Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 4/1 bl. 3-5
  • Ware vryheid—Uit watter bron?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ware vryheid—Uit watter bron?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vryheid wat misbruik is
  • Slawerny aan valse godsdiens
  • ’n Vry volk maar met verantwoordelikheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Verwelkom God se nuwe wêreld van vryheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Die Asteke—hulle fassinerende stryd om voortbestaan
    Ontwaak!—1999
  • Is die mens se “nuwe wêreldorde” naby?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 4/1 bl. 3-5

Ware vryheid—Uit watter bron?

“Dit kom die aardse mens wat loop nie toe selfs om sy voetstappe te rig nie. Wys my tereg, o Jehovah.”—JEREMIA 10:23, 24, NW.

1, 2. Hoe beskou die meeste mense vryheid, maar wat moet ook in ag geneem word?

JY WAARDEER ongetwyfeld ware vryheid. Jy wil vry wees om jou mening te lug, vry om te besluit waar jy wil woon en hoe jy wil leef. Jy wil self die werk kies wat jy doen, self jou kos, musiek en vriende kies. Jy het voorkeure oor baie dinge, groot en klein. Geen normale mens wil in slawerny aan diktatoriale heersers lewe, sodat hy min of geen keusevryheid het nie.

2 Maar sal jy nie ook graag ’n wêreld wil sien waar jy sowel as ander ware vryheid kan geniet nie? Sal jy nie graag ’n wêreld wil sien waar vryheid beskerm word sodat almal hulle ten volle kan uitleef nie? En sal jy nie ook graag, indien dit moontlik was, in ’n wêreld wil woon wat vry is van vrees, misdaad, honger, armoede, besoedeling, siekte en oorlog nie? Sulke vryhede is uiters begeerlik.

3. Waarom stel ons vryheid op prys?

3 Waarom voel ons as mense so sterk oor vryheid? Die Bybel sê: “Waar die Gees van die Here is, daar is vryheid” (2 Korinthiërs 3:17). Jehovah is dus die God van vryheid. En aangesien hy ons na sy ‘beeld en gelykenis’ geskep het, het hy ons die gawe van wilsvryheid gegee sodat ons vryheid kan waardeer en geniet.—Genesis 1:26.

Vryheid wat misbruik is

4, 5. Hoe is vryheid deur die geskiedenis heen misbruik?

4 Deur die geskiedenis heen is miljoene mense in slawerny gebring, gemartel of doodgemaak omdat ander mense misbruik gemaak het van hulle wilsvryheid. Die Bybel deel ons mee dat die Egiptenaars sowat 3 500 jaar gelede ‘slawe gemaak het van die Israeliete en die lewe vir hulle bitter gemaak het deur swaar werk’ (Exodus 1:13, 14, NAV). The Encyclopedia Americana sê dat slawe in Athene en twee ander Griekse stede in die vierde eeu v.G.J. die vrye bevolking in getal met 4 teen 1 oortref het. Hierdie bron sê ook: “In Rome het die slaaf aanvanklik geen regte gehad nie. Hy kon vir die geringste oortreding doodgemaak word.” Die Compton’s Encyclopedia sê: “In Rome was slawearbeid die fondament van die staat. . . . Die slawe het dikwels in kettings in die lande gewerk. Snags is hulle aanmekaar vasgeboei en in groot tronke toegesluit, wat half onder die grond begrawe was.” En as ’n mens in ag neem dat talle slawe eens vry was, kan jy jou voorstel hoe verbitter daardie gebroke siele was!

5 Die Christendom het eeue lank verdrukkende slawehandel gedryf. The World Book Encyclopedia sê: “Van die 16de eeu tot die 19de eeu het die Europeërs ongeveer 10 miljoen swart slawe van Afrika na die Westelike Halfrond verskeep.” In hierdie 20ste eeu het miljoene gevangenes dwangarbeid verrig totdat hulle dood neergeslaan het of totdat hulle vanweë regeringsbeleid in Nazi-konsentrasiekampe doodgemaak is. Onder die slagoffers was daar baie van Jehovah se Getuies wat gevange geneem is omdat hulle geweier het om die moorddadige Nazi-regime te ondersteun.

Slawerny aan valse godsdiens

6. Hoe het valse godsdiens in eertydse Kanaän slawe van mense gemaak?

6 Dan is daar ook slawerny as gevolg van verkleefdheid aan valse godsdiens. In eertydse Kanaän is kinders byvoorbeeld aan Molog geoffer. Daar word gesê dat daar ’n gloeiende oond binne-in ’n groot beeld van hierdie valse god was. Kinders is lewend in die uitgestrekte arms van die beeld gegooi en het dan tussen hulle deur in die vuur daaronder geval. Selfs sommige Israeliete het hierdie valse aanbidding beoefen. God sê hulle het ‘hulle seuns en hulle dogters vir Molog deur die vuur laat gaan—iets wat Hy hulle nie beveel het nie en wat in sy hart nie opgekom het nie, dat hulle hierdie gruwel sou bedrywe’ (Jeremia 32:35). Watter voordele het Molog vir sy aanbidders meegebring? Waar is daardie verknegte Kanaänitiese nasies en die aanbidding van Molog vandag? Dit het alles verdwyn. Dit was valse aanbidding, aanbidding wat op leuens gegrond was en nie op waarhede nie.—Jesaja 60:12.

