Die uitdagings en seëninge om sewe seuns groot te maak
Soos vertel deur Bert en Margaret Dickman
Ek is in 1927 in Omaha, Nebraska, VSA, gebore en het in Suid-Dakota grootgeword. Ek onthou nog my kinderdae gedurende die moeilike jare van die Groot Depressie (1929-42). My ma het altyd sop gemaak wat sy begraafplaasbrousel genoem het. Sy het ’n bietjie vet in die braaipan gegooi en water daarby gevoeg, en dan het ons ons brood daarin gedoop. Baie gesinne het swaar gekry gedurende daardie tyd.
ONS gesin was nie godsdienstig nie—ons het te veel geveinsdheid in die plaaslike Protestantse godsdienste gesien. En mý denke is gevorm deur die twee jaar wat ek gedurende die Tweede Wêreldoorlog in die leër was. Dit was toe dat ek ’n liefde vir drank en dobbel ontwikkel het.
Terwyl ek met verlof van die leër af weg was, het ek na ’n dansparty in die dorp gegaan en Margaret Schlaht, ’n meisie van Duits-Oekraïense afkoms, ontmoet. Ons het verlief geraak, en nadat ons drie maande uitgegaan het, het ons in 1946 getrou. Binne agt jaar het ons sewe seuns gehad, en ons het op die harde manier geleer wat dit beteken om ouers te wees.
In 1951 het ek ’n ernstige ongeluk by die saagmeule gehad en byna my linkervoorarm verloor. Ek moes twee jaar lank in die hospitaal bly vir vel- en beenoorplantings. Intussen moes Margaret met vyf seuns na alles omsien. Danksy vriende en bure het sy deur daardie moeilike tyd gekom. Terwyl ek in die hospitaal was, het ek baie tyd gehad om oor die doel van die lewe na te dink. Ek het die Bybel probeer lees, maar het nie regtig verstaan wat ek gelees het nie.
Kort nadat ek uit die hospitaal ontslaan is, het ons na Opportunity, ’n dorp in die staat Washington, verhuis en het ek saam met my swaer bouwerk begin doen. Ek sal Margaret nou ’n kans gee om haar deel van die verhaal te vertel.
Ek het my hande vol gehad!
Ek het grootgeword op ’n plaas waar ons graan gekweek, ’n paar melkkoeie geteel en vrugte en groente ingelê het. Ek glo dit is goed om hard te werk, en dit het my voorberei vir toekomstige uitdagings van die lewe, waarvan daar baie sou wees. Ons het beter as baie ander mense deur die Depressie gekom, aangesien ons ten minste altyd kos gehad het.
My ouers het glad nie in godsdiens belanggestel nie, hoewel ek nou en dan Sondagskool toe gegaan het. Op die ouderdom van 19 is ek en Bert getroud. Ons het nie in ’n kerk getrou nie—ons het net ’n eenvoudige seremonie in die sitkamer van my ouers se huis gehad, met ’n predikant van die Kongregasionalistiese Kerk wat ons getrou het. Die volgende paar jaar het ek geboorte gegee aan sewe seuns—Richard, Dan, Doug, Gary, Michael, Ken en laastens Scott in 1954. Hulle was werklik ’n hand vol!
Nadat ons na Opportunity verhuis het, het ’n vrou ons besoek om oor die Bybel te gesels. Ek het haar gevra of sy aan ’n helse vuur glo, ’n leerstelling wat my baie bang gemaak het. Tot my verligting het sy verduidelik dat die helse vuur nie ’n Bybellering is nie en dat selfs die leerstelling van die onsterflikheid van die siel nie in die Bybel is nie! Ek was altyd verskriklik bang om dood te gaan en kon nie die leerstelling van die helse vuur met ’n God van liefde versoen nie. Ek het my voorgeneem om nooit sulke valse leerstellings vir my kinders te leer nie.
In 1955 het ek die Bybel met behulp van die boek “Laat God waaragtig wees” a begin studeer. Jy sal dit nie glo nie, maar dit was juis toe dat die predikant van die Pinksterkerk skielik in my begin belangstel het en my van Jehovah se Getuies wou red! Maar hy het ’n groot fout begaan—hy het vir my oor die helse vuur begin preek! Hy het selfs drie van die Pinksterkerk se vroue gestuur om my te probeer afraai om saam met die Getuies te studeer.
