Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 3/22 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Moedersmelk is die beste
  • Armoede—Geen land word gespaar nie
  • Nie werklik lieftallig nie
  • Voortekens van Nazi-slagting verskyn weer
  • Kinders—oorlogslagoffers
  • Vatikaan op die web
  • Hulle kies om siek te bly
  • Lomerige bestuurders
  • Hoeveel bakterieë?
  • Oorwinning en tragedie
    Ontwaak!—1997
  • ’n Nuwe wapen in die stryd teen tuberkulose
    Ontwaak!—1999
  • ’n Dodelike bondgenootskap
    Ontwaak!—1998
  • Kyk, die magtige seekoei!
    Ontwaak!—2003
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 3/22 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Moedersmelk is die beste

“Borsmelk is die moeder van alle geneesmiddels”, sê Newsweek. “Babas wat dit drink, kry die voedingstowwe wat hulle nodig het vir behoorlike breinontwikkeling, terwyl dit terselfdertyd alles van allergieë en infeksies tot diarree, ekseem en longontsteking beperk.” Die Amerikaanse Akademie vir Kindergeneeskunde en die Amerikaanse Dieetkundige Vereniging spoor moeders derhalwe aan om hulle pasgebore babas ten minste ’n jaar lank te borsvoed. “Tog word hierdie besonderse bron oor die algemeen nie benut nie”, sê Newsweek. Waarom? Verkeerde inligting is dikwels die rede hiervoor. Party moeders is bekommerd dat hulle nie genoeg melk sal hê om hulle babas gesond te hou nie. Ander dink dat ander kos al van vroeg af nodig is. “Feit is dat die meeste moeders tot op 6 maande in al die voedingsbehoeftes van ’n kind kan voorsien, wanneer vaste kos geleidelik by die dieet gevoeg word”, sê die artikel. “En selfs kinders wat tot 2 jaar oud is, kan baat vind by die teenliggaampies en vetsure in moedersmelk, ongeag watter ander kos hulle eet.” Daar is ook voordele vir die moeder: Borsvoeding verminder die risiko van borskanker en bespoedig gewigsverlies ná bevalling.

Armoede—Geen land word gespaar nie

Volgens die International Herald Tribune toon ’n onlangse verslag van die Verenigde Nasies dat armoede toeneem, selfs in die wêreld se welvarendste lande. Baie mense in nywerheidslande word “basiese mensebehoeftes”, soos werk, opvoeding en gesondheidsorg, ontsê. Volgens die verslag lewe 16,5 persent van die Verenigde State se bevolking in armoede. In Brittanje is die syfer 15 persent. In nywerheidslande is 100 miljoen haweloos, 37 miljoen werkloos en amper 200 miljoen het “’n verwagte lewensduur van minder as 60 jaar”.

Nie werklik lieftallig nie

“As jy gedink het die leeu of die buffel is die gevaarlikste dier in Afrika, moet jy weer dink”, sê The Wall Street Journal. “Dit is die seekoei.” Al word seekoeie as vriendelike en gelukkige diere in tekenprente en kinderverhale uitgebeeld en al is hulle baie gewild as sagte speelgoed, is seekoeie vir meer sterfgevalle in Afrika verantwoordelik as enige ander dier. Die gevaarlikste plek op die vasteland, sê gidse, is “tussen ’n seekoei en sy pad na die water toe” en die “tweede gevaarlikste miskien tussen ’n seekoeima en haar kalfie”. Hoewel seekoeie baie rustig lyk waar hulle naby poele in die middel van ’n rivier lê, is hulle nogal baie territoriaal en dikwels baie aggressief wanneer hulle verras of uitgedaag word. Hulle is geweldig kragtig. “’n Seekoei wat kwaad is, kan ’n krokodil middeldeur byt. En ’n kano kan hy in stukke byt”, sê een gids. Waarom gaan mense dan met hulle kano’s tussen seekoeie in? Dit gee ’n ongelooflike uitsig oor die rivier en op die diere aan wal, sê die gidse, en “is waarskynlik minder gevaarlik as ander dinge wat toeriste hier rond doen: soos byvoorbeeld om rek te spring van die 350 voet [110 m] hoë brug by die Victoria-val”.

Voortekens van Nazi-slagting verskyn weer

“Daar is deesdae onheilspellende tekens in menseregteskendings wat ons op sombere wyse herinner aan die donker dae van die dertigerjare toe soortgelyke bedrywighede die Slagting voorafgegaan het”, sê Irwin Cotler, ’n professor in die regte aan die McGill-universiteit en die medevoorsitter van die Canadian Helsinki Watch Group, volgens The Toronto Star. Hy sê dat ’n studie wat in 41 lande deur die Helsinki-menseregtefederasie gedoen is op ’n duidelike gevaarteken dui—’n groot toename in haatpropaganda teen minderhede. Dit kom dikwels in die vorm van haatsaaiery deur uitsaaiers en staatspublikasies voor en lei tot die vervolging van minderhede. Cotler het aangaande hierdie tendens gesê: “Dít is ’n les van die Tweede Wêreldoorlog wat ons nie geleer het nie.” Nog ’n vergete les, het hy gesê, is “die misdaad van onverskilligheid, die sameswering tot stilswye”.