7. Watter afgryslike gebruik was deel van die godsdiens van die Asteke?

7 Eeue gelede was die Asteke in Sentraal-Amerika slawe van valse godsdiens. Hulle het persoonlike gode gehad, natuurkragte is as gode aanbid, verskillende aktiwiteite in die daaglikse lewe het hulle onderskeie gode gehad, plante het hulle gode gehad, selfs selfmoorde het ’n god gehad. Die boek The Ancient Sun Kingdoms of the Americas vertel: “Die Asteekse regering in Mexiko was van bo tot onder georganiseer om onsigbare magte te steun en te paai met soveel uitgeskeurde menseharte as wat moontlik aan hulle gegee kon word. Bloed was die drank van die gode. Daar was voortdurend kleiner oorloë om geskikte gevangenes te kry wat aan die gode geoffer kon word.” Toe ’n groot piramiedtempel in 1486 toegewy is, is duisende slagoffers “in toue laat staan waar hulle hulle beurt moes afwag om oor die offerklip oopgespalk te word. Hulle harte is uitgesny en vir ’n kort rukkie na die son gehou” om die songod te paai. The World Book Encyclopedia sê: “Aanbidders het soms dele van ’n slagoffer se liggaam geëet.” Nogtans het daardie gebruike nie die Asteekse ryk of sy valse godsdiens gered nie.

8. Wat het ’n toergids gesê omtrent ’n hedendaagse slagting wat baie groter is as dié wat onder die Asteke plaasgevind het?

8 ’n Groep mense het eenkeer ’n museum besoek waar ’n toneel in ’n vertoonkas uitgebeeld het hoe Asteekse priesters ’n jong man se hart uitsny. Toe die toergids verduidelik wat die uitstalling uitbeeld, het sommige in die toergroep na hul asem gesnak. Die gids het toe gesê: “Ek sien dat julle ontsteld is oor die Asteekse gebruik om jong mans aan heidense gode te offer. Maar in hierdie 20ste eeu is miljoene jong mans aan die god van oorlog geoffer. Is dit enigsins beter?” Dit is algemeen bekend dat die godsdiensleiers van al die nasies in oorlogstyd gebede om oorwinning doen en krygsmagte seën ondanks die feit dat daar dikwels mense van dieselfde geloof aan beide kante is wat mekaar doodmaak.—1 Johannes 3:10-12; 4:8, 20, 21; 5:3.

9. Watter gebruik eis baie meer jong lewens as enige ander in die geskiedenis?

9 Die offer van jongmense aan Molog, aan Asteekse gode of aan oorlog word nou oortref deur die moord op ongebore babas in nagenoeg 40 tot 50 miljoen aborsies wat jaarliks wêreldwyd gedoen word. Die aantal aborsies net in die laaste drie jaar is meer as die honderdmiljoen mense wat in al die oorloë van hierdie eeu doodgemaak is. Daar word elke jaar etlike kere soveel babas afgedryf as al die mense wat in 12 jaar van Nazi-heerskappy doodgemaak is. In die afgelope dekades is duisende kere soveel babas in aborsies doodgemaak as al die mense wat aan Molog of aan Asteekse gode geoffer is. Nogtans bely baie (indien nie die meeste nie) van diegene wat ’n aborsie gehad het of wat aborsies uitvoer, dat hulle aan ’n godsdiens behoort.

10. Op watter ander manier word mense slawe gemaak van valse godsdiens?

10 Valse godsdiens maak ook op ander maniere slawe van mense. Baie mense glo byvoorbeeld dat die dooies in die geesteryk voortlewe. Een gevolg van so ’n valse opvatting is dat afgestorwe voorouers gevrees en aanbid word om sogenaamde voordele van hulle te verkry. Dit maak mense slawe van toordokters, geesmediums en geestelikes wat geraadpleeg word in die waan dat hulle die lewendes kan help om die dooies te paai. Daar kan dus met goeie rede gevra word: Is daar enige manier om van sulke slawerny bevry te word?—Deuteronomium 18:10-12; Prediker 9:5, 10.

[Prent op bladsy 4, 5]

Deur die geskiedenis heen het sommige mense hulle wilsvryheid misbruik deur slawe van ander te maak

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel