Die Asteke—hulle fassinerende stryd om voortbestaan
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN MEXIKO
“DIE YSLIKE STADSPLEIN HET GEWEMEL VAN MENSE, PARTY HET GEKOOP, ANDER HET VERKOOP . . . DAAR WAS SOLDATE ONDER ONS WAT AL NA BAIE DELE VAN DIE WÊRELD GEREIS HET, NA KONSTANTINOPEL EN DEUR DIE HELE ITALIË EN ROME, EN HULLE HET GESÊ DAT HULLE NOG NOOIT SO ’N MOOI, GOED UITGELEGDE STADSPLEIN GESIEN HET WAT SO GROOT EN SO VOL MENSE WAS NIE.”
DÍT is hoe Bernal Díaz del Castillo, ’n soldaat in die leër van die Spaanse veroweraar Hernan Cortes, die Asteekse stad Tenochtitlan beskryf het toe hy dit in 1519 gesien het.
Volgens die boek The Mighty Aztecs, deur Gene S. Stuart, het tussen 150 000 en 200 000 mense in Tenochtitlan gewoon toe die Spanjaarde daar aangekom het. Dit was alles behalwe ’n primitiewe, agterlike plek, maar eerder ’n uitgestrekte moederstad, wat sowat 12 tot 15 vierkante kilometer groot was. Dit was ’n stad van brûe, verhoogde paaie, kanale en skitterende godsdienstempels. As die hoofstad was Tenochtitlan die hart van die Asteekse Ryk.
Maar vir baie lesers is hierdie idee van ’n vreedsame, harmoniese Asteekse stad dalk die teenoorgestelde van wat hulle gehoor het, naamlik die gewilde opvatting dat die Asteke bloeddorstige barbare was. Die Asteke het wel geglo dat hulle gode menseharte en bloed nodig het om sterk te bly. Maar daar het meer agter die Asteekse kultuur en geskiedenis gesit as net bloedvergieting. En as ’n mens húlle stryd om voortbestaan verstaan, sal jy ook ’n beter begrip hê van die hardnekkige stryd om voortbestaan wat hulle afstammelinge tot vandag toe nog voer.
Die opkoms van die Asteke
Die Asteke het in werklikheid net ’n kort tydperk in die geskiedenis van die Meso-Amerikaanse beskawing bestaan.a Die meeste navorsers meen dat Mexiko se oorspronklike inwoners van Asië af oor die Beringstraat na Alaska en van daar af al hoe verder suid gemigreer het.—Sien die Ontwaak! van 8 September 1996, bladsye 4-5.
Argeoloë sê dat die oudste bekende kultuur wat in Meso-Amerika gefloreer het dié van die Olmeke was. Die Olmeke-beskawing het volgens sommige kenners blykbaar omstreeks 1200 v.G.J. ontstaan en het moontlik 800 jaar lank bestaan. Maar die Asteke het eers in 1200 G.J.—meer as tweeduisend jaar later—op die voorgrond getree. Hulle kultuur het op die ou end maar net 300 jaar lank bestaan. En hulle magtige ryk het net honderd jaar geheers voordat dit voor die swaarde van die Spaanse invallers geval het.
Die Asteekse Ryk het egter in sy bloeityd ’n grootsheid weerspieël wat nog selde oortref is. Volgens een bron “het die Asteke ’n ryk tot stand gebring wat suidwaarts tot by Guatemala gestrek het”. The World Book Encyclopedia het dit só beskryf: “Die Asteke het een van die gevorderdste beskawings in die Amerikas gehad. Hulle het stede gebou wat so groot was soos enige stad in Europa van daardie tyd.”
Legendeeeariese herkoms
Ten spyte van die vernaamheid van die Asteke is daar min oor hulle herkoms bekend. Volgens legendes is die naam Asteek afgelei van aztlán—’n woord wat vermoedelik “wit land” beteken. Maar niemand weet waar die legendariese Aztlán was en of dit ooit werklik bestaan het nie.
In elk geval, volgens legende was die Asteke die laaste van sewe groepe wat Aztlán verlaat het. In opdrag van hulle god Huitzilopochtli het hulle ’n lang swerftog op soek na ’n tuisland onderneem. Die stam het dekades lank geswerf, baie swaarkry verduur en ongelooflike ontberinge gely, en hulle was feitlik onophoudelik in oorlog met hulle bure gewikkel. Maar hulle kon nie vir altyd rondswerf nie. Volgens die gewildste legende het Huitzilopochtli vir sy volgelinge gesê om uit te kyk vir die volgende teken: ’n arend wat op ’n kaktus sit. Hierdie verskynsel is na bewering by ’n modderige klein eilandjie in die meer Texcoco gesien. Die swerwers het hulle uiteindelik hier gevestig en ’n stad gebou wat later bekend gestaan het as Groot Tenochtitlan (wat beteken “klip wat uit die water kom”). Sommige sê dat die naam van ’n legendariese aartsvader se naam, Tenoch, afgelei is. Vandag is Tenochtitlan onder Mexikostad begrawe.