Kinders—oorlogslagoffers

“Volgens die VN se spesiale verteenwoordiger, Olara Otunnu, het oorloë en konflikte in die laaste dekade die lewens van tweemiljoen kinders geëis, meer as eenmiljoen wees gelaat en nog sesmiljoen ernstig beseer of vermink”, berig die Duitse dagblad Grevener Zeitung. Die VN se Veiligheidsraad het alle gebruike veroordeel wat kinders die skyf van aggressie maak. ’n Besondere rede tot kommer is die meer as 300 000 kinders oor die wêreld wat as soldate gebruik word. Baie van hulle word blykbaar gedwing om militêre diens te doen, en ’n derde van hulle is meisies. Kinders word dikwels as selfmoordsoldate gebruik. ’n Pas gestigte koalisie van nieregeringsorganisasies eis ’n internasionale protokol wat die minimum ouderdom van soldate tot 18 jaar sal verhoog.

Vatikaan op die web

In 1994 het die Vatikaan ’n kontrak geteken om ’n webblad op die Internet te hê. Geestelike dienste, soos regstreekse belydenis en beraadslaging met priesters oor “enige twyfelgedagtes” in verband met godsdienssake, is nou op die Internet beskikbaar, berig die koerant El Financiero. Op een blad kan “kuberkatolieke” versoek dat gebede vir hulle gedoen word. Dit is ook moontlik om ’n regstreekse uitsending te sien van die Pous wat sy Sondagseën uitspreek. Dan is daar advertensies waarin “spesiale aanbiedinge [verskyn] vir die koop en verkoop van godsdienstige materiaal”. “Die probleem is dat baie min Katolieke webblaaie dikwels besoek word”, sê El Financiero. “Die Vatikaan se webblad ontvang minder as 25 besoeke per dag, en die meeste van die besoekers is van die Katolieke pers.”

Hulle kies om siek te bly

“TB bly die siekte wat wêreldwyd die meeste lewens eis”, berig die Cape Times. Dit is epidemies onder diegene in Suid-Afrika wat baie arm is, is jaarliks verantwoordelik vir meer as 13 000 sterfgevalle en maak baie te siek om te werk. Vir die laasgenoemdes gee die regering ’n ongeskiktheidstoelaag en word TB-behandeling beskikbaar gestel. Maar aangesien werk skaars en lone dikwels laag is, besluit party pasiënte om hulle TB-behandeling te staak sodat hulle steeds hulle toelaag kan ontvang. “Die geld is ongeveer 10 keer meer as wat hulle gewoonlik kry vir die los werkies wat hulle doen”, het Ria Grant, ’n direktrise van die Suid-Afrikaanse organisasie TB-sorg, gesê. “Hulle meen dat dit beter is om siek te wees as om gesond te wees wanneer hulle sien hoeveel geld hulle kan kry.”

Lomerige bestuurders

“Party kenners sê dat lomerige bestuurders net so gevaarlik soos dronk bestuurders is”, berig The Journal of the American Medical Association. “Die rol wat lomerigheid in [motor]ongelukke speel, word baie onderskat, en lomerige bestuurders hou ’n ernstige openbare gesondheids- en veiligheidsgevaar in.” Volgens The Toronto Star het studies bevind dat mense eenvoudig nie in staat is om te voorspel wanneer hulle aan die slaap gaan raak of om te bepaal hoe lomerig hulle is nie. “Slaap is ’n behoefte soos om te eet en asem te haal”, sê Stephanie Faul, ’n woordvoerder vir die Amerikaanse Automobiel-Assosiasie se Stigting vir Verkeersveiligheid. “Wanneer jou liggaam slaap nodig het, kan dit baie maklik afskakel.” Wat moet bestuurders doen as hulle vind dat hulle herhaaldelik gaap of dat hulle oë toeval of dat hulle nie in hulle baan bly nie? “Algemene metodes om wakker te word, soos om die venster af te draai of die radio harder te stel, werk eenvoudig nie”, sê The Toronto Star. “Kafeïen is goed om ’n mens ’n kort rukkie wakker te hou, maar dit sal nie ’n mens se liggaamlike behoefte aan slaap verminder nie.” Lomerige bestuurders word aangeraai om op ’n veilige plek stil te hou en ’n rukkie te slaap.

Hoeveel bakterieë?

Bakterieë is ’n algemene lewensvorm op die aarde. Hulle lewe onder die bodem van die diepste oseaan en 60 kilometer hoog in die atmosfeer. Hulle totale massa is groter as dié van enige ander lewensvorm. Wat dalk die eerste ernstige poging is om te bepaal hoeveel daar is, is nou deur wetenskaplikes van die Universiteit van Georgia, VSA, vrygestel. Hulle skatting is vyf gevolg deur 30 nulle. “Die meeste mense dink dat bakterieë siektes veroorsaak”, sê The Times van Londen. “Maar slegs ’n breukdeel veroorsaak siektes. Selfs as al die bakterieë getel word wat in alle diere lewe, is hulle maar ongeveer 1 persent van die totaal. Die meeste is nie alleen onskadelik nie, maar is noodsaaklik aangesien hulle help met funksies soos vertering.” Dit is verbasend dat 92 tot 94 persent van alle bakterieë in afsettings gevind word wat meer as tien sentimeter onder die seebodem en onder in die grond op ’n diepte van meer as nege meter is. Daar is voorheen gedink dat hierdie plekke feitlik leweloos is. Ongeveer die helfte van die droë gewig van bakterieë bestaan uit hulle koolstofinhoud, ’n element wat noodsaaklik is vir lewe. “Die hoeveelheid koolstof wat in bakterieë gestoor word, is byna gelyk aan die hoeveelheid wat in al die wêreld se plante gestoor word”, sê The Times.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel