Saadjies wat baie jare later vrug gedra het
Die volgende brief is geskryf na aanleiding van die artikel “Die uitdagings en seëninge om sewe seuns groot te maak”, in die “Ontwaak!” van 8 Januarie 1999.
Liewe broer en suster Dickman
Ek het so pas julle verhaal klaar gelees, en ek moes eenvoudig vir julle skryf. Ek het julle gesin jare gelede in Mississippi [1960-61] geken. Trouens, ek het saam met julle seuns skoolgegaan, en ek het heel dikwels na julle huis toe gegaan om by die seuns te speel. Maar dit was nie hierdie dinge wat die grootste indruk op my jong verstand gemaak het nie. Selfs op so ’n jong ouderdom is ek beïndruk deur die feit dat die seuns weens hulle Christelike gewete nie by die skool die vlag gesalueer het nie. Toe een van julle seuns sy standpunt aan my verduidelik het, het ek geweet dit was reg, alhoewel ek ’n lidmaat van die Grandview Baptistekerk was.
Een van hulle het die boek Van die verlore paradys tot die herwonne paradysa vir my gegee, of ek het dit gesteel. Ek kan nie onthou hoe ek dit gekry het nie, maar ek het dit heeltemal deurgelees. Op daardie tydstip was dit vir my net ’n pragtige storieboek. Min het ek geweet dat saadjies van waarheid gesaai is wat jare lank sluimerend sou wees.
Ons gesin het in 1964 na die Noorde getrek, en ek het opgehou om kerk toe te gaan. Die skynheiligheid in godsdiens het my ontnugter, daarom wou ek baie jare lank niks met georganiseerde godsdiens te doen hê nie.
Jare later, toe ek ernstig oor die doel van die lewe begin nadink het, het ek besef dat ek ’n verhouding met die Skepper wil hê. Ek wou daardie verhouding hê sonder die skynheiligheid van godsdiens. Daardie saadjies van waarheid wat jare tevore gesaai is, het begin ontkiem; ek het dit net nog nie besef nie.
Ek het my bly kwel oor die feit dat ek nie wou hemel toe gaan nie; ek wou net hier op die aarde lewe. Ek het gevoel dat hierdie planeet werklik ’n wonderlike skepping is—waarom sou God dit dan vernietig? Ek het ook nie gedink dat Jesus God was nie. As hy was, dan sou sy offerande ’n bedrogspul gewees het. Ek kon hierdie gedagtes, gevoelens en oortuigings, as ’n mens dit so kan noem, nie versoen met wat ek in die Baptistekerk geleer het nie. Ek het dus begin bid, regtig gebid, en Jehovah het vinnig opgetree. Getuies was binne ’n paar dae voor my deur, en ’n Bybelstudie is onmiddellik begin. Selfs al het ek hoegenaamd geen kontak met Jehovah se Getuies gehad vandat ek julle gesin geken het totdat ek begin studeer het nie, het ek nooit my respek verloor vir julle seuns en hulle moed om standpunt in te neem vir wat reg was nie. Toe ek eers begin studeer en begin kennis inneem het, het alles begin sin maak. Dit het my ’n jaar en ’n half geneem om my lewe in orde te kry. Ek is uiteindelik in 1975 gedoop.
Elke keer wanneer ons inligting bespreek oor hoe ons gedrag ’n getuienis kan gee sonder dat ons eers daarvan bewus is, dink ek aan julle gesin. Wanneer ons praat oor hoe belangrik dit is om baie Koninkryksaad te saai omdat ons nie altyd weet waar of wanneer dit sal ontkiem nie, weet ek uit persoonlike ondervinding hoe waar dit is.
Ek wil julle bedank vir die feit dat julle destyds deel van Jehovah se volk was en dat julle getrou aan julle opvattings was. Julle het onwetend iemand gehelp om die waarheid te vind. Julle gedrag en oortuiging, en dié van julle kinders, het die lig van die waarheid laat skyn. Ek het nooit gedink dat ek vir seker sou weet wat van julle geword het of dat ek julle sou kon bedank nie. Weer eens baie dankie.
Baie Christelike liefde
L. O.
[Voetnoot]
a Is in 1958 uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.; tans uit druk.