskap en geskreeu en smadende taal” waarsku (Efesiërs 4:31, 32). Buitendien leer ’n mens kinders nie deur op hulle te skreeu nie. Eenkeer het ek toevallig gehoor hoe my man met sy ma oor Jehovah se Getuies praat: “Ma, daardie mense se woorde en dade stem ooreen!” Nie lank daarna nie het hy tot ’n Bybelstudie ingestem. Dean het in Januarie 1975 ’n gedoopte Getuie geword.
Die opleiding van ons vyf seuns
Toe ek na die Koninkryksaal begin gaan het, het ek gedink dat die vergaderinge nogal lank vir my seuns is. Ek het hulle dus by die huis by hulle pa gelos. Dit was aangenaam en ontspannend vir my om alleen te gaan. Maar toe het ’n spreker by ons vergadering oor die lengte van Christelike vergaderinge gepraat en gevra: “Het jy al ooit gedink aan hoe lank jou kinders voor die televisie kan sit?” Dit is juis waar my seuns op daardie oomblik was! Ek het dus gedink: ‘Dit moet nóú end kry! Hulle kom saam met my!’ My man het ingestem om die seuns saam met my te laat kom, en mettertyd het hy ook die vergaderinge begin bywoon.
Gereelde vergaderingbywoning het aan ons gesinslewe ’n vaste roetine en stabiliteit gegee. Maar dit was nie al nie. Ek en Dean het altyd probeer sien hoe ons as ouers kon verbeter deur te erken wanneer ons verkeerd was en deur Bybelbeginsels nougeset toe te pas. Ons het nooit dubbele standaarde toegelaat nie. Wat goed was vir my en my man was goed vir ons seuns. Gereeldheid in die openbare predikingswerk was noodsaaklik.
Wat vermaak betref, is geen gewelddadige, onsedelike rolprente toegelaat nie. Ons het altyd heilsame gesinsbedrywighede saam geniet, soos yskaats, kegelspel, minigolf, om na pretparke te gaan, piekniek te hou en pizza op Vrydagaande te eet. En Dean was die liefdevolle hoof van ons gesin. Gedurende ons hele getroude lewe het ons besef dat dit die manier is wat dinge veronderstel is om te wees.—Efesiërs 5:22, 23.
Toe Jehovah se Getuies in 1970 met my begin studeer het, was Billy 12, Jimmy 11, Dean jr. 9, Joe 7 en Charlie 2. Hulle was reeds gewoond daaraan om kerk toe te gaan, maar nou het hulle die Bybel geleer. Dit was opwindend vir ons. Ek het vir hulle gesê: “Kyk! Kyk hierna! Kom hier!” Hulle sou dan kom, en ons sou opgewonde iets bespreek wat vir ons nuut was. Deur ons studie van die hoogste gesag op aarde, die Bybel, het die seuns geleer om Jehovah lief te kry en om teenoor hom as hulle God en Skepper aanspreeklik te voel—nie net teenoor hulle pa en ma nie.
Voordat ons Bybelwaarhede geleer het, het ons baie skuld aangegaan. Ons het ons huis verkoop en een gehuur sodat ons van die skuld kon afbetaal. Ons het ook ons nuwe motor verkoop en ’n tweedehandse een gekoop. Ons het ons lewe so eenvoudig moontlik probeer hou. Dit het my in staat gestel om tuis te bly by die seuns en nie sekulêr te werk nie. Ons het gevoel dat ons seuns ’n ma by die huis nodig het. Dit het my ook die geleentheid gegee om meer tyd in die Christelike bediening deur te bring wanneer die seuns by die skool was. Uiteindelik kon ek, in September 1983, ’n pionier (voltydse bedienaar) word. Ons seuns het weliswaar nie altyd die beste op materiële gebied gehad nie, maar hulle het nie gevoel dat hulle onnodig dinge ontsê is nie. Hulle almal het na ’n tegniese hoërskool gegaan en het ambagte soos tuinbou, timmerwerk, motorwerktuigkunde en grafiese kuns geleer. Hulle was dus toegerus om ’n bestaan te maak.
Ek het dikwels oor ons gesinslewe nagedink en by myself gesê: ‘Ek dink ons is een van die gelukkigste gesinne op hierdie aarde, selfs al het ons min materiële dinge.’ Eerlank het Dean na voorregte in die gemeente begin streef, en die seuns het ook. In 1982 is Dean as ’n Christen- ouer man aangestel. Agt jaar later, in 1990, is ons oudste seun, Bill, as ’n ouer man aangestel. Toe is Joe daardie selfde jaar aangestel, Dean jr. in 1991, Charlie in 1992 en Jim in 1993.
Ek weet dat ons as ouers party dinge verkeerd gedoen het, en dit is nie altyd maklik om te onthou watter dinge ons reg gedoen het nie. ’n Vriend het my seuns gevra wat hulle van hulle vroeë jare as Christene onthou en veral watter Bybelbeginsels hulle in hulle vroeë opleiding geleer het wat hulle gehelp het om daarna te streef om as Christen- ouer manne te kwalifiseer. Hulle kommentare verbly my hart.
Wat my seuns te sê het
Bill: “Ek onthou nog baie goed wat ons in Romeine 12:9-12 geleer het. Dit lui gedeeltelik: ‘In broederliefde moet julle tere geneentheid vir mekaar hê. Neem die leiding in eerbetoning aan mekaar. . . . Gloei van die gees. . . . Verheug julle in die hoop.’ My ouers het die vermoë gehad om te wys wat dit beteken om mense lief te hê. ’n Mens kon sien dat dit hulle gelukkig gemaak het om liefde aan ander te betoon. Dit was hierdie liefdevolle atmosfeer in ons huis wat Bybelwaarhede ’n deel van ons denke gemaak het. Dit is wat ons in die waarheid gehou het. My ouers het Bybelwaarheid met hulle hele hart liefgehad. Gevolglik was dit nooit vir my moeilik om die waarheid lief te hê nie, en dit was nog nooit moeilik om daaraan vas te hou nie.”
Jim: “Een van die vernaamste beginsels waaraan ek kan dink, is die een in Matteus 5:37: ‘Laat julle woord Ja eenvoudig Ja beteken, julle Nee, Nee; want wat meer as dit is, is uit die bose.’ Ek en my broers het altyd geweet wat ons ouers van ons verwag het, en ons het in hulle sprekende voorbeelde gesien van hoe Christene moet wees. Die twee van hulle was altyd in harmonie. Hulle het nooit gestry nie. As hulle ooit oor iets verskil het, het ons seuns nooit daarvan geweet nie. Hulle was eensgesind, en dit het beslis ’n groot indruk op ons almal gemaak. Ons wou nie ons ma en pa, en veral nie Jehovah, teleurstel nie.”
Dean: “Spreuke 15:1 sê: ‘’n Sagte antwoord keer die grimmigheid af, maar ’n krenkende woord laat die toorn opkom.’ My pa was saggeaard. Ek kan nie onthou dat ek ooit ’n argument met hom gehad het nie—selfs nie eers toe ek ’n tiener was nie. Hy was altyd baie sag, selfs wanneer hy ontsteld was. Partykeer het hy my na my kamer gestuur of my sekere voorregte ontneem, maar ons het nooit baklei nie. Hy was nie net ons pa nie. Hy was ook ons vriend, en ons wou hom nie teleurstel nie.”
Joe: “In 2 Korintiërs 10:5 sê die Bybel: ‘Ons bring elke gedagte in gevangenskap om dit aan die Christus gehoorsaam te maak.’ In ons huis is ons geleer om gehoorsaam aan Jehovah se standaarde en riglyne te wees. Die waarheid was ons lewe. Vergaderingbywoning was ’n lewenswyse. Die gedagte om enigiets anders op ’n vergaderingaand te doen, is nog steeds vir my vreemd. Die Christelike bediening was ook ’n gereelde deel van ons lewe—nooit ’n opsie nie. Ons vriende was by die Koninkryksaal. Daar was geen rede om elders te soek nie. Wat meer kan ’n pa vir sy kinders doen as om hulle op die weg na die lewe te plaas!”
Charlie: “Spreuke 1:7 is helder in my gedagte. Dit lui: ‘Die vrees van [Jehovah, NW] is die beginsel van die kennis; sotte verag wysheid en tug.’ My ouers het ons gehelp om te besef dat Jehovah werklik is en om in te sien hoe belangrik dit is om vrees en liefde vir hom te ontwikkel. Hulle sou met ons redeneer deur te sê: ‘Moenie dit doen omdat ons vir julle sê julle moet nie. Wat dink julle? Hoe dink julle voel Jehovah wanneer hy dit sien? Hoe dink julle voel Satan?’
“Dit het ons herinner aan die geskil waaroor alles gaan. My pa en ma kon nie altyd by ons wees nie. Hulle kon net soveel doen om Bybelwaarhede in ons harte en verstande in te skerp. Ons was alleen by die skool, by die werk en saam met ons vriende. Daardie heilsame vrees vir Jehovah het ’n groot verskil in ons gemaak—en is vandag nog deel van ons.
“My ma het ook gedurigdeur oor haar pionierbediening gepraat en oor die goeie ondervindinge wat sy geniet het. Sy was altyd baie positief oor die bediening, en dit het ’n wonderlike uitwerking op ons gehad. Ons het ’n liefde vir mense ontwikkel soos wat sy het, en ons het geleer dat die bediening van huis tot huis baie genotvol kan wees.”
Redes om dankbaar te wees
My seuns is nou getroud, en ek het vyf lieflike skoondogters, wat almal Jehovah getrou dien. Ek is ook geseën met nog vyf seuns—ja, vyf kleinseuns! Almal word grootgemaak om Jehovah lief te hê en om sy Koninkryk die heel eerste plek in hulle lewe te gee. Ons bid dat hulle eendag ouer manne sal wees, soos hulle pa’s is en hulle oupa was.
Nie lank ná Dean se dood nie het een van my seuns geskryf: “Ek gaan my pa werklik mis, want hy slaap nou. Geen pyn meer nie. Geen lyding meer nie. Geen operasies, naalde en voedingsbuise nie—net vrede. Ek het nie die geleentheid gehad om hom te groet voor hy dood is nie. Dinge werk nie altyd uit soos jy beplan nie. Ek kan net sê dat ek vasbeslote is om my lewe so te lei dat ek daar sal wees om hallo te sê!”
Hoe dank ek Jehovah tog vir my liefdevolle man en die vaste hoop op die opstanding! (Johannes 5:28, 29). En hoe dank ek Hom tog vir my vyf seuns!
[Prent op bladsy 23]
Helen Saulsbery en haar gesin vandag