Intussen het Bert in die sitkamer geluister wanneer ek my Bybelstudie gehad het. Later het hy die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte begin lees, en dinge het vir hom duideliker begin word. Hy het ’n skof gewerk wat om middernag geëindig het. Ek was natuurlik al in die bed wanneer hy saans by die huis gekom het. Een aand het ek stilletjies met die trap afgeloop en gesien hoe hy my boeke in die geheim lees! Ek het op my tone terug bed toe geloop, in my noppies dat hy besig was om self ondersoek in te stel. Later het hy ook die Bybel begin studeer, en in 1956 het ons gedoopte Getuies geword.
Aangesien ek binne agt jaar sewe seuns gehad het, was dit vir my ’n uitdaging om al die daaglikse take gedoen te kry, soos om vir die kinders kos te gee, hulle aan te trek en die huis skoon en netjies te hou. Die seuns het geleer om hulle deel in die huis te doen. Ek het al dikwels gesê dat ek nie ’n outomatiese skottelgoedwasser gehad het nie—ek het sewe gehad! Elkeen het ’n beurt gekry om hierdie noodsaaklike taak te verrig. Bert was natuurlik ’n groot hulp. Hy het konsekwente dissipline en huisreëls toegepas, en tog ook die kommunikasiekanale oopgehou. Die seuns het respek vir hulle pa gehad, maar hulle was nie vir hom bang nie. Bert het ook nooit sy plig nagelaat om met sy seuns oor geslagsake te praat nie.
Richard, ons oudste seun, het in 1966 as ’n vrywillige werker by die Wagtoringgenootskap se hoofkwartier in Brooklyn, New York, gaan dien. Om my eerste seun uit die huis te sien gaan, was vir my ’n baie groot toets. Daardie leë stoel by die tafel het my elke dag hartseer gemaak. Maar ek was bly dat hy goeie ondervinding en opleiding kry.
Bert sal die storie verder vertel.
Ons seuns word volgens Bybelbeginsels grootgemaak
Ek en Margaret is by ’n streekbyeenkoms in Spokane, Washington, gedoop. Ons het dus nou die uitdaging gehad om ons seuns volgens Bybelbeginsels groot te maak—wat ’n mens eintlik die outydse manier kan noem. Ek het geen leuens of enige dubbele standaarde geduld nie, en die seuns het dit geweet. Ons het hulle geleer dat Jehovah die beste verdien.
Hulle het egter geweet dat hulle my in hulle vertroue kon neem omdat ons ’n hegte verhouding gehad het en soveel dinge saam gedoen het. As ’n gesin het ons dit geniet om strand toe te gaan, piekniek in die berg te hou en sagtebal te speel. Ons het diere en ’n tuin gehad, en al die seuns het ingespring en gehelp met wat ook al gedoen moes word. Sodoende het hulle geleer om te werk en te speel. Ons het ’n balans in ons bedrywighede probeer handhaaf.
’n Teokratiese avontuur
Wat die geestelike sy van ons lewe betref, het ons almal saam na Christelike vergaderinge by die Koninkryksaal gegaan, en ons het ons gereelde gesinsbybelstudie gehad. In 1957 het ons ’n streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies in Seattle, Washington, bygewoon. Gedurende die program is gesinne gevra om na gebiede te verhuis waar Getuies nodig was om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig. Ons gesin het gedink dat dit ’n goeie idee is, en ons het planne begin maak om te verhuis. Ons het in 1958 eers na Missouri gegaan en toe in 1959 na Mississippi.
In 1958 het ons ons eerste groot teokratiese avontuur gehad. Ek het ’n kampeerwa gebou, en ons het dit gesleep met ’n ou 1947 DeSoto wat ses silinders gehad het. Daardie jaar het al nege van ons in daardie motor na New York gereis om ’n internasionale byeenkoms by te woon. Ons het etlike weke op die pad deurgebring en gekampeer op ons roete van Spokane, aan die Weskus, na New York—’n afstand van meer as 4 200 kilometer! Die seuns dink gewoonlik terug aan daardie reis as ’n aangename tyd en groot pret.
’n Koek help met dissipline
By daardie byeenkoms het ons ons eksemplare gekry van die boek Van die verlore paradys tot die herwonne paradys.b Ons het toe hierdie boek saam met die Bybel vir ons weeklikse gesinsbybelstudie begin gebruik. Al die seuns het op ’n vroeë ouderdom leer lees. Ná skool het Marge tyd saam met die seuns deurgebring en geluister hoe hulle die Bybel lees. Ons het nie toegelaat dat hulle verstande deur die TV beïnvloed word nie.
