Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 7/22 bl. 24-27
  • Wat is anderkant die planete?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat is anderkant die planete?
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die verste voorwerpe
  • Komeetfamilies
  • Ontelbare kleinplanete
  • Waar het hulle vandaan gekom?
  • Komeetnavorsing
  • Waar kom verskietende sterre vandaan?
    Ontwaak!—1993
  • Komeetbotsing!
    Ontwaak!—1997
  • Asteroïdes, komete en die aarde—Stuur hulle op ’n botsing af?
    Ontwaak!—1999
  • Die uitsonderlike kenmerke van ons son
    Ontwaak!—2001
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 7/22 bl. 24-27

Wat is anderkant die planete?

Planeet X. Die sterrekundige Percival Lowell het hierdie naam aan ’n planeet gegee wat nog nie ontdek is nie, maar wat hy vermoed het anderkant Neptunus wentel. Sy soektog na Planeet X het in 1905 by sy sterrewag in Flagstaff, Arizona, begin. Hoewel Lowell oorlede is voordat hy Planeet X gevind het, is die soektog wat hy begin het, voortgesit. Uiteindelik, in 1930, by Lowell se sterrewag, het Clyde Tombaugh die planeet Pluto ontdek. Planeet X het inderdaad bestaan!

Sterrekundiges het onmiddellik begin wonder: ‘Kon nog ’n Planeet X gevind word?’ Gedurende die volgende ses dekades is ’n intensiewe soektog gedoen, en in latere jare van die soektog is selfs ruimtetuie ingespan. Hoewel duisende asteroïdes, sterre, sterrestelsels en newels gevind is, is geen nuwe planete geïdentifiseer nie.

Nogtans het die soektog nie opgehou nie. Wetenskaplikes het nuwe tegnologie en kragtiger teleskope begin gebruik om wentelende voorwerpe op te spoor wat miljoene kere dowwer is as enigiets wat met die blote oog gesien kan word. Hulle pogings het uiteindelik vrugte afgewerp. Tot almal se verbasing is tientalle kleiner planete anderkant Pluto nou al waargeneem!

Waar is daardie kleinplanete? Hoeveel sal moontlik nog gevind word? Is dit die mees verafgeleë voorwerpe in ons sonnestelsel?

Die verste voorwerpe

Die sonnestelsel bestaan uit nege planete wat om die son wentel. Daarbenewens beweeg daar, hoofsaaklik in ’n gordel tussen Mars en Jupiter, duisende rotsagtige asteroïdes deur die ruimte. Byna duisend komete is ook al waargeneem.

Watter van hierdie voorwerpe beweeg die verste van die son af? Dit is in werklikheid die komete wat verreweg die verste van die son af beweeg.

Die woord “komeet” kom van die Griekse woord ko·meʹtes, wat “met lang hare” beteken—’n verwysing na die lang, slepende stert agter die helder kop. Komete is die bron van baie bygelowe en histerie. Waarnemers verwys nog steeds na die besoeke van komete as bonatuurlike verskynsels. Dit spruit voort uit die vroeë opvattings dat hulle spookagtige voorwerpe was. Waarom het hulle soveel vrees by mense ingeboesem? Een rede is dat hulle verskyning soms met tragiese gebeure saamgeval het.

Komete beweeg mense nog steeds tot fanatisme. In Maart 1997 het 39 lede van die Heaven’s Gate-kultus in Kalifornië, VSA, massaselfmoord gepleeg toe die komeet Hale-Bopp na aan die son gekom het. Waarom? Omdat hulle verwag het dat ’n ruimtetuig met buiteaardse wesens, wat kwansuis agter die komeet verberg was, hulle kom haal het.

Nie almal het ’n verwronge beskouing van komete gehad nie. In die vierde eeu v.G.J. het Aristoteles aan die hand gedoen dat komete wolke met liggewende gas hoog bo in die lug is. ’n Paar eeue later het die Romeinse filosoof Seneka tereg gesê dat komete wentelende hemelliggame is.