Die Asteke was briljante ingenieurs en vakmanne. Hulle het die meer se bodem as ’n fondament gebruik en die stad deur middel van grondherwinning vergroot. Grondwalle het die eiland met die vasteland verbind. Hulle het ook ’n stelsel van kanale gebou.
Gedurende hierdie tydperk was die bouers egter nie algemeen as Asteke bekend nie. Volgens legendes het hulle god Huitzilopochtli hulle ’n nuwe naam gegee toe hulle Aztlán verlaat het—Mexikas. Die omringende land en al die inwoners is later so genoem.
Maar die Mexikas, oftewel Asteke, was nie alleen in hierdie streek nie. Hulle was omring deur vyande, en hulle moes bondgenootskappe met hulle bure aangaan. Dié wat nie met die Asteke vrede gemaak het nie, was gou in ’n stryd om lewe en dood met hulle gewikkel. Oorlog het die Asteke eintlik goed gepas. Hulle songod, Huitzilopochtli, was net een van baie gode en godinne wat gereeld bloeiende harte en mense as offers geëis het. Krygsgevangenes het die hoofbron van hierdie offerandes geword. Die Asteke se reputasie dat hulle gevangenes hiervoor gebruik, het hulle vyande met vrees vervul.
Die Asteekse Ryk het dus van Tenochtitlan af begin uitbrei en het gou tot in sommige gebiede van die hedendaagse Sentraal-Amerika gestrek. Nuwe godsdiensidees en -gebruike is in die Asteekse kultuur opgeneem. Terselfdertyd het uiters waardevolle artikels—heffings wat van pas verowerde onderdane vereis is—in die Asteke se skatkiste begin instroom. Asteekse musiek, letterkunde en kuns het gefloreer. Die tydskrif National Geographic sê: “Wat pure krag betref, moet die Asteke onder die mees begaafde beeldhouers in die geskiedenis wees.” Toe die Spanjaarde daar aangekom het, was die Asteekse beskawing op sy hoogtepunt.
Die verowering
In November 1519 het die Mexika-keiser, Montezuma II, die Spanjaarde en hulle leier Hernan Cortes vreedsaam verwelkom omdat hy geglo het dat Cortes die Asteekse god Quetzalcoatl in menslike gedaante was. Die Spanjaarde het die gasvryheid aanvaar wat die bygelowige Asteke aan hulle betoon het. Die Asteke het egter goedgelowig toegelaat dat die Spanjaarde Tenochtitlan se skatte van goud sien. Cortes het koorsagtig beplan om dit alles in beslag te neem. As deel van ’n uiters waaghalsige plan het Cortes Montezuma ’n gevangene in sy eie stad gemaak. Party sê dat Montezuma feitlik sonder protes oorgegee het. In elk geval, Cortes het dit reggekry om die hoofstad van ’n ontsaglike ryk te verower sonder om ’n enkele skoot te vuur.
Maar die bloedlose oorwinning het nie baie lank bloedloos gebly nie. Cortes moes skielik na die kus vertrek om na ’n noodgeval om te sien en het ’n voortvarende man, Pedro de Alvarado, in bevel gelaat. Alvarado was bang dat die mense van Tenochtitlan kort voor lank teen hom in opstand sou kom aangesien Cortes nie daar was nie, en hy het besluit om eerste toe te slaan. Tydens ’n fees het hy ’n aantal Asteke wreed vermoor. Cortes het teruggekeer en die stad in beroering gevind. Tydens die geveg wat toe uitgebreek het, is Montezuma doodgemaak, moontlik deur die Spanjaarde. Maar volgens die Spanjaarde se weergawe van die gebeure het Cortes vir Montezuma oorreed om voor sy volk te verskyn en ’n beroep op hulle te doen om op te hou veg. Toe hy dit gedoen het, is Montezuma deur sy eie mense gestenig. In elk geval, Cortes en ’n paar gewondes het lewendig daarvan afgekom.
’n Uitgeputte en gewonde Cortes het sy soldate hergroepeer. Stamme in die omgewing wat die Asteke gehaat het en gretig was om hulle van oorheersing deur hulle te bevry, het hulle by die Spanjaarde aangesluit. Cortes het toe na Tenochtitlan teruggekeer. Gedurende die bloedige beleg wat gevolg het, het die Asteke glo gevange Spaanse soldate geoffer. Dit het Cortes se manskappe woedend en meer vasbeslote gemaak om ten alle koste te wen. Die voormalige onderhorige stamme het, volgens ’n Asteekse skrywer, ook tot die stryd toegetree en “wreed wraak geneem vir die vorige dade van die Mexikas [Asteke] en al hulle besittings geplunder”.
Op 13 Augustus 1521 het Groot Tenochtitlan geval. Die Spanjaarde en hulle bondgenote het die Mexikas nou heeltemal oorheers. National Geographic het gesê: “Binne ’n kort tydjie het daar net puinhope van Meso-Amerika se groot stede en seremoniële sentrums oorgebly namate die Spanjaarde die land vir goud gefynkam het. Inboorlinge is tot slawe gemaak en gekersten, en die Asteekse Ryk, die laaste groot inheemse beskawing, het verdwyn.”
Die verowering het nie net politieke veranderinge meegebring nie. Die Spanjaarde het ’n nuwe godsdiens met hulle saamgebring—Katolisisme—en het dit dikwels met geweld op die Mexikas afgedwing. Die Asteekse godsdiens was weliswaar bloeddorstig en afgodies. Maar pleks van alle spore van die heidense gebruike uit te roei, het Katolisisme op ’n eienaardige manier met die Asteekse godsdiens vermeng geraak. Tonantzin, die godin wat op Tepeyac-heuwel aanbid is, is deur die Maagd van Guadalupe vervang, en die Basilika van Guadalupe staan op presies dieselfde plek waar Tonantzin voorheen aanbid is. (Die kerk dui glo die plek aan waar die Maagd Maria wonderdadig verskyn het.) Gedurende godsdienstige feesdae wat ter ere van die Maagd gehou word, voer aanbidders die danse van hulle heidense voorvaders daar reg voor die kerk uit.
Het die Asteke bly voortbestaan?
Alhoewel die Asteekse Ryk lankal verdwyn het, oefen dit vandag nog ’n invloed uit. Engelse woorde soos “chocolate”, “tomato” en “chili” is aan die Asteekse taal, Nahuatl, ontleen. Daarbenewens bestaan die meerderheid van Mexiko se bevolking uit afstammelinge van Spaanse veroweraars en van inheemse rasse.
In baie dele van Mexiko bestaan die inheemse kulture nog steeds, aangesien sommige etniese groepe hulle voorvaderlike tradisies probeer bewaar. Daar is altesaam 62 erkende inheemse groepe en 68 geregistreerde dialekte in die Mexikaanse Republiek. ’n Onlangse studie wat gedoen is deur die Instituto Nacional de Estadística, Geografía e Informática (Nasionale Statistiekinstituut van Aardrykskunde en Berekening) het getoon dat meer as vyfmiljoen mense een van die inheemse tale praat. Dit is ongeveer 7 persent van die land se 92 miljoen inwoners. Die tydskrif National Geographic het gesê: “Hoewel hulle magteloos en arm is weens tydperke van kolonisasie, diktatorskap en revolusie, het die oorlewendes hulle tale, tradisies en ’n onwrikbare visie van selfbeskikking behou.”
Die meeste afstammelinge van die trotse Asteke leef nietemin in armoede, en voer dikwels ’n sukkelbestaan op klein plasies. Baie leef in afgesonderde gebiede waar opvoeding iets seldsaams is. Dit is dus moeilik vir die meeste van hierdie Mexikaanse inboorlinge om ekonomies vooruit te gaan. En hulle benarde situasie is tipies van inheemse volke regoor Mexiko en Sentraal-Amerika. Daar is wel mense wat vir hulle opkom. Rigoberta Menchú, ’n Nobelpryswenner van Guatemala, het hierdie roerende pleidooi gelewer: “Ons moet die bestaande skeidsmure—tussen etniese groepe, Indiane en mestiese, taalgroepe, mans en vroue, geleerdes en leke—uit die weg ruim.”
Ongelukkig is die benarde situasie van die Asteke—in die hede en die verlede—net nog ’n hartseer voorbeeld van ‘die een mens wat oor die ander heers tot sy ongeluk’ (Prediker 8:9). Dit sal meer as roerende woorde en politieke retoriek kos om die lot van die wêreld se armes en minderbevoorregtes te verander. ’n Aantal Nahuatl-sprekendes het dus die Bybelse hoop op ’n inkomende wêreldregering, oftewel “koninkryk”, gretig aangeneem.—Daniël 2:44; sien die venster op hierdie bladsy.
Sommige hou nie van die idee om inheemse groepe van die Bybel te leer nie. Hulle meen dalk dat die godsdiens van die Nahuatl-sprekendes—’n vermenging van Katolisisme en ou Asteekse heidendom—’n deel is van hulle kultuur wat bewaar moet word. Maar diegene wat die Bybel se boodskap aangeneem het, het ’n ware bevryding van bygelowigheid en godsdiensvalshede ondervind (Johannes 8:32). Vir die duisende afstammelinge van die Asteke bied die Bybel die enigste ware hoop op voortbestaan.
[Voetnoot]
a Die term “Meso-Amerika” verwys na die streek “wat suidwaarts en ooswaarts van Sentraal-Mexiko af strek en dele van Guatemala, Belize, Honduras en Nicaragua insluit” (The American Heritage Dictionary). Die Meso-Amerikaanse beskawing verwys na “die samestel van inboorlingkulture wat voor die Spaanse verkenning en verowering in die 16de eeu in dele van Mexiko en Sentraal-Amerika ontwikkel het”.—Encyclopædia Britannica.
[Venster/Prent op bladsy 20]
“EK GENIET DIT OM DIE WAARHEID AAN NAHUATL-SPREKENDES TE VERKONDIG”
EK IS gebore in Santa María Tecuanulco, ’n klein Mexikaanse dorpie net 60 kilometer van Mexikostad af. Dit is ’n pragtige, groen plek tussen heuwels, waar mense ’n bestaan maak deur blomme te kweek. Wanneer die blomme reg is om gepluk te word, is dit pragtig as ’n mens al die kleure oral om jou sien. Almal in Santa María het vroeër Nahuatl, ’n ou Mexikaanse taal, gepraat. Ek onthou nog dat elke huis ’n naam gehad het om dit te identifiseer, natuurlik in Nahuatl. My huis se naam was Achichacpa, wat beteken “Waar water vloei”. Om my adres vir iemand te gee, het ek hom die name van die huise rondom myne gegee. Selfs vandag nog het baie huise ’n naam. Ek het in 1969 Spaans aangeleer, toe ek 17 jaar oud was. Ek dink Nahuatl is ’n pragtige taal. Ongelukkig praat net ouer dorpenaars dit; vandag se jongmense ken dit omtrent glad nie meer nie.
Ek was die enigste een in die dorp wat saam met Jehovah se Getuies gestudeer het. Skielik wou die hele dorp hê dat ek en my kinders moet weggaan. Hulle het my probeer dwing om gereelde bydraes vir die Katolieke Kerk te gee, wat ek geweier het om te doen. My familielede wou nie eens met my praat nie. Ten spyte van die kwaai teenkanting in ons dorp, is ek in Desember 1988 gedoop. Ek dank Jehovah dat my drie dogters as voltydse evangeliedienaars dien en dat my seun ’n gedoopte Christen is. Ek geniet dit om die goeie nuus in Santa María te verkondig. Ek getuig in Nahuatl vir ouer mense. Ek is vasbeslote om voort te gaan om ons liefdevolle God, Jehovah, wat medelye het met mense van alle rasse, te dien.—Bygedra.
[Grafiek op bladsy 17]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
VERGELYKENDE CHRONOLOGIE VAN SOMMIGE VAN DIE VERNAAMSTE KULTURE EN GEBEURE IN AMERIKA EN DIE WÊRELD
VAN 1200 v.G.J. TOT 1550 G.J.
SPAANSE INKWISISIE
1500 G.J.
EUROPESE RENAISSANCE
ASTEKE
“CHRISTELIKE” KRUISTOGTE
TOLTEKE
1000 G.J.
BISANTYNS
500 G.J.
TEOTIHUACAN
VROEË CHRISTELIKE GODSDIENS
ROMEINS
ZAPOTEKE
GRIEKS
EGIPTIES
500 v.G.J.
MAJA
OLMEKE ASSIRIES
1000 v.G.J.
[Kaart op bladsy 18]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
GROOTTE VAN DIE ASTEEKSE WÊRELD
MEXIKO
Tenochtitlan
GUATEMALA
[Prent]
Die groot stad wat as Tenochtitlan bekend is, lê onder die hedendaagse Mexikostad begrawe
[Erkenning]
Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.
[Prent op bladsy 15]
Asteekse kalender
[Prent op bladsy 19]
Die Asteke het hulle aanbidding by die Sonpiramide van Teotihuacan beoefen
[Foto-erkenning op bladsy 15]
Muurskildery op bladsye 15-16: “Mexico Through the Centuries,” original work by Diego Rivera. National Palace, Mexico City, Mexico
[Foto-erkenning op bladsy 17]
Arend en kuns op bladsy 18: “Mexico Through the Centuries,” original work by Diego Rivera. National Palace, Mexico City, Mexico