Ons het dissipline en respek in die gesin gehad. By een geleentheid het Margaret ’n groot koek gebak—soos net sy kon. Die ete het daardie dag wortels ingesluit. Ons het altyd die seuns aangemoedig om ten minste ’n bietjie groente te eet. Doug het nie van wortels gehou nie. Ons het vir hom gesê dat hy nie koek kon kry as hy nie sy wortels eet nie. Hy het nog steeds geweier om al sy kos te eet. Margaret het gesê: “As jy nie jou wortels eet nie, kry die hond jou koek.” Ek dink nie dat Doug haar regtig geglo het totdat hy gesien het hoe Blackie sy heerlike koek verorber nie! Hy het ’n les uit daardie ondervinding geleer, en so ook die ander seuns. As ouers het ons bedoel wat ons sê.
Die lewe was pret
Ek en Margaret is deur Jesus se woorde in Matteus 6:33 gelei: “Hou dan aan om eers die koninkryk en sy regverdigheid te soek, en al hierdie ander dinge sal vir julle bygevoeg word.” As ’n gesin het ons Koninkryksbelange eerste probeer stel. Ons almal het dit geniet om saam aan die predikingswerk deel te neem, en die seuns het beurte gemaak om saam met my van huis tot huis te werk. Elkeen het sy eie tas, Bybel en Bybellektuur gehad. Ons het hulle geprys vir enige vordering wat hulle gemaak het. Margaret het hulle dikwels styf vasgedruk. Om die waarheid te sê, ons het gereeld vir hulle gewys dat ons hulle liefhet. Ons het altyd tyd vir die seuns gemaak—die lewe was pret!
Namate die seuns grootgeword het, het hulle verantwoordelikhede begin kry, soos om mense na die vergaderinge te vervoer, die Koninkryksaal oop te sluit en met ander take te help. Hulle het geleer om die Koninkryksaal as hulle plek van aanbidding te waardeer en het dit geniet om met die instandhouding daarvan te help.
Ons het hulle aangemoedig om by Christelike vergaderinge kommentaar te lewer. Hulle het kort studentetoesprake in die Teokratiese Bedieningskool gehou, waar hulle geleidelik geleer het om goeie sprekers te wees. Michael, ons vyfde seun, het glad nie van toesprake gehou nie en die verhoog was vir hom ’n nagmerrie. Halfpad deur sy toesprake het hy uit frustrasie begin huil, want hy kon dit nie voltooi nie. Mettertyd het hy sy vrees oorkom, en as ’n getroude man dien hy nou as ’n reisende opsiener wat verskillende gemeentes besoek en verskeie toesprake elke week hou. Wat ’n verandering!
Die seuns se beskouing van dissipline
Ontwaak! het met Michael gesels oor hoe hy daaroor voel dat hy op die outydse manier grootgemaak is. “Ons het my pa beskou as iemand wat dissipline op ’n liefdevolle wyse handhaaf. Ek onthou nog hoe ek as ’n tiener by ’n radiostasie gaan werk het. Ek wou ’n motor hê sodat ek ook aan die voltydse pionierbediening kon deelneem. Die bestuurder van die radiostasie het my sy 2-deur-Ford Mustang met afslaankap aangebied, ’n spoggerige motor wat gewild was onder jongmense. Ek het my hart daarop gesit, al het ek geweet dat dit nie juis ’n praktiese motor is om mense saam met my in die bediening te neem nie. Ek het half huiwerig na my pa toe gegaan. Toe ek hom van die aanbod vertel, het hy gesê: ‘Kom ons gesels ’n bietjie daaroor.’ Ek het geweet wat dit beteken! Hy het met my geredeneer en my gehelp om die voordele van ’n meer praktiese motor te sien. Ek het dus ’n 4-deur-sedan gekoop, en nadat ek meer as 160 000 kilometer in my predikingstoewysing daarmee gery het, kon ek maar net sê: ‘My pa was weer eens reg.’
“Dit was vir ons as kinders opwindend om van Washington na Missouri en toe na Mississippi te trek. Ons het dit geniet. Hoewel al nege van ons ’n jaar lank in ’n karavaan moes woon wat 2,5 meter by 11 meter groot was, was dit alles groot pret en het dit ons geleer om georganiseerd te wees en goed met mekaar oor die weg te kom, selfs in ’n beknopte woonruimte. Ons het natuurlik ook baie buite gespeel.