Met die koms van die teleskoop en die ontdekking van Newton se wet van swaartekrag het die bestudering van komete ’n eksakter wetenskap geword. Teen 1705 het Edmond Halley bepaal dat komete in lang, elliptiese bane om die son wentel. Daarbenewens het hy gemerk dat komete wat in die jare 1531, 1607 en 1682 verskyn het soortgelyke bane gehad het en deur gereelde tussenposes van ongeveer 75 jaar geskei is. Halley het tereg gesê dat elkeen van hierdie waarnemings van dieselfde wentelende komeet was, wat later Halley se komeet genoem is.

Navorsers weet nou dat komete ’n soliede kern het wat gewoonlik tussen 1 en 20 kilometer in deursnee is. Die kern kan die heel beste beskryf word as ’n donker, vuil ysberg wat hoofsaaklik saamgestel is uit ’n mengsel van waterys en stof. Naby foto’s van Halley se komeet wat in 1986 deur die Giotto-ruimtetuig geneem is, toon strale gas en stof wat uit die komeet kom. Hierdie vrygestelde deeltjies vorm die helder komeetkop en -stert wat van die aarde af gesien word.

Komeetfamilies

Twee families van komete wentel om die son. ’n Komeet word geklassifiseer volgens sy wentelperiode, of hoe lank hy neem om een omwenteling om die son te voltooi. Kortperiode-, of periodiese, komete—soos Halley se komeet—neem minder as 200 jaar om hulle wentelbaan om die son te voltooi. Hulle wentelbane volg bane na aan die ekliptika, die hemelvlak waarin die Aarde en ander planete om die son wentel. Daar is dalk ’n miljard periodiese komete, waarvan die meeste anderkant die verste planete Neptunus en Pluto, miljarde kilometers van die son af, wentel. Soms word die wentelbane van party van hulle, soos Encke se komeet, nader aan die son getrek omdat hulle naby planete verbybeweeg.

Wat van die wentelbane van langperiode-komete? Anders as kortperiode-komete wentel langperiode-komete uit alle rigtings om die son. Hulle sluit die komete Hyakutake en Hale-Bopp in, wat onlangs skouspelagtige verskynings gemaak het. Hulle word egter eers oor duisende jare terugverwag!

’n Groot aantal langperiode-komete beweeg in die buitenste dele van die sonnestelsel. Hierdie swerm staan bekend as die Oort-wolk en is vernoem na die Nederlandse sterrekundige wat, in 1950, die eerste keer beweer het dat dit bestaan. Uit hoeveel komete bestaan hierdie wolk? Sterrekundiges skat dat daar meer as ’n biljoen is! Party van hierdie komete lê afstande af wat ’n ligjaar of verder van die son af is.a Met hierdie afstande kan een omwenteling baie meer as tienmiljoen jaar neem!

Ontelbare kleinplanete

Die onlangs geïdentifiseerde kleinplanete wat aan die begin genoem is, deel hulle ryk anderkant Pluto met kortperiode-komete. Sedert 1992 het sterrekundiges ongeveer 80 van hierdie klein, planeetagtige liggame ontdek. Daar is dalk tienduisende van hulle wat groter as 100 kilometer in deursnee is. Hierdie miniplanete vorm die Kuiper-gordel, wat vernoem is na ’n wetenskaplike wat byna 50 jaar gelede vermoed het dat dit bestaan. Die voorwerpe in die Kuiper-gordel bestaan waarskynlik uit ’n kombinasie van rots en ys.

Het die onlangse ontdekkings van hierdie kleinplanete ons beskouing van die sonnestelsel verander? Ja, inderdaad! Daar word nou gemeen dat Pluto, sy maan Charon, Neptunus se satelliet Triton en party ander ysvoorwerpe in die binneste deel van die sonnestelsel voorwerpe is wat van die Kuiper-gordel gekom het. Party sterrekundiges dink selfs dat Pluto nie meer as ’n grootplaneet kwalifiseer nie!

Waar het hulle vandaan gekom?

Wat het daartoe gelei dat daar soveel komete en kleinplanete in die Kuiper-gordel is? Sterrekundiges beweer dat hierdie voorwerpe uit ’n vroeëre wolk van stofdeeltjies en kondenserende ys gegroei het, wat saamgeklont het om groter voorwerpe te vorm. Hierdie voorwerpe was egter te yl uitgesprei om tot groot planete te ontwikkel.