“Iets anders wat ek kan onthou en wat vir my ’n kosbare herinnering is, is hoe my pa die dagteks met ons bespreek het. In 1966 het hy ’n skool vir ouer manne by Kingdom Farm, in South Lansing, New York, bygewoon, en hy het gesien dat die Bethelgesin navorsing doen om hulle kommentare oor die teks vir elke dag te gee. Hy het dieselfde reëling by ons gesinsroetine ingesluit. Elk van ons sewe seuns moes een oggend van die week kommentaar lewer oor wat ons nagevors het. Al het ons soms daaroor gebrom, het dit ons geleer hoe om navorsing te doen en onsself uit te druk. Sulke gewoontes vergeet ’n mens nooit.
“Die opofferinge wat my ma en pa ter wille van ons gedoen het, het ’n groot indruk op my gemaak. Toe my twee ouer broers Richard en Dan geld vir die gesin kon verdien het, het ons ouers hulle aangespoor om as vrywilligers by die wêreldhoofkwartier van die Wagtoringgenootskap in Brooklyn, New York, te gaan dien. Ons ouers het ook geld gespaar sodat vyf van ons na New York kon vlieg om self die hoofkwartier te gaan sien. Dit het ’n diep indruk op my gemaak. Dit het ons waardering vir Jehovah se organisasie vergroot.
“Maar laat my pa verder vertel.”
Ons het terugslae gehad
Soos enige ander gesin het ons ons probleme en terugslae gehad. Toe die seuns oud genoeg was om ’n meisie die hof te maak, moes ek hulle raad gee om nie met die eerste meisie te trou waarvan hulle hou nie. Ons het ook seker gemaak dat hulle altyd ’n chaperone het. Ons wou hê dat hulle eers ’n bietjie ondervinding in die lewe opdoen voordat hulle ’n lewenslange maat kies. Soms is trane gestort en was daar selfs tydelik gebroke harte, maar hulle het op die lange duur die wysheid van Bybelraad ingesien—veral die raad om “in die Here” te trou. Ons het hulle vir hulle wysheid geprys.—1 Korintiërs 7:39.
Scott, ons sewende seun, het ons harte gebreek. Hy het met slegte vriende by die werk begin assosieer. Later is hy uit die gemeente gesit. Dit was vir ons almal ’n harde slag, maar ons het die ouer manne se regterlike beslissing gerespekteer. Scott moes op die harde manier leer dat diens aan Jehovah die beste lewensweg is.
Ons het nooit hoop opgegee dat hy na die gemeente sou terugkom nie. Gelukkig is hy ná vyf jaar in die gemeente herstel. As hy daaraan terugdink, sê hy: “Een ding wat my gehelp het terwyl ek uitgesit was, was die wete dat almal in die gesin my liefhet, hoewel assosiasie met my familie baie beperk was.” Scott het aangehou om vooruitgang te maak en dien al die afgelope agt jaar as ’n ouer man.
Ongelukkig is twee van ons kleinkinders in onlangse jare uitgesit. Maar ons het die vertroosting dat dissipline van Jehovah positiewe veranderinge tot gevolg kan hê.
’n Groot verandering in ons lewe
Teen 1978 was al die seuns uit die huis uit. Deur die jare heen het ek ondervinding opgedoen in verwarming-, ventilasie- en lugversorgingstelsels. In 1980 het ek en Margaret ’n ongelooflike uitnodiging ontvang om nege maande lank by die hoofkwartier van die Wagtoringgenootskap in Brooklyn te dien. Dit is nou agtien jaar later, en ons is nog steeds hier!
Ons is ryklik geseën. Dit was nie altyd maklik om ons seuns op die outydse manier, dit wil sê volgens Bybelbeginsels, groot te maak nie, maar dit het in ons geval goeie vrugte afgewerp. Ons huidige gesinsituasie is dat vyf van ons seuns as gemeentelike ouer manne dien, en een is ’n reisende opsiener. Ons het 20 kleinkinders en 4 agterkleinkinders—en die meeste van hulle is in die waarheid en getrou aan God.
Ons het die waaragtigheid van die woorde van die psalmis gesien: “Kyk, seuns is ’n erfdeel van die HERE; die vrug van die moederskoot is ’n beloning. Soos pyle in die hand van ’n held, so is die seuns van die jeug.”—Psalm 127:3, 4.
[Voetnote]
a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., in 1946; nou uit druk.
b Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
[Prent op bladsy 20, 21]
Saam met ons seuns en skoondogters (regs) en die kleinkinders (heel regs) by ons 50ste huweliksherdenking, in 1996