Langperiode-komete verteenwoordig ook ’n aansienlike deel van die sonnestelsel. Hierdie komete is saam ongeveer 40 keer swaarder as die Aarde. Die meeste het vermoedelik vroeg in die sonnestelsel se geskiedenis in die omgewing van die buitenste reusagtige gasplanete gevorm.

Wat het hierdie komete aangedryf tot waar hulle nou in hulle wentelbane so ver van die son af is? Blykbaar het groot planete, soos Jupiter, enige komete wat na aan hulle gekom het met hulle groot gravitasiekrag weggeslinger.

Komeetnavorsing

Komete bestaan uit party van die mees elementêre stowwe in die sonnestelsel. Hoe kan hierdie fassinerende voorwerpe verder bestudeer word? Komete wat soms die binneste deel van die sonnestelsel besoek, maak dit moontlik om hulle van naderby te bestudeer. Verskeie ruimteagentskappe beplan om in die volgende paar jaar ’n aantal ruimtetuie te stuur om meer navorsing oor komete te doen.

Wie weet wat nog in ons sonnestelsel gevind kan word? Die nuwe ontdekkings en verbeterde begrip van verafgeleë voorwerpe wat om die son wentel, verleen krag aan die Bybel se woorde in Jesaja 40:26: “Slaan julle oë op in die hoogte en kyk! Wie het hierdie dinge geskape? Hy laat hulle leërskare uittrek volgens getal, Hy roep hulle almal by die naam.”

[Voetnoot]

a Een ligjaar is gelyk aan die afstand wat lig in ’n jaar aflê, of ongeveer 9,5 biljoen kilometer.

[Venster op bladsy 27]

KOMETE EN METEOORREËN

Wonder jy, wanneer jy ’n skouspelagtige meteoor deur die hemel sien trek, of dit van ’n komeet af kom? Dit het moontlik. Wanneer ’n komeet die son nader, verbrokkel sy ysige kern geleidelik en stel dit ’n spoor gruis, of meteoroïede, vry. Hierdie gruis is nie so lig soos die stof in die komeetstert nie en word gevolglik nie deur die sonwind in die ruimte in weggewaai nie. Hulle vorm eerder ’n strook gruis wat in dieselfde baan as die moederkomeet om die son wentel.

Elke jaar kruis die Aarde die bane van ’n aantal van hierdie meteoroïedstrome. Die Leonides-meteoorreën in die middel van November is die gevolg van materiaal wat deur die komeet Tempel-Tuttle agtergelaat is. Dit gee elke 33 jaar ’n buitengewone vertoning. Waarnemers wat die Leonides-reën van 1966 gesien het, het gerapporteer dat hulle meer as 2 000 meteore per minuut gesien het—feitlik ’n storm! In 1998 het dit skitterende vuurbolle gevorm, en dit behoort beslis die moeite werd te wees om hierdie November daarna te kyk.

[Diagram/Prente op bladsy 24-6]

1. Komeet Hale-Bopp in 1997

2. Edmond Halley

3. Percival Lowell

4. Halley se komeet in 1985

5. Halley se komeet in 1910

6. Strale gas en stof uit Halley se komeet

[Erkennings]

1) Tony and Daphne Hallas/Astro Photo; 2) Culver Pictures; 3) Courtesy Lowell Observatory/Dictionary of American Portraits/Dover

4) Met vergunning van: Anglo-Australian Observatory, photograph by David Malin; 5) National Optical Astronomy Observatories; 6) the Giotto Project, HMC principal investigator Dr. Horst Uwe Keller, the Canada-France-Hawaii telescope

[Diagram]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

7. Wentelbane van verskeie komete

Komeet Kohoutek

Halley se komeet

Son

Aarde

Encke se komeet

Jupiter

[Prente]

8. Voordat die komeet Shoemaker-Levy 9 in 1994 met Jupiter gebots het, het dit in 21 stukke verbrokkel

9. Oppervlak van Pluto

10. Komeet Kohoutek, 1974

11. Asteroïde Ida met sy maan Dactyl

[Erkennings]

8) Dr. Hal Weaver and T. Ed Smith (STScI), and NASA; 9) A. Stern (SwRI), M. Buie (Lowell Obs.), NASA, ESA; 10) NASA photo; 11) NASA/JPL/Caltech

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel